Jy blaai in die argief vir 2009 Augustus.

Profile photo of crito

by crito

Laat, maar darem

Augustus 31, 2009 in Sonder kategorie

Ons het probleme gehad met die oplaai. Hier is vir eers die blog wat ek verlede week wou oplaai. Vandeesweek s’n kom later.

***

Mens moet aanneem, om gewoon praktiese redes, dat die nuwe redakteur van Die Burger se Boekeblad, Willem de Vries, besig is om die agtergeblewe resensies uit Gerrit Brand se termyn weg te werk. Dit verklaar die groot getal resensies van Engelse boeke, asook van boeke wat vermoedelik by Brand se belangstellingsveld gepas het, wat mens steeds op die blad sien.

De Vries moet nog self toon hoe hy voel oor die behoefte wat lesers van ‘n Afrikaanse dagblad het om ‘n bespreking te lees van Sue Townsend se The Lost Diaries of Adrian Mole of van Violence – Six Sideways Glances van die filosoof Slavoj Zizek, wat by ‘n klein Britse uitgewery verskyn het.

Trouens, ek brand om te sien of De Vries soos sy voorganger resensies gaan plaas van Nederlandse boeke wat nie geredelik in Suid-Afrikaanse boekwinkels beskikbaar is nie. De Vries kom uit ‘n goeie bloedlyn, en ek hoop van harte dat met hom aan die stuur die Afrikaanse boek weer die aandag gaan kry wat mens verwag ‘n Afrikaanse dagblad daaraan sal gee.

Die eerste tekens is reeds daar.  Wium van Zyl, wat nie die afgelope jaar eintlik ‘n groot profiel gehad het onder Die Burger se resensentekorps nie, maak ‘n welkome terugkeer. Van Zyl se skryfstyl was nog altyd een wat ek bewonder het. Jy kry nie by hom die akademiese bedompigheid wat soos ‘n winterse mistigheid om sommige van sy kollegas se resensies bly hang nie. (Jy het warm oë nodig om hulle helder gelees te kry.)

Sy bespreking van Danie Schreuder se  ‘n Beter hemel is eksie perfeksie – en boonop gee hy vir diegene wat Schreuder wil plaas binne die groter konteks van Afrikaanse lektuur die belangrike sleutel na die skryf-aanpak van dr. Con de Villiers.

Indien mens hoegenamd belang stel in die verskil tussen goeie en swak geskrewe resensies, moet jy Van Zyl s’n vergelyk met dié deur Stoffel Cilliers verlede week in Beeld. (As jy dit kan vind – maar meer later daaroor.)

***

Uit die pen van Joan Hambidge kom die hoofresensie op vandeesweek se Burger-boekeblad. Dit is van Riana Scheepers se kortverhaalbundel Katvoet. Dit is een van Hambidge se uithaal-en-wys-resensies. Knap, op die punt af, ewewigtig. In dít wat sy verswyg, of by implikasie byhaal, lê dikwels die skerper kritiek verskuil. Kyk gerus na die manier waarop sy sê dat die bundel nie haar insiens ‘n verbetering is op Scheepers se eerste twee kortverhaal-bundels nie.

Hambidge as resensent is ‘n interessante fenomeen, as sy my dié beskrywing sal verskoon. Sy het ‘n wye register van styl en aanpak.  Die losser styl (wat mens miskien haar vliegtuiggesprek-styl moet noem) is miskien vir haar lekkerder om te skryf  omdat dit makliker is om daardeur retoriese vuurwapens te gebruik.  Dit is vandag – noudat skoliere nie meer behoorlik sensitief gemaak word nie vir dinge soos ironie, sarkasme, humor en so meer, en waar diegene wat dit nog ken weens politieke korrektheid nie weet of dit nog behoorlik is om dit te geniet nie – moeiliker om daardie wapens te gebruik in ‘n resensie met ‘n meer formele styl, soos die een oor Katvoet.

Die enigste gevaar wat daar vir haar as resensent ontstaan, is dat lesers wat nie die stylspronge saam met haar kan of wil maak nie, soms mag dink dat haar skryfwerk besig is om uit te rafel, of gewoon slordig is. (En wanneer sy die dag werklik slordig skryf, vermoed mens ongelukkig net selfparodie.)

Die Katvoet-resensie het, uit ‘n retoriese oogpunt, besonder baie om die lyf. Analiseer gerus hierdie twee sinne: “Dikwels lewer die verhale politieke kommentaar op die samelewing van ongelykheid. Veral die werkersbestaan kom aan bod in vele verhale en daar is vertellinge oor die rol van die vrou as beskermer en raadgewer.” Ah, die onvernietigbare hiërargie – dit is mos ‘n taai klap in enige taal.

Ek glo nie Hambidge gaan gou ‘n skryfskool in Frankryk nodig hê nie.

***

By Beeld het die berg vandeesweek ‘n muis gebaar. Dié koerant het verlede week met groot gejuig en trompetgeskal sy nuwe webwerf aangekondig. Kom Maandag, geen Boekeblad op die webwerf. Dit is onmoontlik om agter te kom waar dit binne die netjiese, skoon argitektuur van die werf geplaas is, en of dit dalk na ‘n ander dag geskuif het – of dit hoegenaamd nog bestaan.

Praat van ‘n kultuurdiens, praat van ‘n liefde vir Afrikaans!

Profile photo of crito

by crito

Van Sontag tot verbysterende vermaak

Augustus 17, 2009 in Sonder kategorie

In die muwwe wêreld van Afrikaanse boekresensies gebeur dit selde dat een bespreking soos ‘n nuwe ster aan die hemeltrans flikker. Sondag het Charl-Pierre Naudé in Rapport dié liggie gebring, uiteindelik, en mens laat terugverlang na die dae van André Brink en selfs later, na Johann Brüwer se kuns- en boekbesprekings.
    Naudé bespreek Susan Sontag se At the Same Time, ‘n vyftiental postuum gepubliseerde opstelle. Die geluk wat ‘n resensent tref met Sontag se skryfwerk onder hande, is omtrent dieselfde as wat jy jare gelede met dié van George Steiner gehad het: Intellektueel stimulerend, uitdagend. Dit is onmoontlik om dit te lees en nie reeds in jou gedagtes te begin met argumenteer nie. Saam met haar, teen haar.
    Dat Naudé haar baie goed gelees het, is nie altemit nie. Hy besing Sontag se lof, en wys waarheen haar argumente die leser kan voer. Met betrekking tot Sontag se opmerkings oor waarheid en geregtigheid, maak Naudé die sprong na J.M. Coetzee se Disgrace.
    En trap dan in ‘n slaggat wat waarskynlik slegs deur ‘n opvolg-artikel (hoop ek) uit die weg geruim kan word. Sê Naudé: “ …Disgrace. Dis juis ’n boek wat gaan oor die waarheid in weerwil van die belang van geregtigheid. Is dit waarom so baie Suid-Afrikaners dit verkeerd verstaan het?”
    Vertel ‘n bietjie, hoe het so baie Suid-Afrikaners dit verkeerd verstaan? Of: Hoe het die res dit reg verstaan? Kan mens hoegenaamd van “verkeerd verstaan” praat?
    Sien wat Sontag regkry?

***

“Die literêre wêreld sal nooit ophou om belangstellendes te verbyster en te vermaak nie,” sluit Daniel Hugo sy bespreking van Robin Malan A-Z of African Writers – A Guide to Modern African Writing in English in Die Burger.
    Toe ek dié sin lees, dag ek Hugo het ‘n pyn oor Malan se boek. (Soos hy behoort te hê, bygesê.) Maar nee.
    Hugo giggel nie eintlik in sy resensie nie, en sy verbystering loop maar woer-woer in sy poging om te verduidelik wat aan die gang is. Dit bly knaag en ek herlees: Is Hugo regtig geesdriftig oor hierdie gids? Net wanneer dit lyk asof hy uiteindelik die argument oor in- en eksklusiwiteit te berde gaan bring, dwaal hy af in ‘n ander rigting. Hy betreur tereg die afwesigheid van Doris Lessing – maar mens wag vergeefs vir ‘n bestekopname van diegene, soos Chris Barnard, wat wel in Engels beskikbaar is, maar nie opgeneem is nie.   

     Hugo is voorts jammer dat Malan nie kennis geneem het van Stephen Gray se French Language Poetry of the Indian Ocean African Islands nie. Hè? Die punt is tog seker, en help my as ek verkeerd is, dat Malan ‘n gids saamgestel het slegs oor skrywers wie se werk in Engels beskikbaar is.   

     Vir wat op aarde sal hy nou sy tyd mors met ‘n spul digters wat in Frans dig?
     Ek dink nie ek gaan hierdie boek aanskaf nie. Nie eens vir die troonkamer nie, soos Hugo op een plek voorstel.

***

Stoffel Cilliers stel Danie Schreuder se kortkuns-debuut, ‘n Beter hemel, vandeesweek in Beeld bekend. Klink na ‘n interessante bundel.
    Maar ai, liewe aarde, die resensie! Ek wil nie by wees wanneer Cilliers die dag koudgelaat word deur ‘n boek nie. Sy resensie van ‘n Beter hemel, oorweldigend positief soos dit is, is in die gedemptste van tone.
    Miskien is Daniel Hugo reg.
 

Profile photo of crito

by crito

So op die nugter maag

Augustus 12, 2009 in Sonder kategorie

Die Spaanse stof sit nog aan my stapstewels, my longe is omtrent nog vol berglug, en ‘n resensie van Joan Hambidge, oor prof. H.P. van Coller se Tussenstand – Letterkundige opstelle(in Die Burger), tref my op my nugter maag.

Wat ‘n vreemde resensie!

Ek het dit gelees en herlees. Kartets op kartets op kartets.

En gevoel: Dis eintlik die aantekeninge wat Hambidge gemaak het vir die resensie wat sy wou skryf oor die boek – en toe sommer maar net so aangebied het as resensie. Los gedagtes, lekker aanvattery, skoorsoek wat nog behoorlik verwoord moet word.

‘n Mens wens dat sy een hoofstuk of essay in Van Coller se boek wou neem, en dit behoorlik analiseer, takel, vermink, loof, juig, wat ookal. Net solank dit ‘n behoorlike onderonsie word.

Soos dit staan, is haar resensie ‘n kuriositeit. Ek brand van nuuskierigheid om te hoor wat die dramas agter die publikasie van Groot Verseboek 2000 was – Hambidge sê wel man en perd moet genoem word. Dit klink asof sy die storie agter die storie ken – vertel dit asb! Van Coller wil duidelik nie sover gaan nie. Miskien is dit maar net ‘n Broederlike manier van ordentlikheid.

Wat my wel op ‘n ander spoor geneem het, is Hambidge se verwysing na Van Coller se blog-inskrywing, ‘n Blinde in ‘n mynveld.  Van Coller filosofeer oor die treurige toestand van Afrikaanse resensies (hoor hoor!), die muwwe atmosfeer daaromheen, die inteelt, rugstekery en –wassery, alles wat verkeerd en minder verkeerd is met Afrikaanse literêre resensies.

Ingevolge die raamwerk wat Van Coller bepleit, behoort Hambidge nie sy boek te geresenseer het nie (sy is ‘n kollega, welswaar aan ‘n ander universiteit, maar ek kan my indink dat hulle dikwels saamwerk, veral waar nagraadse studente betrokke is).

Daar is ander interessanthede ook, en Hambidge mik-mik daarna in die res van haar resensie. (Haar opmerkings oor die Broederbondprys behoort aan die groot klok gehang te word.) Maar in sy geheel lyk dit asof Hambidge die resensie nog moet skryf.

***

Dit is moeiliker om oor gewone boeke (in teenstelling met literêre werke) resensies te skryf as wat mens dink.  Ronel Nel, ‘n vryskutresensent, skryf in Beeld oor Nadia de Kock se Heildronk op ‘n gypsyromp. ‘n Voorbeeld van die nuwe Afrikaanse chic-lit.

Sy val weg met een van daardie breë veralgemenings wat die kenteken is van bladvullers: “Tafelberg, lyk dit, belê veral deesdae in hierdie genre, natuurlik omdat dit ook die skryfstyl ter wêreld is waarvan daar tans die meeste boeke verkoop.” Hè? Belê Tafelberg wel veral in hierdie genre? Verkoop daar tans wel dwaarsoor die wêreld die meeste boeke in hierdie genre?  Net Tafelberg sal weet of Nel in die kol is oor waar hulle hul geld belê. Te oordeel na die trefferslyste en blitsverkoperslyste wat op die Internet beskikbaar is, is chic-lit nie die top-genre wat verkope beref nie. Liewe hel, Nel.

Maar nou ja. Wat sê haar resensie?

Nel weet om mee te begin nie of Afrikaanse chic-lit so goed soos die buitelandse chic-lit is nie. Ons skrywers skram glo nog te veel weg van “ware gruwel en intense intimiteite”.  En hulle sluit té soetsappig.

Sy reken Heildronk op ‘n gypsyromp is “vinnig, chronologies en geloofbaar”. Die hoofkarakters is geloofwaardig. Die bykarakters is effe oordrewe. Nevermind, “dié een is vir lekkerlees”. Daar is baie drank, vrytonele en liefdesdriehoeke. Dit wil nie groot letterkunde wees nie. Lekker snipperige taal. Dis goeie chic-lit. Neem die boek bad toe, saam met ‘n glas wyn.

Wat maak mens van só ‘n resensie? Een wat begin met die hoof nederig gebuig voor die magtige internasionale treffers, en dan skielik in gedempte toon vir jou vertel dat sy eintlik hier met ‘n baie goeie boek te make het? Een wat perfek in sy genre pas?

Kan vryskutresensente nie ordentlik opgewonde raak nie?