Jy blaai in die argief vir 2009 Junie.

Profile photo of crito

by crito

Liefdestaak en groot sports

Junie 30, 2009 in Sonder kategorie

Een mens se liefdestaak is ‘n ander se wrewel. Daar het al liefdestake oor die Anglo-Boereoorlog verskyn wat mens op jou tande laat kners. Veral as jy met my probleem sit: My oupa is as jong geneesheer in die ou Kolonie nadergeroep om te gaan help met die vestiging van die veldambulanse in die noorde tydens die Anglo-Boereoorlog. Dit was nie juis aan dieselfde kant as wat my ander Oupa se mense geveg en gewond is nie. Die familie kry dit soms reg, laataande, om nie heeltemal versoening te bereik oor die tweespalt tussen die oupa’s nie.
    Gelukkig is Kay de Villiers se liefdestaak van só ‘n aard dat ek later vandeesweek in sy nuwe stel boeke oor die mediese geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog gaan belê. Die stel – met die gesamentlike titel Healers, Helpers and Hospitals – A History of Military Medicine in the Anglo-Boer War – is nou wel nie in Afrikaans nie, maar as mens De Villiers se artikel daaroor in Sondag se Rapport gelees het, dan het jy omtrent nie ‘n resensie nodig om jou na die boek te stuur nie.
    ‘n Dag later het Albert Grundlingh dié positiewe indruk bevestig met sy resensie van die stel in Die Burger. Teenoor die bruisende geesdrif vir die onderwerp wat uit De Villiers se skryfstyl straal, is Grundlingh meer besadig. Nie blind vir foute nie, nie onbewus van leemtes nie. Maar hy erken ruiterlik dis ‘n indrukwekkende publikasie. En dis al wat ek wou hoor.
    Hier is nou ‘n eersteklas voorbeeld van hoe ‘n kenner ‘n gesaghebbende verslag kan skryf sonder om te verdwaal in ‘n klomp newe-argumente. Kort, bondig, nugter. Ná De Villiers se artikel soek mens nie tesisse opgetert as resensies nie.
    Op dieselfde Burger-blad het Joan Hambidge in die hoofresensie lekker ‘n nuwerige soort sports gemaak. Diegene wat baie rondlees op webwerwe, sal sekerlik bewus wees van die groot literator-mode van die oomblik: die tweegesprek, met of sonder snydende sarkasme en vlymskerp satire.
    Ek’s jammer vir die kort man en die vet man en die hovaardige man, maar Joan of Arch het die vorm al toeka se dae bemeester en wys in haar resensie van P.J. Haasbroek se Die ander vennoot presies hoe treffend dit hanteer kan word.
    Behalwe op een plek waar slim sy baas gevang het (Joan vra haar denkbeeldige gespreksgenoot Germiena uit oor die slot, terwyl sy in die intro aandui dat Germiena nou maar eers besig is om die boek te lees) is die geheel baie geslaag, as resensie (dit gee ‘n aanduiding van inhoud, kwaliteit, tematiek) én as entertainment.
    Ek wil haar net op een punt korrigeer. Ek glo nie die uitgewer het die feit dat Haasbroek se manuskrip ‘n prys van die Afrikanerbond gewen het verswyg omdat hulle bang was dit sou politiek gevoelige lesers afskrik nie.
    Hulle het waarskynlik stilgebly daaroor omdat hulle geweet het so-iets maak niks indruk op mense wat boeke koop nie.
    Iets wat my persoonlik baie min imponeer, is die manier waarop Volksblad voortgaan om Afrikaanse boeke af te skeep. Pas het die intellektuele elite van die Afrikanerdom, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, in Bloemfontein vergader. Die Maandag daarna praat Volksblad saam by wyse van ‘n resensie van J.C. Kannemeyer se Briewe van Peter Blum, wat reeds weke (indien nie maande nie) vantevore in Beeld en Die Burger geplaas was. Dieselfde resensie van Leon Rousseau. (Dis my ou liedjie: Só ‘n boek verdien meer as een resensie. Die oggendblaaie het Kannemeyer hier geen guns gedoen nie.)
    Dan is daar ook ‘n aankondiging van ‘n nuwe boek oor M.T. Steyn wat nog gepubliseer moet word, en les bes bewandel Adéle Dempers die hoër en kouer paaie met ‘n bespreking van ‘n nuwe liefdesverhaal van Margaret Bakkes, Klara kom tuis.
    Hulle noem dit ‘n boekeblad.

Profile photo of crito

by crito

Nie ‘n goeie week nie

Junie 23, 2009 in Sonder kategorie

‘n Mens kom soms by die punt waar jy voel: Laat Gods water maar oor Gods akker loop. Vandag is een van daardie dae.
    Wat maak dit tog saak dat Beeld ‘n jaar nadat Derick van der Walt se “Lien se Lankstaanskoene” verskyn het, eers ‘n resensie daaroor plaas? Dit maak mos nie saak dat dié boek die Sanlamprys vir jeuglekteuur (2007) gewen het nie! Dalk het dit iets te make met die feit dat die boek pas bekroon is met die MER-prys vir jeugromans? Lees Beeld en gesels eers aanstaande jaar saam.
    En wat maak dit tog saak dat Marida Fitzpatrick plegtig verklaar (in Beeld) daar niks nuuts staan in Chris Karsten se “Charlize – Ek leef my droom” nie? Terwyl sy duidelik laat blyk dat sy bewus is daarvan dat hy met familielede, onderysers en vriende van Charlize Theron gepraat het en dus wel iets nuuts opgediep het? Dis tog maar net nog ‘n tjol-resensie deur nog ‘n joernalis wat van beter moes geweet het as om so ‘n onbekookte stuk bladvulling aan te bied vir publikasie.
    Die jongste inligting wat op die internet beskikbaar is oor boekverkope in Suid-Afrika dui daarop dat uit elke tien fiksie-boeke wat verkoop word, slegs 2,7 plaaslik gepubliseer is.  By nonfiksie is dit darem 6 uit elke tien wat plaaslik gepubliseer word.
    Ek veronderstel ek behoort daarom bly te wees dat net twee uit die vyf resensies op Die Burger se boekeblad vandeesweek handel oor boeke wat vanuit Londen ingevoer is. Van die ander drie is een oor fiksie (Ilza Roggeband se onmerkwaardige bespreking van Irma Joubert se jongste roman, “Anderkant Pontenilo”) en twee oor nonfiksie (Amanda Gouws oor “Breaking the Silence”, en Le Roux Schoeman oor Karin Eloff se “Stiletto”).
    Albei laasgenoemde boeke lê my na aan die hart, omdat hulle uit verskillende hoeke kyk na die omvang van geweld, en spesifiek die geweld wat gepaard gaan met seksuele uitbuiting, teen die moderne vrou in Suid-Afrika. Maar dit spyt my om te berig dat Amanda Gouws se resensie té koel en feitlik is om enigiets anders as “Ja, en is dit al wat jy wou sê?” by my te ontlok.
    Daarteenoor is Le Roux Schoeman se resensie van “Stiletto” ‘n vreugde: Hy het ‘n eie stem, ‘n eie mening, ‘n fyn humorsin, en ‘n streng oog.   Dit is ‘n onverdunde plesier om só ‘n resensie te lees – uiteindelik iemand wat krities en oorspronklik reageer. En dan is dit boonop ‘n man wat só skryf!
    Dankie mnr. Schoeman, maar wat die res betref, kan Gods water maar wel oor Gods akker loop vandeesweek.

Profile photo of crito

by crito

Die volle waarheid

Junie 16, 2009 in Sonder kategorie

Versigtig lees wanneer jy met ‘n biografie te make het wat deur sy onderwerp goedgekeur is.
    Jan-Jan Joubert gee in sy bespreking van Pippa Green se “Trevor Manuel: ‘n Lewensverhaal” (in Beeld) ‘n aanduiding dat hy as leser bewus was daarvan dat Green se perspektief effe oor-positief jeens die onderwerp is.
    Sy sterkste punt van kritiek op die boek hang uiteindelik dan ook hiermee saam – dat Green nie tersaaklike verduidelikings gevra het op sekere punte nie, terwyl sy genoegsame toegang tot Manuel gehad het om daardie vrae te kon gevra het.
    Ek sê weer: Ek hou van Jan-Jan Joubert se manier van resensies skryf. Gesout genoeg om te weet Trevor Manuel is ‘n heilige bul, skerp genoeg om te weet dat dié boek uiteindelik  deur die leser “vertaal” moet word omdat Green alleen vir jou kan wys hoe Manuel homself sien.
    En ons weet dat hy sensuur uit ‘n ander hoek benader as Allan Boesak.
    J.C. Kannemeyer kom in sy bespreking van Patrick French se in 2008 gepubliseerde biografie van V.S. Naipaul, “The World is Waiting: The Authorised Biography of V.S. Naipaul” (in Die Burger), voor iets soortgelyks te staan. Soortgelyk maar anders: Naipaul wou sy eie skadukant volledig ontmasker sien.
    Jammer om dit te moet sê, maar dit lyk nie of Kannemeyer heeltemal opgewasse vir hierdie spesifieke resenseertaak is nie. Hy spring sommer weg met ‘n stelling wat ek hom graag sal wil sien substansieer, naamlik dat Naipaul ‘n skrywer is wat in Suid-Afrika nog te min bekendheid geniet.
    Waar kom u daaraan, prof. dr. Kannemeyer?
    ‘n Resensent behoort altyd daarmee rekening te hou dat daar dalk onder sy lesers mense sal wees wat meer op hoogte is met die onderwerp onder bespreking as hyself. Ek sal hom die binnevet van die boud gee en aanneem dat hy voor French se boek ook die Naipaul-studies van Kelvin Jarvis, Arnold Girdharry, Akhtar Jamal Khan en veral Paul Theroux se twee boeke oor Naipaul gelees het.
    Uit Theroux se twee non-fiksie boeke sou hy al ‘n goeie beeld van Naipaul se skadusy gekry het. Tog laat die huiwering waarmee hy uiteindelik uitkom by Naipaul se aanstootlikheid (“Tog ontkom mens …” en wat daarop volg tot aan die einde van die resensie) mens besef dat Kannemeyer nie die voorreg gehad het om die een boek te lees wat absoluut noodsaaklik is om te gelees het wanneer jy oor Naipaul wil skryf, of ‘n boek soos French s’n wil resenseer nie. Dié boek is “Stet”, die herinneringe van Diana Athill, Naipaul se redakteur by André Deutsch.
    As hy het, sou hy sy resensie van French se werk heeltemal anders aangepak het, ek is seker. Soos sy resensie nou daar staan, is dit half interessant, ‘n voëlvlug oor Naipaul se lewe, niks meer nie. Ek sal bitter graag wil hoor wat hy van French se boek sê nadat hy “Stet” onder hande gehad het. Mens kan nie werklik begryp hoe goed French se werk is voordat jy sien watter deur Athill vir hom oopgemaak het nie. Sy is in baie opsigte French se kontrolepunt.
    En bygesê: Van Kannemeyer verwag mens dat hy die inherente probleme van ‘n biografie soos hierdie sou kon illustreer met soortgelyke probleme wat hy moontlik met Leipoldt, Rabie en Leroux ondervind het.
    Vir wat dit werd is: French se biografie is ‘n monumentale werk. Enersyds getuig dit van die vreemde, narsissistiese drang wat Naipaul had dat die volle waarheid oor hom geskryf moes word (onthou, hy was aanstigter van hierdie biografie), en andersyds bevestig dit alles wat Athill vertel het, en bou daarop voort.
    Teenoor die grootsheid van Naipaul se skryfwerk plaas French die walglike persoon wat die skrywer daarvan was. ‘n Man wat sy vrou afgetakel het tot die vlak van slavin en uiteindelik erken het hy het haar na haar dood gedryf. Wat nooit die moeite gedoen het om haar dagboeke te lees nie, maar dit tot beskikking van sy biograaf gestel het. ‘n Man wat sy minnares twee dae lank in ‘n hotel pimpel en pers geslaan het sodat sy nie in die openbaar kon verkyn nie.
    ‘n Man wat op só ‘n wyse met sy skryftalent gesmous het dat die mense naaste aan hom (vrou, minnares, uitgewer) hulself moes verloën om hom op koers te hou. Ná French se skitterende boek, en Athill se herinneringe, kan ‘n mens nooit weer ‘n Naipaul-werk lees nie.
    ‘n Mens wil saam met Athill uitroep: “It was as though the sun came out. I didn’t have to like Vidia any more.”

Profile photo of crito

by crito

Van albei kante Daniel Hugo

Junie 2, 2009 in Sonder kategorie

Twee kort gedagtes vandeesweek weens oninteressante boekeblaaie:
1.    Op LitNet vind Daniel Hugo Dolf van Niekerk se “Lang reis na Ithaka” vaal – anders as dr. Lucas Malan se mening verlede week in Rapport. Ek is geneig om meer met Malan saam te stem hieroor as met Hugo – maar as mens die twee resensies met mekaar vergelyk, staan Hugo s’n vir my, met een uitsondering, op sterker bene. Alleen omdat hy argumenterend sy punt wil maak, en ‘n mens by Malan voel hy verswyg iets wat hy kon gesê het. Die uitsondering is Hugo se beswaar teen Van Niekerk se oorname van frases uit ander digters se werk, wat volgens Hugo “(waarskynlik) onbewuste oorname” is. Hoe kan hy aanneem dat die onbewustelik was? Ongeldig, dr. Hugo. Wie sê Van Niekerk het die aanhalings nie doelbewus gebruik nie? Hugo noem ook die kleurvolle omslag in die verbygaan – kleurvol? Wat op aarde het daardie koekstruif van kleure met die bundel se inhoud te make?
2.    Emeritus professor Ampie Coetzee resenseer in Die Burger weer Daniel Hugo se nuwe bundel, “Die panorama in my truspieël”. Nou moet ek dadelik erken dat daar net een bundel is wat in die onlangse maande verskyn het wat my meer bekoor het as Van Niekerk s’n, en dit is hierdie bundel van Hugo. Coetzee het te staan gekom voor ‘n probleem wat, vermoed ek, ‘n resensent grys hare behoort te gee: Hoe bespreek ‘n mens ‘n bundel waarin die digter self beken dat dit soms weinig meer is as klank en ritme en beeld? Coetzee het hom oorgegee aan aanhalings en nogmaals aanhalings. In ‘n sekere mate sal dit lesers help om ‘n idee te kry van die bekoring en trefkrag van Hugo se verse. Ongelukkig beteken dit ook dat die resensie nie die bundel na behore takseer en evalueer nie. Hoekom Hugo aldus resenseer, en Johann de Lange op die gewraakte manier van onlangs in Die Burger? Laastens: Coetzee verwys na die mooi bandontwerp. Fout! ‘n Goeie mansvriend vestig my aandag daarop dat dit ‘n kantspieëltjie is wat ons daar op die omslag sien, nie ‘n truspieëltjie nie. Het Protea Boekehuis niemand wat behoorlik omsien na die omslae van hul digbundels nie? En as hulle dink ek kloof hare – gaan lees die bundel. En sien dat die digter opkyk van die stuurwiel na sy truspieël, nie sydelings afkyk nie.