Profile photo of crito

by

Die nadraai van groot plesier

Mei 26, 2009 in Sonder kategorie

Wat ‘n wonderlike naweek was dit nie. Die wêreld se beste rugbyspan het op Loftus gewen en die res daarvan het ek spandeer deur die menings in SêNet oor Crito telkemale te herlees. Genoeg om mens ‘n ekstase te laat voel wat nie eens Jan Hendrik Leopold kan beskryf nie.

            Daarna terug na die harde werklikheid. Aan die hand van dr. Lucas Malan se Rapport-bespreking van Dolf van Niekerk se “Lang reis na Ithaka”. Dr. Malan is darem ‘n skrander resensent, dus het die afkom aarde toe eers by halwe Nirvana ‘n draai gemaak.

            Min resensente lei mens so moeiteloos ‘n bundel se sfeer binne as dr. Malan. Hy is ook baie tegemoetkomend in die proses. Verkwalik byvoorbeeld glad nie die bundel sy tjoklitboks-omslag nie. Daarmee kan ek saamleef. Daarna laat hy op afgemete wyse reg geskied aan Van Niekerk se bundel. Gaan haal dit by die antieke Grieke en Uys Krige, via ‘n kosbare Kannemeyer-boek, en in die verbygaan haal hy ook Marié Blomerus en die Arabiese Nagte by. Hy weeg die bundel en vind dit goed.

            Maar iets makeer. Wat kan dit wees? Dr. Malan skryf ‘n baie positiewe resensie sonder om ooit geesdriftig te klink. Dit sou vir my regtig goed genoeg gewees het as hy iets in hierdie trant gesê het: “As ek die digter was, sou ek vreeslik trots gewees het op hierdie bundel.”

            Maar Dr. Malan sê niks van die aard nie.

Ek het die omslag afgeskeur en die bundel ‘n ereplek op my rak gegee. Dit is ‘n bundel in gedempte toonaard wat luid in my gedagtes bly weerklink, nou nog.

            Toe, in plaas van heeltemal aarde toe te kom, het ek weer opgestyg, my kop tintelend van opwinding ná die lees van Hans Pienaar se resensie in Rapport oor “The Lost Boy”. Pienaar is besonder kundig oor sake rakende Afrika: polities, sosiaal, militêr.

            Hy benut dié kundigheid om “The Lost Boy” behoorlik te takseer – nie om die gehalte van die skryfwerk nie (hy is implisiet in ‘n geringe mate tevrede daarmee), maar om die wyse waarop die inhoud met die tydgenootlike konteks skakel. Pienaar reageer op die skrywer (Aher Arop Bol) se versuime – op dit wat nie genoem word nie, en die uitwerking daarvan op die leser: verveling, onder meer. Soms hou Pienaar van wat hy vind, maar ingebed in sy resensie is die siening dat romans wat om redes van politieke korrektheid (of “veilig speel”) nie uitspel wat aan die gang is in Afrika nie, nie deur die leser gelees moet word as sou dit wel die waarheid oor Afrika vertel nie.

            En dit is net een aspek wat Pienaar aanraak. Kan ek my verstout om die lees van hierdie resensie aan te beveel?

            Iets wat hierby aanskakel, hoewel dit geen resensie is nie, is Willem de Vries se artikel oor die neerslag van die uiteenlopende ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika in drie onlangse romans (P.J. Haasbroek se “Die ander vennoot”, Abraham Phillips se “Die evangelis van Kaggelsberg” en Jaco Kirsten  se “Om na ‘n wit plafon te staar”) in Beeld. Dit gaan oor die kontras tussen die wêrelde van die rykes en die armes, en hoe elke roman op sy manier iets aan ‘n spesifieke deel belig.

            Steward van Wyk spel in sy resensie van “Die evangelis van Kaggelsberg” in Die Burger dít uit wat De Vries se artikel nie hardop noem nie (wil/durf noem nie?) – “Phillips het hier ’n grootse ding gedoen om die mense se storie op te skryf, en dit sal ’n onvergeetlike ervaring wees om hulle dit self te sien lees. En daarmee begin dit ’n versugting waarmaak wat boekmense lank reeds het – dat die honderde (bruin) lesers van poniekoerante die oorgang sal maak na boek­lesers en uiteindelik boek­kopers!” Anders gestel: Daar is nog geen boek-leeskultuur onder die bevolkingsgroep waaroor hierdie boek handel nie. Dis maar steeds die wittes en die rykes wat boeke lees.

            Geheel waar of nie, ek is geneig om met Van Wyk saam te stem. Saamgelees met Pienaar se resensie, besef mens net weer eens hoe belangrik dit is dat ‘n kundige, ingeligte persoon boeke soos hierdie resenseer.

En wanneer Cecilie Cilliers in Die Burger vertel dat die digter Floris Brown “verlang na die dag wanneer bruin uitgewers op dietoneel sal verskyn”, dan weet ek dat oneindig baie nog moet gebeur voordat die volle implikasies van die eenvoudige konsep van vraag en aanbod na alle kante toe gesnap sal word.

Nagedagte: Die dag waarna Brown verlang is hopelik nie ook die dag wanneer ons by die volgende stap van sosiaal-literêre transformasie kom nie – wanneer net bruin persone boeke deur bruin skrywers kan resenseer, wit persone boeke deur wit skrywers, en swart persone boeke deur swart  skrywers. Dan het alles wat Jackie Mason gesê het oor die verskynsel dat net Jode grappe oor Jode mag vertel, uiteindelik waar geword. Die nuwe rassisme is baie meer gesofistikeerd as die ou rassisme.

            

2 antwoorde op Die nadraai van groot plesier

  1. gerrit.brand het gesê op Mei 27, 2009

    Crito, op die blog Boekeblok, by http://www.dieburger.com, reageer ek op jou kommentaar op Willem de Vries se artikel, Steward van Wyk se resensie en Cecile Cilliers se Flapteks.

    Net vir die rekord: Willem de Vries se artikel (waarna ek ‘n skakel op die blog sal aanbring) het oorspronklik in Die Burger verskyn, en toe in Beeld. (Soos jy goed weet.)

  2. crito het gesê op Mei 27, 2009

    Gerrit, ek regeer op jou blog.

    Ek was nie bewus daarvan dat De Vries se artikel eers in Die Burger was nie. Ek lees Die BUrger deesdae net op die Internet, en is baie selektief met dít wat ek lees. De Vries se artikel het ek nie raakgesien nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.