Profile photo of crito

by

Die wyer gesprek

Mei 19, 2009 in Sonder kategorie

Die kwynende stroompie van Afrikaanse boekbesprekings het die afgelope weke weer iets opgelewer wat mens laat besef hoe belangrik dit is dat daar meer as een resensie van ‘n boekverskyn. Die eerste was Thys Human se resensie van Louis Krüger se “Wederkoms” verlede week in Beeld, en die plasing van Willie Burger se bespreking van dieselfde boek op LitNet.

            Human se betoog gaan in ‘n baie positiewe rigting, met inagneming van leemtes en tematiese herhalings uit Krüger se vorige werk, terwyl Burger weer na ‘n lang en begrypende resensie voel dat die boek “ouderwets” is, nie vernuwend is nie, al ontroer sommige tonele mens.

            Wie glo jy?

            Albei, uiteraard, totdat jy die boek self gelees het. Die waarde van hierdie twee resensies lê daarin dat hulle ‘n gesprek oor ‘n literêre werk open. Dis ‘n gesprek wat in koerante, LitNet en lesingsale voortgesit kan word. Dis ‘n gesprek wat nuuskierige lesers, hoop ‘n mens saam met die skrywer, boekwinkels toe lei.

            Vir albei resensente het ek baie respek, en omdat hulle boonop in die akademiese wêreld staan en kollegas is, kan ‘n mens net hoop dat hul gesprek wyer sal uitkring.

            Hopelik tot in daardie wonderlike kring van literêre bespreking – die beoordelaarspaneel van die M-Net-prys. Diegene wat al in die verlede lede was van dié groepie, sal kan beaam dat dit ongelooflik interessante gesprekke afgee. Maar dis in kleiner kring, en mens is altyd bly as resensies soos dié van Human en Burger ‘n vuurtjie vir ‘n boekgesprek aan die brand sit.

            Ek vermoed dat die laaste woord oor hierdie roman nog nie geskryf is nie. Die aansluiting daarvan by die huidige teologiese debat sal na alle waarskynlikheid ook nog onder die loep kom.

            Ek moet bieg dat ek op die oomblik ‘n bietjie meer as gewoonlik sensitief is oor die wye gesprek oor boeke. Ek het die afgelope week Peter D. McDonald se “The Literature Police” gelees (onlangs deur André P. Brink geresenseer).

            Dit is ‘n boek wat vir liefhebbers van die Afrikaanse letterkunde as ‘n groot skok kom. Ek het self my sosiale, literêre en politieke bewussyn gekry in die jare toe eers Gerrit Dekker en toe Jannie Krige die sweepklappers was in die apartheidsregime se sensuurstelsels. Die waarde van MacDonald se boek (behalwe dat dit aantoon welke waansin vaardig raak wanneer verstandige letterkundiges probeer help om politieke bobbejane se wankelende strukture staande te hou) is dat dit wys hoe laag sommige Afrikaanse letterkundiges  gedaal het in hul pogings om te verhinder dat genoemde politieke bobbejane hul magswellus omsit in totalitêre magsmisbruik.

            Die effek hiervan was dat al die rasionalisering baie mense verkeerdelik onder die indruk gebring het dat die sensuurstelsel ‘n voorbeeld was van hoe beskaafd die apartheidsregime was. Terwyl letterkundiges hul taal se letterkunde, asook hul skrywersvriende en –vyande op gereelde basis moes verraai om die magshebbers en hul gepeupel tevrede  te hou.

            En wat was aan die kern van die stelsel? Verslae wat in effek resensies was van die boeke. Resensies. Presies hoe sulke resensies gebruik is om boeke te kelder, word dwarsdeur MacDonald se boek met aanhalings geïllustreer. Die een wat dit die sterkste wys, is die afdruk van die “lesersverslag” wat prof. Merwe Scholtz geskryf het oor Nadine Gordimer se “The Late Bourgeois World”.  Dis met beklemming dat mens ‘n sin lees soos “Hierdie passasies is ‘dinamiet’ “, want jy weet dit is die sin wat veroorsaak het dat die boek verbied word.

            Een “resensie” wat die wye gesprek beëindig het. Hoe kosbaar is ‘n gesprek soos dié van Human en Burger oor die Krüger-boek dan nie vandag nie!

            Dit bring my terug by Brink se bespreking van hierdie boek. Ek dink hy verdien lof vir die manier waarop hy homself in toom gehou het in sy resensie.

            

5 antwoorde op Die wyer gesprek

  1. gerrit.brand het gesê op Mei 19, 2009

    Crito, ek stem saam oor die belang van verskillende resensie oor een boek (behalwe met die feit dat dit boekverkope moet aanmoedig …), maar jy’t vergeet om te noem dat nog ‘n derde resensie van Wederkoms, een deur Joan Hambidge, al vroeer in Die Burger verskyn het!

    Wat die literere polisie van vroeer betref: Wat van die geval wat Ander P Brink in sy resensie uitgewys het, waarvoor ‘n sekere afgetrede literator die grootste slae kry, maar waarby hy nie die skuldigste was nie.

    Die literator het in ‘n studiegids vir sy studente ‘n uittreksel aangehaal uit ‘n anonieme dokument, en daar is verkeerdelik aangeneem dat hy self die skrywer van die dokument was – ‘n Broederbond-dokument wat inderwaarheid deur ‘n baie bekende digter geskryf is (hy het dit jare later erken) en wat sekere vooraanstaande skrywers van daardie era se werk as bevorderlik vir gewapende opstand bestempel het. Die dokument is (met voorbedagte rade?) in die literator se werkomgewing gelos (die literator was nie ‘n Broederbondlid nie).

    Daardie dokument is onder alle Broederbondlede versprei en het bes moontlik die klimaat help skep waarin deur sensuur teen onder andere Brink, Breytenbach en Gordimer opgetree is.

    ‘n Skandelike verhaal, maar wat my nogal daarvan interesseer is die rol wat anonimiteit daarin gespeel het: Hier is ‘n kritiese bespreking van ‘n aantal skrywers se werk, ‘n soort resensie, dus, wat anoniem onder ‘n groot aantal mense versprei word. Dit het ernstige gevolge vir die betrokke skrywers, maar omdat die skrywer daarvan anoniem gebly het (tot dit jare later veilig was om sy gesig te wys), het hy knus die storie staan en gadeslaan. Sou hy op dieselfde manier oor die genoemde skrywers se werk geskryf het as hy dit onder sy eie naam moes doen? Ek twyfel.

  2. crito het gesê op Mei 19, 2009

    Inderdaad, jy’s heeltemal reg: Joan Hambidge het ‘n baie goeie resensie oor “Wederkoms” geskryf. Hare is die koerantmatigste. Dit het my net ontgaan.

    Dit sal gaaf wees as jy jou houding oor die verband tussen resensies en boekverkope ‘n slag herdink. Hoe moet mense soos Jaybee Roux, wat voltyds skryf, nie voel nie?

    Ek weet die uitgewers sê dis belangriker om boeke in winkels te hê as wat dit is om resensies daaroor in koerante te kry, maar ek stem nie saam nie. Resensies is deel van die kultuur rondom boeke.

    Ja, anonimiteit kan ‘n slegte ding wees, veral as dit gekoppel is aan mag en die uitoefening van mag. As hierdie blog byvoorbeeld ooit een word waardeur mag uitgeoefen of misbruik kan word, kan jy seker wees dat ek dit sal laat vaar.
    Maar ek het nie mag nie – net ‘n mening. Jy kan vanaand salig getroos gaan slaap met die wete dat die LitNet owerstes dit ook só sien, en as ek ooit die streke begin uithaal wat die Broeders van destyds uitgehaal het, sal my doppie geklink wees.

  3. HarryLouw het gesê op Mei 23, 2009

    Jong, kyk. Ek het jou by Izak de Vries raakgelees en hier kom loer. Jy’s eerlik en sal my kan sê. 3 of 4 persone het my gevra om (en of) ek my inskrywings in boekvorm gaan doen. Kan jy vinnig resensie op een kom doen? Dis beter dat iemand wat weet my droompie afskiet voor dit vorm aan neem. Watter boek het jou al hoendervleis gegee? Ek meen nou super wow.

  4. crito het gesê op Mei 26, 2009

    Waar kan ek dit lees, Harry?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.