Profile photo of crito

by

Rondom die kuberruim

Mei 13, 2009 in Sonder kategorie

Dit was seker nie so bedoel nie, maar ek het baie genot geput uit Stoffel Cilliers se resensie van “Harde woorde”, die jongste toevoeging tot Francois Bloemhof se speurreeks oor Alma van der Pool (Beeld). Ek lees normaalweg alles wat Bloemhof skryf, omdat hy een van die min skrywers van ontspanningslektuur is wat sonder moeite altyd “byderwets” is. (En natuurlik omdat hy ‘n moontlike opvolger vir Deon Meyer kan word.)

            “Harde woorde” sluit aan by die sfeer waarin Crito leef. LitNet. Name soos Etienne van Heerden, Melt Myburgh, Rachelle Greeff en Joan Hambidge kom skynbaar daarin voor – wat beteken dat Bloemhof goed gesorg het dat die roman in ‘n realistiese, herkenbare sfeer afspeel. Asook natuurlik dat daar baie sports gaan wees: Harde woorde sal val. Agterdog en intimidasie. Die soort van dinge waarmee Van Heerden, Myburgh, Greeff en Hambidge te kampe het in die kuber-sluikgange …

Cilliers se resensie gee net genoeg inligting hieroor om my wandeling vandag te buig in die rigting van die boekwinkel om die draai. En dít, wat my betref, is wat ‘n resensie oor ‘n spaningsverhaal behoort te doen.

Ewe interessante dinge is op LitNet se resensie-werf aan die gang. Aansluitend by die gesprek hier en in Boekeblok (dieburger.com) oor welke resensente vir verskillende soorte digbundels gekies word, moet ek noem van Ampie Coetzee se bespreking op LitNet van Danie Marais se “Al is die maan ‘n misverstand” .

Niemand wat hierdie resensie lees, kan daaroor twyfel dat Coetzee een van die top-resensente van Afrikaanse digkuns is nie. Hy weet wat die verskil is tussen ‘n koerant-resensie en ‘n behoorlike, uitgebreide betoog op ‘n webblad. In ‘n koerantresensie sou hy nie so uitvoerig kon aanhaal en staaf nie. Hier het hy  rieme en rieme oop wit voor hom, en hy benut dit doeltreffend. Dit laat mens dadelik wonder of sy gewraakte resensie van Johann de Lange se bundel nie dalk meer sou oortuig het as hy dieselfde vryheid gehad het wat die lengte van die resensie betref nie.

Of miskien was die De Lange-resensie net ‘n glips.

Dit bring my by ‘n resensie wat geen glips is nie. Só goed dat as dit ‘n motor was, Jeremy Clarkson dit syne sou gemaak het. (En die resensent is nie eens van Nederland nie!)

Ek praat van Thys Human se bespreking van “Vuurwiel” (Joan Hambidge), ook op LitNet. Die probleem wat baie lesers met Hambidge het, is dat sy self deur middel van koerant-rubrieke, -resensies en  briewe in koerante soveel van haarself verklap en verklaar het, dat mens wonder wat interessants daar nog kan oorbly vir ‘n bundel.

Groot fout! Dit kos iemand soos Human om daardie persepsie te vernietig. En sy uitganspunt is juis dat ‘n mens nie die element van fabulasie in Hambidge se digkuns durf ignoreer nie. Sy praat déúr ander, of soos Human dit stel,  vele “ekke”. Dit was sekerlik nog altyd die geval, maar Human wys hoekom dit belangrik is om nie daardie “ekke”oppervlakkig te benader nie.

Human se betoog is van só ‘n aard dat mens sy bespreking ook as sleutel kan gebruik vir Hambidge se oeuvre. Maar dit is veral in die detail waar hy dinge baie juis verwoord. Veral die gedeelte waarin hy verduidelik hoe Hambidge aansluit by Jacques Derrida se essays “The Work of Mourning” is van groot betekenis.

Daar is ook ‘n paar aanduidings dat Human self bewustelik sekere retoriese middelle gebruik om sy bespreking te verlewendig – maar gaan soek self daarna. Sy bespreking wíl gelees word!

 

 

 

1 antwoord op Rondom die kuberruim

  1. kobusvictor het gesê op Mei 13, 2009

    Om met letters en woorde te werk
    en om daarmee sinvolle sinne te maak, is nie kinderspeletjies. Ek doen dit maar op klein skaal, maar dit is hoogs bevredigend. Daarom leer ek graag by die kenners en lees baie – veral ook resensies. Laasgenoemde is natuurlik, wat my betref, ‘n eiesoortige kunsvorm waarin min mense geskool is. Dankie vir julle wat die geskrewe woord laat voortleef!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.