Profile photo of crito

by

Die regte resensent

Mei 5, 2009 in Sonder kategorie

In die gesprek rondom verlede week se inskrywing op hierdie blog, het ek op ‘n plek die volgende gesê: “Die probleem is net dat mens, nadat jy dit van alle kante bekyk het, nie kan wegkom van een van die groot probleme waarmee ‘n Afrikaanse boekeredakteur vandag worstel nie: Hoe vind jy tussen al die vriend- en vyandskapsvertakkings, al die keurders en belanghebbers iemand wat onbevange na ‘n digbundel kan kyk?”

            Ek kan my goed voorstel dat boekeredakteurs by koerante dwarsoor die wêreld met ‘n soortgelyke probleem sukkel, veral waar daar van belangegroepe en passievolle belangstellendes sprake is.

            Ook neem ek aan dit is presies waarmee Rapport se Boekeredakteur,  Rachelle Greeff, geworstel het toe Danie Marais se digbundel, “Al is die maan ‘n misverstand” deur Tafelberg-Uitgewers by haar afgelewer word. Ek neem aan dít was nog voor die  inlywing van BoekeInsig by Rapport, onder haar bestuur. Dít sou haar keuse van ‘n resensent nog verder bemoeilik het.

            Greeff was haar dadelik van verkskeie oorwegings bewus:

1. ) Marais het met sy debuutbundel pryse gewen – sy moes hom dus as een van die belangrikste digters van die oomblik beskou. Net die beste sou goed genoeg wees om die boek se literêre gehalte te kan peil.

2.) Weens sy verbondenheidd aan BoekeInsig sou dit haar nie betaam het om iemand wat noue bande met Marais en BoekeInsig het te nader as resensent nie.

3.) Sy moes, soos gebruiklik, probeer uitvind of Marais nie in enige spesifieke literêre kampe tuisgaan nie. Wie is sy vriende en wie is sy vyande? Dit sou onsinnig wees om enige van hulle te vra om die bundel te bespreek.

4.) Sy sou ook moes vasstel wie sy naaste mededingers was om die pryse wat hy gewen het – ook hulle sou vermy moes word.

5.) En boonop sou sy moes probeer uitvind wie Tafelberg se redakteur as keurder vir die bundel gebruik het. Dit is moeiliker om vas te stel, maar met ‘n paar oproepe sou sy ten minste ‘n idee kry wie om nie te vra nie.

6.) Sodra Greeff hierdie raamwerk kon bepaal, het daar op haar die laaste taak gewag, naamlik om te probeer vasstel wie nie openlik vyande (en vriende!) van Marais is nie, maar dalk bevriend is met sy openlike vyande/vriende. Ook hulle moes vermy word.

            Dit alles afgehandel, sou daar waarskynlik vir Greeff die volgende beeld opgegaan het: Vermy Kaapse joernaliste, akademici, vermy mense in sy nabye omgewing.

            Kies iemand uit Johannesburg, Pretoria of Bloemfontein.

            Haar keuse het geval op Henning Pieterse van Pretoria. Dit was die regte keuse. Pieterse se resensie afgelope Sondag in Rapport is onverbeterlik.

 

3 antwoorde op Die regte resensent

  1. bigbigjoe het gesê op Mei 5, 2009

    Jammer Crito, maar jy verloor my so halfpad. Dan weer: die bek-en binnegevegte van die “aka”demici en die “aka”disse het my nog nooit aangestaan nie. Dis hopeloos te na aan die dolkstekery in die Romeinse Senaat in Caesar se dae. En het ook veel in gemeen met n chinese kakkerlakgeveg: maak nie werklik saak wie triomantelik teen die einde hande opsteek nie, daardie kakkerlakhandjies bly ook maar net omhoog tot haantjie kom brekvis soek.

    Antwoord my eerder op n belangriker vraag: wie van hierdie blaffende chihuahua’s sal teen die einde van die 21ste eeu nog gereken word? Daaraan sal ek miskien nog lees…

  2. janbez het gesê op Mei 6, 2009

    Is ek besig om onnosel te word – ek kan glad nie die ironie raaksien wat jy op Boekeblok belowe het nie.

  3. crito het gesê op Mei 9, 2009

    Dink só daaraan, Johann: Het Boekeredakteurs genoeg tyd en inligting om al die dinge te doen wat hulle veronderstel is om te doen? En dan ook: Het Rapport se Boekeredakteur dit alles gedoen? Die kanse is goed dat ek die situasie idealiseer, en dat sy ook maar iemand gevra het en gehoop het vir die beste.

Los ’n antwoord vir bigbigjoe. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.