Profile photo of crito

by

Invalshoek

April 20, 2009 in Sonder kategorie

Die verklaring van belange is nie noodwendig die eerste ding waaraan ‘n resensent dink nie. Ewe min sal hy uit die staanspoor wil verklap wat sy posisionering, negatief of positief, jeens sy onderwerp is. Soms is dit egter onvermydelik dat die leser na die resensie sal kom, gewapen met juis hierdie inligting.

Soos ek verlede week aangetoon het, het mens met die lees van André Brink se bespreking van R.W. Johnson se “South Africa’s Brave New World – The Beloved Country Since the End of Apartheid” geweet dit is voorafgegaan deur Johnson se negatiewe bespreking van “A Fork in the Road” vroeg Februarie in die Sunday Times van Londen.

Met Hermann Giliomee se resensie van “South Africa’s Brave New World” gister in Rapport sou lesers wat nog nie die boek in die hand gehad het nie kennis geneem het van die opmerking van Desmond Painter in Boekeblok op Die Burger se webwerf dat Johnson dit aan Giliomee opgedra het. ‘n Vriendskap kan veronderstel word, moontlik ‘n aanduiding van skatpligtigheid, dalk ‘n erkenning van besieling.

Diegene wat Giliomee se skryfwerk ken uit die dae van Die Suid-Afrikaan en hom polities kan dekodeer, sal weet dat ‘n vriendskap tussen die twee allerwaarskynlik is.

Maar is vriendskap ‘n beletsel? Veral waar dit iemand van Giliomee se statuur aangaande is? Andersyds: Is vyandskap ‘n beletsel? Lesers van resensies sal weet dat laasgenoemde dikwels die pakkendste leesstof afgee, terwyl eersgenoemde geneig is om te lei tot oninteressante goedpratery.

Met dit alles in gedagte is dit opvallend hoe besonder goed Giliomee se resensie geskryf is.  Hy gebruik sy eerste twee paragrawe om Johnson se posisionering binne die plaaslike politieke spektrum te verduidelik, en skaar hom implisiet aan Johnson se kant. ‘n Belangeverklaring  sou hier toutologies gewees het.

In die derde (uit agtien) paragrawe gee Giliomee sy evaluering: Johnson se boek is die belangrikste ontleding van die land wat sedert 1994 verskyn het. Vir ‘n gewone leser sou hierdie omtrent al genoeg aanmoediging gewees het om die boek te gaan koop. Gelukkig gryp Giliomee die kans om presies uiteen te sit hoekom hy die boek so aanprys.

Vir iemand wat rustig ‘n Sondagoggend sit en omkry het met die koerant in die hand, sou die lees van hierdie resensie enigsins sanerend gewees het. Veral in die huidige verkiesingstyd, met soveel beloftes wat knetter en drogredenasies wat die land as ‘n paradys voorhou, is Giliomee se opsomming van Johnson se argument alleen al die prys van die koerant werd. Wat natuurlik ook sê die boek gaan jou éérs boei.

Mens wonder uiteraard hoe André Brink dit so verkeerd kon kry oor hierdie boek? Het hy? Giliomee gee self in sy eerste paragraaf die sleutel tot ‘n antwoord: As jy jare lank deel van die linkervleuel was, sal jy noodwendig nie met Giliomee saamstem nie, en nog minder met Johnson. Waar plaas die leser homself?

Ondanks my genieting van Brink se resensie het Giliomee my oortuig dat Johnson se boek een is wat ek wil besit en lees. Hier is nou die voordeel van meerdere resensies, Peet.

Ronel Nel kondig in dieselfde koerant ook in haar inleidingsparagraaf aan waar haar simpatie lê jeens Jackie en Reinet Nagtegaal se “In limbo”: “Sê wat jy wil. Die Nagtegaals kry jy nie onder nie. Veral nie met venynige resensies of onwelmenende onderhoude nie.”

Mens weet dus jy hoef nie jou asem op te hou nie, hier gaan geen klappe uitgedeel word nie. Op ‘n manier bederf Nel die “avontuur” van die resensie, en vererger sake deur die grootste deel van haar ruimte af te staan aan die vertel van die verhaal.

Goed, soms is dit vir ‘n resensent onvermydelik om nie ‘n groot deel van ‘n roman in ‘n paar paragrawe te moet parafraseer nie. As dit dan moet, verkies ek die manier waarop die resensent Corné Coetzee met die materiaal (Jaco Kirsten se “Om na ‘n wit plafon te staar”, Rapport) omgaan.

Coetzee ken die redaksionele konteks waaruit Kirsten kom. Ook die soort mense wat ‘n invloed op hom het (gaan kyk gerus na die omslag van Kirsten se boekdebuut). Daarom is Coetzee se reaksie so vol passie, en sekuur. Vir my gevoel word al die negatiewe aspekte van Kirsten se skrywerskap hier raakgesien. Ook sy sterk punte, maar Coetzee is geneig om dit in die verbygaan te noem. Met die eenvoudige sin “Dis satiries, snaaks en ten dele waar” word oneindig baie gesê:  Coetzee weet hoekom dié boek so aanklank vind by oud- en huidige Media24-joernaliste.

‘n Roman soos “Om na ‘n wit plafon te staar” loop altyd die gevaar om groot sukses in kleiner kring te hê, maar mindere welslae in groter kring. Vir Kirsten se onthalwe hoop ek dat hy Coetzee se verwysing na ‘n eendagsvlieg sal aanvaar as ‘n eersteklas-uitdaging.

3 antwoorde op Invalshoek

  1. dpainter het gesê op April 22, 2009

    Ek dink in hierdie geval was beide vyandskap en vriendskap beslis tot die leespubliek se voordeel.

  2. janbez het gesê op April 24, 2009

    Inderdaad! Maar ek sal graag wil hoor wat dink Crito van Ampie Coetzee se resensie van die De Lange-digbundel.

  3. crito het gesê op April 24, 2009

    Ek het dit probeer ignoreer. As jy gaan kyk na die gesprek daaroor op Boekeblok, is daar ‘n klompie pertinente kwessies geopper deur Desmond Painter, Joan Hambidge en Jaco Barnard-Naudé. Die probleem is net dat mens, nadat jy dit van alle kante bekyk het, nie kan wegkom van een van die groot probleme waarmee ‘n Afrikaanse boekeredakteur vandag worstel nie: Hoe vind jy tussen al die vriend- en vyandskapsvertakkings, al die keurders en belanghebbers iemand wat onbevange na ‘n digbundel kan kyk?
    Gerrit Brand se keuse was ongelukkig, veral as jy dit beskou binne die raamwerk van vriend- en vyandskap waarin baie van die betrokkenes hulle bevind. Die resensie was dus noemenswaardig om redes wat niks te make het met die substansie of geldigheid daarvan nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.