Profile photo of crito

by

‘n Bietjie baie geskiedenis

April 7, 2009 in Sonder kategorie

Afrikaanse koerante staan in die brandpunt van taalontwikkeling. By dié koerante kry die samestellers van WAT hul meeste voorbeelde van vernuwing. Ek wonder dikwels hoe  die leksikograwe se gemoedere daagliks fluktueer, veral wanneer hulle die swak  taalversorging in Beeld en Die Burger besigtig.

Verlede week het ek die redigering van Jaybee Roux se jongste resensie in Beeld bespreek. Ek wil nie vandeesweek dieselfde gekweel aan die gang sit nie, maar ek dink tog dat Christi van der Westhuizen se amper goeie Afrikaans op Die Burger se boekebladligweg aandag verdien.

Van der Westhuizen is self taalgevoelig. Dít lei mens af uit die slotopmerkings in haar resensie van Martin Meredith se “Diamons Gold and War; The Making of South Africa”. Sy wys op twee afskuwelike vertalings waarvan Meredith hom bedien het. Daarvoor is ons haar dankbaar.

Ongelukkig het sy self‘n wasige taalgebruik wat nie getuig van semantiese noukeurigheid nie.

Neem byvoorbeeld hierdie sin: “Aangesien dié geskiedenis al oor en oor gepubliseer is in soortgelyktoeganklike boeke, wonder ’n mens dadelik wat die boek nuut byvoeg tot dié uitgebreide volume skryfsels.”

Die twee woorde wat dadelik hinder, is “gepubliseer” en “skryfsels”. Jy vra jou af of ‘n stuk geskiedenis (synde ‘n ketting van gebeure met ‘n aantoonbare begin-en eindpunt) gepubliseer kan word. Ek dink ek weet wat sy bedoel, en kan vir haar ‘n paar woorde aan die hand doen wat in die plek van “gepubliseer” sou kon diens doen: “bespreek”, “ontleed” of selfs “analiseer”. “Skryfsels” is op sy beurt ‘n woord met ‘n negatiewe lading, gebruik in teenstelling met “skryfwerk”, “ontledings”, “besprekings”, “navorsing”.  Van der Westhuizen gebruik dit om uit die staanspoor aan te dui dat sy meen Meredith se werk is van mindere statuur, behorend tot die kategorie van “toeganklike” boeke oor die onderwerp. Hoe opreg kan haar verwondering dan wees oor die nuwe insigte watdie boek bring tot hierdie genre?

Mens kan haar die gevoel van meerderwaardigheid verskoon, maar slegs as jy dink dis in orde dat ‘n resensent sy vooroordeel met die intrapslag uitbasuin en dan vir die res van die resensie bestendig.

Die slordigheid slaan daarna plek-plek uit. Een van die juwele: “Die gebeure verloop vloeiend sonder te veel aanhalings en met geen regstreekse verwysings nie.” Sy gebruik “gebeure” korrek (in die sin van ‘n ketting van gebeurtenisse), maar ‘n goeie redigeerder sou “vloeiend” na “vlot” verander het, en dan dadelik gewonder het hoe op aarde aanhalings ‘n ketting van gebeurtenisse kan onderbreek. In hierdie geval sou die sin dus liefs as volg moes lui: “Meredith se vlot beskrywing van  die gebeure word nie te veel deur aanhalings onderbreek nie.” Met “geen regstreekse verwysings” het ek egter nie raad nie. Ek weet gewoon nie wat sy daarmee bedoel nie. Maar dit klink na ‘n slim opmerking wat sy maak, nè?

Van der Westhuizen se sensitiwiteit vir die narratief en die ketting van gebeure laat haar in die steek wanneer sy die volgende kwytraak: “Maar in die poging om die netjies afgebakende geskiedenis soos ’n storie te vertel konsentreer Meredith noodwendig op daardie feite wat mooi by mekaar aanhaak.” As sy aanvaar dat Meredith ‘n stuk geskiedenis as verhaal wil vertel, kan sy mos nie kapsie maak daarteen dat Meredith konsentreer op feite wat netjies skakel nie. Sou sy haar nie dalk beter uitgedruk het nie as sy aangedui het Meredith se vertelling feite ignoreer wat nie netjies by sy vertelling inskakel nie, en dan aandui watter feite dit is?

Dit mag miskien klink asof ek Christi van der Westhuizen se resensie wil afskiet. Allermins. Ek hou van die feit dat sy so uitvaar, dat sy met passie skryf. ‘n Mens hoef dit alleen te vergelyk met die hardlywige intellektualisme van Neil Cochrane se bespreking van Etienne van Heerden se “30 nagte in Amsterdam” of die lusteloosheid van Stoffel Cilliers se bespreking van Hans du Plessis se “Verbrande paradys”, en jy sal weet watter soort resensie gaan iets beteken vir iemand wat ‘n boek soek om te lees.

Ten slotte wonder ek of daar ‘n sin weggeval het in Cochrane se eerste paragraaf?Ek het gedog dié paragraaf behoort só te lees: “Skaars ’n jaar ná die publikasie van Asbesmiddag(2007) verskyn Etienne van Heerden se agtste roman, 30 nagte in Amsterdam. Ses maande later eers verskyn ‘n bespreking daarvan in Beeld.

 

 

 

 

 

 

7 antwoorde op ‘n Bietjie baie geskiedenis

  1. jaybeeroux het gesê op April 7, 2009

    DEEL 1
    Ek reageer nou eers op laas week se kritiek op my resensie oor “The Minutes of the Lazarus Club” omdat ek ’n besige bytjie is wat slegs sporadies tyd het om blogs te lees.

    Ek reageer paragraafsgewys op jou kritiek:

    Crito: Veralgemenings behoort altyd jou laaste toevlug te wees as jy onseker is oor die krag van jou inleidingsparagraaf – want dít is wat jou lesers gaan laat dros of laat voortlees. (…) Hoe ookal, jou ware inleidingsparagraaf is sin drie van jou resensie: “As jy ’n voorliefde het vir spanningsverhale en lus het vir iets unieks, is The minutes of the Lazarus Club spesiaal vir jou.” ‘n Goeie boekredakteur sou dit geredigeer het tot: “The minutes of the Lazarus Club is spesiaal vir diegene met ‘n voorliefde vir spanningsverhale wat iets unieks bied.”
    Jaybee: Toegegee: jou voorgestelde inleidingsin is kragtiger en beter as myne. Maar ek moet bysê: my oorspronklike inleidingsparagraaf, wat ek glo heel treffend was, is weens ruimtebeperkings deur die betrokke sub gesny.
    Ek vermoed jy is reg oor die veralgemening-ding en sal dit met toekomstige resensies in gedagte hou. Dankie vir die wenk.

    C: Geen fout hier te vinde nie – dis feite (ofskoon dit ‘n bietjie vriendelik van jou is om Pollard as “bekend” te beskryf.) En het jy nog nie van die nuwe saaklikheid gehoor nie? ‘n Goeie redakteur sou hier aangedring het op ‘n verbetering: “Londen in die 1800’s is die agtergrond van hierdie debuutroman deur die Britse argeoloog en historikus Tony Pollard. ‘n Welkome nuwe skrywerstem.”

    JB: Pollard ís ’n bekende figuur op sy vakgebied – lees die flapteks. Maar ja, dié paragrafie kon inderdaad meer saaklik gewees het; ek sal dit ingedagte hou met toekomstige resensies.

    C: (…) probeer jy te kenne gee dat lewensmoeë, oorwerkte geregsdienaars vandag in hierdie genre die norm is. Dis tog nonsens. Lee Child, een van vandag se top-skrywers in dié genre, sit met ‘n held wat ‘n gewone landsburger is, en nogal baie maak daarvan ook.

    JB: In Engels word spanningsverhale verdeel in “mistery” en “suspense”; daar is nie Afrikaanse ekwawilente vir hierdie terme nie en daar word dus kollektief na “spanningsverhale” verwys.
    In dié resensie het ek verwys na “mystery” (waarvan “Lazarus” ’n voorbeeld is) – dis die tipe verhaal waarin die protagonis dikwels (jammer vir die veralgemening) geregsdienaars met ’n onverwerkte “issues’ is (sien Deon Meyer, Patricia Cornwell en vele ander).
    Daar is ’n hele paar kriteria waarvolgens die subgenres van mekaar onderskei word, maar met “suspense”, wat gewoonlik op die vrouemark gerig is, is die protagonis juis ’n gewone landsburger. Ek is nie vertroud met Lee Child se werk nie, maar vermoed sy skryf “suspense”, terwyl ek “Lazarus” juis met ander “mistery”-verhale vergelyk. Dalk moes ek dit so in die resensie verduidelik het.

    C: Jou skryfwerk neig dikwels na ‘n lompheid en stilistiese slordigheid. (…)

    JB: Dalk net soms. Ek sal in die toekoms noukeurig hierop let.

    C: (…) Wat hierdie roman “uniek” maak, is nie die feit dat ‘n gewone landsburger, ‘n chirurg, die sentrale figuur is nie, maar die feit dat die Lazarus Club ‘n klompie historiese figure insluit wat karakters in die verhaal word, en wat die vertelling sy primêre interessantheid verleen. (…)

    JB: Soos ek hierbo verduidelik, het ons hier met “mistery” te doen. Die feit dat die sentrale figuur ’n gewone landsburger is, is wél een van baie dinge wat ’n uitsonderlikheid aan die roman verleen.

    (vervolg hierbo)

  2. jaybeeroux het gesê op April 7, 2009

    DEEL 2
    C: (..) Jy wou aandui dat hierdie roman nie die elemente bevat wat die tydgenootlike spanningsroman kenmerk nie, maar in die plek daarvan raak jy ‘n onsinnigheid kwyt: “dis nie ‘n boek hierdie waarin die skrywer sy lesers met tallose jaagtogte, skietgevegte enontploffings aan die lees probeer hou nie….” So wragtag. Waarmee sou hulle jaag? Treine en perde? In die 1800’s? Skietgevegte? In ‘n era waarin vuurwapens nie wyd versprei was nie? Slordige formulering, Jaybee. ‘n Skrander redakteur sou jou tweede sin in hierdie paragraaf verander het na: “Daar is volop aksie, maar anders as in spanningsverhale oor ons eie tyd is daar geen jaagtogte, skietgevegte en ontploffings wat mens se aandag moet hou nie. Die roman het dit ook nie nodig nie: Die gegewe is boeiend genoeg.”

    JB: Hier is dit jóú beurt om die doelskop te mis. Hoe deeglik het jy die boek gelees? Daar kom wél skietgevegte, ontploffings, jaagtogte (met koetse!) en ander aksietonele in die boek voor. My standpunt is dat dit nie vir die skrywer nodig was om hom uitsluitlik op sulke tonele toe te lê om lesers te boei nie en dat hy hom ook nie daaraan skuldig gemaak het nie.

    C: Dit is duidelik dat die resensent die skrywer van die boek bewonder vir sy historiese navorsing en oog vir detail (diegene van ons wat die boek reeds gelees het, sou kon byvoeg dat Pollard ‘n werklik vervelige skrywer is), maar goue medaljes uitdeel? Hoekom het die detail van die Victoriaanse era jou verstom, Jaybee? En waaraan meet jy die skrywer se selfvertroue? Aan sy ooraanbod van detail? Dalk moes jy hier genoem het dat so iets die kenmerk van ‘n beginner is. Dink terug aan jou eie eerste roman!

    JB: Hier val jy jou oor jou eie voete op pad doellyn toe: Jy veralgemeen (!) gruwelik deur te sê diegene wat die boek gelees het, sou dit voor die voet vervelig vind. Ek het die boek verslind en waarskynlik baie ander lesers ook.
    Dit is bitter moeilik om ’n vervloë era in ’n verhaal tot lewe te bring. Om dit geloofwaardig te doen, is detail nodig – die akkuraatheid van die detail in dié boek het my inderdaad verstom. Ek het egter nie gevoel dat daar ’n “ooraanbod” van detail is nie. Jy veralgemeen (!) deur te impliseer dat alle lesers jou mening hieroor deel.
    Dit verg baie selfvertroue om ’n boek te skryf waarin jy ’n leefwêreld wat jy nie self kan ervaar nie omdat dit nie meer bestaan nie, getrou weer te gee. Om dit suksesvol te doen, verdien ’n goue medalje.
    Jy weet terloops nie wat my eerste roman is nie omdat ek vroeër ’n hele paar skuilname gebruik het (voor ek besef het ’n skrywer met murg in sy pype moet pa staan vir álles wat hy skryf en dat dit lafhartig is om nie jou eie naam by jou skryfwerk te plaas nie. Hulle noem dit nie verniet ’n skuil(!)naam nie).
    Jy glo buitendien ’n resensie moet verskyn voor ’n boek se ink droog is – hoekom dus ou koeie uit die sloot grawe?
    Daar is boonop baie skrywers wat uitstekende debute gelewer en hulle eers daarna aan ’n ooraanbod van detail skuldig gemaak het. Dink aan Dalene Matthee, Wilbur Smith . . .

    C: Nog ‘n medalje! Fantasties. En waarvoor? Omdat hy talle genrereëls verbreek het. “Reëls” volgens watter edik? En hoe het hy dit verbreek? Jou laaste sin kan op geen menslike manier geverifieer word nie, dus sal mens jou taksering moet aanvaar.

    JB: Ja, nog ’n medalje – omdat die skrywer weggebreek het van die vele genre-voorspelbaarhede waarna ek in die eerste (weggelate) paragraaf verwys het. My laaste sin is ’n persoonlike mening. Dis tog wat ’n resensie is: ’n persoonlike mening.

    C: O, ek sien. Jy’t gewonder hoe om die medalje te verduidelik. Atletiek?

    JB: Eintlik wou ek dit duidelik stel dat Pollard nie noodwendig die grootste skrywer (op sy gebied) van alle tye is nie, maar uitstaan onder hedendaagse (!) skrywers.

    (vervolg hierbo)

  3. jaybeeroux het gesê op April 7, 2009

    DEEL 3
    C: (…) Miskien moet ek jou daag om te sê watter gevestigde name goed op hul neuse gekyk het nadat Pollard se roman verskyn het. Dis maklik om dinge te sê, maar hulle moet sin maak. Jou slotsin klink lekker, maar dit beteken absoluut niks.

    JB: Ruimte het ontbreek, maar jy is dalk reg dat ek meer spesifiek kon wees.

    JB: Dankie dat ek iets by jou kon leer. Die tekortkominge in jou kritiek word vergewe.
    Let wel: waar jou kritiek gegrond is, vat ek – Jaybee Roux – dit soos ’n man. Almal weet wie ek is. Almal weet dis ék wat soms kort voor die doellyn platgeduik word, maar ek het die moed om die wêreld in die oë te bly kyk. Sommige kies egter die Osama Bin Laden-opsie: hulle skuil.

  4. jaybeeroux het gesê op April 7, 2009

    Sebastian: Wat laat jou dink Crito skryf nie soms resensies wat wél gepubliseer word in die koerante wat jy noem nie? Hy/sy doen dit dalk net onder sy/haar eie naam. Dit beteken natuurlik hy is die enigste resensent wat nie soms in aanmerking kom vir sy kritiek nie. Of dalk resenseer hy homself…?

    Goeie punt, Spekbek, maar jy het Volksblad uitgelaat. As resensente is ons dalk bederf deur boekredakteurs wat tyd gehad gehad om noukeurige aandag aan elke resensie te gee. Ek skat ons sal voortaan harder moet werk om die tans oorlaaide redakteurs se taak ‘n bietjie ligter te maak.

  5. jaybeeroux het gesê op April 8, 2009

    Crito is dalk ‘n bietjie verward: volgens sy profiel is/was hy aanvanklik ‘n man, later word hy/sy toe vroulik. Miskien is hy/sy net baie desperaat om ons ‘n rat voor die oë te draai sodat ons tog net nie moet weet wie hy/sy is nie …. ek wonder hoekom, wat hy/sy so naarstig wegsteek.

    Van watter boekebladredakteur praat jy? As dit Rapport s’n is: ek skryf nie juis vir hulle nie en sover ek weet is sy nie deur die ontwikkelings by Media 24 geraak nie. Danila Liebenberg by Volksblad is onlangs daar weg en haar plek is deur ‘n ander (ook vroulike) personeellid ingeneem. As enige van lg 2 dames die drama gskryf het, was dit voor die omwentelinge by Media 24 hulle werksdruk verhoog het.

  6. Crito, die woord geskiedens dui nie net op die gebeure nie, maar kan ook dui op die vertelling oor daardie gebeure. En ek vind die woord skryfsels glad nie so negatief soos jy nie, eerder informeel. Buitendien, dis mos duidelik dat die resensent in hierdie geval nie veel van die betrokke stuk skryfwerk dink nie.

  7. crito het gesê op April 9, 2009

    “Skryfsels” het ek ervaar as ‘n retoriese baken in haar resensie – die eerste plek waar sy sterk laat blyk dat sy die boek wat sy bespreek, as van mindere allooi beskou. Maar bekyk dit goed: dis wasig, dis die soort negatiewe semantiese lading wat jy alleen raaksien as jy “skryfsels” vergelyk met “skryfwerk”. Eersgenoemde is in ligter trant, nè – neem dit dan self verder.

    Ek sal graag eendag wil sien dat iemand die retoriese truuks en arsenale van goeie Afrikaans-skrywende politieke analiste (spesifiek Christi van der Westhuizen, Max du Preez en Christelle Terre’Blanche) onder die vergrootglas neem. Die passie waarmee Van der Westhuizen skryf, kom mens agter uit die manier waarop sy nie alleen direkte uitsprake gebruik nie, maar ook indirekte, elliptiese uitsprake wat gedra word deur haar retoriese aanslag. Dis lekker om sulke resensies te lees, net jammer dat sy andersins neig om van maklike formulerings gebruik te maak en dan raak sy slordig, soos ek aangetoon het.

    My geslag: Red Herring, of is dit?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.