Profile photo of crito

by

Om die resensie te resenseer: Jaybee Roux onder die loep

April 2, 2009 in Sonder kategorie

Jaybee Roux het gevra dat ek een van resensies bespreek. Vandeesweek het uit sy pen ‘n bespreking van “The minutes of the Lazarus Clubdeur Tony Pollard in Beeld verskyn. Ek het, net om veilig te wees, die boek inderhaas gaan leen en gelees. 

Ek plaas eers Jaybee se resensie:

’n Mate van voorspelbaarheid is ’n kenmerk van onder meer spanningsverhale.

Maar selfs die mees verbete genreaanhanger smag soms na ’n nuwigheid. As jy ’n voorliefde het vir spanningsverhale en lus het vir iets unieks, is The minutes of the Lazarus Club spesiaal vir jou.

Dié boek speel hom in Londen gedurende die 1800’s af en is gegrond op ware gebeure.

Tony Pollard is ’n bekende argeoloog en historikus, maar hierdie is sy debuutroman: Dis altyd lekker om ’n nuwe skrywerstem te ontdek.

Die protagonis is nie ’n speurder, privaatspeurder of forensiese deskundige nie, maar ’n gewone chirurg by ’n Londense hospitaal. Dis verfrissend dat die held hierdie keer nie ’n lewensmoeë, oorwerkte geregsdienaar van een of ander aard is nie, maar ’n gewone landsburger wat, aanvanklik onwetend, by ’n netwerk van boosheid ingetrek word.

Wanneer lyke waarvan die inwendige organe verwyder is in die Teemsrivier ontdek word, word dr. George Phillips deur die polisie genader vir ’n deskundige mening. Maar dit is eers toe hy betrokke raak by die Lazarus Club dat dr. Phillips toenemend by die raaiselagtige “reeksmoorde”betrokke raak.

Dié klub bestaan uit ’n klompie uitgesoekte manne – elk ’n gerespekteerde kenner op sy gebied – wat gereeld vergader om hul onkonvensionele idees met mekaar te bespreek.

Lede van die klub sluit Charles Darwin en Isambard Brunel, ’n ambisieuse ingenieur en skeepsbouer, in.

Daar is vele kinkels en wendings, raaisels wat verdiep en stelselmatig opgelos word.

Aksie is daar genoeg, maar dis nie ’n boek hierdie waarin die skrywer sy lesers met tallose jaagtogte, skietgevegte en ontploffings aan die lees probeer hou nie; hy het ook nie nodig om dit te doen nie: Die gegewe is boeiend genoeg.

Pollard se navorsing is ’n goue medalje werd: Londen in die Victoriaanse era word met verstommende detail en selfvertroue uitgebeeld.

Hy verdien ’n verdere medalje omdat hy besondere waagmoed aan die dag gelê en talle genrereëls verbreek het, en nóg een omdat hy ’n spanningsverhaal gelewer het wat wyd aanklank sal vind, ook onder lesers wat hulle nie normaalweg tot hierdie genre wend om hul leesure te vul nie.

Wanneer dit kom by spanningsverhale wat die afgelope jare op die mark verskyn het, verdien Tony Pollard die boonste plek op die podium.

Dié kampioen laat met sy debuut ’n hele paar gevestigde name goed op hul neuse kyk.

 

Roux is ’n skrywer.

Tot sover die resensie. Ek analiseer dit paragaraafgewys


’n Mate van voorspelbaarheid is ’n kenmerk van onder meer spanningsverhale. Maar selfs die mees verbete genreaanhanger smag soms na ’n nuwigheid. As jy ’n voorliefde het vir spanningsverhale en lus het vir iets unieks, is The minutes of the Lazarus Club spesiaal vir jou.

Die resensie begin met ‘n veralgemening, en die tweede sin gee die korrektief. Veralgemenings behoort altyd jou laaste toevlug te wees as jy onseker is oor die krag van jou inleidingsparagraaf – want dít is wat jou lesers gaan laat dros of laat voortlees. Die feit dat jy in die tweede paragraaf ‘n korrektief het op jou eerste paragraaf, wys vir my dat jy dit miskien intuïtief aangevoel het. Hoe ookal, jou ware inleidingsparagraaf is sin drie van jou resensie: “As jy ’n voorliefde het vir spanningsverhale en lus het vir iets unieks, is The minutes of the Lazarus Club spesiaal vir jou.” ‘n Goeie boekredakteur sou dit geredigeer het tot: “The minutes of the Lazarus Club is spesiaal vir diegene met ‘n voorliefde vir spanningsverhale wat iets unieks bied.”

Dié boek speel hom in Londen gedurende die 1800’s af en is gegrond op ware gebeure. Tony Pollard is ’n bekende argeoloog en historikus, maar hierdie is sy debuutroman: Dis altyd lekker om ’n nuwe skrywerstem te ontdek.

Geen fout hier te vinde nie – dis feite (ofskoon dit ‘n bietjie vriendelik van jou is om Pollard as “bekend” te beskryf.) En het jy nog nie van die nuwe saaklikheid gehoor nie? ‘n Goeie redakteur sou hier aangedring het op ‘n verbetering: “Londen in die 1800’s is die agtergrond van hierdie debuutroman deur die Britse argeoloog en historikus Tony Pollard. ‘n Welkome nuwe skrywerstem.”

Die protagonis is nie ’n speurder, privaatspeurder of forensiese deskundige nie, maar ’n gewone chirurg by ’n Londense hospitaal. Dis verfrissend dat die held hierdie keer nie ’n lewensmoeë, oorwerkte geregsdienaar van een of ander aard is nie, maar ’n gewone landsburger wat, aanvanklik onwetend, by ’n netwerk van boosheid ingetrek word.

 n Baie problematiese deel van jou resensie. Jy wil die boek onder oë vergelyk met ander boeke wat vandag beskikbaar is. Die eerste sin kan nog geduld word, maar in die tweede deel probeer jy te kenne gee dat lewensmoeë, oorwerkte geregsdienaars vandag in hierdie genre die norm is. Dis tog nonsens. Lee Child, een van vandag se top-skrywers in dié genre, sit met ‘n held wat ‘n gewone landsburger is, en nogal baie maak daarvan ook.

Wanneer lyke waarvan die inwendige organe verwyder is in die Teemsrivier ontdek word, word dr. George Phillips deur die polisie genader vir ’n deskundige mening. Maar dit is eers toe hy betrokke raak by die Lazarus Club dat dr. Phillips toenemend by die raaiselagtige“reeksmoorde” betrokke raak.

 Jou skryfwerk neig dikwels na ‘n lompheid en stilistiese slordigheid. Vir my smaak begin jy ook té dikwels sinne met “maar”; dit is ook ‘n skande dat die redakteur jou nie beskerm het en die tweede “betrokke raak” reggeskaaf het nie. Hierdie paragraaf kon eerder só uitgesien het: Die polisie nader hierdie chirurg, George Phillips, om ‘n deskundige mening wanneer lyke sonder hul inwendige organe in die Teemsrivier gevind word. Sy ondersoek betrek hom toenemend by die Lazarus Club en raaiselagtige “reeksmoorde”.

Dié klub bestaan uit ’n klompie uitgesoekte manne – elk ’n gerespekteerde kenner op sy gebied – wat gereeld vergader om hul onkonvensionele idees met mekaar te bespreek. Lede van die klub sluit Charles Darwin en Isambard Brunel, ’n ambisieuse ingenieur en skeepsbouer, in.

Teen die tyd dat jy hierdie paragraaf geskryf het, moes jy al besef het dat jy die kluts kwyt was met jou inleidende paragraaf en daaropvolgende argumentering. Wat hierdie roman “uniek” maak, is nie die feit dat ‘n gewone landsburger, ‘n chirurg, die sentrale figuur is nie, maar die feit dat die Lazarus Club ‘n klompie historiese figure insluit wat karakters in die verhaal word, en wat die vertelling sy primêre interessantheid verleen. Hulle is Charles Darwin (die vader van natuurlike seleksie, om dit ligkens testel), Charles Babbage (‘n wiskundige en filosoof wat veral beroemd is omdat hy die eerste was wat ‘n programmeerbare rekenaar gekonsipieer het), en Isambard Kingdom Brunel (‘n ingenieur beroemd vir sy brug-ontwerpe, stoombote, spoorwee en tonnels). Maar hier is jy nou lekker op dreef, en vir hierdie leser het daar ‘n goor vermoede ontstaan dat alles wat volg, breë veralgemenings gaan wees waarin die resensent probeer om te wys dat dit ‘n goeie boek is sonder om die boek se ontknoping te verklap.

Daar is vele kinkels en wendings, raaisels wat verdiep en stelselmatig opgelos word. Aksie is daar genoeg, maar dis nie ’n boek hierdie waarin die skrywer sy lesers met tallose jaagtogte, skietgevegte en ontploffings aan die lees probeer hou nie; hy het ook nie nodig om dit te doen nie: Die gegewe is boeiend genoeg.

My vermoede was reg, maar ek het nie rekening gehou daarmee dat jy sukkel om verbande te lê nie. Jy wou aandui dat hierdie roman nie die elemente bevat wat die tydgenootlike spanningsroman kenmerk nie, maar in die plek daarvan raak jy ‘n onsinnigheid kwyt: “dis nie ‘n boek hierdie waarin die skrywer sy lesers met tallose jaagtogte, skietgevegte enontploffings aan die lees probeer hou nie….” So wragtag. Waarmee sou hulle jaag? Treine en perde? In die 1800’s? Skietgevegte? In ‘n era waarin vuurwapens nie wyd versprei was nie? Slordige formulering, Jaybee. ‘n Skrander redakteur  sou jou tweede sin in hierdie paragraaf verander het na: “Daar is volop aksie, maar anders as in spanningsverhale oor ons eie tyd is daar geen jaagtogte, skietgevegte en ontploffings wat mens se aandag moet hou nie. Die roman het dit ook nie nodig nie: Die gegewe is boeiend genoeg.”

Pollard se navorsing is ’n goue medalje werd: Londen in die Victoriaanse era word met verstommende detail en selfvertroue uitgebeeld.

Dit is duidelik dat die resensent die skrywer van die boek bewonder vir sy historiese navorsing en oog vir detail (diegene van ons wat die boek reeds gelees het, sou kon byvoeg dat Pollard ‘n werklik vervelige skrywer is), maar goue medaljes uitdeel? Hoekom het die detail van die Victoriaanse era jou verstom, Jaybee? En waaraan meet jy die skrywer se selfvertroue? Aan sy ooraanbod van detail? Dalk moes jy hier genoem het dat so iets die kenmerk van ‘n beginner is. Dink terug aan jou eie eerste roman!

Hy verdien ’n verdere medalje omdat hy besondere waagmoed aan die dag gelê en talle genrereëls verbreek het, en nóg een omdat hy ’n spanningsverhaal gelewer het wat wyd aanklank sal vind, ook onder lesers wat hulle nie normaalweg tot hierdie genre wend om hul leesure te vul nie.

Nog ‘n medalje! Fantasties. En waarvoor? Omdat hy talle genrereëls verbreek het. “Reëls” volgens watter edik? En hoe het hy dit verbreek? Jou laaste sin kan op geen menslike manier geverifieer word nie, dus sal mens jou taksering moet aanvaar.

Wanneer dit kom by spanningsverhale wat die afgelope jare op die mark verskyn het, verdien Tony Pollard die boonste plek op die podium.

O, ek sien. Jy’t gewonder hoe om die medalje te verduidelik. Atletiek?

Dié kampioen laat met sy debuut ’n hele paar gevestigde name goed op hul neuse kyk.

Weer die veralgemening wat nie getoets kan word nie, al het jy nou skielik jou atletiek-beeld tot by sy logiese einde geneem. Miskien moet ek jou daag om te sê watter gevestigde name goed op hul neuse gekyk het nadat Pollard se roman verskyn het. Dis maklik om dinge te sê, maar hulle moet sin maak. Jou slotsin klink lekker, maar dit beteken absoluut niks.

 

 

3 antwoorde op Om die resensie te resenseer: Jaybee Roux onder die loep

  1. jjanajj het gesê op April 2, 2009

    crito – jy moet ‘n dosent word, êrens moet die opvoeding begin en jy moet gekoester word, hierdie insig moet wyer strek as net hier op die blogs!

  2. janbez het gesê op April 2, 2009

    Ek het al baie eienaardige dinge op LitNet gelees – hierdie is loshande die intelligentste blog van die hele spul. Ek sal voortaan met ander oë na resensies kyk.

  3. crito het gesê op April 4, 2009

    Dankie!

    Jaybee sprak intussen geen sprook.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.