Jy blaai in die argief vir 2009 April.

Profile photo of crito

by crito

Numbers, getalle en emosies

April 29, 2009 in Sonder kategorie

1. Die boeiendste resensie vandeesweek is ongetwyfeld Leon Retief s’n oor “Galileo Goes To Jail And Other Myths About Science And Religion”.  Ek sê dit brommend, want ek kon die boek gister in geen Kaapse boekwinkel opspoor nie. Alweer een van daardie resensies wat mens irriteer: Jy wil die boek nou hê, nie oor twee maande wanneer die winkel dit ingevoer kan kry nie. (Ek kon darem vasstel dat die boek in Maart uitgegee is deur die Harvard University Press, in Amerikaanse en Britse uitgawes.) Retief skryf ‘n pakkende resensie oor die verhouding tussen wetenskap en godsdiens deur die eeue. ‘n Onderwerp wat, kan ek my voorstel, weer George Claassen na die rekenaar sal laat gryp om die groot Suid-Afrikaanse leespubliek in te lig dat helfte wat in die boek staan, gewoon liegstories is. Julle kan self raai watter helfte, laat ek nie nou al Claassen se pret bederf nie. Intussen wag ek vir die boek, ‘n knipsel van Retief se resensie byderhand. Ronald L. Numbers, die samesteller van die boek, klink volgens HUP se webwerf na iemand wat wel met gesag oor die onderwerp kan skryf. Veral vir mense soos ek, wat na godsdiens se kant oorhel.

2. Twee resensies oor rubriek-bundels: Martie Retief skryf in Rapport oor Rhoda Kadalie se “In Your Face” en Joan Hambidge in Die Burger oor André le Roux se “Op die vrou af 2”. Hambidge sê op ‘n plek: “Ons sit met ’n tweede versameling, dus is daar ’n aanvraag.” Wat ek graag sou wou sien, is dat ‘n ondernemende joernalis wat by verkoopstatistiek kan uitkom, vir ons vertel of Hambidge se aanname korrek is. Verkoop hierdie soort bundels dermate dat mens op Le Roux se boek ‘n dingetjie sou kon plak wat sê “Back by popular demand”? Ek glo nie so nie – vir my is koerante en tydskrifte se web-argiewe die finale rusplek van rubrieke. (As ek ‘n rubriekskrywer was, sou ek seker anders gevoel het.)

3. Ek hou van die Deborah Steinmar se aanpak van haar resensie van Danie Marais se “Al is die maan ‘n misverstand”. Sy begin: “Gedigte kan ek om die dood nie intellektueel ontleed nie. Hiermee ’n emosionele analise van Danie Marais se tweede bundel.” So eenvoudig soos dít, en sy het ‘n skoon lei waarmee sy kan maak wat sy wil. En sy doen dit, baie goed. Dit gaan daaroor dat die resensent haar raamwerk self bepaal het. As sy ‘n “intellektuele” resensie wou skryf, sou sy dit anders aangepak het. Maar omdat sy inlei met die opmerking dat dit oor haar emosionele reaksie op die gedigte gaan, kan sy doen wat sy wil. Die vraag is uiteraard of die Boekeredakteur een week moet toelaat dat Johann de Lange se digbundel vernietig word deur ‘n baie kritiese resensent, en die volgende week laat hy toe dat ‘n ander bundel baie, baie sagkens behandel word. Ek glo nie daar is hier sprake van “the luck of the draw” nie. Die Boekeredakteur weet wat hy van ‘n spesifieke resensent te wagte kan wees. (Vir wat dit werd is, ek het De Lange se bundel onder oë gehad, en het weer Ampie Coetzee se resensie gelees. Enigiemand wat die bundel in die hand neem sal gou agterkom dat Coetzee die stoel heeltemal misgesit het met hierdie resensie. Maar, en dit is die punt, hoeveel van die lesers van daardie resensie gaan dieselfde moeite doen?)

Profile photo of crito

by crito

Invalshoek

April 20, 2009 in Sonder kategorie

Die verklaring van belange is nie noodwendig die eerste ding waaraan ‘n resensent dink nie. Ewe min sal hy uit die staanspoor wil verklap wat sy posisionering, negatief of positief, jeens sy onderwerp is. Soms is dit egter onvermydelik dat die leser na die resensie sal kom, gewapen met juis hierdie inligting.

Soos ek verlede week aangetoon het, het mens met die lees van André Brink se bespreking van R.W. Johnson se “South Africa’s Brave New World – The Beloved Country Since the End of Apartheid” geweet dit is voorafgegaan deur Johnson se negatiewe bespreking van “A Fork in the Road” vroeg Februarie in die Sunday Times van Londen.

Met Hermann Giliomee se resensie van “South Africa’s Brave New World” gister in Rapport sou lesers wat nog nie die boek in die hand gehad het nie kennis geneem het van die opmerking van Desmond Painter in Boekeblok op Die Burger se webwerf dat Johnson dit aan Giliomee opgedra het. ‘n Vriendskap kan veronderstel word, moontlik ‘n aanduiding van skatpligtigheid, dalk ‘n erkenning van besieling.

Diegene wat Giliomee se skryfwerk ken uit die dae van Die Suid-Afrikaan en hom polities kan dekodeer, sal weet dat ‘n vriendskap tussen die twee allerwaarskynlik is.

Maar is vriendskap ‘n beletsel? Veral waar dit iemand van Giliomee se statuur aangaande is? Andersyds: Is vyandskap ‘n beletsel? Lesers van resensies sal weet dat laasgenoemde dikwels die pakkendste leesstof afgee, terwyl eersgenoemde geneig is om te lei tot oninteressante goedpratery.

Met dit alles in gedagte is dit opvallend hoe besonder goed Giliomee se resensie geskryf is.  Hy gebruik sy eerste twee paragrawe om Johnson se posisionering binne die plaaslike politieke spektrum te verduidelik, en skaar hom implisiet aan Johnson se kant. ‘n Belangeverklaring  sou hier toutologies gewees het.

In die derde (uit agtien) paragrawe gee Giliomee sy evaluering: Johnson se boek is die belangrikste ontleding van die land wat sedert 1994 verskyn het. Vir ‘n gewone leser sou hierdie omtrent al genoeg aanmoediging gewees het om die boek te gaan koop. Gelukkig gryp Giliomee die kans om presies uiteen te sit hoekom hy die boek so aanprys.

Vir iemand wat rustig ‘n Sondagoggend sit en omkry het met die koerant in die hand, sou die lees van hierdie resensie enigsins sanerend gewees het. Veral in die huidige verkiesingstyd, met soveel beloftes wat knetter en drogredenasies wat die land as ‘n paradys voorhou, is Giliomee se opsomming van Johnson se argument alleen al die prys van die koerant werd. Wat natuurlik ook sê die boek gaan jou éérs boei.

Mens wonder uiteraard hoe André Brink dit so verkeerd kon kry oor hierdie boek? Het hy? Giliomee gee self in sy eerste paragraaf die sleutel tot ‘n antwoord: As jy jare lank deel van die linkervleuel was, sal jy noodwendig nie met Giliomee saamstem nie, en nog minder met Johnson. Waar plaas die leser homself?

Ondanks my genieting van Brink se resensie het Giliomee my oortuig dat Johnson se boek een is wat ek wil besit en lees. Hier is nou die voordeel van meerdere resensies, Peet.

Ronel Nel kondig in dieselfde koerant ook in haar inleidingsparagraaf aan waar haar simpatie lê jeens Jackie en Reinet Nagtegaal se “In limbo”: “Sê wat jy wil. Die Nagtegaals kry jy nie onder nie. Veral nie met venynige resensies of onwelmenende onderhoude nie.”

Mens weet dus jy hoef nie jou asem op te hou nie, hier gaan geen klappe uitgedeel word nie. Op ‘n manier bederf Nel die “avontuur” van die resensie, en vererger sake deur die grootste deel van haar ruimte af te staan aan die vertel van die verhaal.

Goed, soms is dit vir ‘n resensent onvermydelik om nie ‘n groot deel van ‘n roman in ‘n paar paragrawe te moet parafraseer nie. As dit dan moet, verkies ek die manier waarop die resensent Corné Coetzee met die materiaal (Jaco Kirsten se “Om na ‘n wit plafon te staar”, Rapport) omgaan.

Coetzee ken die redaksionele konteks waaruit Kirsten kom. Ook die soort mense wat ‘n invloed op hom het (gaan kyk gerus na die omslag van Kirsten se boekdebuut). Daarom is Coetzee se reaksie so vol passie, en sekuur. Vir my gevoel word al die negatiewe aspekte van Kirsten se skrywerskap hier raakgesien. Ook sy sterk punte, maar Coetzee is geneig om dit in die verbygaan te noem. Met die eenvoudige sin “Dis satiries, snaaks en ten dele waar” word oneindig baie gesê:  Coetzee weet hoekom dié boek so aanklank vind by oud- en huidige Media24-joernaliste.

‘n Roman soos “Om na ‘n wit plafon te staar” loop altyd die gevaar om groot sukses in kleiner kring te hê, maar mindere welslae in groter kring. Vir Kirsten se onthalwe hoop ek dat hy Coetzee se verwysing na ‘n eendagsvlieg sal aanvaar as ‘n eersteklas-uitdaging.

Profile photo of crito

by crito

‘n Bietjie baie geskiedenis

April 7, 2009 in Sonder kategorie

Afrikaanse koerante staan in die brandpunt van taalontwikkeling. By dié koerante kry die samestellers van WAT hul meeste voorbeelde van vernuwing. Ek wonder dikwels hoe  die leksikograwe se gemoedere daagliks fluktueer, veral wanneer hulle die swak  taalversorging in Beeld en Die Burger besigtig.

Verlede week het ek die redigering van Jaybee Roux se jongste resensie in Beeld bespreek. Ek wil nie vandeesweek dieselfde gekweel aan die gang sit nie, maar ek dink tog dat Christi van der Westhuizen se amper goeie Afrikaans op Die Burger se boekebladligweg aandag verdien.

Van der Westhuizen is self taalgevoelig. Dít lei mens af uit die slotopmerkings in haar resensie van Martin Meredith se “Diamons Gold and War; The Making of South Africa”. Sy wys op twee afskuwelike vertalings waarvan Meredith hom bedien het. Daarvoor is ons haar dankbaar.

Ongelukkig het sy self‘n wasige taalgebruik wat nie getuig van semantiese noukeurigheid nie.

Neem byvoorbeeld hierdie sin: “Aangesien dié geskiedenis al oor en oor gepubliseer is in soortgelyktoeganklike boeke, wonder ’n mens dadelik wat die boek nuut byvoeg tot dié uitgebreide volume skryfsels.”

Die twee woorde wat dadelik hinder, is “gepubliseer” en “skryfsels”. Jy vra jou af of ‘n stuk geskiedenis (synde ‘n ketting van gebeure met ‘n aantoonbare begin-en eindpunt) gepubliseer kan word. Ek dink ek weet wat sy bedoel, en kan vir haar ‘n paar woorde aan die hand doen wat in die plek van “gepubliseer” sou kon diens doen: “bespreek”, “ontleed” of selfs “analiseer”. “Skryfsels” is op sy beurt ‘n woord met ‘n negatiewe lading, gebruik in teenstelling met “skryfwerk”, “ontledings”, “besprekings”, “navorsing”.  Van der Westhuizen gebruik dit om uit die staanspoor aan te dui dat sy meen Meredith se werk is van mindere statuur, behorend tot die kategorie van “toeganklike” boeke oor die onderwerp. Hoe opreg kan haar verwondering dan wees oor die nuwe insigte watdie boek bring tot hierdie genre?

Mens kan haar die gevoel van meerderwaardigheid verskoon, maar slegs as jy dink dis in orde dat ‘n resensent sy vooroordeel met die intrapslag uitbasuin en dan vir die res van die resensie bestendig.

Die slordigheid slaan daarna plek-plek uit. Een van die juwele: “Die gebeure verloop vloeiend sonder te veel aanhalings en met geen regstreekse verwysings nie.” Sy gebruik “gebeure” korrek (in die sin van ‘n ketting van gebeurtenisse), maar ‘n goeie redigeerder sou “vloeiend” na “vlot” verander het, en dan dadelik gewonder het hoe op aarde aanhalings ‘n ketting van gebeurtenisse kan onderbreek. In hierdie geval sou die sin dus liefs as volg moes lui: “Meredith se vlot beskrywing van  die gebeure word nie te veel deur aanhalings onderbreek nie.” Met “geen regstreekse verwysings” het ek egter nie raad nie. Ek weet gewoon nie wat sy daarmee bedoel nie. Maar dit klink na ‘n slim opmerking wat sy maak, nè?

Van der Westhuizen se sensitiwiteit vir die narratief en die ketting van gebeure laat haar in die steek wanneer sy die volgende kwytraak: “Maar in die poging om die netjies afgebakende geskiedenis soos ’n storie te vertel konsentreer Meredith noodwendig op daardie feite wat mooi by mekaar aanhaak.” As sy aanvaar dat Meredith ‘n stuk geskiedenis as verhaal wil vertel, kan sy mos nie kapsie maak daarteen dat Meredith konsentreer op feite wat netjies skakel nie. Sou sy haar nie dalk beter uitgedruk het nie as sy aangedui het Meredith se vertelling feite ignoreer wat nie netjies by sy vertelling inskakel nie, en dan aandui watter feite dit is?

Dit mag miskien klink asof ek Christi van der Westhuizen se resensie wil afskiet. Allermins. Ek hou van die feit dat sy so uitvaar, dat sy met passie skryf. ‘n Mens hoef dit alleen te vergelyk met die hardlywige intellektualisme van Neil Cochrane se bespreking van Etienne van Heerden se “30 nagte in Amsterdam” of die lusteloosheid van Stoffel Cilliers se bespreking van Hans du Plessis se “Verbrande paradys”, en jy sal weet watter soort resensie gaan iets beteken vir iemand wat ‘n boek soek om te lees.

Ten slotte wonder ek of daar ‘n sin weggeval het in Cochrane se eerste paragraaf?Ek het gedog dié paragraaf behoort só te lees: “Skaars ’n jaar ná die publikasie van Asbesmiddag(2007) verskyn Etienne van Heerden se agtste roman, 30 nagte in Amsterdam. Ses maande later eers verskyn ‘n bespreking daarvan in Beeld.

 

 

 

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Om die resensie te resenseer: Jaybee Roux onder die loep

April 2, 2009 in Sonder kategorie

Jaybee Roux het gevra dat ek een van resensies bespreek. Vandeesweek het uit sy pen ‘n bespreking van “The minutes of the Lazarus Clubdeur Tony Pollard in Beeld verskyn. Ek het, net om veilig te wees, die boek inderhaas gaan leen en gelees. 

Ek plaas eers Jaybee se resensie:

’n Mate van voorspelbaarheid is ’n kenmerk van onder meer spanningsverhale.

Maar selfs die mees verbete genreaanhanger smag soms na ’n nuwigheid. As jy ’n voorliefde het vir spanningsverhale en lus het vir iets unieks, is The minutes of the Lazarus Club spesiaal vir jou.

Dié boek speel hom in Londen gedurende die 1800’s af en is gegrond op ware gebeure.

Tony Pollard is ’n bekende argeoloog en historikus, maar hierdie is sy debuutroman: Dis altyd lekker om ’n nuwe skrywerstem te ontdek.

Die protagonis is nie ’n speurder, privaatspeurder of forensiese deskundige nie, maar ’n gewone chirurg by ’n Londense hospitaal. Dis verfrissend dat die held hierdie keer nie ’n lewensmoeë, oorwerkte geregsdienaar van een of ander aard is nie, maar ’n gewone landsburger wat, aanvanklik onwetend, by ’n netwerk van boosheid ingetrek word.

Wanneer lyke waarvan die inwendige organe verwyder is in die Teemsrivier ontdek word, word dr. George Phillips deur die polisie genader vir ’n deskundige mening. Maar dit is eers toe hy betrokke raak by die Lazarus Club dat dr. Phillips toenemend by die raaiselagtige “reeksmoorde”betrokke raak.

Dié klub bestaan uit ’n klompie uitgesoekte manne – elk ’n gerespekteerde kenner op sy gebied – wat gereeld vergader om hul onkonvensionele idees met mekaar te bespreek.

Lede van die klub sluit Charles Darwin en Isambard Brunel, ’n ambisieuse ingenieur en skeepsbouer, in.

Daar is vele kinkels en wendings, raaisels wat verdiep en stelselmatig opgelos word.

Aksie is daar genoeg, maar dis nie ’n boek hierdie waarin die skrywer sy lesers met tallose jaagtogte, skietgevegte en ontploffings aan die lees probeer hou nie; hy het ook nie nodig om dit te doen nie: Die gegewe is boeiend genoeg.

Pollard se navorsing is ’n goue medalje werd: Londen in die Victoriaanse era word met verstommende detail en selfvertroue uitgebeeld.

Hy verdien ’n verdere medalje omdat hy besondere waagmoed aan die dag gelê en talle genrereëls verbreek het, en nóg een omdat hy ’n spanningsverhaal gelewer het wat wyd aanklank sal vind, ook onder lesers wat hulle nie normaalweg tot hierdie genre wend om hul leesure te vul nie.

Wanneer dit kom by spanningsverhale wat die afgelope jare op die mark verskyn het, verdien Tony Pollard die boonste plek op die podium.

Dié kampioen laat met sy debuut ’n hele paar gevestigde name goed op hul neuse kyk.

 

Roux is ’n skrywer.

Tot sover die resensie. Ek analiseer dit paragaraafgewys


’n Mate van voorspelbaarheid is ’n kenmerk van onder meer spanningsverhale. Maar selfs die mees verbete genreaanhanger smag soms na ’n nuwigheid. As jy ’n voorliefde het vir spanningsverhale en lus het vir iets unieks, is The minutes of the Lazarus Club spesiaal vir jou.

Die resensie begin met ‘n veralgemening, en die tweede sin gee die korrektief. Veralgemenings behoort altyd jou laaste toevlug te wees as jy onseker is oor die krag van jou inleidingsparagraaf – want dít is wat jou lesers gaan laat dros of laat voortlees. Die feit dat jy in die tweede paragraaf ‘n korrektief het op jou eerste paragraaf, wys vir my dat jy dit miskien intuïtief aangevoel het. Hoe ookal, jou ware inleidingsparagraaf is sin drie van jou resensie: “As jy ’n voorliefde het vir spanningsverhale en lus het vir iets unieks, is The minutes of the Lazarus Club spesiaal vir jou.” ‘n Goeie boekredakteur sou dit geredigeer het tot: “The minutes of the Lazarus Club is spesiaal vir diegene met ‘n voorliefde vir spanningsverhale wat iets unieks bied.”

Dié boek speel hom in Londen gedurende die 1800’s af en is gegrond op ware gebeure. Tony Pollard is ’n bekende argeoloog en historikus, maar hierdie is sy debuutroman: Dis altyd lekker om ’n nuwe skrywerstem te ontdek.

Geen fout hier te vinde nie – dis feite (ofskoon dit ‘n bietjie vriendelik van jou is om Pollard as “bekend” te beskryf.) En het jy nog nie van die nuwe saaklikheid gehoor nie? ‘n Goeie redakteur sou hier aangedring het op ‘n verbetering: “Londen in die 1800’s is die agtergrond van hierdie debuutroman deur die Britse argeoloog en historikus Tony Pollard. ‘n Welkome nuwe skrywerstem.”

Die protagonis is nie ’n speurder, privaatspeurder of forensiese deskundige nie, maar ’n gewone chirurg by ’n Londense hospitaal. Dis verfrissend dat die held hierdie keer nie ’n lewensmoeë, oorwerkte geregsdienaar van een of ander aard is nie, maar ’n gewone landsburger wat, aanvanklik onwetend, by ’n netwerk van boosheid ingetrek word.

 n Baie problematiese deel van jou resensie. Jy wil die boek onder oë vergelyk met ander boeke wat vandag beskikbaar is. Die eerste sin kan nog geduld word, maar in die tweede deel probeer jy te kenne gee dat lewensmoeë, oorwerkte geregsdienaars vandag in hierdie genre die norm is. Dis tog nonsens. Lee Child, een van vandag se top-skrywers in dié genre, sit met ‘n held wat ‘n gewone landsburger is, en nogal baie maak daarvan ook.

Wanneer lyke waarvan die inwendige organe verwyder is in die Teemsrivier ontdek word, word dr. George Phillips deur die polisie genader vir ’n deskundige mening. Maar dit is eers toe hy betrokke raak by die Lazarus Club dat dr. Phillips toenemend by die raaiselagtige“reeksmoorde” betrokke raak.

 Jou skryfwerk neig dikwels na ‘n lompheid en stilistiese slordigheid. Vir my smaak begin jy ook té dikwels sinne met “maar”; dit is ook ‘n skande dat die redakteur jou nie beskerm het en die tweede “betrokke raak” reggeskaaf het nie. Hierdie paragraaf kon eerder só uitgesien het: Die polisie nader hierdie chirurg, George Phillips, om ‘n deskundige mening wanneer lyke sonder hul inwendige organe in die Teemsrivier gevind word. Sy ondersoek betrek hom toenemend by die Lazarus Club en raaiselagtige “reeksmoorde”.

Dié klub bestaan uit ’n klompie uitgesoekte manne – elk ’n gerespekteerde kenner op sy gebied – wat gereeld vergader om hul onkonvensionele idees met mekaar te bespreek. Lede van die klub sluit Charles Darwin en Isambard Brunel, ’n ambisieuse ingenieur en skeepsbouer, in.

Teen die tyd dat jy hierdie paragraaf geskryf het, moes jy al besef het dat jy die kluts kwyt was met jou inleidende paragraaf en daaropvolgende argumentering. Wat hierdie roman “uniek” maak, is nie die feit dat ‘n gewone landsburger, ‘n chirurg, die sentrale figuur is nie, maar die feit dat die Lazarus Club ‘n klompie historiese figure insluit wat karakters in die verhaal word, en wat die vertelling sy primêre interessantheid verleen. Hulle is Charles Darwin (die vader van natuurlike seleksie, om dit ligkens testel), Charles Babbage (‘n wiskundige en filosoof wat veral beroemd is omdat hy die eerste was wat ‘n programmeerbare rekenaar gekonsipieer het), en Isambard Kingdom Brunel (‘n ingenieur beroemd vir sy brug-ontwerpe, stoombote, spoorwee en tonnels). Maar hier is jy nou lekker op dreef, en vir hierdie leser het daar ‘n goor vermoede ontstaan dat alles wat volg, breë veralgemenings gaan wees waarin die resensent probeer om te wys dat dit ‘n goeie boek is sonder om die boek se ontknoping te verklap.

Daar is vele kinkels en wendings, raaisels wat verdiep en stelselmatig opgelos word. Aksie is daar genoeg, maar dis nie ’n boek hierdie waarin die skrywer sy lesers met tallose jaagtogte, skietgevegte en ontploffings aan die lees probeer hou nie; hy het ook nie nodig om dit te doen nie: Die gegewe is boeiend genoeg.

My vermoede was reg, maar ek het nie rekening gehou daarmee dat jy sukkel om verbande te lê nie. Jy wou aandui dat hierdie roman nie die elemente bevat wat die tydgenootlike spanningsroman kenmerk nie, maar in die plek daarvan raak jy ‘n onsinnigheid kwyt: “dis nie ‘n boek hierdie waarin die skrywer sy lesers met tallose jaagtogte, skietgevegte enontploffings aan die lees probeer hou nie….” So wragtag. Waarmee sou hulle jaag? Treine en perde? In die 1800’s? Skietgevegte? In ‘n era waarin vuurwapens nie wyd versprei was nie? Slordige formulering, Jaybee. ‘n Skrander redakteur  sou jou tweede sin in hierdie paragraaf verander het na: “Daar is volop aksie, maar anders as in spanningsverhale oor ons eie tyd is daar geen jaagtogte, skietgevegte en ontploffings wat mens se aandag moet hou nie. Die roman het dit ook nie nodig nie: Die gegewe is boeiend genoeg.”

Pollard se navorsing is ’n goue medalje werd: Londen in die Victoriaanse era word met verstommende detail en selfvertroue uitgebeeld.

Dit is duidelik dat die resensent die skrywer van die boek bewonder vir sy historiese navorsing en oog vir detail (diegene van ons wat die boek reeds gelees het, sou kon byvoeg dat Pollard ‘n werklik vervelige skrywer is), maar goue medaljes uitdeel? Hoekom het die detail van die Victoriaanse era jou verstom, Jaybee? En waaraan meet jy die skrywer se selfvertroue? Aan sy ooraanbod van detail? Dalk moes jy hier genoem het dat so iets die kenmerk van ‘n beginner is. Dink terug aan jou eie eerste roman!

Hy verdien ’n verdere medalje omdat hy besondere waagmoed aan die dag gelê en talle genrereëls verbreek het, en nóg een omdat hy ’n spanningsverhaal gelewer het wat wyd aanklank sal vind, ook onder lesers wat hulle nie normaalweg tot hierdie genre wend om hul leesure te vul nie.

Nog ‘n medalje! Fantasties. En waarvoor? Omdat hy talle genrereëls verbreek het. “Reëls” volgens watter edik? En hoe het hy dit verbreek? Jou laaste sin kan op geen menslike manier geverifieer word nie, dus sal mens jou taksering moet aanvaar.

Wanneer dit kom by spanningsverhale wat die afgelope jare op die mark verskyn het, verdien Tony Pollard die boonste plek op die podium.

O, ek sien. Jy’t gewonder hoe om die medalje te verduidelik. Atletiek?

Dié kampioen laat met sy debuut ’n hele paar gevestigde name goed op hul neuse kyk.

Weer die veralgemening wat nie getoets kan word nie, al het jy nou skielik jou atletiek-beeld tot by sy logiese einde geneem. Miskien moet ek jou daag om te sê watter gevestigde name goed op hul neuse gekyk het nadat Pollard se roman verskyn het. Dis maklik om dinge te sê, maar hulle moet sin maak. Jou slotsin klink lekker, maar dit beteken absoluut niks.