Profile photo of crito

by

Wolke en herinneringe

Maart 24, 2009 in Sonder kategorie

Tussen die ooraanbod oninteressantheid wat Die Burger, Beeld en Rapport vandeesweek op hul boekeblaaie gelewer het, is daar een resensie wat rapportering verdien – André P. Brink se bespreking in Die Burger van The Literature Police – Apartheid Censorship and Its Cultural Consequences, ‘n boek van Peter D. McDonald.

Die nuuswaardigheid lê daarin dat Brink daarop wys in welke mate ‘n land se intellektuele geskiedenis aangetas word deur sensuur, en waarsku dat die sensuurwolke weer saampak. Diegene wat die Apartheid-regime se sensuurstelsel in volle swang gesien het, sal weet dat so iets groei uit die vervorming van ‘n demokratiese na ‘n fascistiese bestel.

Dit gaan sekerlik oor die lees van tekens, en ek sou graag wou gesien het dat Brink sy slotopmerkings verder kwalifiseer. Ek dink ek weet wat hy bedoel, maar as mens ‘n resensie skryf soos hierdie een, is dit nodig om daardie iets ekstra te gee en dit uit te spel.

Andersins is dit ‘n resensie wat ander resensente behoort te lees, al is dit net om aantekeninge te neem van hoe ‘n meester die taak benader. Brink skryf argumenterend én rapporterend. Hy reageer op ‘n boek uit die hoekpunt van sowel literêre historikus as persoonlik getroffene.

Die ander rede hoekom ek die resensie geniet het, is omdat dit die debat (as dit die regte woord is) wat in Rapport begin is deur emeritus prof. Humphrey du Randt (nogal vergesel deur ‘n foto van die hoogleraar op s’n mooiste) verder voer.

Brink verleen nie waardigheid aan Du Randt deur direk te reageer op Du Randt se kwylende betoog nie. Hy noem net in die verbygaan, spruitende uit die lees van McDonald se boek en die sien dat nie alle sensuur-belhamels genoem is nie, dat Du Randt een van die handlangers van die sensuurbestel was, en dat sy lafhartige dade ontmasker is deur George Weideman.

Weideman was ‘n werklik sagmoedige, opregte persoon – en het met die kake van ‘n bulhond vasgebyt as hy van mening was dat iemand besig is om onreg te pleeg. Ek is bly dat Brink hierdie feit nou openbaar het, en sien uit na die volgende sarsie.

4 antwoorde op Wolke en herinneringe

  1. danielhugo het gesê op Maart 24, 2009

    Beste Crito

    Goeie analise – soos gewoonlik. Net een vraag: Onderskryf jy ook Brink se irrelevante, venynige aanval op Rita Scholtz?

    Sover ek weet, was George Weideman nooit Du Randt se kollega by die Universiteit van Port Elizabeth nie. Laat die septuagentariese Brink se geheue hom in die steek?

  2. antonb het gesê op Maart 24, 2009

    Dis nou natuurlik in teenstelling met die hedendaagse fascisme van gedagtebeheer en politieke korrektheid, wat ten nouste gekoppel word aan die kwasi-religie van anti-rassisme. Miskien is dit waarna Brink verwys, want daar is beslis ‘n groot gevaar dat enige alternatiewe mening eenvoudig toenemend doodgeskree gaan word met die kreet “rassisme!” Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde…

  3. crito het gesê op Maart 25, 2009

    Ek stem saam, Grigori. Maar is dit nie interessant dat die fascisme van sensuur gekom het met die mantel van welvoeglikheid aan, terwyl politieke korrektheid pretendeer om über-welvoeglik te wees nie?

    Daniel: Ek ken Weideman se geskiedenis nie so goed nie. Ek het ‘n vermoede ons sal Sondag in Rapport die antwoord kry. As Brink ‘n blog-leser is, kan hy dalk hier vir ons die guns doen.

    Brink val Mev Scholtz nie werklik aan nie. Dis tog McDonald wat haar tekortkominge ontbloot. Maar kom ons herlei jou vraag na ‘n beginsel: Ek kan niemand se optrede as deel van ‘n fascistiese sensuurstelsel goedkeur nie.

  4. Is dit nie opvallend dat André Brink nog nie geantwoord het op hierdie of Du Randt se jongste aantygings op Die Burger se Boekeblok nie?

    Van al die boekbesprekers op Gerrit se blad is Brink seker die beste, maar ek dink hy oordoen dinge ‘n bietjie. Het hy destyds absoluut niks met die sensuurstelsel te doen gehad nie (vergeet vir eers dat hulle met hom baie te make gehad het en sy boeke verbied het)? Is hy absoluut sonder sonde? Hy gaan aan asof hy so dink.

    Du Randt, aan die ander kant, klink vir my ‘n bietjie na ‘n los kanon. Klap hier, klap daar, soos ‘n Broeder-kragman vanouds.

    Is Brink en Du Randt nie uiteindelik maar voëls van eenderse vere nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.