Profile photo of crito

by

‘n Kwessie van ruimte

Maart 10, 2009 in Sonder kategorie

Vroeg Maandagoggend het die Suid-Afrikaanse agent vir Salman Rushdie se boeke opgewonde ‘n sms geflits na Rushdie se literêre agent oorsee.

“Fantastiese resensie deur Marina le Roux oor ‘The Enchantress of Florence’ in vanoggend se uitgawe van Die Burger.”

“Wat?” kom die antwoord. “Het André Brink nie kans gesien nie? Of John Coetzee?”

“Hoekom moes hulle?”

“Rushdie is ‘n internasionale fenomeen! Jy laat hom deur sy portuur resenseer!”

“Nee man. Jy weet mos die mense hier kla oor Joan Hambidge haar portuur so resenseer. “

“Pret a portier?”

“Die resensie is baie goed.  Ons soek mos positiewe resensies wat insiggewend is sonder om banaal te wees. Ek sal dit vertaal en deurstuur. Dit sal Salman opbeur en verkope van die boek aanhelp sodra die wêreld daarvan hoor.”

Waarop die literêre agent ten slotte laat weet het: “Ek kan nie wag nie. Sal ons solank advertensieruimte in die TLS bespreek? Bid jou aan!”

Wys jou net, nè.

Daarom dat Pieter Mulder so bly kan wees dat Die Burger uiteindelik tussen al die resensies van Engelse, Amerikaanse en Nederlandse boeke die ruimte gevind het om sy  “Kan Afrikaners toyi-toyi?” te laat bespreek.

En dan nog deur ‘n ou ondersteuner van die DA, Martie Retief Meiring. Gelukkig ken Meiring haar storie. Die Australiese insident wat Mulder belewe het saam met sy mede-parlementariërs verdien oorvertelling, maar ek het gedink dat sy dalk nog heelwat meer van die tekstuur van die boek kon oorgedra het. Miskien te min ruimte gehad?

Nie dat Annemarie van Niekerk haar aan ruimte-probleme gesteur het nie. Sy neem 478 woorde om Suzanne le Roux se bakenverskuiwende “Momente en Mirakels” te bespreek, waar een sin sou gedoen het: “Wisselvallige, voorstedelike ego-trip net vir vriende bedoel.” Maar nouja, miskien wou die taalversorger nie die integriteit van Van Niekerk se woordkeuses aantas nie. Dit is belangrik dat Die Burger se lesers behoorlik ingelig word oor die vervlakking van ons kultuurgoed.

En dan is daar ook Willem Pretorius se bespreking van Hans du Plessis se nuwe roman, “Verbrande paradys”. Ek en Pretorius het in dieselfde koor gesing oor Neil Cochrane, maar ek glo nie hierdie keer nie. Mens kry die idee dat Pretorius nie eintlik geweet het hoe om te reageer nie. Marina le Roux sou geweet het hoe om hierdie roman te takseer, maar sy was besig met hogere dinge.

Suzanne Harper hou haar in Beeld besig met ander hogere dinge in die vorm van Chris Barnard se “Oulap se blou” – ‘n hier-kiep-kiep resensie van die voortreflikste aard. Sy noem letterlik alles op wat op te noem is van hierdie bundel. Ek het dit reeds gelees, en daarom dat hierdie lang, oninteressante resensie my so na my asem laat snak het: Hoe kan sulke wonderlike vertellinge só ‘n styllose aftellery afgee? Seker maar die nuwe paradigma.

Maar daar is hoop. Jaybee Roux maak sy welkome terugkeer tot die boekeblad van Beeld met ‘n mesmeriserende bespreking van “Riven”, ‘n boek deur Jerry B. Jenkins wat by ‘n uitgewer van Vereeniging verskyn het.  Dit is ‘n resensie wat mens laat regop sit. Veral wanneer Roux beken dat hierdie boek hom tot besinning geroep het na ‘n lang soektog en dat hy hom nou by impliksie self werklik leer ken het.

Beeld se lesers is sekerlik saam met hom baie, baie bly daaroor.

(Daniel Hugo, hierdie een is vir jou.)

8 antwoorde op ‘n Kwessie van ruimte

  1. Crito, ek val nie vir daardie een nie.

  2. portier (1):
    1. Persoon wat vir die oopmaak en sluit van deure sorg. 2. Iem. wat in ‘n kasteel of klooster die hoofingang oop- en toemaak. 3. Hotelbediende wat die kamers aanwys.

    portier (2):
    Deur van ‘n koets, spoorwa of motor. 2 Pilorus [“opening v.d. maag of dikderm”].

    portuur:
    1. Gelyke. 2. Geskikte maat. 3. Geskikte teenstander.

    (Uit: Verklarende Afrikaanse Woordeboek, Pharos 2007)

  3. crito het gesê op Maart 11, 2009

    Natuurlik – my fout! Dankie.
    Het reggemaak, behalwe die een wat Ons Klyntji plesier gegee het.

  4. jaybeeroux het gesê op Maart 13, 2009

    Crito, laat ek tog hierdie keer afsien van my beleid om nie te reageer op naamlose kritiek nie. Dis tyd dat jy reggehelp word.

    Oor jou stelling dat ek Gerrit Brand se “Hansie-my-kneg” is (en jou mening dat slegs spesialiste ‘n boek mag bespreek): Die “vullertjies” wat soms in Die Burger se boekeblad verskyn, lê ek uit eie beweging voor. Fiksie is my spesialiteit, maar ek het ’n passie vir álle goeie boeke. Ek word gereeld beïndruk deur puik kinderboeke, tuinboeke, leefstylboeke, koffietafelboeke, resepteboeke, geestelike boeke, woordeboeke en romanses. Boekebladredakteurs kan nie aan dié genres die blootstelling gee wat dit verdien nie, daarom neem ek dit op my om sulke boeke minstens onder lesers se aandag te probeer bring. Dié bydraes is korterig omdat ruimte beperk is en voorkeur gegee word aan fiksie, biografiese werk ensovoorts.
    Ek propageer nie dat slegs “goeie” boeke bespreek moet word en dié besprekings dus voor die voet positief moet wees nie. Maar as daar in ’n bepaalde jaar argumentshalwe twintig resepteboeke verskyn en daar kan net vir vier of vyf blootstelling gegenereer word, maak dit sin om dié blootstelling toe te sê aan die crème de la crème. Die bydraes wat ek aan Gerrit stuur, is besprekings van boeke wat noukeurig uitgesoek is. Daarom is hierdie bydraes gewoonlik positief.
    Ek is geen teoloog nie, maar glo ek mag iets oor geestelike boeke sê omdat ek sulke boeke vir Bybelstudie gebruik, die vermoë het om boeke billik te beoordeel, op hoogte is met wat in die plaaslike boekebedryf gebeur en onderhoudend kan skryf. In ’n bespreking oor ’n woordeboek skryf ek as iemand wat elke dag allerlei woordeboeke gebruik en nie as leksograaf nie. Met resepteboeke, koffietafelboeke en so meer bepaal ek of lesers waarde vir geld sal kry deur op te let na bladuitleg, die gehalte van foto’s en illustrasies en die papier waarop die boek gedruk is, die leesbaarheid van die teks en so meer. Met kinderboeke: ’n Mens hoef nie ’n spesialis te wees om iets sinsvols te sê oor boeke wat op vierjariges gerig is nie, veral nie as jy gereeld sulke boeke lees en groot genot daaruit kry nie.
    Ek sal nie ’n diepgaande, breedvoerige resensie oor byvoorbeeld ’n boek oor die Thai-kookkuns of astrologie skryf nie – dít sal ek oorlaat aan ’n kenner. Maar ek behou die reg voor om bondig en oorsigtelik te skryf oor énige boek wat op my pad kom en waarby ek aanklank vind. Ek is saam met baie lesers dankbaar dat Gerrit die insig het om ’n bietjie van sy beperkte ruimte daaraan af te staan om top-publikasies uit die “stiefgenres” onder lesers se aandag te bring: Diversiteit is ’n kenmerk van ’n goeie boekeblad.

    Terloops: Wat is jóú spesialiteit? Het jy ’n tesis oor kinderboeke geskryf wat jou kwalifiseer om ’n uitspraak oor my “vullertjies” oor kinderverhale te maak? Het jy die teologiese opleiding en/of agtergrond wat jou die reg gee om ’n mening te lug oor my resensie oor Riven in Beeld? Wat kwalifiseer jou om resensies in die algemeen te resenseer?

    Oor jou stelling dat ek te lank “gebroei” het oor Fight for my life voor ek die resensie aangestuur het: Moenie uitsprake maak wat op aannames gegrond is nie. Dié boek is lank ná publikasie eers deur die betrokke boekebladredakteur aan my gestuur.
    Hoewel dit sin maak om boekeblaaie vars te hou, glo ek buitendien dis nooit te laat om blootstelling aan ’n goeie boek te gee nie. Toe my bespreking oor Zhoosh! verskyn het, was daar steeds groot opwinding oor en belangstelling in die boek, veral nadat dit ’n internasionale toekenning ontvang het.

    (vervolg hierbo)

  5. jaybeeroux het gesê op Maart 13, 2009

    (vervolg)
    Oor jou kommentaar op my resensie oor Weerloos: Daar is twee moontlike verklarings vir hoekom ek nie na die Faust-legende verwys en verklap het dat ek weet wie Mefisto is nie; kies die een wat jou die beste pas:

    A. Die eerste “drafts” van my resensies is twee tot drie keer te lank en ek lê dus goed met die snoeiskêr in. Die vraag bly altyd wat moet bly en wat om te sny. Ek het besluit om die verwysings na Faust en Mefisto uit te laat omdat goed belese lesers met ’n akademiese agtergrond self die kruisverwysings sou “optel”.

    B. ’n Boek soos Weerloos kan op twee vlakke geniet word. Met so ’n boek verskyn daar gewoonlik wel êrens ’n resensie wat die boek op intellektuele vlak beoordeel. My waarde as resensent lê daarin dat ek boeke op die mees basiese vlak beoordeel en só belangstelling wek by lesers wat deur ’n akademiese en/of intelektuele resensie afgeskrik sou word. (Jou inligting dat Afrikaanse boekeblaaie gaan saamsmelt, is verouderd. Daar mag hier en daar uitruiling van resensies wees, maar dit lyk tans of dié koerante elk ’n eie boekeblad met ’n eie karakter en boekebladredakteur gaan behou. Met Volksblad is dit reeds ’n uitgemaak saak.)

    As jy wil voortgaan met jou persoonlike aanvalle op my . . . bring it on! Ek is bereid om kaalvuis te baklei, maar maak dan die speelveld gelyk deur te sê wie jy is.

    Om resensente te resenseer, is ’n goeie idee. Ek wens LitNet wil iemand vir dié doel aanstel wat oor die basiese vaardighede van ’n goeie resensent beskik: iemand wat haar- of homself nie knaend weerspreek nie, wat onderhoudend kan skryf (pleks van onsamehangende relase waarin pluimpies en afbrekende kritiek koersloos rondgeslinger word), en wat lesers nie op ’n goedkoop en deursigtige manier probeer lok deur doelbewus venynig te wees nie.
    En veral: iemand met die grootsheid van gees om nié onder ’n skuilnaam te kritiseer nie.

    Jaybee Roux

  6. crito het gesê op Maart 17, 2009

    Ek wens jy wil jou resensies met dieselfde vernuf skryf as hierdie verdediging van jouself!
    Net een vraag: As ‘n boek so lank na publikasie aan jou gestuur is, hoekom dit nie in jou resensie noem nie?

  7. jaybeeroux het gesê op Maart 17, 2009

    Ek kan nie dink hoekom ek dit in die resensie moes noem nie, maar … wie weet: dalk het ek en het die betrokke redakteur dié stukkie kommentaar uitgehaal (resensies is onderworpe aan redigering waarin resensente geen insae het nie) – jy grond weereens jou kritiek op aannames.

    Ek glo graag ál my resensies is vernuftig geskryf; ek sal nooit genoeg moed byeen kan kry om ’n minderwaardige resensie vir publikasie deur te stuur nie. Ek het al honderde resensies geskryf en tot dusver het die enigste negatiewe kritiek van jou (en natuurlik, sug, Joan Hambidge) gekom. Ek kry gereeld goeie terugvoer van veral lesers, maar ook skrywers en uitgewers – veral ná ’n resensie waarin ek op ’n bepaalde boek se tekortkominge gewys het.

    Jy veralgemeen deur te sê my resensies is nie so vernuftig geskryf soos my “verdediging” nie. Sê liewer spesifiek watter resensies volgens jou nie op standaard is nie – soos jy gedoen het my resensie van Weerloos – sodat ek daarop repliek kan lewer. Of is jy bang my “verdediging” gaan weer so solied wees dat jy nie regtig iets daarteen te sê sal kan hê nie?

  8. crito het gesê op Maart 26, 2009

    Goed, kom ons kyk hoe op jou tone jy is. Ek sal jou volgende resensie analiseer. Hoop nie ek hoef te lank te wag nie!

Los ’n antwoord vir jaybeeroux. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.