Profile photo of crito

by

Van kaal keiser tot sosiale flentergat

Maart 9, 2009 in Sonder kategorie

Wanneer gaan iemand reguit sê dat die keiser nie klere aan het nie? Iemand moet vir Tafelberg vertel dat die idee om die Groot Verseboek in ‘n blik te verpak, ‘n gimmick was wat net agterdog gewek het oor die inhoud van die blik. Maar niemand is mans genoeg om dit te doen nie.

Willie Burger kom die naaste daaraan in sy bespreking van Groot Verseboek op LitNet, maar ook hy kwalifiseer hierdie kant toe en daai kant toe. Hoekom is die resensente so bang? Burger verwys na “skerp kritiek” op die blik – laat weet asb waar dit gestaan het!

Dit is lekker om besprekings uit die penne van mense soos Burger (en Louise Viljoen) op LitNet te kry. Burger se bespreking sou té swaarwigtig  gewees het vir ‘n koerantruimte, maar op die internet, waar jy dinge langsamer kan benader, het sy benadering absoluut die regte aanslag.

Met sommige van die ander resensies is dit ‘n ander storie.

Ek het Nikki Lordan se bespreking van die “Nita Griessel Omnibus” gelees, en eers gewonder of dit nie iemand is van die uitgewery wat onder ‘n skuilnaam die boek se verkope probeer bevorder nie. Maar nee, Me. Lordan is ‘n honneurs-student in Afrikaans en Nederlands aan US. Is dié resensie dalk ‘n taak wat sy moes doen?

Hoop nie so nie. Vergeet vir eers dat sy drie boeke se stories vertel en dink dis ‘n resensie. Nee, kyk by alles verby na die laaste paragraaf, wat met hierdie sin begin: “Nita Griessel se omnibus sorg vir ontspanning langs die swembad met ’n drankie in die hand.” Kan Me. Lordan dalk verduidelik presies wat daardie sin beteken? Dalk ‘n kortsluiting of twee te veel in een sin?

Dan is daar ook ‘n bespreking deur Braam van der Vyver van Dirk Nagtegaal se “Kok en Skinker”. Of liewer, hy bespreek eerder die bekendstelling van die boek, waarheen hy uitgenooi was. En aan die einde vertel hy ons wie die boek uitgee en hoeveel dit kos.

Nou, dis een van die vreemdste resensies wat ek nog gelees het. Van der Vyver skryf soos iemand wat besef hy is veronderstel om geesdriftig te wees, maar hy weet ongelukkig nie hoe nie. Dan  ryg hy die nonsens in.

Eers beken hy dat hy nie eintlik iets van kookboeke af weet nie. Later sê hy die boek bied uitstekende waarde vir geld. Volgens watter maatstawwe, Braam? Dié waarvan jy so min kennis dra?

Later sê hy dat ‘n klomp geregte  gekomplementeer is “met Douglas Green-wyne”. Ekskuus? Probeer hy Nagtegaal se geregte of die sjef se vernuf beledig?

Later: “Die kennershand van wynredakteur Emile Joubert is duidelik in die insiggewende wynbrokkies te bespeur.” Sou hy Joubert se kennershand tussen dié van ander wynkenners kan uitken?

As ‘n mens boekbekendstellings resenseer, noem jy meer name as dié van Minki, Constand en Emile. As menskookboeke resenseer, bespreek jy die resepte met behoorlike verwysing na ander kookboeke. Mense wil weet wat is nuut en anders. “Kok en Skinker” is ‘n pragtige boek (my eerste kopie van die jaar, en ek is nie jammer daaroor nie), maar Braam van der Vyver moet besluit wat hy wil wees, kookboek-resensent of sosiale flentergat.

Uiteraard wonder mens uiteindelik watse soort resensie-ruimte LitNet wil bied. Is dit sommer enigiemand wat wil resenseer, of word die mense gevra om te skryf?

3 antwoorde op Van kaal keiser tot sosiale flentergat

  1. jjanajj het gesê op Maart 9, 2009

    lank mag jy lewe in hierdie land, crito! ek LIKE dit dat jy ‘n ding sê soos dit is, sonder skroom.

  2. Crito, jy vra: “Hoekom is die resensente so bang?”

    Dalk omdat hulle onder hul eie naam skryf en dus nie so roekeloos soos anonieme skrywers kan werk nie, maar eers hul skrywe herlees voor hulle dit instuur?

    Of dalk is hulle glad nie bang om te skryf wat hulle regtig dink nie, maar dink hulle net regtig nie soos jy nie. “It has been known to happen.” Jy weet, dat jy sus dink en ander mense so.

  3. Ek begin wonder of Crito nie dalk jyself is nie, Gerrit. Of iemand baie na aan jou. Jul ge-hanna-hanna raak nou vervelig.

    Ek wil Crito (of dit nou jy is of nie) gelukwens met haar siening van die blik boeke – dat die keiser nie klere aanhet nie. Ek stem heelhartig met haar saam – dit is die slapste riem waarmee ‘n uitgewer nog ooit die liefhebbers van Afrikaanse gedigte gevang het. Ek gaan beslis nie my geld mors op die verpakking nie. Ek wag tot die drie bande apart te koop is, en dan koop ek die derde een. Dis sekerlik waar die nuwe gedigte te vind is?
    Die hebsug van uitgewers raak nou een te veel.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.