Jy blaai in die argief vir 2009 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Los gedagtes

Maart 30, 2009 in Sonder kategorie

Enkele los gedagtes terwyl ek Jaybee Roux se jongste in Beeld goed bekyk:

  1. Is Beeld se boekebelad van vandag ‘n teken van dít wat op ons wag? Twee van die resensies het reeds op Die Burger se boekeblad verskyn, wat by diegene wat die dagblaaie op die internet lees, soos ek, ‘n vreemde soort irritasie wek. Minder is nie meer nie, al het Mies wat gesê.
  2. Lekker gelees aan Carina Diedericks-Hugo se resensie van die jongste speurroman van Stieg Larsson, “The Girl Who Played With Fire”. Ek wens sy wil haar blog weer aan die gang kry – dit was vroeg Februarie laas aktief.
  3. Verstommend hoe gesaghebbend ‘n resensie lees as die resensent ‘n slag ‘n kenner op die boek se gebied is. Willem Pretorius het al in Van Alle Kante verwys na sy belangstelling in bonsai. Sy bespreking van “Bonsai: Kuns in die kleine” is baie goed: Hy verduidelik waar die boek in die rangorde staan van plaaslike boeke oor dieselfde onderwerp, gee krediet waar dit toekom, en vir die res is hy “underwhelmed” op ‘n baie mooi manier. Jy moet dit lees om dit te geniet.
  4.  Joan Hambidge het voor die skryf van haar resensie van Antjie Krog se “Digter wordende: ‘n Keur uit die gedigte van Antjie Krog” moes besluit of sy omvattend sou skryf, of kernagtig. Eersgenoemde sou seker die maklikste gewees het, sy is immers bekend as iemand met ‘n deeglike begrip van Krog se oeuvre. Maar dit is moeiliker om die kernagtige, opsommende bsoort espreking te skryf, soos sy dit gedoen het, en baie goedgedoen het. Dis amper kartetse wat sy in die leser se rigting afvuur; tesame gelees ‘n samevatting van kenmerke en kragpunte in Krog se poësie.

Profile photo of crito

by crito

Die regte enfant terrible

Maart 29, 2009 in Sonder kategorie

Dit is opmerklik hoeveel meer substansie Rapport se Boekeblad tans het in vergelyking met hoe dit so teen Desember 2008 was. ‘n Resensie soos dié wat Hennie Aucamp vandag dáár lewer oor “Briewe van Peter Blum” is só goed gekonstrueer dat enige Boekeredakteur sy al sou gee om dit te kon publiseer.

Aucamp het sy resensie sekerlik geskryf met die bygedagte dat soveel van Rapport se moderne, jong lesers waarskynlik nie weet wie Peter Blum was nie. Daarom dat hy in sy bespreking van ‘n kant af alle noodsaaklike inligting uitpak.

Volg jy die argumentslyn van sy skrywe, kry jy alles wat die onkundige sal inlei in die lewe en oeuvre van Blum, en uiteindelik sal kan verstaan hoekom Aucamp die stelling maak wat hy in sy eerste paragraaf maak: “Leipoldt word soms die enfant terrible van die Afrikaanse letterkunde genoem; ook Uys Krige en Breyten Breytenbach. Maar volgens my oordeel is die enigste skrywer hier te lande wat hierdie ambivalente ‘eretitel’ verdien Peter Blum.”

Ek moet ook byvoeg: Aucamp het die vermoë om te skryf op ‘n manier wat mens laat voel jy het iets nog nie vantevore só gehoor nie. Die dag dat hy hom van ‘n cliché bedien moet nog kom.

Op net twee punte kon hy dalk meer gesê het, hoewel ek begryp dat hy so iets sou beskou as dat dit buite die argumentering val.

Die eerste is dat Hemel & See Boeke binne ‘n betreklike kort tyd met ‘n besonderse lys publikasies kan spog. Met elke nuwe titel rek die skrede groter.

Die tweede is dat ons in ‘n era leef waarin J.C. Kannemeyer en sy span nog geredelik toegang het tot hierdie soort korrespondensie. Sedert die koms van e-pos in die jare negentig word soveel meer korrespondensie elektronies gedoen.

Dit bly egter ‘n vraag hoeveel daarvan bewaar word, selfs op papier ‘n soort permanensie vind. Hoeveel mense weet hoe om iets wat deur hul rekenaarprogram geargiveer is, te ontsluit?

As Blum sy korrespondensie per e-pos gedoen het, sou dit ‘n uitgemaakte saak wees dat baie daarvan buite die bereik van die navorser sou gewees het.

Profile photo of crito

by crito

Wolke en herinneringe

Maart 24, 2009 in Sonder kategorie

Tussen die ooraanbod oninteressantheid wat Die Burger, Beeld en Rapport vandeesweek op hul boekeblaaie gelewer het, is daar een resensie wat rapportering verdien – André P. Brink se bespreking in Die Burger van The Literature Police – Apartheid Censorship and Its Cultural Consequences, ‘n boek van Peter D. McDonald.

Die nuuswaardigheid lê daarin dat Brink daarop wys in welke mate ‘n land se intellektuele geskiedenis aangetas word deur sensuur, en waarsku dat die sensuurwolke weer saampak. Diegene wat die Apartheid-regime se sensuurstelsel in volle swang gesien het, sal weet dat so iets groei uit die vervorming van ‘n demokratiese na ‘n fascistiese bestel.

Dit gaan sekerlik oor die lees van tekens, en ek sou graag wou gesien het dat Brink sy slotopmerkings verder kwalifiseer. Ek dink ek weet wat hy bedoel, maar as mens ‘n resensie skryf soos hierdie een, is dit nodig om daardie iets ekstra te gee en dit uit te spel.

Andersins is dit ‘n resensie wat ander resensente behoort te lees, al is dit net om aantekeninge te neem van hoe ‘n meester die taak benader. Brink skryf argumenterend én rapporterend. Hy reageer op ‘n boek uit die hoekpunt van sowel literêre historikus as persoonlik getroffene.

Die ander rede hoekom ek die resensie geniet het, is omdat dit die debat (as dit die regte woord is) wat in Rapport begin is deur emeritus prof. Humphrey du Randt (nogal vergesel deur ‘n foto van die hoogleraar op s’n mooiste) verder voer.

Brink verleen nie waardigheid aan Du Randt deur direk te reageer op Du Randt se kwylende betoog nie. Hy noem net in die verbygaan, spruitende uit die lees van McDonald se boek en die sien dat nie alle sensuur-belhamels genoem is nie, dat Du Randt een van die handlangers van die sensuurbestel was, en dat sy lafhartige dade ontmasker is deur George Weideman.

Weideman was ‘n werklik sagmoedige, opregte persoon – en het met die kake van ‘n bulhond vasgebyt as hy van mening was dat iemand besig is om onreg te pleeg. Ek is bly dat Brink hierdie feit nou openbaar het, en sien uit na die volgende sarsie.

Profile photo of crito

by crito

Twee maal puik

Maart 17, 2009 in Sonder kategorie

Wat is ‘n goeie resensie? Vandeesweek se oes in Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad het twee opgelewer.

Paul Cilliers se bespreking van “Indignation”, Philip Roth se jongste roman, het gister in Die Burger verskyn. Dit het alles wat ek van ‘n goeie koerantresensie verwag: ‘n intelligente reaksie op nie alleen die skrywer en sy oeuvre nie, maar ook op die tematiek, die konteks, die skryfkuns.

En Cilliers het ‘n mening van sy eie, wat hy nie huiwer om te gee nie. Waaroor ek uiteraard met hom saamstem: Gee vir Roth die Nobelprys voor hy nie meer met ons is nie!

Zandra Bezuidenhout bespreek vandeesweek op Rapport se Boekeblad die nuwe digbundel van Joan Hambidge, “Vuurwiel”.

Rachelle Greeff, redakteur van dié boekeblad, het die versoeking weerstaan om hierdie bundel aan Louise Viljoen ter bespreking te gee. Daarvoor het mens begrip – dalk sou mense so iets as ‘n versoenende gebaar vertolk het.

Bezuidenhout het my in die verlede al moedeloos gehad met ‘n oor-akademiese benadering tot koerantresensies, maar haar aanslag met hierdie een is foutloos.

Mens kan met regverdiging van besprekings in Sondagkoerante verwag dat hulle meer om die lyf sal hê as dié in dagblaaie, waar lesers min tyd tot hul beskikking het en van resensente verwag om vinnig tot die punt te kom.

Bezuidenhout skryf onderhoudend en sonder akademiese getildheid. Sy neem die bundel van ‘n kant en bou haar argumentasie met sekerheid. Sy gee krediet en spreek kritiek uit terwyl sy algaande die bundel vir die koerantleser onthul.

Wat ek ook waardeer, is dat sy Hambidge se oeuvre duidelik goed ken en ondanks die feit dat sy bewus is van tekortkominge in sommige verse ook erkenning gee aan die groot sprong vorentoe wat “Vuurwiel” vir die digter is.

Dit is jammer dat Hambidge se manier van dinge doen so baie mense se nekhare laat rys. Dit verhinder té veel mense om onbevange na haar digkuns te kyk. Zandra Bezuidenhout het, wat my betref, so na as menslik moontlik is gekom aan ‘n onbevange, onbevooroordeelde bespreking.

Dis ‘n dapper daad, sekerlik, maar die gehalte van die bespreking laat my die hoed lig vir hierdie resensent.

Profile photo of crito

by crito

‘n Kwessie van ruimte

Maart 10, 2009 in Sonder kategorie

Vroeg Maandagoggend het die Suid-Afrikaanse agent vir Salman Rushdie se boeke opgewonde ‘n sms geflits na Rushdie se literêre agent oorsee.

“Fantastiese resensie deur Marina le Roux oor ‘The Enchantress of Florence’ in vanoggend se uitgawe van Die Burger.”

“Wat?” kom die antwoord. “Het André Brink nie kans gesien nie? Of John Coetzee?”

“Hoekom moes hulle?”

“Rushdie is ‘n internasionale fenomeen! Jy laat hom deur sy portuur resenseer!”

“Nee man. Jy weet mos die mense hier kla oor Joan Hambidge haar portuur so resenseer. “

“Pret a portier?”

“Die resensie is baie goed.  Ons soek mos positiewe resensies wat insiggewend is sonder om banaal te wees. Ek sal dit vertaal en deurstuur. Dit sal Salman opbeur en verkope van die boek aanhelp sodra die wêreld daarvan hoor.”

Waarop die literêre agent ten slotte laat weet het: “Ek kan nie wag nie. Sal ons solank advertensieruimte in die TLS bespreek? Bid jou aan!”

Wys jou net, nè.

Daarom dat Pieter Mulder so bly kan wees dat Die Burger uiteindelik tussen al die resensies van Engelse, Amerikaanse en Nederlandse boeke die ruimte gevind het om sy  “Kan Afrikaners toyi-toyi?” te laat bespreek.

En dan nog deur ‘n ou ondersteuner van die DA, Martie Retief Meiring. Gelukkig ken Meiring haar storie. Die Australiese insident wat Mulder belewe het saam met sy mede-parlementariërs verdien oorvertelling, maar ek het gedink dat sy dalk nog heelwat meer van die tekstuur van die boek kon oorgedra het. Miskien te min ruimte gehad?

Nie dat Annemarie van Niekerk haar aan ruimte-probleme gesteur het nie. Sy neem 478 woorde om Suzanne le Roux se bakenverskuiwende “Momente en Mirakels” te bespreek, waar een sin sou gedoen het: “Wisselvallige, voorstedelike ego-trip net vir vriende bedoel.” Maar nouja, miskien wou die taalversorger nie die integriteit van Van Niekerk se woordkeuses aantas nie. Dit is belangrik dat Die Burger se lesers behoorlik ingelig word oor die vervlakking van ons kultuurgoed.

En dan is daar ook Willem Pretorius se bespreking van Hans du Plessis se nuwe roman, “Verbrande paradys”. Ek en Pretorius het in dieselfde koor gesing oor Neil Cochrane, maar ek glo nie hierdie keer nie. Mens kry die idee dat Pretorius nie eintlik geweet het hoe om te reageer nie. Marina le Roux sou geweet het hoe om hierdie roman te takseer, maar sy was besig met hogere dinge.

Suzanne Harper hou haar in Beeld besig met ander hogere dinge in die vorm van Chris Barnard se “Oulap se blou” – ‘n hier-kiep-kiep resensie van die voortreflikste aard. Sy noem letterlik alles op wat op te noem is van hierdie bundel. Ek het dit reeds gelees, en daarom dat hierdie lang, oninteressante resensie my so na my asem laat snak het: Hoe kan sulke wonderlike vertellinge só ‘n styllose aftellery afgee? Seker maar die nuwe paradigma.

Maar daar is hoop. Jaybee Roux maak sy welkome terugkeer tot die boekeblad van Beeld met ‘n mesmeriserende bespreking van “Riven”, ‘n boek deur Jerry B. Jenkins wat by ‘n uitgewer van Vereeniging verskyn het.  Dit is ‘n resensie wat mens laat regop sit. Veral wanneer Roux beken dat hierdie boek hom tot besinning geroep het na ‘n lang soektog en dat hy hom nou by impliksie self werklik leer ken het.

Beeld se lesers is sekerlik saam met hom baie, baie bly daaroor.

(Daniel Hugo, hierdie een is vir jou.)

Profile photo of crito

by crito

Van kaal keiser tot sosiale flentergat

Maart 9, 2009 in Sonder kategorie

Wanneer gaan iemand reguit sê dat die keiser nie klere aan het nie? Iemand moet vir Tafelberg vertel dat die idee om die Groot Verseboek in ‘n blik te verpak, ‘n gimmick was wat net agterdog gewek het oor die inhoud van die blik. Maar niemand is mans genoeg om dit te doen nie.

Willie Burger kom die naaste daaraan in sy bespreking van Groot Verseboek op LitNet, maar ook hy kwalifiseer hierdie kant toe en daai kant toe. Hoekom is die resensente so bang? Burger verwys na “skerp kritiek” op die blik – laat weet asb waar dit gestaan het!

Dit is lekker om besprekings uit die penne van mense soos Burger (en Louise Viljoen) op LitNet te kry. Burger se bespreking sou té swaarwigtig  gewees het vir ‘n koerantruimte, maar op die internet, waar jy dinge langsamer kan benader, het sy benadering absoluut die regte aanslag.

Met sommige van die ander resensies is dit ‘n ander storie.

Ek het Nikki Lordan se bespreking van die “Nita Griessel Omnibus” gelees, en eers gewonder of dit nie iemand is van die uitgewery wat onder ‘n skuilnaam die boek se verkope probeer bevorder nie. Maar nee, Me. Lordan is ‘n honneurs-student in Afrikaans en Nederlands aan US. Is dié resensie dalk ‘n taak wat sy moes doen?

Hoop nie so nie. Vergeet vir eers dat sy drie boeke se stories vertel en dink dis ‘n resensie. Nee, kyk by alles verby na die laaste paragraaf, wat met hierdie sin begin: “Nita Griessel se omnibus sorg vir ontspanning langs die swembad met ’n drankie in die hand.” Kan Me. Lordan dalk verduidelik presies wat daardie sin beteken? Dalk ‘n kortsluiting of twee te veel in een sin?

Dan is daar ook ‘n bespreking deur Braam van der Vyver van Dirk Nagtegaal se “Kok en Skinker”. Of liewer, hy bespreek eerder die bekendstelling van die boek, waarheen hy uitgenooi was. En aan die einde vertel hy ons wie die boek uitgee en hoeveel dit kos.

Nou, dis een van die vreemdste resensies wat ek nog gelees het. Van der Vyver skryf soos iemand wat besef hy is veronderstel om geesdriftig te wees, maar hy weet ongelukkig nie hoe nie. Dan  ryg hy die nonsens in.

Eers beken hy dat hy nie eintlik iets van kookboeke af weet nie. Later sê hy die boek bied uitstekende waarde vir geld. Volgens watter maatstawwe, Braam? Dié waarvan jy so min kennis dra?

Later sê hy dat ‘n klomp geregte  gekomplementeer is “met Douglas Green-wyne”. Ekskuus? Probeer hy Nagtegaal se geregte of die sjef se vernuf beledig?

Later: “Die kennershand van wynredakteur Emile Joubert is duidelik in die insiggewende wynbrokkies te bespeur.” Sou hy Joubert se kennershand tussen dié van ander wynkenners kan uitken?

As ‘n mens boekbekendstellings resenseer, noem jy meer name as dié van Minki, Constand en Emile. As menskookboeke resenseer, bespreek jy die resepte met behoorlike verwysing na ander kookboeke. Mense wil weet wat is nuut en anders. “Kok en Skinker” is ‘n pragtige boek (my eerste kopie van die jaar, en ek is nie jammer daaroor nie), maar Braam van der Vyver moet besluit wat hy wil wees, kookboek-resensent of sosiale flentergat.

Uiteraard wonder mens uiteindelik watse soort resensie-ruimte LitNet wil bied. Is dit sommer enigiemand wat wil resenseer, of word die mense gevra om te skryf?

Profile photo of crito

by crito

Vandag in Die Burger, volgende week in Beeld

Maart 3, 2009 in Sonder kategorie

Die verskraling wat ek einde verlede jaar vir die Afrikaanse oggendblaaie voorspel het, begin nou merkbaar word. Beeld se boekeblad bevat ‘n groot homp van twee weke gelede se Burger-boekeblad. Dit is seker makliker en goedkoper om resensies te deel, maar die outeur en die leespubliek sit steeds met net een mening oor André Brink se “Vurk in die pad”.

Boonop begin ek algaande die gevoel kry dat Beeld sy boekeblad glad nie so ernstig benader as Die Burger nie, wat mens miskien ‘n bietjie meer vertel van wat die koerant se grootkoppe dink van die mense van Gauteng en omstreke se behoefte aan kulturele nuus en menings daaroor.

Die Burger kom by baie meer Afrikaanse boeke uit as Beeld – van einde verlede jaar se belangrikste Afrikaanse boeke is nog nie deur Beeld geresenseer nie. Beeld is beslis nie besig om op alle fronte ‘n goeie diens aan sy lesers te lewer nie.

Vir Kapenaars was daar gister darem groot bevrediging, naamlik Mariana Malan se bespreking van “Van Volksmoeder Tot Fokofpolisiekar – Kritiese Opstelle Oor Afrikaanse Herinneringsplekke”.

Malan begin haar resensie half verskonend, maar gee dan aan die onderskeidende leser die sleutel vir die lees van haar resensie met die volgende opmerkings: “Die eerste wat opval, is dat dit waar is dat die Afrikaner hou van laer trek, lekker warm broei. En waar kry jy ’n beter plek om lekker saam te broei as in Stellenbosch?”

Daar is ‘n sardoniese toon wat gereeld deurslaan, soms opmerkings wat neig na ironisering, altyd ‘n amper droë humoristiese stel van feite naas mekaar sodat hulle mekaar self kan opneuk.

En dan bring sy jou aarde toe met haar reaksie op die essay oor die NG Kerk.

Ek glo nie ek lees meer in Malan se resensie as wat daarin vervat is nie – indien wel, onthou ek sit hier op Stellenbosch, middelpunt van gans die heelal. Die vlymskerp kritiek wat Malan se betoog onderlê, kan nie geïgnoreer word nie. Wat verder so interessant is van hierdie resensie, is dat Malan haar houding nie maskeer nie, maar tog genoeg doen om mens nuuskierig te maak oor die res van die inhoud ná haar opmerkings oor die windpompe en die gewels. Ek het haar in die verlede al skerp gekritiseer oor haar gebrek aan opgewondenheid, maar hier het sy baie deeglik gewys dat sy oor ‘n ander, groter register as resensent beskik.

Wat ek wel mis in haar bespreking, is iets oor die omslag, sekerlik die lelikste wat Sun Press nog die wêreld ingestuur het. Praat van ‘n voorstedelike estetika!

Nietemin, dis ‘n resensie wat Beeld se boekeblad volgende week goed sal opkikker.