Profile photo of crito

by

Amper omtrent min of meer toegegee

Februarie 16, 2009 in Sonder kategorie

So ‘n jaar en ‘n bietjie gelede het André Brink ‘n verwoestende resensie geskryf oor die eerste deel van Elsa Joubert se herinnerings. Sou hy sy eie herinneringe skryf op dié hoë peil waaraan hy Joubert gemeet het, het ek gewonder. 

En nog verder in die stilligheid vir myself die vraag gestel of daar ‘n  resensent lewe wat Brink daaraan gaan meet.

Fanie Olivier het duidelik die Joubert-resensie vergeet, maar hy het darem ‘n goeie ent gevorder met ‘n baie kritiese bespreking van Brink se “’n Vurk in die pad”.

Olivier sê, as hom kan opsom, dat Brink se geheue nie heeltemal so skerp en helder is as wat dit moet wees nie. Dat hy doelbewus baie dinge onder die vergrootglas van sy geheue weghou.

Dit is so goed as om te sê dat dié boek net halfpad goed is. Laat ek egter ruiterlik herken – nadat ek hierdie afgelope naweek die boek van hoek tot kant verslind het – dat ek Olivier dit nie verkwalik dat hy brom-brom en uiteindelik amper omtrent min of meer toegee dat dit ‘n lekker boek is nie.

Want dit is – veral die deel oor Ingrid Jonker, en kortkop daaragter die deel oor sy jongdae, toe Brink nog teologiese ambisies had. 

Perdalks wil Olivier self eendag sy herinneringe op skrif stel, en dan wil mens nie vir Brink rede gee om jolig te raak met die wederkritiek nie.

Beeld is laat met nog ‘n resensie (van Dana Snyman se merkwaardige “Op die agterpaaie”, verlede jaar reeds gepubliseer), maar dit was die moeite werd om te wag vir Stoffel Cilliers se (baie lang, dog uitstekende) resensie. As dinge so aanhou, kry ons voor die einde van die jaar ‘n resensie van Etienne van Heerden se nuwe roman in Beeld.

Ou Jaybee Roux skryf ook in Beeld oor “Die nuwe Bybel vir ‘n geesvervulde lewe”. Dis darem merkwaardig hoe Roux elke week ‘n ander genre baasraak.

 

3 antwoorde op Amper omtrent min of meer toegegee

  1. Lees jy baie?

  2. crito het gesê op Februarie 16, 2009

    Vrek baie. Kinders uit die huis, het nie TV nie.

  3. VAN ALLE KANTE, DIE BURGER, 24 FEBRUARIE

    VAN ALLE KANTE: Hoe lekker transponeer die boek!
    WILLEM PRETORIUS
    23/02/2009 05:58:10 PM – (SA)

    Ons volkie het ’n onheilige respek vir titels en geleerdheid.

    Kyk maar hoe mense skielik in ’n geselskap onderdanig raak as iemand as “doktor” voorgestel word. Dis asof hulle ineengedoke word deur die ontsaglike kennis en wysheid wat saam met daardie titel die deur ingestap het.

    Daarmee saam het ons ’n ontsaglike weerloosheid om juis deur mense wat ’n titel het, verneuk te word. Kyk hoeveel keer in die geskiedenis is Afrikaanse mense nie deur ’n doktor verneuk nie. Kyk maar nou weer na “dr.” Carl Niehaus.

    Dis ’n lang draai om uit te kom by die resensie wat my gisteroggend op die Boekeblad so geïrriteer het. Miskien was dit die helikopters wat vroeg begin waterbomme gooi het, of die rooi tamatie van ’n son, die as wat op die swembad gedryf het, dalk die diere se onrustigheid terwyl hulle in die rigting van die brand staar.

    Wat die onbehae veroorsaak het, was dié sin: “As paratekstuele gegewe dra dit en die titel verder by tot die prominente transponeringstema wat indringend in die roman ontgin word.”

    Dis hoë woorde om in te span vir ’n plaasroman soos Suiderkruis. Nietemin gaan die resensent Neil Cochrane voort oor die “transponeringsroman” wat “uiteenlopende geografiese ruimtes en temporele grense vernuftig vervleg”.

    Of Cochrane ’n doktor is of nie, daar sal vele mense seker kopknik vir die ontsaglike waarhede wat uit daardie sinne opspring.

    Miskien ook nog oor die feit dat hy noem dit behoort veral by manlike lesers byval te vind “aangesien die roman ’n baie bekende representasie van Afrikaanse manlikheid, waarmee die meeste Afrikaanse mans kan identifiseer, vooropstel”.

    Cochrane skryf voorts: “Ek praat hier van ’n manlikheid wat broos is in sy emosionele koudheid, ’n vertoonsugtige manlikheid wat wil beheer en besit, ’n manlikheid met geen respek vir die emosionele reikwydte van man wees nie.”

    Waar is die dae toe André P. Brink – wat nie daarvan beskuldig kan word dat hy nie weet waarvan hy praat nie – in eenvoudige taal en met baie insig ’n boek liefdevol kon neem en die geheime sonder pretensie kon oopmaak vir die leser en hom lus maak vir die lees.

    ’n Mens kan Franz Kafka se woorde oor boeke net so op ’n resensie van toepassing maak:

    “As die boek wat jy lees jou nie wakker maak nie, soos ’n vuis wat teen die skedel hamer, hoekom dit lees? Ons sou net so gelukkig gewees het as ons geen boeke gehad het nie, en boeke wat ons gelukkig maak, kan ons, as dit nodig is, self skryf.

    “Wat ons egter moet hê, is die boeke wat soos die noodlot op ons afkom, en ons erg ontstel, soos die dood van iemand wat ons liewer as onsself het, soos selfmoord.

    “ ’n Boek moet ’n yspik wees om die see te breek wat in ons gevries is.”

    Is dit ’n goeie boek of nie? Moet ek hom koop? Sal dit my laat lag, laat huil, bang maak? Kan ek hom lees?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.