Profile photo of crito

by

Lanoye en die nadraai

Februarie 9, 2009 in Sonder kategorie

Miskien is dit die tinteling wat ek aanvoel sedert die naweek se Nag van Passie op Stellenbosch – hoofsaaklik danksy Tom Lanoye se aandeel – maar ek sukkel verskriklik om opgewonde te raak oor enige van die boekeblaaie van vandag en gister. Dit is asof alles in dieselfde stil, gedempte toon is van Melvyn Minnaar se bespreking van die Tidboald-boek (Die Burger). Die opgewondenheid wil net nie vir my rys uit die geskrewe woorde nie.

Lanoye se bekkigheid keer terug na my gedagtes.

En dan sien mens hoe Annemarie van Niekerk se bespreking (verlede week in Die Burger) van die Marita van der Vyver-boek skielik in Beeld opduik. Tag, swaer Dirk, het jy niemand in die ou Transvaal wat sy/haar hand aan Van der Vyver wil waag nie?

Of is dit die voorskemering van die nuwe bedeling waarvan almal by Media24 praat? Vier boekeblaaie met resensies wat onderling uitgeruil word?

Dan dwaal my gedagtes terug na die suigeling van Nag van Passie, uit wie se mond kaalkop die waarheid gekom het.

Darem een ligpunt – en ‘n pluimpie aan Jaybee Roux, wat een van die ongewoonste dinge nog gedoen het wat ek nog by ‘n boekeresensent teengekom het. Roux, die bekende skrywer, vertaler en taalpraktisyn van Velddrif, is dapper. Hy daag diegene wat Gail Schimmel se “Marriage Vows” nie 100% so tops vind as hy nie, om hom te kontak sodat hy hul geld kan teruggee. Persoonlik. Die uitgewer is seker dol op hom.

Met een magtige kopsprong oortuig hy my dat hy meer is as net Gerrit Brand se all-purpose resensent.

En dan dink ek terug aan die Nag van Passie, en Tom Lanoye. Vandag se hoogtepunt bly die naweek se herinnering.

5 antwoorde op Lanoye en die nadraai

  1. Nee! Lanoy se vertelling is platvloers en het die Nag van Passie vir my verander in Smetnag. Ek kan nie begryp hoekom mense so gaande is daaroor nie. En hoe Lina Spies haar kan vereenselwig met ‘n geleentheid waar sulke snert opgedis word, weet ek nie.
    Crito, is jy besig om belangstelling te verloor? Te oordeel na vorige dinge wat jy geskryf het, het jy hierdie week in gebreke gebly om uit te wys hoe ‘n vrot poging Melvyn Minnaar se resensie van die Tidboald-boek is. Die boek self getuig van ‘n uitgewer wat nie besonder baie weet van die Kaapse musieklewe nie (bewyspunt: Só ‘n boek durf nie verskyn nie sonder ‘n uitvoerige bespreking van die giftige samesyn van die twee diva’s, Evelyn Dalberg en Virginia Oosthuysen). En Minnaar is werklik in die konteks van Kaapse musiek nie eens die naasbeste persoon om dié boek te bespreek nie. Hoekom nie Deon Irish of Louis Heyneman nie?
    Jy kon gerus ook Jaybee Roux se oppervlakkige taksering van Barend Vos se “Kanaän” in Beeld gestriem het.
    Maar jy het nie. Wat gaan aan?

  2. Tina D, Tom se sessie was eers om 02:00. Watter ander “snert” het jy in gedagte gehad? Sou jy wou hê die organiseerders moet ons terugdompel in ‘n vorige bedeling en eers optreders se stukke sensor voordat hulle in die openbaar optree? Seblief tog! Die Nag van Passie was ‘n reusesukses en die verskeidenheid, die bywoning en die hele atmosfeer het my weer hoop gegee vir ons bedompige letterkunde.

  3. Ek het by die Nag van Passie met verskeie mense gepraat wat Tom Lanoye se bydrae afgekeur het, maar ek kan nie met hulle saamstem nie. Lanoye se vertelling was multidimensioneel, nie eendimensioneel soos baie mense blykbaar gedink het nie.

    Afgesien van die indrukwekkende inhoud, het Lanoye se optrede my geinspireer omdat hy wys hoe ‘n mens maak as jy glo in wat hy skep. Lanoye weet dat sy verhaal baie mense sal skok en ontstel, maar omdat hy glo in wat hy doen, is hy bereid om sy gesig te wys wanneer hy dit doen, en om dit onder sy naam te doen.

    As van die “kritici” wat hom bewonderaar maar net ook soveel moed gehad het …

  4. My gevoel oor die Lanoye-ding was: Adolosent! Niks gewoond nie, nou word dit uitgebasuin.
    Carina, die punt met ons bevryding van sensuur is juis dat ons grootgeword het, dat ons nie meer soos in die sewentigs en tagtigs dink dat dinge soos felatio as sodanig prikkelend is net omdat ons nie daaroor mog geskryf of gepraat het nie.
    Lanoye bly vir my ‘n smet op daardie aand.

  5. crito het gesê op Februarie 11, 2009

    Tina D: Hoekom woon mens iets soos Nag van Passie by? Om iets sonderlings te beleef – iets wat jy nie sou kon ervaar as jy met ‘n boek voor jou sit nie. Nag van Passie het dit vir my gegee.
    Moet ek skaam wees, as ma van drie, om te erken dat Lanoye my verbeelding aangespreek het? (Gerrit Brand, hier is nou vir jou die wins van anonimiteit!) Of moet ek skaam wees vir mense wat skryf oor die aberasies van hul gekwelde klein gemoedjies?
    As die prikkeling aangebied word soos Lanoye dit doen, sal ek ruiterlik erken ek hou daarvan. Dit is ‘n triomf van skryfwerk. Die gay-element daarin is vir my onbelangrik – dit gaan oor ‘n skrywer wat weet hoe heerlik die huid van vlamme kan brand.
    Wat Tina D se ander vraag betref, oor my belangstelling: Ja, soms, op ‘n dag soos afgelope Maandag, is dit moeilik om belangstelling te behou. En dan kom daar net ‘n dag later die plesierigheid van Kannemeyer se nuutste geveg. My geld is op Protea om in die tweede ronde met ‘n uitklophou te wen.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.