Profile photo of crito

by

Resensente wat mens graag wil leer ken

Februarie 2, 2009 in Sonder kategorie

Soms moet mens net glimlag en Gods water oor Gods akker laat loop. Anders gaan jy dit nooit regkry om te verstaan hoekom ‘n spesifieke klompie boeke naas mekaar op een dag se Boekeblad geresenseer word nie. Hoe anders verklaar mens Hannes Meiring se bespreking van ‘n boek wat meer as ‘n duisend rand kos naas ‘n boek oor die relevansie van die kerk in ons tyd, naas ‘n boek oor die slag van Blaauwberg naas ‘n boek oor Provence?

Dít is wat Die Burger vandag bied. En eintlik kla ek nie. Ek het nou wel nie die kerk-resensie gelees nie. Ek hou nie daarvan om oor godsdiens of die kerk in Die Burger te lees nie. En dis die Dawkins-brigade wat daarvoor te blameer is. Maar miskien is ek die enigste wat so voel.

Hannes Meiring se bespreking van die Phaidon Atlas Of 21st Century World Architecture, waarin 35 Suid-Afrikaanse argitekte vermelding kry, is louter genot. Dis een van daardie resensies wat mens laat voel jy wil die resensent beter leer ken – hy moet ‘n geweldig interessante mens wees! Nou, die kanse is skraal dat ek R1700 sal opdok en dié boek koop, maar ek kan jou alles vertel wat Meiring daaroor sê, en tussen die lyne laat deurglip.

Ewe welkom is Annemarié van Niekerk se skrywe oor Franse Briewe – Pos uit Provence, Marita van der Vyver se vervolg op Hart van ons huis. Behalwe dat dit lekker is om weer ‘n ou vriendin te sien skryf (Van Niekerk het ‘n paar jaar gelede na Den Haag verhuis, en daarmee het een van die nugterste resensente-stemme in Afrikaans stil geraak), laat haar resensie my ‘n  weddenskap met myself verloor. Ek was vas oortuig dat Afrikaanse resensente die voor-die-hand-liggende snedigheid gaan kwytraak oor die verband tussen die boek se titel en sekere voorbehoedmiddels. En waaragtig, Van Niekerk doen dit toe nie.

Ek is bly Gerrit Brand het Van Niekerk “teruggebring”.

Martiens van Bart resenseer Blue Berg – Britain ­Takes The Cape, privaat gepubliseer deur die outeur, Mark Robert Dunbar ­Anderson. Van Bart is die laaste joernalis wat ooit van Boerehaat beskuldig sal kan word, en dit is nogal amusant hoe hy sy groot agting vir die Britte en wat hulle in Suid-Afrika gedoen het, onderdruk. Wat my betref kon hy die die slag van Blaauwberg maar die vestigingsoomblik van Apartheid in Suid-Afrika genoem het. Maar in die plek daarvan gee hy krediet waar dit toekom, en tog kritiseer hy nie die dinge wat wel kritiek verdien nie: swak taalversorging, en die verbreking van die ongeskrewe reël by geskiedenis-publikasies, naamlik ‘n bronnelys en indeks wat makeer.

Die Universiteit van Johannesburg sit darem vol talent in sy Afrikaanse departement. Een van hulle, Marthinus Beukes, het vanoggend in Beeld ‘n uiters deeglike bespreking van die nuwe Groot Verseboek. Daar het nou al ‘n klompie goeie besprekings hieroor verskyn, waarvan hierdie myns insiens die knapste is. En na dese sal André P. Brink moet verduidelik hoekom hy Daniel Hugo so stief behandel het.

Les bes het At van Wyk in Beeld gekyk na Japie Basson se Steeds op die parlementêre kolfblad. Ek wil my nie oor Basson uitlaat nie want ek ken hom te goed. Wel kan ek sê dat sy geheue hom in die steek gelaat het oor P.W. Botha, en dankie aan At van Wyk dat hy die aandag daarop vestig.

Van Wyk is nog ‘n resensent wat meer deur boekeredakteurs aangetree behoort te word – hy het die regte joernalistieke aanslag, en die kundigheid.

3 antwoorde op Resensente wat mens graag wil leer ken

  1. Martiens van Bart skryf in sy resensie van Anderson se Blue Berg: “Dis net jammer dat hy nie ’n bronnelys verskaf nie. Dat daar ook nie ’n register in die boek is nie, kan hom dalk nog vergewe word.”

    Crito skryf in sy reaksie: “… tog kritiseer hy [Van Bart] nie die dinge wat wel kritiek verdien nie … [soos] ‘n bronnelys en indeks wat makeer.”

    Hoe bring mens hierdie kloutjie by die oor.

    Verder laat jy na om Marina le Roux se resensie van The Story of a Marriage te noem wanneer jy lys “wat Die Burger vandag bied”.

    Dat jy nie oor godsdiens in Die Burger wil lees nie interesseer my omdat jy al waarderend was oor resensies van boeke oor godsdiens. Maar dis natuurlik jou saak, ook as jou smaak hieroor wissel. Een van die min eienskappe wat ons baie diverse leserskring gemeen het, is ‘n belangstelling in godsdiens, en dit gaan darem hier om ‘n groot teoloog. Maar OK, jy erken dis ‘n persoonlike gevoel.

    Hoekom juis hierdie klomp boeke bymekaar? Omdat ek, behalwe by uitsondering, nie van “temablaaie” hou nie. Ek verkies ‘n verskeidenheid genres en onderwerpe op een blad sodat elke leser (OK, dis te veel gevra – liewer: baie lesers) iets sal vind wat hulle interesseer.

    Ek is bly jy het Hannes Meiring se resensie geniet, al kan jy, soos ek en die meeste ander mense, nie bekostig om die boek te koop nie. Ek stem saam met jou dat ‘n resensie waardevol kan wees ook al gaan dit oor ‘n boek wat duur of moeilik beskikbaar is. Maar as ek reg onthou stem jy nie daarmee saam nie.

    Nou my kort resensie van jou resensie van die resensente: Dis beter hierdie keer omdat jou oordeel inhoudelik gestaaf word, anders as baie ander kere. Dit help om ‘n sinvolle gesprek oor resensies aan die gang te kry.

    Met die anonimiteit het ek steeds ‘n probleem.

  2. crito het gesê op Februarie 5, 2009

    Vaderland, Gerrit! Jy as redakteur moes gesien het hoeveel weersprekings daar in hierdie stukkie van Van Bart is. Onder meer: geen bronnelys is OK, maar geen indeks dalk wel? Dit is mos nie kritiek wat hier uitgespreek word nie – dis ‘n resensent wat voete sleep omdat hy bang is om die arme skrywer te na te kom.
    Miskien moes ek my godsdiens-opmerking beter gekwalifiseer het. Ek benader sulke berigte en resensies versigtig. Soms geval hulle my, maar sodra daar die geringste sweempie is van een of ander plaaslike byltjie wat geslyp word, hou ek op met lees. Ek het die afgelope paar jaar te veel sieldodende snert oor godsdiens gelees in Die Burger, en veral BY, wat alles onder die vaandel gegaan het van ‘n oop, intellektuele gesprek, maar wat my betref dikwels niks minder was nie as kwasi-intellektuele masturbasie.
    Ek aanvaar jou verduideliking van jou keuse van boeke om te resenseer. Dit bly ‘n vreemde keuse, maar ek sal toegee, ten minste ‘n lekker vreemde keuse. Wat Meiring se boek betref, lees jy my verkeerd. Die boek is vryelik beskikbaar in Suid-Afrika en die punt is dat die uwe dit nie kan bekostig nie. Ek het dit in die verlede gehad oor boeke wat nie hier in die algemene handel beskikbaar is nie, maar prima-ruimte op jou Boekeblad kry terwyl baie plaaslik gepubliseerde boeke nooit by jou geresenseer word nie.

  3. Crito, as die resensent dit onvergeeflik vind dat daar geen bronnelys is nie, maar miskien vergeeflik dat daar geen indeks is nie, is dit mos sy mening en beslis nie die redakteur se plek om daaraan te verander nie. Dis ook nie so ‘n vreemde oordeel van die resensent nie. Baie boeke verskyn sonder ‘n indeks, so dis dalk nie so onvergeeflik nie, hoewel jammer. Daarenteen is ‘n bronnelys gewoon ‘n vereiste by hierdie soort boek, so dis jammer dat daar nie een is nie en klaar.

    Ek koop nie jou argument oor boekbeskikbaarheid nie, want jy onderskei twee sake wat op die relevante punt identies is. Ja, die argitektuurboek is wyd beskikbaar, maar veels te duur vir die meeste lesers. Die boeke waarmee jy dit kontrasteer is slegs by geselekteerde boekwinkels en in party biblioteke hier beskikbaar, maar nogtans verkrygbaar via die internet. Dis duur om iets deur die internet van oorsee te bestel, maar nie naastenby so duur soos om daardie algemeen beskikbare argitektuurboek hier om die draai in die winkel te koop nie, so dis 12 van die een en twee dosyn van die ander: As resensies van die een nie moet verskyn nie, dan ook nie van die ander nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.