Jy blaai in die argief vir 2009 Februarie.

Profile photo of crito

by crito

Amper omtrent min of meer toegegee

Februarie 16, 2009 in Sonder kategorie

So ‘n jaar en ‘n bietjie gelede het André Brink ‘n verwoestende resensie geskryf oor die eerste deel van Elsa Joubert se herinnerings. Sou hy sy eie herinneringe skryf op dié hoë peil waaraan hy Joubert gemeet het, het ek gewonder. 

En nog verder in die stilligheid vir myself die vraag gestel of daar ‘n  resensent lewe wat Brink daaraan gaan meet.

Fanie Olivier het duidelik die Joubert-resensie vergeet, maar hy het darem ‘n goeie ent gevorder met ‘n baie kritiese bespreking van Brink se “’n Vurk in die pad”.

Olivier sê, as hom kan opsom, dat Brink se geheue nie heeltemal so skerp en helder is as wat dit moet wees nie. Dat hy doelbewus baie dinge onder die vergrootglas van sy geheue weghou.

Dit is so goed as om te sê dat dié boek net halfpad goed is. Laat ek egter ruiterlik herken – nadat ek hierdie afgelope naweek die boek van hoek tot kant verslind het – dat ek Olivier dit nie verkwalik dat hy brom-brom en uiteindelik amper omtrent min of meer toegee dat dit ‘n lekker boek is nie.

Want dit is – veral die deel oor Ingrid Jonker, en kortkop daaragter die deel oor sy jongdae, toe Brink nog teologiese ambisies had. 

Perdalks wil Olivier self eendag sy herinneringe op skrif stel, en dan wil mens nie vir Brink rede gee om jolig te raak met die wederkritiek nie.

Beeld is laat met nog ‘n resensie (van Dana Snyman se merkwaardige “Op die agterpaaie”, verlede jaar reeds gepubliseer), maar dit was die moeite werd om te wag vir Stoffel Cilliers se (baie lang, dog uitstekende) resensie. As dinge so aanhou, kry ons voor die einde van die jaar ‘n resensie van Etienne van Heerden se nuwe roman in Beeld.

Ou Jaybee Roux skryf ook in Beeld oor “Die nuwe Bybel vir ‘n geesvervulde lewe”. Dis darem merkwaardig hoe Roux elke week ‘n ander genre baasraak.

 

Profile photo of crito

by crito

Koos Prinsloo en die waarheid

Februarie 15, 2009 in Sonder kategorie

Rapport sukkel verskriklik om sy webwerf te maak werk. Op sy “In diepte”-portaal sal mens skakels vind wat jou laat besef dat Andries Visagie oor twee Koos Pinsloo-publikasies op die Boekeblad skryf. Volg jy die skakels, sal jy by die een vir sy versamelde “Verhale” nóg ‘n behoorlike aanduiding van die publikasie onder bespreking, nóg ‘n aanduiding van die resensent se identiteit vind.

Visagie se bespreking daarvan en van Gerrit Olivier se “Aantekeninge by Koos Prinsloo” is baie deeglik. En baie boring. 

By laasgenoemde skryf hy oor alles wat ‘n akademiese resensent veronderstel is om oor te skryf, maar as koerant-resensent vergeet hy om die belangrikste dinge te vra: Hoekom het hierdie boek nie by Wits University Press verskyn nie – of by een van die hoofstroom uitgewerye nie? Hoekom het Maties se uitgewery die boek sonder enige trompetgeskal gepubliseer? Hoe vergelyk Olivier se boek met dié wat Riana Scheepers oor dieselfde onderwerp geskryf het? Was Olivier se boek hoegenaamd nodig om gepubliseer te word nadat Scheepers die onderwerp uitgeput het?

Visagie se ingebore stylvolheid laat hom gelukkig toe om een ding te impliseer in die bespreking van die Olivier-boek, en dit is dat dit darem opvallend is hoe Koos Prinsloo se verhale mens boei, maar hoe meer jy van hom as mens leer, hoe onaantrekliker word hy. 

Ek is veral dankbaar dat hy aandui hoe plooibaar Prinsloo die waarheid gevind het. 

Profile photo of crito

by crito

Lanoye en die nadraai

Februarie 9, 2009 in Sonder kategorie

Miskien is dit die tinteling wat ek aanvoel sedert die naweek se Nag van Passie op Stellenbosch – hoofsaaklik danksy Tom Lanoye se aandeel – maar ek sukkel verskriklik om opgewonde te raak oor enige van die boekeblaaie van vandag en gister. Dit is asof alles in dieselfde stil, gedempte toon is van Melvyn Minnaar se bespreking van die Tidboald-boek (Die Burger). Die opgewondenheid wil net nie vir my rys uit die geskrewe woorde nie.

Lanoye se bekkigheid keer terug na my gedagtes.

En dan sien mens hoe Annemarie van Niekerk se bespreking (verlede week in Die Burger) van die Marita van der Vyver-boek skielik in Beeld opduik. Tag, swaer Dirk, het jy niemand in die ou Transvaal wat sy/haar hand aan Van der Vyver wil waag nie?

Of is dit die voorskemering van die nuwe bedeling waarvan almal by Media24 praat? Vier boekeblaaie met resensies wat onderling uitgeruil word?

Dan dwaal my gedagtes terug na die suigeling van Nag van Passie, uit wie se mond kaalkop die waarheid gekom het.

Darem een ligpunt – en ‘n pluimpie aan Jaybee Roux, wat een van die ongewoonste dinge nog gedoen het wat ek nog by ‘n boekeresensent teengekom het. Roux, die bekende skrywer, vertaler en taalpraktisyn van Velddrif, is dapper. Hy daag diegene wat Gail Schimmel se “Marriage Vows” nie 100% so tops vind as hy nie, om hom te kontak sodat hy hul geld kan teruggee. Persoonlik. Die uitgewer is seker dol op hom.

Met een magtige kopsprong oortuig hy my dat hy meer is as net Gerrit Brand se all-purpose resensent.

En dan dink ek terug aan die Nag van Passie, en Tom Lanoye. Vandag se hoogtepunt bly die naweek se herinnering.

Profile photo of crito

by crito

Resensente wat mens graag wil leer ken

Februarie 2, 2009 in Sonder kategorie

Soms moet mens net glimlag en Gods water oor Gods akker laat loop. Anders gaan jy dit nooit regkry om te verstaan hoekom ‘n spesifieke klompie boeke naas mekaar op een dag se Boekeblad geresenseer word nie. Hoe anders verklaar mens Hannes Meiring se bespreking van ‘n boek wat meer as ‘n duisend rand kos naas ‘n boek oor die relevansie van die kerk in ons tyd, naas ‘n boek oor die slag van Blaauwberg naas ‘n boek oor Provence?

Dít is wat Die Burger vandag bied. En eintlik kla ek nie. Ek het nou wel nie die kerk-resensie gelees nie. Ek hou nie daarvan om oor godsdiens of die kerk in Die Burger te lees nie. En dis die Dawkins-brigade wat daarvoor te blameer is. Maar miskien is ek die enigste wat so voel.

Hannes Meiring se bespreking van die Phaidon Atlas Of 21st Century World Architecture, waarin 35 Suid-Afrikaanse argitekte vermelding kry, is louter genot. Dis een van daardie resensies wat mens laat voel jy wil die resensent beter leer ken – hy moet ‘n geweldig interessante mens wees! Nou, die kanse is skraal dat ek R1700 sal opdok en dié boek koop, maar ek kan jou alles vertel wat Meiring daaroor sê, en tussen die lyne laat deurglip.

Ewe welkom is Annemarié van Niekerk se skrywe oor Franse Briewe – Pos uit Provence, Marita van der Vyver se vervolg op Hart van ons huis. Behalwe dat dit lekker is om weer ‘n ou vriendin te sien skryf (Van Niekerk het ‘n paar jaar gelede na Den Haag verhuis, en daarmee het een van die nugterste resensente-stemme in Afrikaans stil geraak), laat haar resensie my ‘n  weddenskap met myself verloor. Ek was vas oortuig dat Afrikaanse resensente die voor-die-hand-liggende snedigheid gaan kwytraak oor die verband tussen die boek se titel en sekere voorbehoedmiddels. En waaragtig, Van Niekerk doen dit toe nie.

Ek is bly Gerrit Brand het Van Niekerk “teruggebring”.

Martiens van Bart resenseer Blue Berg – Britain ­Takes The Cape, privaat gepubliseer deur die outeur, Mark Robert Dunbar ­Anderson. Van Bart is die laaste joernalis wat ooit van Boerehaat beskuldig sal kan word, en dit is nogal amusant hoe hy sy groot agting vir die Britte en wat hulle in Suid-Afrika gedoen het, onderdruk. Wat my betref kon hy die die slag van Blaauwberg maar die vestigingsoomblik van Apartheid in Suid-Afrika genoem het. Maar in die plek daarvan gee hy krediet waar dit toekom, en tog kritiseer hy nie die dinge wat wel kritiek verdien nie: swak taalversorging, en die verbreking van die ongeskrewe reël by geskiedenis-publikasies, naamlik ‘n bronnelys en indeks wat makeer.

Die Universiteit van Johannesburg sit darem vol talent in sy Afrikaanse departement. Een van hulle, Marthinus Beukes, het vanoggend in Beeld ‘n uiters deeglike bespreking van die nuwe Groot Verseboek. Daar het nou al ‘n klompie goeie besprekings hieroor verskyn, waarvan hierdie myns insiens die knapste is. En na dese sal André P. Brink moet verduidelik hoekom hy Daniel Hugo so stief behandel het.

Les bes het At van Wyk in Beeld gekyk na Japie Basson se Steeds op die parlementêre kolfblad. Ek wil my nie oor Basson uitlaat nie want ek ken hom te goed. Wel kan ek sê dat sy geheue hom in die steek gelaat het oor P.W. Botha, en dankie aan At van Wyk dat hy die aandag daarop vestig.

Van Wyk is nog ‘n resensent wat meer deur boekeredakteurs aangetree behoort te word – hy het die regte joernalistieke aanslag, en die kundigheid.