Profile photo of crito

by

Wenner van die Goue Crito

Januarie 27, 2009 in Sonder kategorie

As daar ooit ‘n prys ingestel word vir lelike omslae, sal die prys vir 2008 sonder enige teenstand gaan aan die heruitgawe van H.S. van Blerk se “Los donkies”.

En as daar ooit ‘n prys ingestel moet word vir swak resensies – goed, goed, kom ons noem dit die Goue Crito – dan sal hierdie week se prys gaan aan Stoffel Cilliers se bespreking van die heruitgawe van “Los donkies”.

Alles wat mens na die Immodium laat gryp, is hier teenwoordig: die oorvertel van feitlik als wat oor te vertelle is, die wydogige bewondering vir die skrywer wat die resensent skoon laat vergeet van die sentimentele en melodramatiese elemente wat deur dr. John Kannemeyer uitgewys is as die swak plekke in Van Blerk se mondering, die aanhaal van flou insidente om te illustreer hoe snaaks die roman vir die resensent is, en so meer.

As Cilliers dan sê dat Van Blerk skryf met ‘n meestershand,  dan wonder jy wat hy gaan sê die dag as Beeld hom vra om Karel Schoeman, André Brink of Piet van Rooyen te resenseer.

Beeld se boekeblad het gister ook ‘n illustrasie opgelewer van ‘n resensensie waar slim sy baas gevang het. In Jacomien van Niekerk se dor-akademiese resensie van Morné Malan se “Suiderkruis”, vaar sy in ‘n stadium uit oor dinge wat volgens haar getuig van slordige taalversorging. Sou dit graag wou ernstig opneem, maar in haar inleidende sin tot haar taalkritiek wys sy ‘n totale onkunde oor die verskil tussen “onder andere” en “onder meer”. As sy dít nie weet nie, hoe kan mens haar dan oor die ander “foute” glo?

Die Burger het gister meer vreugde gelewer. Benewens die goeie dekking wat gegee is rondom die Kaapse William Kentridge-tentoonstellings (drie besonder goeie bydraes deur Melvyn Minnaar) is daar ook die welkome terugkeer van Ampie Coetzee as resensent.

In sy skryfwerk oor die digkuns van veral Breyten Breytenbach het Coetzee al oor en oor gewys dat hy een van die knapste ontleders van digkuns in ons rondte is. Daar is deernis en humor in sy bespreking van Finuala Dowling se “Notes from the Dementia Ward” – en die soort begrip vir die onderwerp (demensie) wat getuig dat hy iemand is wat die vreemde geledere van die kitsvergeters ken.

7 antwoorde op Wenner van die Goue Crito

  1. Crito, ek herhaal my (doelbewus): As jy die soort skerp kritiek op ‘n resensent wil lewer wat jy hieronder op Stoffel Cilliers lewer – dis jou reg om dit te doen – sou ek dink dis eties meer verantwoordbaar om dit onder jou eie naam te doen. Dieselfde geld ‘n entoesiastiese kompliment soos die een wat jy hieronder op een van my resensente, Ampie Coetzee, gee. Dis lesers se reg om te weet wie jy is en hoe dit tussen jou en Cilliers, jou en Coetzee, staan, sodat hulle oor die onbevangenheid van jou oordeel ‘n ingeligte mening kan vorm. (Terloops, ek haal jou aan op Die Burger se Boekeblok-blog, waar lesers op boekresensies in Die Burger kan reageer. Gaan na http://www.dieburger.com en klik op Blogs.)

  2. crito het gesê op Januarie 27, 2009

    Ek stem gewoon nie met jou saam nie. Die Burger en Beeld se beleid rakende skuilname in hul briewekolomme is wyd genoeg om sulke soort kommentaar moontlik te maak en niemand fluister daarna eens die woord “etiek” nie; hoekom sou dit skielik in hierdie forum oneties wees?

    Ek moet jou verwys na my eerste blog, waarin ek aangedui het dat ek resensies gaan resenseer. Ek besleg nie persoonlike vetes nie – ek is slegs besorg oor die gehalte van die besprekings. Hoekom kan mens elke Sondag resensies van die hoogste gehalte lees in die New York Times, maar by ons, in ons klein Afrikaanse kosmos, moet ons met tweede beste tevrede wees?

    Ek het al baie skerp dinge gesê oor jou Boekeblad, maar ek het al meer vriendelike dinge daaroor geskryf ook. Ek wonder byvoorbeeld of die mense aan die stuur van sake presies besef watse top-gehalte jou blad gister gebied het met die resensies waarna ek verwys het?

    Aan die ander kant wonder ek of Beeld se Boekeredakteur bewus is hoeveel mense ‘n resensie soos dié van Stoffel Cilliers lees en agterna voel hulle het hul tyd gemors? Hoekom gee die Boekeredakteur nie aan Cilliers leiding nie? Hoekom só ‘n lang bespreking vol onkritiese lawaai publiseer? As ‘n resensent sy lyf kolporteur wil hou, kan hy dit in een paragraaf doen en klaarkry.

  3. Crito, ek het my glad nie oor die inhoud van jou inskrywing uitgelaat nie, maar oor jou anonimiteit. Die vergelyking met die koerant se briewekolom gaan nie op nie. In die eerste plek kan ‘n anonieme brief slegs verskyn indien die ware identiteit van die briefskrywer aan die brieweredakteur bekend is, juis om misbruik te voorkom. Tweedens is dit slegs briewe wat anoniem kan verskyn – artikels in die koerant verskyn onder die skrywer se naam. Reaksies op jou blog (of myne) kan met briewe in die koerant vergelyk word; inskrywings deur die blogger self moet met artikels in die koerant vergelyk word, en dieselfde etiese standaarde moet geld. Ek sal nooit as te nimmer ‘n anonieme resensie op my Boekeblad plaas nie, selfs al weet ek die persoon het nie kwade bedoelings nie. Die rede daarvoor is doodgewoon dat “justice must be seen to be done”. (Dat “justice done” is, is nog nie genoeg nie.) Hoekom anonieme resensies skryf, hetsy van boeke of van resensente, as dit nie is omdat 1) jy nie met die inhoud van jou skryfwerk geassossieer wil word nie, of 2) jy van ‘n belangebotsing bewus is wat die geloofwaardigheid van jou skrywes kan bevraagteken nie? Dit bly ‘n legitieme vraag en ek is nie die enigste een wat dit stel nie. Jy sal ook merk dat ek die vraag bly stel, ook wanneer jy positiewe dinge oor my blad se, want dit het vir my nog nooit gegaan ‘n probleem met kritiek nie, maar oor 1) persoonlike aanvalle (wat nie in jou jongste inskrywing ter sprake is nie) en 2) die etiese lastigheid van openbare kritiek, op mense met regte name, onder ‘n skuilnaam.

  4. Ek het nie veel tyd tot my beskikking nie, maar jou blog is een van dié wat ek gereeld lees. Baie dankie vir die moeite wat jy daarmee doen. Dit sal ‘n treurige dag vir my wees as jy jou skrywes staak.

  5. crito het gesê op Januarie 28, 2009

    Dankie, Daan! Ek dink darem nie aan ophou nie.
    Gerrit:Ek wonder soms of ek nie nes die tokkelok aan sy voluptieuse vriendin moet sê nie: “Vertrou my!” Maar grappies op ‘n stokkie. Die web-administrateur weet wie ek is. Daar is ‘n vangnet. As hierdie blog sou versink tot die peil van persoonlike vendettas, sal daar baie gou opgetree word. Hoekom anoniem bly? Om presies dieselfde rede as wat L.I. Bertyn, Kees Konyn en vele ander binne die tradisie van die Afrikaanse letterkunde anoniem gebly het. Eersgenoemde op Die Burger, Beeld en Volksblad se eie kulturele blaaie. Die rede? Eenvoudig: Die Afrikaanse letterkunde, wag, die Afrikaanse kultuursfeer is só ‘n klein kring dat slegs anonimiteit dit vir mens moontlik maak om na alle kante toe ‘n kritiese blik te kan werp. Dink ‘n bietjie goed na oor die omstandigheid waarbinne die enigste persoon wat op Die Burger se boekeblad ‘n reguit, vreeslose resensie van Joan Hambidge se boeke gegee het, ‘n Nederlander was. Sou jy plaaslik iemand kon kry wat bereid sou wees om dieselfde te doen? (Terloops, dit was ‘n resensie wat mense laat praat het, al was dit vol inhoudelike gate.)

  6. Crito, feit bly, ek sal nooit ‘n anonieme resensie plaas nie, en ek nie jy sou dit in orde vind as ek dit wel sou doen nie. Van Joan Hambidge gepraat: Almal weet wie sy is en tog sprak sy vreesloos haar sprook. Sy vat dit en probeer nie agter ‘n skuilnaam skryf nie. Dit gaan nie oor jou of die een of daardie een nie; dis iets prinsipeels.

  7. crito het gesê op Januarie 28, 2009

    Jy mis die punt wat ek oor Hambidge maak. Terwyl ons oor haar praat: Ek is mal oor haar skryfwerk – resensies asook haar rubrieke en artikels in BY. Maar as ek heeltemal eerlik moet wees, moet ek beken dat haar resensies soms nie baie goed geskryf is nie. Sy het veral ‘n probleem met skakels en oorgange binne die resensies. As sy in volle swang is, is daar min wat haar dit kan nadoen. En sy kry dit reg om byna altyd presies dít te sê wat mens voel.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.