Profile photo of crito

by

Viva Thys Human, Viva!

Januarie 25, 2009 in Sonder kategorie

Rapport loop die groot polemiek oor die nuwe “Groot Verseboek” met omtrent twee maande mis – jammer, want Thys Human se bespreking in vandag se uitgawe van dié Sondagkoerant is die stimulerendste wat nog oor die GV verskyn het.

My dogters verseker my dat Human, Willie Burger en Andries Visagie die betroubaarste kritici van die huidige geslag is. Wat dit ookal alles mag behels. Dat Rapport Human aangekeer het vir die resensie, en nie ‘n digter nie, is iets waarvoor ‘n mens nie genoeg waardering kan hê nie.

Human het ‘n slag met woorde. Kyk net hoe netjies slaag hy daarin om nié in sy teenstelling van D.J. Opperman en André P. Brink (as samestellers) te sê dat Brink dit te make het met gedigte wat nie esteties bevredigend is nie – maar dit wel luidkeels te impliseer.

Hy laat soms ook ‘n opmerking in die lug hang – ryp met suggestie. Kyk byvoorbeeld hierna: “In Deel II verskyn twee digters wat nie in Groot Verseboek 2000 opgeneem is nie, naamlik D.P.M. Botes en Pieter W. Grobbelaar.” Nou, hierin lê ‘n dik homp literêre geskiedenis. Botes is lank uit die beskaafde literêre diskoers verban weens sy digterlike kleptomanie.  En diegene wat Brink as kritikus in volle swang in die sewentigs onthou, sal in herinnering kan roep dat Brink omtrent minder te spreke was oor Pieter W.Grobbelaar as oor Merwe Scholtz en Karel Schoeman. Om nou in GV opgeneem te word …

Human aanvaar duidelik Brink se betoog dat daar by die nuwe GV groter dinge aan ‘t gebeur is.

Ek is ook mal oor die laaste deel van hierdie opmerking: “En in Deel III word plek ingeruim vir nie minder nie as 42 skrywers wat ná 2000 as digters gedebuteer het – of hul hand aan die poësie gewaag het.” Lees: “Kwalik geslaag het”.

Human wikkel hom ook gou uit die sirkulêre redenasie waarin enige gesprek oor objektiwiteit en subjektiwiteit by die samestelling van bloemlesings van hierdie aard gou verval. Ek sou ook graag wou weet hoekom Trienke Laurie meer ruimte kry as byvoorbeeld Peter Blum of Ingrid Jonker, of oor hoekom Daniel Hugo so liggies behandel is.

Maar om te stoom oor subjektiwiteit help niks. Enigiemand anders as Brink sou ook subjektief gewees het. En dit is steeds beter as wat die geval was by Gerrit Komrij se “De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten”, waar daar twee uiters subjektiewe samestellers was.

As daar een leemte in Human se resensie is, is dat hy nie die verband sien tussen die nuwe GV en die reeks bloemlesings wat Gerrit Komrij oor die Nederlandse digkuns saamgestel het nie. As hy het, sou hy sy laaste opmerkings oor een slanker bloemlesing met ‘n bietjie meer insig gemaak het.

Het hy ooit daaraan gedink dat die voordeel van drie bande juis dít is dat hulle apart verkoop kan word, en apart opgedateer? Dis mos voor die hand liggend dat dit gaan gebeur. Wat goed was vir Bert Bakker, sal ook goed wees vir Tafelberg.

Nietemin,  ek sien uit na ‘n meer gereelde verskyning van Thys Human se naam as koerant-resensent.

 

4 antwoorde op Viva Thys Human, Viva!

  1. Persoonlik lees ek Kammakazi en Abrham se gedigte.
    Dit laat my hart bloei.

  2. Crito, omdat hierdie inskrywing van jou nie oor my Boekeblad handel nie, kan ek hier maar ‘n meer algemene opmerking oor jou blog maak sonder dat dit lyk asof ek een of ander selfsugtige rede het om dit te doen. Ek het dit al genoem, maar ek vind die gebruik van ‘n skuilnaam in ‘n blog soos hierdie een eties hoogs aanvegbaar. Iemand soos jy, wat krities na resensies kyk, verstaan tog seker hoekom lesers soms vrae vra oor resensente se agendas en kwade bedoelings. Die een groot teenwig met ‘n resensent op een van die boekeblaaie wat jy bespreek, is dat die leser ten minste kan weet wie dit is, en dus meer inligting het om te oorweeg in die beslissing of daardie resensent se bedoelings suiwer is. Maar wanneer jy resensente resenseer, weet niemand of jy nie dalk ook ‘n belangebotsing met betrekking tot sekere boeke en/of resensente het nie. Gestel jy’s ‘n uitgewer, boekhandelaar of skrywer – iemand wat reageer op resensies van boeke wat hy self geskryf of gepubliseer het of probeer verkoop. Dan is dit natuurlik belangrik dat lesers dit moet weet indien hulle ‘n ingeligte mening oor jou oordele wil vorm. Die genoemde voorbeelde van belangebotsings is maar enkeles. Daar is baie ander: vriende, minnaars, vyande, oud-minnaars, jaloerse kollegas, mense wat graag sou wou resenseer, maar nie kan nie – so sou ‘n mens kan aanhou. Jy het reeds aangedui dat jy nie bereid is om jou identiteit bekend te maak nie, maar ek vind dit nogtans belangrik om van tyd tot tyd hierdie etiese vraag te stel aangesien jy nog geen bevredigende (of selfs onbevredigende) antwoord daarop kon gee nie. Jy kan mense nie kwalik neem as hulle die vraag stel hoekom jy verkies om anoniem op resensies te reageer nie. Die meeste mense wat in die koerant of elders reageer, doen dit onder hul eie naam. As iemand nie wil nie, hoekom dan nie? Het hy nie dalk iets om weg te steek nie? Selfs al is dit nie die geval nie, sal die vraag nie wyk nie, want dis ‘n baie redelike vraag.

  3. Dieselfde vraag moet natuurlik ook aan die LitNet-redaksie gevra word: Is dit eties regverdigbaar om ‘n blog van hierdie aard onder ‘n skuilnaam op LitNet te laat verskyn?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.