Profile photo of crito

by

Dank jou die duiwel

Januarie 12, 2009 in Sonder kategorie

By Beeld doedoe die Boekeblad steeds, by Volksblad is hulle alweer ‘n week agter die tyd, maar Die Burger se Boekeblad vaar voort asof daar geen lesse uit die verlede te leer is nie.

Maar voordat ek oor Die Burger se blad mor, eers hierdie wonderlike stukkie insig wat ‘n onderwyseres op Volksblad se Boekeblad gepleeg het: “Hoewel dialoog ‘n karakterbeeldende rol in die boek speel, mag die meer konserwatiewe leser dit vreemd vind om in jou moedertaal vroue se intieme liefdestaal vir mekaar te lees en dronk vroue se tonge te hoor sleep.”
So wragtag! In watter ander taal moet hulle dan vir mekaar sê hulle is lief vir mekaar? Watse belaglike benepenheid is dit dié?
Terug by Die Burger: Gerrit Brand sit sy kultureel-pedagogiese kruisvaart voort met die plasing van nog ‘n Nederlandse boek wat Die Burger se lesers nie in die algemene boekhandel in Kaapstad en omgewing sal kry nie, en waarskynlik ook nie by die spesialiste nie. Dus weer oor die internet bestel, en maar lees wanneer jy al vergeet het hoekom jy die boek wou hê …
Die boek is “Heerengracht Zuid-Afrika – Nederlandse Literatuur van Zuid-Afrika”, saamgestel deur Eep Francken en Olf Praamstra, in Nederland gepubliseer, en hier bespreek deur Chris van der Merwe.
Van der Merwe is ‘n ou hand, sekerlik een van die min akademici wat in staat is om hom weg te wend van ‘n swaartillende diskoers en die algemene koerantleser aan te spreek. Danksy Van der Merwe het die uwe heelwat simpatie met hierdie boek, ofskoon die onderwerp vir my effe bekook is. Wat volgende? Zuid-Afrikaanse vroue wat hul naam gemaak het op die Walletjies? 
Dan tree Brand ook twee nuwe resensente aan (vir my altans – kan nie onthou dat ek hulle al voorheen sien resenseer het nie). Hulle is Mariana Loots en Lenelle Foster. Albei is nog in die voetganger-stadium van resensies skryf. Jy weet mos: Vertel die storie in jou eie woorde, sê wat jou gehinder het, en sluit af met ‘n bemoedigende woordjie. 
Dit sou miskien meer regverdig gewees het teenoor die twee getroffe outeurs, Michael Rands en Sindiwe Magona, as Brand die twee resensies vir sy laai gehou het, en resensente met meer ondervinding gekry het. Veral Rands (outeur van “Praise Routine Number 4”) het rede om moerig te wees. 
Ondanks ‘n baie gawe opskrif (“Indrukwekkende debuutroman”) dink ek betaam dit ‘n koerant van Die Burger se statuur om resensente te gebruik wat werklik met ‘n boek slaags raak, veral waar die outeur voorheen van Kaapstad was en die milieu Kaapstad is. Iemand wat die storie oorvertel, ‘n magdom temas identifiseer sonder om die werklike sentrale tema, dié van kulturele swendelary, aan te dui, deug eenvoudig nie. Hoe goed het die resensent “Praise Routine Number 4” werklik gelees? 
Ek is gelukkig, ek het “Praise Routine Number 4” in die vakansie gelees en weet hoe deksels goed hierdie debuutroman werklik is. Dis net jammer dat Die Burger se lesers vir lief moet neem met ‘n lam resensie deur iemand wat skyn te dink debuutromans kan nie indrukwekkend wees nie.

4 antwoorde op Dank jou die duiwel

  1. Meeste van ons wat hier blog, beter ‘n lewe kry, maar in jou geval is dit ‘n noodgeval.

  2. crito het gesê op Januarie 12, 2009

    Ek vir jou ‘n goeie boek aanbeveel, Intrigant – “In search of excellence”. En as jy nie in die fyner nuanses van joernalistiek belang stel nie, kan jy my blog maar ignoreer.

  3. Intrigant sit die stoel heeltemal mis. Dis mos duidelik dat dit gaan oor die gehalte van joernalistiek. Of is die heer Intrigant (kan nie ‘n vrou wees nie!) een van daardie mense wat dink Eskom doen ‘n goeie job, ons water is skoon en ons pelagiese bronne onuitputlik, ons polisie is engele en ons hospitale die beste in die wêreld? Daarom kan die koerante maar ook ‘n bietjie simpel wees as hulle wil. Wel, ek vir een verwag die beste, en ek dink Crito is nog heeltemal te vriendelik. Kom suster, maak skerper daardie dolk!

  4. Crito, om te lees oor ‘n boek wat in Nederland verskyn het en oor ‘n aspek van die Suid-Afrikaanse letterkunde handel, is vir baie lesers interessant, al is dit nie vir jou nie. Resensies is nie net daar om mense te laat koop of nie. Niemand lees al die boeke waaroor hy/sy resensies lees nie, al is dit positiewe resensies. Een diens wat resensies lewer, is juis om mense ook iets te gee van ‘n boek wat hulle dalk nooit gaan lees nie.
    Oor Mariana Loots: sy het al dikwels resensies vir Die Burger geskryf. Hoe’s dit dan nou dat jy dit misgekyk het?
    Oor Lenelle Foster: Hoe lyk dit my ek het jou aller- en enigste maatstaf nou onder die knie: ‘n Resensie is goed as jy daarmee saamstem en swak, nee hopeloos as jy daarmee verskil. (Of is dit eerder dat jy graag self hierdie boek sou wou resenseer?)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.