Jy blaai in die argief vir 2009 Januarie.

Profile photo of crito

by crito

Wenner van die Goue Crito

Januarie 27, 2009 in Sonder kategorie

As daar ooit ‘n prys ingestel word vir lelike omslae, sal die prys vir 2008 sonder enige teenstand gaan aan die heruitgawe van H.S. van Blerk se “Los donkies”.

En as daar ooit ‘n prys ingestel moet word vir swak resensies – goed, goed, kom ons noem dit die Goue Crito – dan sal hierdie week se prys gaan aan Stoffel Cilliers se bespreking van die heruitgawe van “Los donkies”.

Alles wat mens na die Immodium laat gryp, is hier teenwoordig: die oorvertel van feitlik als wat oor te vertelle is, die wydogige bewondering vir die skrywer wat die resensent skoon laat vergeet van die sentimentele en melodramatiese elemente wat deur dr. John Kannemeyer uitgewys is as die swak plekke in Van Blerk se mondering, die aanhaal van flou insidente om te illustreer hoe snaaks die roman vir die resensent is, en so meer.

As Cilliers dan sê dat Van Blerk skryf met ‘n meestershand,  dan wonder jy wat hy gaan sê die dag as Beeld hom vra om Karel Schoeman, André Brink of Piet van Rooyen te resenseer.

Beeld se boekeblad het gister ook ‘n illustrasie opgelewer van ‘n resensensie waar slim sy baas gevang het. In Jacomien van Niekerk se dor-akademiese resensie van Morné Malan se “Suiderkruis”, vaar sy in ‘n stadium uit oor dinge wat volgens haar getuig van slordige taalversorging. Sou dit graag wou ernstig opneem, maar in haar inleidende sin tot haar taalkritiek wys sy ‘n totale onkunde oor die verskil tussen “onder andere” en “onder meer”. As sy dít nie weet nie, hoe kan mens haar dan oor die ander “foute” glo?

Die Burger het gister meer vreugde gelewer. Benewens die goeie dekking wat gegee is rondom die Kaapse William Kentridge-tentoonstellings (drie besonder goeie bydraes deur Melvyn Minnaar) is daar ook die welkome terugkeer van Ampie Coetzee as resensent.

In sy skryfwerk oor die digkuns van veral Breyten Breytenbach het Coetzee al oor en oor gewys dat hy een van die knapste ontleders van digkuns in ons rondte is. Daar is deernis en humor in sy bespreking van Finuala Dowling se “Notes from the Dementia Ward” – en die soort begrip vir die onderwerp (demensie) wat getuig dat hy iemand is wat die vreemde geledere van die kitsvergeters ken.

Profile photo of crito

by crito

Viva Thys Human, Viva!

Januarie 25, 2009 in Sonder kategorie

Rapport loop die groot polemiek oor die nuwe “Groot Verseboek” met omtrent twee maande mis – jammer, want Thys Human se bespreking in vandag se uitgawe van dié Sondagkoerant is die stimulerendste wat nog oor die GV verskyn het.

My dogters verseker my dat Human, Willie Burger en Andries Visagie die betroubaarste kritici van die huidige geslag is. Wat dit ookal alles mag behels. Dat Rapport Human aangekeer het vir die resensie, en nie ‘n digter nie, is iets waarvoor ‘n mens nie genoeg waardering kan hê nie.

Human het ‘n slag met woorde. Kyk net hoe netjies slaag hy daarin om nié in sy teenstelling van D.J. Opperman en André P. Brink (as samestellers) te sê dat Brink dit te make het met gedigte wat nie esteties bevredigend is nie – maar dit wel luidkeels te impliseer.

Hy laat soms ook ‘n opmerking in die lug hang – ryp met suggestie. Kyk byvoorbeeld hierna: “In Deel II verskyn twee digters wat nie in Groot Verseboek 2000 opgeneem is nie, naamlik D.P.M. Botes en Pieter W. Grobbelaar.” Nou, hierin lê ‘n dik homp literêre geskiedenis. Botes is lank uit die beskaafde literêre diskoers verban weens sy digterlike kleptomanie.  En diegene wat Brink as kritikus in volle swang in die sewentigs onthou, sal in herinnering kan roep dat Brink omtrent minder te spreke was oor Pieter W.Grobbelaar as oor Merwe Scholtz en Karel Schoeman. Om nou in GV opgeneem te word …

Human aanvaar duidelik Brink se betoog dat daar by die nuwe GV groter dinge aan ‘t gebeur is.

Ek is ook mal oor die laaste deel van hierdie opmerking: “En in Deel III word plek ingeruim vir nie minder nie as 42 skrywers wat ná 2000 as digters gedebuteer het – of hul hand aan die poësie gewaag het.” Lees: “Kwalik geslaag het”.

Human wikkel hom ook gou uit die sirkulêre redenasie waarin enige gesprek oor objektiwiteit en subjektiwiteit by die samestelling van bloemlesings van hierdie aard gou verval. Ek sou ook graag wou weet hoekom Trienke Laurie meer ruimte kry as byvoorbeeld Peter Blum of Ingrid Jonker, of oor hoekom Daniel Hugo so liggies behandel is.

Maar om te stoom oor subjektiwiteit help niks. Enigiemand anders as Brink sou ook subjektief gewees het. En dit is steeds beter as wat die geval was by Gerrit Komrij se “De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten”, waar daar twee uiters subjektiewe samestellers was.

As daar een leemte in Human se resensie is, is dat hy nie die verband sien tussen die nuwe GV en die reeks bloemlesings wat Gerrit Komrij oor die Nederlandse digkuns saamgestel het nie. As hy het, sou hy sy laaste opmerkings oor een slanker bloemlesing met ‘n bietjie meer insig gemaak het.

Het hy ooit daaraan gedink dat die voordeel van drie bande juis dít is dat hulle apart verkoop kan word, en apart opgedateer? Dis mos voor die hand liggend dat dit gaan gebeur. Wat goed was vir Bert Bakker, sal ook goed wees vir Tafelberg.

Nietemin,  ek sien uit na ‘n meer gereelde verskyning van Thys Human se naam as koerant-resensent.

 

Profile photo of crito

by crito

Ou nuus

Januarie 19, 2009 in Sonder kategorie

Een van die interessantste boeke wat die afgelope klompie maande verskyn het, is die “Christelike Kernensiklopedie” van Fritz Gaum, Allan Boesak en Willie Botha. Lina Spies het in BY ‘n Flapteks daaroor geskryf, wat ‘n klomp mense laat uitflap het en ander, soos ek, die boek laat koop het. 

Die boek is vroeg November 2008 geresenseer in Die Burger, en vandag in Beeld. Die Burger se resensent het punte van kritiek geopper wat ook opduik in ds. Gerhard Bothma se bespreking in Beeld.

Nou, die verskil tussen die twee is dat Bothma se skryfstyl duidelik dié is van iemand in die bediening. ‘n Element van swaarwigtigheid kruip in in Bothma se styl. Die hantering in Die Burger, daarenteen, was respekvol sonder om ‘n sondaar soos ek te laat skrik. Ek het dit pas in Die Burger se argief nagegaan, en dit was ‘n bitter goeie stukkie skryfwerk – net jammer die argief vermeld nie wie die skrywer is nie.

Op die keper beskou, sukkel sowel Beeld as Die Burger nou om  die resensies van boeke wat al verlede jaar verskyn het, afgehandel te kry. En  in die proses laat dit resensente tweede daarvan afkom.

Soos arme Carolize Jansen, skrywer van die resensie van Brian Pottinger se “The Mbeki Legacy” (vandag in Die Burger ). Dit kan nie maklik wees om oor só ‘n boek te skryf nadat Hermann Giliomee reeds ‘n maand  gelede in Rapport briljant daaroor geskryf het nie.

Ek het deur haar resensie geworstel en blameer niemand wat na ‘n paar paragrawe bes gegee het nie.

Die res? Ek moet eerlik wees en erken dat ek net kans gesien het vir Zandra Bezuidenhout se bespreking van Rosa Smit se “Die begeleiding van duiwe”. En dit was omdat ek in paragraaf twee lees dat die sierlike, skuinsgedrukte letterwerk op die omslag iets sags en soepels beloof.

Nou is dit so dat ek miskien hiper-krities is oor dinge soos  letterwerk. En hierdie letterwerk lyk asof dit nog met Letraset aangebring is. Oude doos verby! Watwo sag en soepel.

Maar dis gaaf. Bezuidenhout is oor die inhoud van die bundel absoluut in die kol. Nie ‘n goeie bundel nie.

Profile photo of crito

by crito

Superieur

Januarie 18, 2009 in Sonder kategorie

Net een boekeresensie vandag in Rapport. Martie Retief Meiring skryf oor Jeremy Gordin se boek “Zuma  A Biography”. Sonder vrees van teenspraak die beste resensie wat nog in enige taal oor hierdie opspraakwekkende boek geskryf is.

As enigiemand wil weet hoe ‘n deeglike, leesbare, vermaaklike, insiggewende resensie behoort te lyk – hier is dit!
Martie Retief Meiring gryp die boek aan sy strot, by wyse van spreke, en skud al die warhoofdigheid uit. Sy het ‘n aanvallende styl, ja, maar sy het die boek gelees, is op hoogte met die onderwerp, en weet presies wat daarmee reg en verkeerd is.
Geluk, Rapport. Vir sulke resensies sal ek die koerant koop.
Profile photo of crito

by crito

Dank jou die duiwel

Januarie 12, 2009 in Sonder kategorie

By Beeld doedoe die Boekeblad steeds, by Volksblad is hulle alweer ‘n week agter die tyd, maar Die Burger se Boekeblad vaar voort asof daar geen lesse uit die verlede te leer is nie.

Maar voordat ek oor Die Burger se blad mor, eers hierdie wonderlike stukkie insig wat ‘n onderwyseres op Volksblad se Boekeblad gepleeg het: “Hoewel dialoog ‘n karakterbeeldende rol in die boek speel, mag die meer konserwatiewe leser dit vreemd vind om in jou moedertaal vroue se intieme liefdestaal vir mekaar te lees en dronk vroue se tonge te hoor sleep.”
So wragtag! In watter ander taal moet hulle dan vir mekaar sê hulle is lief vir mekaar? Watse belaglike benepenheid is dit dié?
Terug by Die Burger: Gerrit Brand sit sy kultureel-pedagogiese kruisvaart voort met die plasing van nog ‘n Nederlandse boek wat Die Burger se lesers nie in die algemene boekhandel in Kaapstad en omgewing sal kry nie, en waarskynlik ook nie by die spesialiste nie. Dus weer oor die internet bestel, en maar lees wanneer jy al vergeet het hoekom jy die boek wou hê …
Die boek is “Heerengracht Zuid-Afrika – Nederlandse Literatuur van Zuid-Afrika”, saamgestel deur Eep Francken en Olf Praamstra, in Nederland gepubliseer, en hier bespreek deur Chris van der Merwe.
Van der Merwe is ‘n ou hand, sekerlik een van die min akademici wat in staat is om hom weg te wend van ‘n swaartillende diskoers en die algemene koerantleser aan te spreek. Danksy Van der Merwe het die uwe heelwat simpatie met hierdie boek, ofskoon die onderwerp vir my effe bekook is. Wat volgende? Zuid-Afrikaanse vroue wat hul naam gemaak het op die Walletjies? 
Dan tree Brand ook twee nuwe resensente aan (vir my altans – kan nie onthou dat ek hulle al voorheen sien resenseer het nie). Hulle is Mariana Loots en Lenelle Foster. Albei is nog in die voetganger-stadium van resensies skryf. Jy weet mos: Vertel die storie in jou eie woorde, sê wat jou gehinder het, en sluit af met ‘n bemoedigende woordjie. 
Dit sou miskien meer regverdig gewees het teenoor die twee getroffe outeurs, Michael Rands en Sindiwe Magona, as Brand die twee resensies vir sy laai gehou het, en resensente met meer ondervinding gekry het. Veral Rands (outeur van “Praise Routine Number 4”) het rede om moerig te wees. 
Ondanks ‘n baie gawe opskrif (“Indrukwekkende debuutroman”) dink ek betaam dit ‘n koerant van Die Burger se statuur om resensente te gebruik wat werklik met ‘n boek slaags raak, veral waar die outeur voorheen van Kaapstad was en die milieu Kaapstad is. Iemand wat die storie oorvertel, ‘n magdom temas identifiseer sonder om die werklike sentrale tema, dié van kulturele swendelary, aan te dui, deug eenvoudig nie. Hoe goed het die resensent “Praise Routine Number 4” werklik gelees? 
Ek is gelukkig, ek het “Praise Routine Number 4” in die vakansie gelees en weet hoe deksels goed hierdie debuutroman werklik is. Dis net jammer dat Die Burger se lesers vir lief moet neem met ‘n lam resensie deur iemand wat skyn te dink debuutromans kan nie indrukwekkend wees nie.
Profile photo of crito

by crito

Pateties, Rapport

Januarie 11, 2009 in Sonder kategorie

Hier waar ek buite die bereik van Rapport se magtige distribusie-arm is, en aangewese is op sy webwerf, is dit opmerklik dat die mense by Rapport ook op vakansie is en nie ‘n snars omgee hoe hul webwerf lyk nie.

Die Boekeblad, wat gewoonlik onder die hofie “In diepte” te vind is, is nou al drie weke lank dormant. ‘n Mens gun hulle hul blaaskans, maar het Rapport nog nie gehoor van vooruitwerk nie?
“In diepte” self sit op hierdie oomblik (8:00 vm) steeds met verlede week se berigte.
Bra onprofessioneel, sou ek sê. Vader sy gedank dat Telkom nog funksioneer, anders was ek selfs dié ounuus webwerf kwyt.
Profile photo of crito

by crito

So prima as kan kom

Januarie 5, 2009 in Sonder kategorie

Terwyl Beeld en Volksblad steeds (te oordeel aan hul webwerwe) vakansie hou en hulle nie steur aan die behoeftes van hul weblesers nie, skop Die Burger se Boekeblad die jaar op ‘n hoë noot af. Dit begin op ‘n gallop: Hermann Giliomee oor Japie Basson se derde (geskrewe) ego-trip, Carolize Jansen oor Antoinete Pienaar se wonderbaarlike “Kruidjie roer my”,  Sandra Troskie oor C. Johan Bakkes se rumoerige, vreklekker “Norrevok” en Lenelle Foster se resensie van Denis Beckett se debuutroman, “Magenta”.

Vier resensies wat ek elkeen end-uit gelees het – omdat ek wou. Van die vier is Giliomee s’n effe outyds geskryf, maar ek besef dat dit te laat in die dag is vir Hermann Giliomee om nou sy styl te gaan staan en opjazz. Die ander drie is vonkvars – op die punt af, geskryf met ‘n geesdrif vir die onderwerp, en sê vir jou hoekom jy dit sal wil koop en lees. Of, soos in die geval van Beckett, nie te koop nie.

Dit sou onbehoorik van my wees om nie vir Gerrit Brand, boekeredakteur, geluk te wens nie. Dit is mos ‘n waarlik professionele poging hierdie. Mag dit die maatstaf word waaraan die res van die jaar se boekeblaaie gemeet word.

Wat Beeld, Volksblad en Rapport se boekeblaaie op die web betref: Noudat ons weet julle is nie ernstig daarmee nie, wonder ek of dit die begin is van boedeloorgee in Media24 se uitskudproses. Of is ek die enigste siel wat hulle mis?