Profile photo of crito

by

Subliem en lagwekkend

Desember 23, 2008 in Sonder kategorie

Dankie vir die kersgeskenk, Gerrit Brand. Die Burger se Boekeblad vandeesweek is kos vir die kieskeurige leser – verskoon asb die beeldspraak. Twee werklik uitstekende resensies – ds. Danie du Toit se bespreking van Carina Diedericks-Hugo se “Die verdrinking van Josua van Eeden” en Daniel Hugo (heel toevallig Diedericks-Hugo se eggenoot) s’n van “Songs of the Veld and Other Poems”.

En om die beeldspraak van hierbo voort te sit, twee resensies wat as minder suksesvolle bykos beskou kan word. Ongelukkig albei deur Jaybee Roux: die een oor “Zhoozsh!” van Jeremy en Jacqui Mansfield, en die ander oor Christelle Erasmus se “Eenskotteltreffers”. ‘n Geval van bladvulling? Eersgenoemde kookboek is al ou nuus, en laasgenoemde is horingoud (letterlik jare oud!), en net met ‘n nuwe omslag uitgegee, ‘n feit wat deur Roux misgekyk is.
Ook ou nuus: Ek sukkel om ‘n strategie te bespeur in Gerrit Brand se keuse van (a) boeke wat bespreek word en (b) die regte resensent vir daardie boeke. Brand se antwoorde op my kritiek het my nog nie werklik bevredig nie. Daarom beskou ek die resensies deur dominis Du Toit en Daniel Hugo as ‘n soort antwoord. Só kan dit gedoen word.
En daarmee stem ek saam, met dank aan Brand. Hugo skryf ‘n soort resensie wat vir mens die konteks gee, die historiese agtergrond, en ‘n evaluering. Ek het dit so boeiend gevind dat ek dadelik besluit het om die boek aan te skaf.
Dominis Du Toit weer het die gawe om sy geesdrif te wys, wat my nie verbaas nie. Enigiemand wat hom al hoor preek het, sal weet waarvan ek praat. Hier tref dit jou dadelik. Hy gee sowel ‘n aanduiding van die inhoud as sy reaksie daarop – hy tree in gesprek met die boek, om ‘n cliché te gebruik, en die uiteinde is dat jy die boek eenvoudig wil hê en lees.
En ingebed in sy resensie is ‘n uitgangspunt wat ek hartlik wil ondersteun. Dit is naamlik dat die sogenaamde jeugroman eintlik benader moet word op dieselfde manier as wat ‘n literêre roman vir ‘n vermeende ouer gehoor benader word. Die skryfwerk daarin is nie minder veeleisend nie, en die kuns daarvan net so groot as by ‘n ernstige letterkundige skepping.
Dít is wat Du Toit vir my van Diedericks-Hugo se roman gesê het. Dit was ‘n geïnspireerde keuse om hom as resensent vir hierdie roman te kry.
Melvyn Minnaar se bespreking van “Art and revolution – The Life and Death of Thami Mnyele” is gangbaar. Die kenner op hierdie gebied is Elza Miles. Dit sal dalk ‘n goeie idee wees om haar te vra om vir BY daaroor te skryf, met gepaste illustrasies. 

1 antwoord op Subliem en lagwekkend

  1. Ek is bly jy het Danie du Toit se resensie gewaardeer; dis een van daai wat ‘n boekeredakteur ook groot plesier verskaf. Maar hoe strook dit met jou vroeer gestelde standpunt dat resensente slegs op hul gebied moet werk? Jy het daardie standpunt so ver geneem dat, volgens jou, ‘n digter wat oor vroue digters ‘n tesis geskryf het nie ‘n manlike digter mag resenseer nie, want dis nie haar terrein nie. Nou vra ek ‘n teoloog om ‘n roman te resenseer en jy’s gelukkig!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.