Profile photo of crito

by

Grootmeester van die kortsluiting

Desember 18, 2008 in Sonder kategorie

Die kuns van die kortsluiting – dit is waarvan Emile Joubert die grootmeester is. Om ‘n resensie uit sy pen te lees, soos nou op LitNet, is om jou skielik in ‘n taalkundige en semantiese rampgebied te bevind. Slordig, oppervlakkig, ‘n versameling van foefies, meneer Joubert.

Kyk na hierdie lysie uit sy resensie van ‘n versameling Chris Barnard-rubrieke, “Oulap se blou”:

Anneri van der Merwe is eintlik Annari van der Merwe.

Kiekie: kan ‘n fotostudie ‘n kiekie wees? Beslis nie. Vergelyk die woordeboek-betekenis van “kiekie” as “snapshot” teenoor die fyner semantiese onderskeiding van “fotostudie” binne die konteks van  amateur-poging vs foto as gekomponeerde studie.

Stilistiese pretensie waarborg nie betekenisdraende juistheid in ‘n sin nie: “Ook g’n buierige grynslag van die mondhoek soos wat stemmige moderne skrywers geneig is om in te neem nie”. Grynslag van die mondhoek?

En “in stede van”: Joubert het nie baie wys geword uit die lesse wat Die Burger se subredakteurs hom geleer het nie.

Wat beteken “’n vername tyd”?

Styl (gebrek aan): “Maar Meneer Barnard … mag in jou oë in lag uit daardie foto uit. Maar wanneer hy sy pen optel, mik hy vir net een plek, en hy tref dit keer op keer: die warmte van die kloppende hart.” Is warmte ‘n plek?

Die metafoor ontwyk hom soms: “Dis ryp, vet, smaaklike en bevredigende stories, vertel deur die meester van onopgesmuktheid.” Dis so jammer dat die meester van onopgesmuktheid nie vir Joubert kon besiel om minder opgesmuk te skryf nie.

Kwasi-intellektuele nonsens: “Meneer Barnard se vertellings maak staat op een van die Afrikaanse skrywer se grootste bates en gewildste uitings, naamlik nostalgie.”

En so aan, en so aan.

Skei uit, Emily. En as jy nie kan aanvaar dat jy verby jou rakleeftyd as resensent is nie, lees ten minste jou resensies die volgende oggend met vars oë voordat jy hulle instuur.

 

5 antwoorde op Grootmeester van die kortsluiting

  1. Vetjan het gesê op Desember 18, 2008

    Spasies Crito !

  2. cornuto het gesê op Desember 18, 2008

    Jere my ou maat, maar die resensies pla vir jou erg. Hoekom lees jy dit nog enigsins? Drink eerder iets sodat jy daai boude kan ontspan, en vra jouself: in die groot skema van die heelal, hoe belangrik is ‘n resensie nou eintlik?

  3. crito het gesê op Desember 18, 2008

    Cornuto, dis ‘n hebbelikheid van joernaliste. As iets jou lank genoeg irriteer begin jy in die openbaar vloermoere gooi.

  4. Ek wil ook net my stuiwer in die armbeurs gooi en sê dat ek jou blog baie geniet. Dit val seker nou nie in almal se smaak nie, maar daar moet seker ook blogs vir die fynproewer wees! Dat jou kommentaar opslae maak is nie altemit nie. Iemand, wat ek nou nie gaan identifiseer nie, het jou selfs by die webmeester gaan aankla. My ouma het altyd gepraat van iemand met ‘n nat onderbroek…..

  5. abrham het gesê op Desember 21, 2008

    wat sal ons se. lady rachelle het vir eben en jm gevra om saam met haar beoordeelaar te speel. jm en eben is seker okei maar is daar in die ou godverlate landjie van ons niemand anders wat die lady in haar o so belangrike job kan bystaan nie???

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.