Profile photo of crito

by

Gemengde gevoelens

Desember 15, 2008 in Sonder kategorie

Net omdat mens vakansie hou, beteken dit nie jy hoef nie tred te hou met wat op Afrikaanse boekeblaaie aan die gang is nie. Die internet dring oral deur, soos my seun sê. Vanoggend se blaaie is vars (Die Burger en Beeld) en ‘n week oud (Volksblad).

Oor laasgenoemde gaan ek nie veel sê nie, behalwe dat dit werklik vrot is om in Desember ‘n resensie te plaas van ‘n boek wat reeds vroeg in die jaar (Maart?) op die rakke was. Die boek Is “The Fight of My Life” – dr. Ivan Cohen se kankerboek. Die resensent is Jaybee Roux. Ek kan nie glo dat Roux só lank op die resensie gebroei het nie. Die boekeredakteur sal moet verduidelik.

In Die Burger is daar twee weldeurdagte, leesbare resensies (William M. Gumede oor “African Renaissance and Democracy – Can It Work?” van Richard van der Ross, en Christina Landman oor Kahlil Gibran se “Seun van die Mens”). Stephen Nell s’n oor “Monty” van Mark Keoane is informatief, maar hy laat na om te sê hoe uiters power die taalversorging in die boek is. Ek weet, ek het die boek pas gelees.
Beeld het ‘n stomperige resensie deur Fanie Olivier van Koos Kombuis se “The Complete Secret Diaries of God”, ‘n indringende dog vervelige bespreking deur Hein Viljoen van Trienke Laurie se “Sonskyf”-digbundel, en Jaybee Roux se resensie van “Op ‘n hoë noot – die lekkerste stories van P.H. Nortjé.
Olivier en Viljoen kon albei hul besprekings met die helfte verkort het – of moet mens aanneem dat hulle resensies skryf sonder inagneming van die medium of waarskynlike leserspubliek? Die Koos Kombuis-boek is ook ou nuus – hoekom dit nou eers resenseer?
Tot sover die lankmoedigheid. Die resensie wat my werklik na woorde laat soek vandag, is Louise Viljoen se bespreking van Charl-Pierre Naudé se “Sien jy die hemelliggame”, ‘n Nederlandse publikasie. Viljoen resenseer dit op haar gebruiklik deeglike manier. Van belang is Viljoen se slotopmerking: “Afrikaanse lesers het hom egter reeds in sy volle krag ervaar in sy ander twee bundels sodat hierdie boekie vir hulle eerder bibliofiele waarde sal hê.”
Maar mens kan net die kop skud oor die plasing van só ‘n resensie in ‘n Afrikaanse dagblad. Uiters pretensieus. Die boek is nie in plaaslike boekwinkels te kry nie – kan die Boekeredakteur verduidelik wat presies die waarde van die resensie is vir Kaapse lesers?

10 antwoorde op Gemengde gevoelens

  1. Ja, daai Viljoen resensie is vermorste spasie. Wat probeer Gerrit Brand doen – aan almal bewys dat hy sy vingers oral op die pols het? Ek wil net resensies lees van boeke wat ek dadelik kan gaan koop. Crito, as jy reg is oor Media24 wat afstuur op een boekeblad, stem ek vir iemand wat weet wat in die boekwinkels op die rakke is.

  2. O, ek wou nog sê: Die Volksblad praat duidelik nie saam in dieselfde geselskap as Die Burger en Beeld nie. En is baie beslis nie kompetisie vir Rapport se boekeblad nie.

  3. Op die blog Boekeblok by http://www.dieburger.com is inligting oor die beskikbaarheid van Charl-Pierre Naude se digbundel.

  4. Kom ek stel dit vir jou eenvoudig, Gerrit. Daardie inligting, wat ook by die resensie was, is van geen waarde vir enigiemand wat die boek nog op dieselfde dag wil koop en lees nie. Crito het jou vriendelik behandel toe hy gesê het dit is “uiters pretensieus” om so ‘n resensie te plaas. Jy is besig om droog te maak.

  5. Ek moet sê ek vind hierdie kommentaar vreemd. ‘n Boekeblad behoort sigself nie te beperk by wat in boekwinkels beskikbaar is nie. Eerder anders om: as ek ‘n boekhandelaar was sou ek myself op hoogte probeer hou van interessante boeke deur onder andere boekeblaaie te lees. Indien ‘n geresenseerde boek nie by jou plaaslike boekwinkel beskikbaar is nie, is dit nie die fout van die boekeredakteur nie. Knip die resensie uit en vra die boekwinkel om ‘n plan te maak! Gebruik die internet! ‘n Goeie boekeblad resenseer nie net boeke wat reeds bekend is nie, maar bring nuwe werke, en nuwe stemme, onder lesers se aandag. Om jouself te beperk tot boeke wat jy VANDAG kan koop en dan boonop ‘n boekeredakteur te blameer as dit nie moontlik is nie, is sommer orig, soos my ouma altyd gesê het. Maar dit is ongelukkig tekenend van die ondeurdagte, ongefundeerde en dikwels bloot kleinlike kommentaar wat dikwels op hierdie blog as “kritiek” opgedis word.

  6. Die boek van Charl-Pierre Naude is toevallig by Protea Boekwinkel beskikbaar, en die argument dat dit nie orals beskikbaar is nie is belaglik, want geen enkele boek is orals beskikbaar nie en die meeste digbundels verskyn maar in beperkte vooraad en is net in sekere winkels te kry. Maar selfs al kon mens die boek nie dadelik in ‘n winkel in SA kry nie, sou dit myns insiens nie as ‘n rede geld om nie ‘n resensie te plaas nie. Dit sou van die boekjoernalis ‘n slaaf van boekbemarkers en -verkopers maak. Een van die take van ‘n boekeredakteur is om te sorg dat juis daardie boeke wat deur verspreiders en handelaars misgekyk word aandag geniet. Dit het al meer as eenkeer gebeur dat ‘n boek waarvan ek ‘n resensie gepubliseer het daarna vir die eerste keer deur handelaars aangevra is en met sukses verkoop is. Op die blog Boekeblok by http://www.dieburger.com gee ek nog meer redes hoekom ek nie saamstem dat slegs ‘onmiddellik beskikbare’ boeke geresenseer moet word nie.

  7. Ag kwatsch! Hoeveel lesers het Die Burger? So 60 000? En vir hoeveel mense het daardie resensie iets beteken? So 10? En hoeveel eksemplare van die Naudé-boek is verkoop … Dit was ‘n vermorsing van ruimte – hoekom nie ‘n boek resenseer wat wyer as Protea se winkel op Stellenbosch beskikbaar is nie? Of is dit weer ‘n geval van Stellenbosch die middelpunt van die heelal, wat goed is vir ons is goed vir gans die mensdom?

  8. Tina D, Die Burger het nader aan 300 000 lesers; jou skatting van 60 000 is dus so bietjie uit. Navorsing toon dat ons ‘n baie diverse leserskorps het met ‘n groot verskeidenheid behoeftes. Daar is onder ons lesers vir elke soort boek ‘n noemenswaardige aantal lesers wat daarin belang stel. ‘n Koerant kan nie uitsluitlik op die grootste gemene deler fokus nie, maar moet ook stories en kommentaar publiseer oor onderwerpe waarin ‘n nis-groep belang stel. Natuurlik moet die populere goed ook daar wees, en dit is daar, oorvloedig, maar as dit al is wat verskyn, doen die koerant nie sy werk nie. Digbundels het ‘n klein maar baie passievolle ondersteunersgroep onder ons lesers. Die digkuns is ook die een genre wat gerus ‘n hupstoot van die media kan kry. As boekeredakteur van Die Burger sal ek beslis nie verskoning daarvoor vra dat ek moeite doen om die digkuns – en spesifiek belangrike bundels wat dalk misgekyk word – spesifiek onder die publiek se aandag te bring nie.

  9. Jou hubris het darem geen perke nie, Gerrit. Wil jy vir my sê dat vir elke Burger wat verkoop word, daar vyf lesers is? Nie in my huis nie!
    Maar as Die Burger 300 000 lesers het, en jy het jou Naudé-resensie vir 10 of 100 lesers gepubliseer, is die verhouding steeds woes. Praat van super-elitisme!
    Ja, wag, laat ons daaroor praat. Elitisme.
    Hoekom gebruik jy Jaybee Roux so fluks as resensent, maar jy laat resenseer nie al die boeke wat hy skryf nie? Of dié van die groot klomp liefdesverhaal-skrywers wat Afrikaanse mense aan die lees hou nie? Trek ook maar jou neus op vir die gewone man in die straat se lees-voorkeure, of hoe?

  10. Tina, weet jy wat die woord ‘hubris’ beteken? Wat jou laaste vraag betref: Daar is baie meer boeke wat nie geresenseer word nie as boeke wat wel geresenseer word, dus sal daar altyd boeke wees waaroor ‘n mens kan vra: Hoekom is dit nie geresenseer nie? Maar hoe besluit ‘n mens? Het jy al ooit daaraan gedink dat boeke wat vanself verkoop dalk juis die blootstelling minder nodig het as ander boeke? ‘n Koerant wil tog nie vir lesers net vertel wat hulle reeds weet nie? Elitisme? OK, as jy so wil seg. Maar ek dink nie aan elites of plebs of wat ook al wanneer ek besluite neem nie; ek dink aan lesers.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.