Profile photo of crito

by

Uiteindelik – vreugde by Die Burger se Boekeblad

Desember 9, 2008 in Sonder kategorie

Dit wys jou, nè, dit wys jou. ‘n Goeie resensie maak ‘n Boekeblad. En dit laat jou wonder hoekom die ander resensies op dieselfde blad so sleg daarteen afsteek. Soos gister op Beeld en Die Burger se Boekeblaaie.

Die goeies: Riana Scheepers se skitterende bespreking van “Groot Verseboek” (Die Burger) en Theunis Engelbrecht s’n van “Is dit net ek of is als tos?” (Beeld). Scheepers is ‘n stilis met genoeg joernalistieke kundigheid om alles te sê wat gesê moet word, en dit só te sê dat ‘n mens end-uit elke woord lees.

Ek dink sowel die koerantlesers as die uitgewer kan hoop en bid dat Gerrit Brand haar meermale as resensent sal inspan. Sy troon uit bo sommige van sy ander resensente. Soos Brand sekerlik weet.

Engelbrecht weer is ‘n veteraan joernalis. Hy skryf soos iemand wat weet hy kan dit nie as vanselfsprekend aanneem dat mense sy resensie end-uit gaan lees nie. Daarom werk hy vir hul aandag.

Ook die resensie van Ilza Roggeband in Die Burger oor “Nooit is ‘n lang, lang tyd” van Anchen Troskie is in die kol – ‘n onderhoudende stukkie skryfwerk met ‘n akute bewussyn van die konteks.

Ek hoop dat die uitgewer van dié boek kennis sal neem van die punt wat Roggeband maak oor die flater met die hantering van inligting oor die  inhoud van die boek. Dis kortsigtig om ‘n boek se grootste geheim via reklame te verklap.

Elders op dieselfde blad is daar Jaybee Roux se “gift guide”-resensies van ‘n viertal kinderboeke. Roux is Gerrit Brand se Jantjie-my-kneg. Hy is ‘n beter skrywer as resensent.

Liewe Gerrit: Marina le Roux sou vir hierdie boeke die ideale keuse as resensent gewees het. Daarmee betoon jy sommer ook respek aan die skrywers van die onderhawige boeke.

By Beeld is daar twee besprekings van digbundels (Lucas Malan oor Loftus Marais se bundel, Fanie Olivier oor Cornelius van der Merwe se “Icarus”). Albei baie goeie literêre kritiek – maar absoluut sieldodende, vervelige resensies waarvan jy in tye van groot drukte net die eerste en laaste paragrawe hoef te lees. Malan en Olivier kan maar by Scheepers gaan leer.

 

12 antwoorde op Uiteindelik – vreugde by Die Burger se Boekeblad

  1. abrham het gesê op Desember 9, 2008

    riana kan maar, ek is verheug oor jou blog. iemand moet die keiser se klerekas revamp!!!

  2. jjanajj het gesê op Desember 9, 2008

    hoor-hoor, crito!

  3. Crito, my seuntjies het onlangs rapporte gekry. Onderaan elke rapport het die juffrou haar naam geteken. Ek ken hul juffrouens en weet hoe om hul oordeel in te skat. Boonop is hulle so vriendelik om reg deur die jaar inhoudelike kommentaar in my seuntjies se skrifte te skryf sodat ‘n mens kan sien hoekom sy vir die een ding ‘n beter punt as vir die ander gee. Die rapport wat ek van jou kry, bevat egter nie een inhoudelike opmerking oor selfs een resensie nie, net vae algemeenhede en persoonlike opmerkings oor resensente. In die lig daarvan, en van die feit dat jy nog steeds anoniem bly, kan ek glad nie die geldigheid van jou bepunting beoordeel nie. Miskien is jy reg, miskien nie. (Terloops, soos ek al genoem het, op Die Burger se webwerf is daar ‘n ruimte, Boekeblok, geskep spesiaal net vir kommentaar op boekresensies. Jy mag maar daar kommentaar lewer, maar hou dit inhoudelik asb, moenie persoonlik raak nie – veral gesien jou eie veilige anonimiteit.)

  4. crito het gesê op Desember 11, 2008

    Gerrit, jy moet aanvaar dat ek anoniem gaan bly, nes jy eintlik vir my anoniem is. Ek ken net jou naam.
    Ek besef dit is moeilik om verby die persoonlike elemente te kom. Ek het uit die staanspoor geweet dat dit vir veral resensente goor gaan wees dat iemand uitwys dat hulle goeie en vrot resensies skryf (dis mos altyd makliker om ‘n persoonlike teenaanval te loods as wat dit is om jou eie slordige werk as resensent te verdedig). En jammer om te sê, die Boekeredakteur is die persoon wat moet sorg dat die vrot resensies nie ongeredigeer koerant toe gaan nie.
    Jy het in hierdie opsig dikwels gefouteer. Maar jou mede-Boekeredakteurs het nie minder gesondig nie. Dit is vir my interessant dat jy die enigste boekeredakteur van die vier in die Media24-stal is wat tot die gesprek toegetree het. My gevolgtrekking is dat jy die enigste is wat genoeg belangstel in Boekeredakteur as vak.

  5. Crito, ek is nie vir jou anoniem soos jy vir my anoniem is nie. Jy kan baie oor my uitvind deur gewoon rond te vra en ‘n bietjie op die internet rond te woel. Ook oor my resensente, wie se name onderaan hul resensies verskyn, kan jy heelwat kennis versamel en weet jy, te oordeel aan jou kommentaar oor hulle, nogal heelwat. Wanneer jy dus neerhalende persoonlike opmerkings teenoor ‘n resensent maak, soos dat hy ‘n Jantjie-my-kneg is, dan is dit ‘n aanval op ‘n persoon se reputasie, terwyl neerhalende opmerking teenoor mnr. Anoniem niemand se reputasie skaad nie. Daarom vind ek dit onprofessioneel en oneties om in ‘n debat oor resensies neerhalende persoonlike opmerkings te maak – des te meer wanneer die persoon wat die aanmerkings maak nie bereid is om homselfs aan sulke aanvalle bloot te stel nie omdat hy onder ‘n masker skryf. Dit is nie net onbillik teenoor jou teikens nie, maar boonop lafhartig.

  6. Crito, jy skryf verder “dit is moeilik om verby die persoonlike elemente te kom”. Speak for yourself. Baie mense vind dit glad nie moeilik om by “persoonlike elemente” verby te stuur wanneer hulle kritiek – ook skerp kritiek – op boeke of resensies lewer nie. Daarom loods ek ook geen “persoonlike teenaanval” soos jy beweer nie. My kritiek is telkens op jou optrede en die inhoud van wat jy skryf, nie op jou persoonlike hoedanighede nie. Gaan kyk maar.

  7. Laastens, Crito, skryf jy jy’t “uit die staanspoor geweet dat dit vir veral resensente goor gaan wees dat iemand uitwys dat hulle goeie en vrot resensies skryf”. Maar voordat jy jou eie profetiese insig so hoog aanprys, dink hieraan: Om te beweer iemand se resensies is swak, soos jy in jou rapporte doen, is nie dieselfde as om dit “uit te wys”, soos jy blykbaar dink jy doen, nie. Laasgenoemde sou behels dat jy jou oordeel motiveer. Een van die basiese beginsels van resensiekunde is dat ‘n mens jou stellings oor ‘n boek (en dus ook ‘n resensie) ten minste met voorbeelde moet toelig. Om bloot te skryf ‘n resensie is te “akademies” of “slordig” of “oppervlakkig” is nie voldoende nie. Jy moet verduidelik hoekom jy so dink. Anders word die letterkundige gesprek bloot ‘n soort stemmery: Ek het van A se resensie gehou, maar nie van B s’n nie. Ek verseker jou my resensente gee nie om oor kritiek op hul resensies nie. Sulke kritiek word nog al die jare in die koerant se brieweblad gelewer, en die laaste aantal maande ook op die blog Boekeblok op die koerant se webwerf. Waarteen my resensente dit het – en daarteen het ek dit ook – is dat hulle persoonlik afgekraak word. Niemand wil daaraan blootgestel word nie (kennelik veral nie jy nie), want hoe verdedig ‘n mens jouself teen persoonlike beledigings? Ek stel dus voor dat jy nie weer, wanneer mense oor persoonlike opmerkings beswaar maak, suggereer dat hulle skrikkerig is vir ‘n kritiese gesprek oor hul werk nie, maar dat jy eerder hul klagte ter harte neem en jou van persoonlike opmerkings weerhou, ook wanneer jy skerp kritiek op resensies lewer. Dis eintlik nie so moeilik nie. Om ‘n resensent eerder as sy resensie aan te val is net so onprofessioneel soos om in ‘n resensie die skrywer eerder as sy boek te kritiseer. Die oop gesprek vereis respek vir jou gespreksgenoot.

  8. crito het gesê op Desember 12, 2008

    Dit is geldige punte wat jy maak, Gerrit. Maar ek kan nie oral heeltemal ernstig reageer nie, want dit is vir my al asof jy tot nog toe nie werklik gesnap het wat my vertrekpunt is nie. Ek is nie besig met ‘n gesprek rondom die letterkunde nie. Ek fokus op dít wat ek meen goeie of swak joernalistiek is. Dit is wonderlik dat jy jou resensente verdedig teen dit wat jy as persoonlike, kwetsende aanvalle beskou.
    Ek meen nie ek was werklik kwetsend of besig om kleinerend teenoor persone te wees nie. As jy goed daaroor nadink, was jy as Boekeredakteur kwetsend teenoor PG du Plessis deur nie ‘n eersterangse kenner van sowel prosa as die TV-medium te kry om sy jongste roman te resenseer nie. Jy het my nog nie ‘n behoorlike antwoord daaroor gegee nie.
    En as ek Jaybee Roux bestempel as ‘n Jantjie-my-kneg, is ek gewoon besig om ‘n indruk wat ontstaan het weens die soorte boeke wat jy hom vra om te resenseer, uit te spel. Jy weet, soos in “Jack of all trades but master of none”. As ek hom as persoon wou kleineer, sou ek dit anders gestel het. Maar ek het nie. Ek merk in sy skryfwerk die kiem van iemand wat kan ontwikkel in ‘n baie goeie resensent. Hy sal nog baie moet skryf. Mens kry nie ‘n gesaghebbende stem net omdat jy in ‘n koerant skryf nie. Jy moet dit oor ‘n tydperk verwerf.
    Ek neem kennis van jou gevoelens oor persoonlike aanvalle, maar dink jy die ressensente kan werklik resensies verduur? Tot dusver is daar nie baie wat vir hulle in die bres tree nie.

  9. abrham het gesê op Desember 12, 2008

    laat ons op die trappies van die tempel woorde slyp en voortgaan om resensiekunde te ontwikkel in die kuns wat dit behoort te wees. die gekritiseerde kritiseer die kritiserende wat … die klerekas is heel omgedonner!

  10. Crito, die dag as jy aan die publiek bekend maak wie jy is, en jou so blootstel aan dieselfde soort persoonlik afbrekende uitlatings wat jy oor resensente maak, sal ek weer aan hierdie gesprek deelneem. Dit sal help as jou kritiek dan ook op resensies, spesifiek die inhoud daarvan, gemik is en nie op persone nie; dan is daar immers iets waarop mens sinvol kan reageer. Tot later dan?

  11. Ek wens jy wil ‘n slag op Crito se kritiek reageer, Gerrit. Ek vind sy/haar opmerkings nie so persoonlik en afbrekend soos jy nie. Wat my betref kan dit nog veel skerper.

  12. Hoe is Gerrit Brand veronderstel om te reageer, Tina D, op ‘n stelling soos: “Roux is Gerrit Brand se Jantjie-my-kneg”? Is dit nou ‘n redelike opmerking oor ‘n resensie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.