Jy blaai in die argief vir 2008 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Die bielie van Die Burger

Desember 29, 2008 in Sonder kategorie

Jan-Jan Joubert is my soort resensent. Hy sê wat gesê moet word – aan almal wat moet hoor.

In die geval van sy resensie van Jeremy Gordin se “Zuma – A Biography” in vanoggend se Burger, is sy teiken die koerantleser, die skrywer en die uitgewer.

Vir die koerantleser gee hy inligting oor wat in die boek staan, en dat dit waarskynlik raadsaam sal wees om te wag vir later boeke oor dieselfde onderwerp as mens ‘n werklik gesaghebbende boek soek.

Volg jy Joubert se betoog, is dit duidelik dat hy op heel beskaafde wyse vir skrywer én uitgewer uittrap sodat daar geen twyfel by beide kan wees dat hulle op groot skaal drooggemaak het nie.

Omdat hy self ‘n joernalis is, besef Joubert dat boeke soos “Zuma – A  Biography” dikwels saamgeflans word uit ‘n magdom artikels, berigte en rubrieke. Die persoon wat die saamflansery pleeg, is dikwels iemand wat deur die uitgewer nadergeroep is om te help met die sleurwerk waaraan die skrywer self geen erg het nie. As hierdie persoon se werk benede ‘n aanvaarbare peil is, is dit gewoonlik die skrywer wat die kritiek moet verduur.

Is hy daarom vry te spreek? Beslis nie. Dis tog een van die aksiome van die uitgewerswese dat die persoon wie se naam op die omslag en titelblad is, pa moet staan vir die foute in die boek. Soos ek dit verstaan, is die outeur ook die persoon wat heel laaste na die proewe kyk, wat moet sê of hy vir lief neem met wat in sy naam aangevang is.

En die uitgewer? Kom ons aanvaar dat Jonathan Ball, die uitgewer, besef dat hierdie publikasie nie dié uitgewery se gebruiklike hoë standaarde handhaaf nie en daaroor spyt het. Maar kan mens ook aanvaar dat Jonathan Ball se mense ‘n standpunt sal inneem oor die een werklik verdoemende aspek wat Joubert in sy resensie uitlig, naamlik dat ‘n boek gepubliseer is waarin simpatie betoon word met onetiese joernalistiek en wat die ondergrawing van die regsproses vergoelik.

Jonathan Ball behoort verantwoording te doen – dít is wat hierdie resensie vir my sê.

 

Profile photo of crito

by crito

Subliem en lagwekkend

Desember 23, 2008 in Sonder kategorie

Dankie vir die kersgeskenk, Gerrit Brand. Die Burger se Boekeblad vandeesweek is kos vir die kieskeurige leser – verskoon asb die beeldspraak. Twee werklik uitstekende resensies – ds. Danie du Toit se bespreking van Carina Diedericks-Hugo se “Die verdrinking van Josua van Eeden” en Daniel Hugo (heel toevallig Diedericks-Hugo se eggenoot) s’n van “Songs of the Veld and Other Poems”.

En om die beeldspraak van hierbo voort te sit, twee resensies wat as minder suksesvolle bykos beskou kan word. Ongelukkig albei deur Jaybee Roux: die een oor “Zhoozsh!” van Jeremy en Jacqui Mansfield, en die ander oor Christelle Erasmus se “Eenskotteltreffers”. ‘n Geval van bladvulling? Eersgenoemde kookboek is al ou nuus, en laasgenoemde is horingoud (letterlik jare oud!), en net met ‘n nuwe omslag uitgegee, ‘n feit wat deur Roux misgekyk is.
Ook ou nuus: Ek sukkel om ‘n strategie te bespeur in Gerrit Brand se keuse van (a) boeke wat bespreek word en (b) die regte resensent vir daardie boeke. Brand se antwoorde op my kritiek het my nog nie werklik bevredig nie. Daarom beskou ek die resensies deur dominis Du Toit en Daniel Hugo as ‘n soort antwoord. Só kan dit gedoen word.
En daarmee stem ek saam, met dank aan Brand. Hugo skryf ‘n soort resensie wat vir mens die konteks gee, die historiese agtergrond, en ‘n evaluering. Ek het dit so boeiend gevind dat ek dadelik besluit het om die boek aan te skaf.
Dominis Du Toit weer het die gawe om sy geesdrif te wys, wat my nie verbaas nie. Enigiemand wat hom al hoor preek het, sal weet waarvan ek praat. Hier tref dit jou dadelik. Hy gee sowel ‘n aanduiding van die inhoud as sy reaksie daarop – hy tree in gesprek met die boek, om ‘n cliché te gebruik, en die uiteinde is dat jy die boek eenvoudig wil hê en lees.
En ingebed in sy resensie is ‘n uitgangspunt wat ek hartlik wil ondersteun. Dit is naamlik dat die sogenaamde jeugroman eintlik benader moet word op dieselfde manier as wat ‘n literêre roman vir ‘n vermeende ouer gehoor benader word. Die skryfwerk daarin is nie minder veeleisend nie, en die kuns daarvan net so groot as by ‘n ernstige letterkundige skepping.
Dít is wat Du Toit vir my van Diedericks-Hugo se roman gesê het. Dit was ‘n geïnspireerde keuse om hom as resensent vir hierdie roman te kry.
Melvyn Minnaar se bespreking van “Art and revolution – The Life and Death of Thami Mnyele” is gangbaar. Die kenner op hierdie gebied is Elza Miles. Dit sal dalk ‘n goeie idee wees om haar te vra om vir BY daaroor te skryf, met gepaste illustrasies. 
Profile photo of crito

by crito

Grootmeester van die kortsluiting

Desember 18, 2008 in Sonder kategorie

Die kuns van die kortsluiting – dit is waarvan Emile Joubert die grootmeester is. Om ‘n resensie uit sy pen te lees, soos nou op LitNet, is om jou skielik in ‘n taalkundige en semantiese rampgebied te bevind. Slordig, oppervlakkig, ‘n versameling van foefies, meneer Joubert.

Kyk na hierdie lysie uit sy resensie van ‘n versameling Chris Barnard-rubrieke, “Oulap se blou”:

Anneri van der Merwe is eintlik Annari van der Merwe.

Kiekie: kan ‘n fotostudie ‘n kiekie wees? Beslis nie. Vergelyk die woordeboek-betekenis van “kiekie” as “snapshot” teenoor die fyner semantiese onderskeiding van “fotostudie” binne die konteks van  amateur-poging vs foto as gekomponeerde studie.

Stilistiese pretensie waarborg nie betekenisdraende juistheid in ‘n sin nie: “Ook g’n buierige grynslag van die mondhoek soos wat stemmige moderne skrywers geneig is om in te neem nie”. Grynslag van die mondhoek?

En “in stede van”: Joubert het nie baie wys geword uit die lesse wat Die Burger se subredakteurs hom geleer het nie.

Wat beteken “’n vername tyd”?

Styl (gebrek aan): “Maar Meneer Barnard … mag in jou oë in lag uit daardie foto uit. Maar wanneer hy sy pen optel, mik hy vir net een plek, en hy tref dit keer op keer: die warmte van die kloppende hart.” Is warmte ‘n plek?

Die metafoor ontwyk hom soms: “Dis ryp, vet, smaaklike en bevredigende stories, vertel deur die meester van onopgesmuktheid.” Dis so jammer dat die meester van onopgesmuktheid nie vir Joubert kon besiel om minder opgesmuk te skryf nie.

Kwasi-intellektuele nonsens: “Meneer Barnard se vertellings maak staat op een van die Afrikaanse skrywer se grootste bates en gewildste uitings, naamlik nostalgie.”

En so aan, en so aan.

Skei uit, Emily. En as jy nie kan aanvaar dat jy verby jou rakleeftyd as resensent is nie, lees ten minste jou resensies die volgende oggend met vars oë voordat jy hulle instuur.

 

Profile photo of crito

by crito

Gemengde gevoelens

Desember 15, 2008 in Sonder kategorie

Net omdat mens vakansie hou, beteken dit nie jy hoef nie tred te hou met wat op Afrikaanse boekeblaaie aan die gang is nie. Die internet dring oral deur, soos my seun sê. Vanoggend se blaaie is vars (Die Burger en Beeld) en ‘n week oud (Volksblad).

Oor laasgenoemde gaan ek nie veel sê nie, behalwe dat dit werklik vrot is om in Desember ‘n resensie te plaas van ‘n boek wat reeds vroeg in die jaar (Maart?) op die rakke was. Die boek Is “The Fight of My Life” – dr. Ivan Cohen se kankerboek. Die resensent is Jaybee Roux. Ek kan nie glo dat Roux só lank op die resensie gebroei het nie. Die boekeredakteur sal moet verduidelik.

In Die Burger is daar twee weldeurdagte, leesbare resensies (William M. Gumede oor “African Renaissance and Democracy – Can It Work?” van Richard van der Ross, en Christina Landman oor Kahlil Gibran se “Seun van die Mens”). Stephen Nell s’n oor “Monty” van Mark Keoane is informatief, maar hy laat na om te sê hoe uiters power die taalversorging in die boek is. Ek weet, ek het die boek pas gelees.
Beeld het ‘n stomperige resensie deur Fanie Olivier van Koos Kombuis se “The Complete Secret Diaries of God”, ‘n indringende dog vervelige bespreking deur Hein Viljoen van Trienke Laurie se “Sonskyf”-digbundel, en Jaybee Roux se resensie van “Op ‘n hoë noot – die lekkerste stories van P.H. Nortjé.
Olivier en Viljoen kon albei hul besprekings met die helfte verkort het – of moet mens aanneem dat hulle resensies skryf sonder inagneming van die medium of waarskynlike leserspubliek? Die Koos Kombuis-boek is ook ou nuus – hoekom dit nou eers resenseer?
Tot sover die lankmoedigheid. Die resensie wat my werklik na woorde laat soek vandag, is Louise Viljoen se bespreking van Charl-Pierre Naudé se “Sien jy die hemelliggame”, ‘n Nederlandse publikasie. Viljoen resenseer dit op haar gebruiklik deeglike manier. Van belang is Viljoen se slotopmerking: “Afrikaanse lesers het hom egter reeds in sy volle krag ervaar in sy ander twee bundels sodat hierdie boekie vir hulle eerder bibliofiele waarde sal hê.”
Maar mens kan net die kop skud oor die plasing van só ‘n resensie in ‘n Afrikaanse dagblad. Uiters pretensieus. Die boek is nie in plaaslike boekwinkels te kry nie – kan die Boekeredakteur verduidelik wat presies die waarde van die resensie is vir Kaapse lesers?
Profile photo of crito

by crito

Volpunte!

Desember 14, 2008 in Sonder kategorie

Rachelle Greeff verdien volpunte vir vandag se boekeblad in Rapport. Twee swaargewigte, Willie Burger en Hermann Giliomee, resenseer Etienne van Heerden se nuwe roman, “Dertig nagte in Amsterdam” en Brian Pottinger se boek oor die Mbeki-latenskap onderskeidelik.

Die Giliomee-resensie is informatief en indringend – die soort pitkos wat ‘n leser graag op ‘n Sondag wil hê. Jy kry konteks en tekstuur, plus ‘n resensent wat duidelik ‘n eie beskouing ook het.
Willie Burger se resensie is eintlik ‘n kosbare bydrae tot die resensiekunde. Dit bespreek tegelyk die boek onder hande, en sluit aan by ‘n debat wat ‘n paar jaar gelede veral uit een spesifieke oord oor Van Heerden se taalgebruik aan die gang gesit is.
Vir die ingeligtes is daar dus ‘n lekker implisiete smoelneuker waaraan hulle hul kan verkneukel, en vir diegene wat nie daarvan bewus is nie, ‘n baie goeie en toeganklike ontleding van die retoriese kragtoer van “Dertig nagte in Amsterdam”.
Hierdie boekeblad skeur ek uit om te hou.
Profile photo of crito

by crito

Uiteindelik – vreugde by Die Burger se Boekeblad

Desember 9, 2008 in Sonder kategorie

Dit wys jou, nè, dit wys jou. ‘n Goeie resensie maak ‘n Boekeblad. En dit laat jou wonder hoekom die ander resensies op dieselfde blad so sleg daarteen afsteek. Soos gister op Beeld en Die Burger se Boekeblaaie.

Die goeies: Riana Scheepers se skitterende bespreking van “Groot Verseboek” (Die Burger) en Theunis Engelbrecht s’n van “Is dit net ek of is als tos?” (Beeld). Scheepers is ‘n stilis met genoeg joernalistieke kundigheid om alles te sê wat gesê moet word, en dit só te sê dat ‘n mens end-uit elke woord lees.

Ek dink sowel die koerantlesers as die uitgewer kan hoop en bid dat Gerrit Brand haar meermale as resensent sal inspan. Sy troon uit bo sommige van sy ander resensente. Soos Brand sekerlik weet.

Engelbrecht weer is ‘n veteraan joernalis. Hy skryf soos iemand wat weet hy kan dit nie as vanselfsprekend aanneem dat mense sy resensie end-uit gaan lees nie. Daarom werk hy vir hul aandag.

Ook die resensie van Ilza Roggeband in Die Burger oor “Nooit is ‘n lang, lang tyd” van Anchen Troskie is in die kol – ‘n onderhoudende stukkie skryfwerk met ‘n akute bewussyn van die konteks.

Ek hoop dat die uitgewer van dié boek kennis sal neem van die punt wat Roggeband maak oor die flater met die hantering van inligting oor die  inhoud van die boek. Dis kortsigtig om ‘n boek se grootste geheim via reklame te verklap.

Elders op dieselfde blad is daar Jaybee Roux se “gift guide”-resensies van ‘n viertal kinderboeke. Roux is Gerrit Brand se Jantjie-my-kneg. Hy is ‘n beter skrywer as resensent.

Liewe Gerrit: Marina le Roux sou vir hierdie boeke die ideale keuse as resensent gewees het. Daarmee betoon jy sommer ook respek aan die skrywers van die onderhawige boeke.

By Beeld is daar twee besprekings van digbundels (Lucas Malan oor Loftus Marais se bundel, Fanie Olivier oor Cornelius van der Merwe se “Icarus”). Albei baie goeie literêre kritiek – maar absoluut sieldodende, vervelige resensies waarvan jy in tye van groot drukte net die eerste en laaste paragrawe hoef te lees. Malan en Olivier kan maar by Scheepers gaan leer.

 

Profile photo of crito

by crito

Rapport: Die uitsondering wat die reël bewys

Desember 8, 2008 in Sonder kategorie

Dit tref my hoe ‘n vervelige koerant Rapport soms is. Gister het Rachelle Greeff, boekeredakteur, haar bydrae gemaak om die indruk te verstewig.

Haar Boekeblad is afgestaan aan ‘n “gift guide” vir diegene wat boeke vir kinders wil koop hierdie Kersseisoen. ‘n Aftellys van die beste kinder- en jeugboeke wat tans beskikbaar is. Niks daarmee verkeerd nie.
Maar dit is een van die weinige kere vanjaar dat sy tyd afgestaan het aan kinderboeke. Dit is ‘n geval van die uitsondering wat die reël bewys – sy verras jou met haar keuse van materiaal vir die spesifieke boekeblad omdat sy die res van die jaar ‘n totale onderpresteerder is oor hierdie genre.
Deur boonop self die besprekings te doen, wek sy die indruk dat sy net besig is om in die goeie boekies van die plaaslike uitgewers te bly.
Ek daag haar uit om ‘n slag in-diepte besprekings te doen oor die twee wordende reuse van hierdie genre, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen.
Volgende week: Is dit dalk non-fiksie se beurt? Kookboeke? 
Nee wat. Dis op dae soos gister dat ek weet ek sal Rachelle Greeff se boekeblad nie mis nie. Rapport dalk ook nie.
Profile photo of crito

by crito

Volksblad kom ook in die kraal

Desember 2, 2008 in Sonder kategorie

Maandag het die Kersseisoen amptelik begin. Nou, het ek gedink, gaan die Afrikaanse oggendkoerante se boekeblaaie barstens vol resensies van die jongste Afrikaansepublikasies wees. Dis mos Naspers se koerante.

Vergeet maar daarvan. Beeld se boekeredakteur, Dirk Jordaan, was die grootste sondaar: een vrot plaaslike Engelse koffietafelboek, een ingevoerde Britse roman, een Robbeneiland-memoire (Ahmed Kathrada), en een plaaslike Afrikaanse boek (Pieter Strauss se “Bitterboela en soetgousblom”). Proudly South African, kom ons vergeet van ons Afrikaanse wortels, om nie te praat van ons lesers nie.

Kobus Burger se resensie van Bob Martin se “Highlights & Footlights”, ‘n versameling foto’s deur Truk se eertydse teaterfotograaf, kon net sowel gesny gewees het tot ‘n onderskrif by ‘n foto. Martin was ‘n gangbare teaterfotograaf, nie van die kaliber van Paul Alberts nie (wat Burger nie noem nie), en die teksgedeeltes getuig van die mees argelose redigering wat mens kan kry (wat Burger wel noem).

Deur Burger se té lang resensie te plaas plus ‘n paar kiekies, het Jordaan hom skuldig gemaak aan joernalistieke luiheid. Verdomp!

 Thys Human se bespreking van die nuwe Julian Barnes-werk is knap, ofskoon effe té lank en akademies-tillend. Ek is seker Barnes neem kennis daarvan.

In Die Burger was daar ‘n goeie verskeidenheid boeke wat bespreek is. Christina Landman se resensie van “Journeying with Mary” is werklik uitstaande. Onopgesmukte taalgebruik, geen kennis-vertonerigheid nie, gesaghebbend. Hier moet Gerrit Brand gelukgewens word met sy keuse van resensent, soos ook die geval is met dié van Braam de Vries om Alan Paton se “The Hero of Currie Road – Complete ShortPieces” te takseer.

Die verrassing was vir my Jacques de Wet se bespreking van “Whiplash” van Tracey Farren. Ek stem volkome saam met De Wet se oordeel oor die roman. Dit is net jammer dat De Wet ‘n beginner-resensent is. As sodanig swig hy voor die versoeking om die verhaal te probeer vertel, en dan bied hy kritiek in wollerige argumente, moontlik as soort selfbeskerming teen mense wat kan kla oor ‘n wit resensent wat ‘n boek uit ‘n bruin omgewing kritiseer.

Wat hy moes gesê het, is dat “Whiplash” ‘n gemeenplasige gegewe het, ‘n verhaal bevolk met stereotipes, en dat Modjaji Books, wat die boek gepubliseer het, sekerlik nie ‘n kundige redigeerder of taalversorger het nie. Hierdie boek moes nie nou gepubliseer gewees het nie.

(Wat gaan by Die Burger aan? Kyk net hoe spel De Wet “faal”!)

Oor Jaybee Roux se resensie van Annelise se “Weerloos” hoef mens nie veel te sê nie. Roux sal ‘n gesaghebbende resensent word die dag dat hy iets soos “Weerloos” bespreek en blyke gee dat hy weet wie Mefisto is, of dat hy bewus is van die Faust-legende.

Nou: Volksblad se Boekeblad, onder redaksie van Danila Liebenberg. Sy kry soms goeie resensies, soos Ronel Nel s’n van André le Roux se jongste boek, of Joan Hambidge se analise van die Izak de Vries-kortverhale. 

Vandeesweek het sy eintlik net Corli van der Merwe, ‘n redaksielid van Volksblad, se bespreking van Deon Meyer se “13 uur”. Geesdriftig geskryf, sodat dit vir lesers van nutsal wees as hulle moet besluit of hulle dit wil lees of nie. Maar Liebenberg, as boekeredakteur, moes gesnoei het daaraan – Van der Merwe maak die onverskoonbare fout om binne een resensie die hele verhaal te wil vertel. As jy “13 uur” nog nie gelees het nie, wil jy nie alles weet wat Van der Merwe uitlap nie.

Net een vraag vir Liebenberg: Hoekom is die web-weergawe van haar boekeblad so agter die tyd?