Profile photo of crito

by

In die skadu van Loftus

November 30, 2008 in Sonder kategorie

Daar is op hierdie gawe Sondag twee resensies te lese van die digter Loftus Marais se debuut, geskryf deur twee ouerliede van die digterlike lewe, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé. Dis ‘n toeval vol betekenis – dieselfde twee digters was onlangs (is eintlik steeds) taamlik uitgesproke oor mekaar in hierdie selfde blogomgewing.

Hambidge se resensie is kort, ‘n gespierde reaksie op “Staan in die algemeen nader aan vensters”. Dis al wat ek nodig het om te weet dat ek aan hierdie bundel baie plesier gaan hê, en dat ek dit dadelik moet aanskaf. Geesdriftig, intelligent, selfs ‘n element van humor (via die aanhaling) –puik!

Hambidge sê ook dat die volledige weergawe van die resensie binnekort in Volksblad sal verskyn. Hoekom? Is dit nodig? Sy het reeds op meesterlike manier op LitNet die resensie gedoen.

As sy ‘n langer, meer indringende resensie wil publiseer om ‘n meer akademies gefundeerde bespreking te bied, sal dit vrek goed moet wees om Charl-Pierre Naudé s’n in Rapport na die kroon te steek.  Vir my is Hambidge die grootmeester van die kort (of korterige) resensie. Dit is wanneer sy langer plegings uitstuur dat daar kortsluitings in haar styl kom en sy soms neig na iets in die trant van Zandra Bezuidenhout se bespreking van die nuwe Henk Rall-bundel.

Naudé se skrywe oor “Staan in die algemeen nader aan vensters” is geskryf vir ‘n ander leserspubliek – die meer gekultiveerde deel van Rapport se lesers, mense wat op ‘n Sondag iets meer as ‘n kort blik of ‘n voorlopige mening wil hê.

Naudé is ‘n fenomenale stilis, wat dan ook help met die soort argumenterende, verslagdoenende resensie wat hy hier skryf. Dit is ‘n stylgevoeligheid wat hom help om die slaggate van kwasi-akademiese warboel te vermy. Hy gee baie inligting oor Marais se digkuns, is vreesloos evaluerend en skryf onderhudend, al voel mens teen die einde dat hy sy een oog gehad het op die woordteller en besig was om vol te maak.

Ook jammer dat hy nie raakgesien het dat die omslag verwys na die Tydskrif vir Geesteswetenskappe nie.

In die algemeen was Rapport se Boekeblad vandag ‘n terugkeer na ‘n sekere betroubare peil. Boekeredakteur Rachelle Greeff (of Raquelle Greeff, soos een van RSG se omroepers haar verlede week genoem het) het verlede Sondag ‘n insinking beleef met haar uiters on-kreatiewe hantering van “Groot Verseboek”. Sondagkoerante se lesers het hoër verwagtinge as die lesers van ‘n skoolkoerant.

Daarom volpunte vir die aankeer van Karin Brynard om oor Dana Snyman se “Op die agterpaaie” te skryf. Dit lig die peil van ‘n boekeblad stratoferies as só ‘n gesoute joernalis fokus op die skryfwerk van ‘n top-joernalis.

 

3 antwoorde op In die skadu van Loftus

  1. Crito, vir iemand wat sulke swaar kritiek lewer op andere, letterkundiges nogal, stel jy jou rug darem self vreeslik oop.

    Het daar ‘n taaiegheidjie op jou toetsbord by die spasiebalk ingekom?

  2. crito het gesê op November 30, 2008

    Spoeg en plak is nie meer wat dit was nie, Ant Sussa. Erg bedank!

  3. Net ‘n plesier Crito, net ‘n plesier.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.