Profile photo of crito

by

Resensente in die visier

November 26, 2008 in Sonder kategorie

Wie resenseer die resensente?

Niemand nie. Almal mor, met nou en dan ‘n uitbarsting. Soos nou tussen Joan Hambidge en Charl-Pierre Naude. Dan weer maande waarin iemand nou en dan die hel in raak ,en dan afgekoel word deur mense wat beter weet.

Basta!

Hierdie blog is met liefde opgedra aan resensente en die redakteurs van Boekeblaaie.

Eerste aan die beurt: Marina le Roux. Op haar dag die vaskop-voorryvrou van Iskemus op Stellenbosch. ‘n Wandelende ensiklopedie oor kinder- en jeugboeke.

Wat haar in die oë van dr. Gerrit Brand, Boekeredakteur van Die Burger, die ideale persoon maak om PG du Plessis se Fees van die ongenooides te resenseer.

Maar die geleentheid was te groot vir haar. Pasende Maandag het sy haarself verby die plaasvervangersbank van resensente gedemoveer met ‘n resensie van PG se kragtoer van ‘n roman.

Verbeel jou, ‘n hele resensie sonder ‘n enkele verwysing na die TV-reeks waaruit die boek gespruit het. Of ‘n bespeigeling oor die karakters wat uitgeskryf is vir die boek nie.

En vaderland – geen bespreking van PG se uitdagende besluit om die roman teen die konvensie in te lanseer en dit in die verlede tyd te skryf nie!

Aan die einde van die resensie beken ons gewikste oud-voorryvrou dat sy onwelkom gevoel het by die lees van die roman. Smaak my die fout lê by haar, nie by PG of die roman nie.

Slotsom: Geen toevoeging tot die kanon van goeie resensies nie. Dis ‘n vertoon van woordeskat, ‘n aftellysie van jargon, ‘n louwarm klap in die gesig van PG, wat meer respek verdien het van sowel resensent as boekeredakteur. Vir só ‘n boek soek mens iemand soos Louise Viljoen of Henriëtte Roos as resensent as Deon Opperman of Chris Barnard nie beskikbaar is nie.

Tweede is Zandra Bezuidenhout – ‘n minor poet wat deur dr. Brand aangelê is om Geskrifte van ‘n vermiste digter, Henk Rall se terugkeer tot gepubliseerde digkuns, vir Die Burger te takseer. Die uitgewer, Protea-Boekhuis, kan tereg die hel in wees. ‘n Lang, kwasi-substansiële resensie waarin sy eintlik net probeer wys dat sy die bundel gelees het – en dit is beslis nie die doel van ‘n koerantresensie nie.

Het die boekeredakteur nie aan Bezuidenhout verduidelik dat mense koerantresensies lees omdat hulle ‘n oordeel verwag – én ‘n aanduiding of hulle die bundel moet koop of nie?

 Die vraag het al weliswaar by my ontstaan of Die Burger se boekredakteur dít het wat nodig is. Veral as mens dinge in ‘n groter konteks beskou. As Deon Meyer deur die nageslagte getakseer moes word volgens die respons van die Die Burger se resensent, dan kan hy nou maar van beroep verander. Mariana Malan reageer baie positief op Meyer se 13 uur – maar die resensie is in slaapwandelaar-styl geskryf.  Hoe opgewonde was jy, Mariana? O, ek sien.

Ek het kollegas wat met wydgesperde oë aangemeld het vir werk ná ‘n nag van verbete lees om 13 uur te verorber. Mariana glo skynbaar in die verlangsaming van geesdrif. Gelukkig dan vir Deon Meyer en ons nageslagte dat daar resensente soos Gert van der Westhuizen van Beeld is. Sy resensie van 13 uur toon nog al die tekens van beginner-resensieskryfwerk. Maar gode sy gedank: hy dra sy geesdrif oor.

Wie is Beeld se boekeredakteur? Klop op die skouer, my maat. Nie net vir Van der Westhuizen se resensie nie. Ook vir Jan-Jan Joubert wat Brian Pottinger se The Mbeki Legacy vir Beeld geresenseer het. Hy’s ‘n redaksielid van Die Burger, maar jy sal dit nie glo as jy sien hoe sprankelend hy die kuns van resensieskryf bemeester het nie.

 

20 antwoorde op Resensente in die visier

  1. jjanajj het gesê op November 26, 2008

    hi, welkom. jou blog lyk na ‘n interessante toevoeging.

    pg verdien meer respekte, ja.

  2. Berwick het gesê op November 26, 2008

    Jy maak ‘n goeie punt oor geesdrif. ‘n Mens durf darem nie in “slaapwandelaar-styl” skryf oor ‘n Meyer-boek nie.

  3. Berwick het gesê op November 26, 2008

    Ek bedoel: Die pas van die resensie moet darem iets van die pas van ‘n Meyer-boek reflekteer.

  4. Baie interessant. Die vraag het mos al lankal by my opgekom wat maak van iemand ‘n letterkundige, ‘n resensent, ‘n kritikus?

    Doktor Joan het haar bes probeer om op Litnet ‘n nugtere verduideliking te gee aan my wat eenmaal as “Jy’s geen letterkundige nie; hou jou by jou lees” uitgeskel is en daarna nogal ‘n dreigbrief ontvang het dat ‘n prokureurshond op my vrygelaat sal word om my skimpe in boudhompe af te byt. So, dankie vir die nuwe inisiatief, ek sien gretig uit na volgende uitgawes.

    Deon Knobel

  5. jelleke het gesê op November 27, 2008

    Ek stem saam met Crito dat boekeredakteurs meer moeite behoort te doen of meer kennis aan die dag behoort te lê by die kies van gepaste resensente.

    Is dit bloot ‘n geval van: Wie is beskikbaar? Of: Wie is bereid om teen hierdie fooi te skryf? Of: Wie kan in so ‘n kort tydjie iets skryf (met verwysing na kort spertye)?

    Dr. Gerrit Brand, boekeredakteur van Die Burger, word deur Crito aangevat oor sy keuse van Marina le Roux as resensent van PG du Plessis se Fees van die ongenooides, en die keuse van Zandra Bezuidenhout as resensent van Henk Rall se Geskrifte van ‘n vermiste digter.

    Dr. Brand, ek is geïnteresseerd in jou antwoord: Waarom het jy juis hierdie twee resensente gekies? Wat is jou motivering?

    Oor die algemeen wil ek ook graag van jou as boekeredakteur weet, sodat ons almal weet:

    • Hoe kies ‘n boekeredakteur ‘n resensent vir ‘n boek?

    • Wat is die fooi vir ‘n resensie? Charl-Pierre Naudé beweer: “Die beste resensente haal nie meer die koerante nie, want hulle word hopeloos te min betaal.” (“Bastille-dag roer onder ons voete”, BY, 11 Oktober 2008.) Wat sê jy hierop?

    • Wat is jou antwoord op die aantyging dat boekeredakteurs die openbare gesprek verskraal en verarm omdat hulle “te lui is om die belangrikheid van hul taak deur te dink en te maklik geboelie word deur ‘n paar groot visse in die plaasdam”? (Soos gestel deur Breyten Breytenbach in sy reaksie op Naudé se artikel van 11 Oktober.)

    In hierdie hele debat/uitbarsting rondom die gehalte van resensies en die keuse van resensente skitter die kommentaar/bydraes van boekeredakteurs in hul afwesigheid. Of het ek iets gemis? Waar is die stem van die boekeredakteurs in hierdie debat?

    Jelleke Wierenga

  6. Crito (mag ons maar jou regte naam weet?), op dieselfde blad waar Marina le Roux se resensie van PG du Plessis se roman verskyn, word lesers ingelig dat hulle op Die Burger se webwerf by http://www.dieburger.com na die blog Boekeblok kan deurklik om daar op resensies te reageer. Tog maak jy as leser nie van daardie geleentheid gebruik nie, maar lewer jy jou kommentaar elders. Ek wil graag reageer op wat jy hier skryf, maar sal dit op die Boekeblok doen, dankie. (Dieselfde geld my antwoorde op ander kommentaar hieronder.)

  7. Resensente is seker ook maar soos skrywers – sommige is goed en ander minder goed – sommige het meer opleiding en leeservaring, ander minder – met sommige vind jy meer aanklank as ander.

    Uittreksels uit ‘n boek sal mens in meeste gevalle ‘n veel beter idee gee of die boek vir jou is, of nie.

  8. Ek volg die hele debakel oor resensente en resensies nou al lank en het al self ‘n eier of twee gelê. Ek kan nou nie met die hoog geleerdes saam praat nie, maar ek is ook nie heeltemal dom nie.

    In my koerantdae in Pretoria het ek die boekeblad vir Hoofstad hanteer en ek het ‘n hele aantal resensente – dws mense met kennis van ‘n sekere genre – gehad wat ek gebruik het. Wanneer dit gekom het by letterkundige werke soos gedigte, prosa ens het ek mense gekies wat kennis van die genre het – dws ek het digters gekies vir gedigte, dramaturge vir drama ens ens en aan die einde het dit goed gewerk.

    Ek het nie net een persoon gebruik nie, maar elke keer iemand uit my paneel gekies ten einde ‘n verskeidenheid standpunte te kry en ek het nooit enige probleme gehad nie. My resensente het geskryf wat hulle wou en ek was altyd tevrede met hulle kommentaar.

    Ek glo egter dat daar die afgelope 10-15 jaar ‘n nuwe geslag resensente verskyn het wat meer gefokus is op geld en eie belang en wat dit nie kan verdra as iemand hulle kritiseer nie. Hulle beskou dit dan as ‘n aanval op hulle akademiese oordeelvermoë en insig – ek vind dit baie jammer omdat ek resensies as verwysings gebruik vir leeskringbesprekings, skrywers-besprekings en om my eie kennis te verbeter.

    In my dae het die resensent ‘n basiese betaling gekry afhangende van hoe lank die resensie was en natuurlik, ook die boek wat hy of sy bespreek het. Teen die pryse wat boeke vandag kos, sal ek resensies verniet doen net om die boek te kry, maar helaas dit werk nie so nie.
    Die ideaal sal wees om ‘n boek deur sê drie tot vier kenners te laat resenseer ten einde ‘n “ewewigtige” insig van die werk te kry – maar ek kan net dink watter woordtirade dit sal veroorsaak.

    Ek het nie ‘n antwoord op die vraag wie resenseer resensente nie – my vraag is, is dit nodig dat hulle geresenseer moet word? Kan hulle nie maar net kommentaar lewer (as hulle moet) sonder om persoonlik en vernynig te raak nie?

    Vra maar net.
    Anita de Kock

  9. My reaksie op Crito se inskrywing hierbo verskyn op die blog Boekeblok, op Die Burger se webwerf (www.dieburger.com – klik op Blogs). Ek sal ook daar verder aan die gesprek deelneem.

  10. Welkom!

    Ek stem saam met jou. Daar is so min plekke waar boeke deesdae geresenseer (nie net aangekondig nie) kan word. Dit is belangrik dat goeie resensente ingespan word. Het mense soos Brink nie ‘n standaard gestel nie of was dit alles verniet?

    ‘n Perspektief vanuit my genre: boekeredakteurs voel ‘n resensent is bevoeg om kinder- en jeugboeke te resenseer as hulle self kinders het. Net omdat ek my geld belê, kwalifiseer dit my nie om die markte te ontleed op ‘n openbare platvorm nie. En so kan ‘n mens baie vergelykings tref.

    Ek is bly daar is immers nog debatte oor boeke en die resepsie van boeke.

  11. Carina en Jelleke, ek antwoord op Boekeblok.

  12. Met geesdrif dra ek my dank oor vir hierdie stuk – spyker op’t kop’t.
    Sprankel is nou nie die groot maatstaf waarvolgens redaksielede by Die Burger aangestel word nie, nee. Daar is ‘n swetterjoel mense bevoeg om The Mbeki legacy te resenseer – en wat al hul dienste aangebied het by die Heer Brand – maar ou Jan Kwadraat is ‘n stoere jong vis en ons weet — dié poel het plek vir min gene.
    Die Heer Brand blyk warm onder die kraag te wees oor jou kritiek hier op LitNet verskyn – hy’s baie erg oor sy territoriale integriteit.

  13. Lydia Lindequ, ek antwoord op Boekeblok.

  14. abrham het gesê op November 27, 2008

    crito, wie nog nie deurgeloop het nie, het nog nie geskryf nie. kritiek is deel van die pret – swak kritiek ook.n opininie is soos ‘n poephol, elke mens het een! sela.

  15. crito het gesê op November 29, 2008

    Eers ‘n bietjie opheldering. Die frase “Wie resenseer die resensente” het ek die eerste keer gesien in ‘n resensie deur George Boshoff in Beeld – in 1974, kort na Beeld begin het. Ek sal nie verbaas wees as Boshoff dit by iemand anders gehoor het nie.
    Boshoff en Beeld was destyds besig om die trotse resensie-tradisie van Die Burger in die ou Transvaal te hervestig. In Beeld het resensies verskyn, in Transvaler en Oggenblad (hul mededingers) was dit voorlopige menings wat nooit vaste menings geword het nie.
    Dit spyt my waternat dat Gerrit Brand meen ek loods ‘n persoonlike aanval op hom, Marina le Roux, Zandra Bezuidenhout en Mariana Malan. Ek het ‘n groot waardering vir hom en wat hy tans met sy blog vermag. Marina le Roux was op haar dag een van die betroubaarste takseerders van kinder- en jeugboeke, en ek het destyds gehelp om haar Iskemus te laat oorleef. Bezuidenhout slaan ek hoog aan as kenner van Afrikaanse vroulike digters. Mariana Malan is vir my steeds een van Die Burger se joernaliste wie se mening vir my saak maak, en wat hopelik nog lank op die blaaie van Die Burger te lese sal wees.
    En hier kom die MAAR:
    – Gerrit Brand moet groot genoeg wees om te erken dat hy té dikwels nie die regte resensente vir boeke kies nie, en dat hierdie agtelosigheid van hom veroorsaak dat sy boekeblad afsteek by dié van veral Beeld. (Oor Volksblad s’n sal ek later skryf – dis nou vir jou ‘n storie.) Het Brand byvoorbeeld hoegenaamd daaraan gedink om Chris Barnard of Deon Opperman te nader vir ‘n resensie oor Fees van die ongenooides?
    – ‘n boekeredakteur moet lesers vir sy koerant lok deur die plasing van resensies wat tegelyk gesaghebbend is en die lees daarvan onvergeetlik maak. Hierin lê die kern van my kritiek teen die resensies wat Marina le Roux en Mariana Malan geskryf het. Le Roux se resensie was ‘n slordige affêre, en Malan s’n het geesdrif probeer oordra in ‘n styl wat dor was – werklik net “going through the motions”.
    – Bezuidenhout se resensie was vir my werklik problematies. In styl totaal uit plek in ‘n dagkoerant, en weens die kwasi-akademiese aard daarvan van nul en gener waarde vir die koerantleser wat nie toevallig die bundel byderhand het nie. En weer eens ‘n vraag aan Gerrit Brand: Hoekom ‘n kenner van die Afrikaanse vroulike digters kies om te skryf oor Henk Rall se digkuns? Hoe gesaghebbend is die resensent nou?
    Kortliks oor die ander reaksies op “Resensente in die visier”:
    – Carina D-H: Ek hou dit vir ‘n latere blog. Kinder- en jeugboeke is die mees afgeskeepte genre op alle Afrikaanse boekeblaaie, en die uitgangspunt heel dikwels ‘n beledinging vir sowel leser as die teikengroep waarop die boeke gemik is.
    – Anita de Kock: Ja! Ek onthou jou dae by Hoofstad goed. Dit het nogal moed gekos. Jammer dit kon nie langer hou nie – die enigste alternatief op Die Burger en Beeld se boekeblaaie van destyds, en van die mees gesaghebbende resensente sedert André Brink vir Rapport geskryf het.
    – Jelleke Wierenga: Ek sou ook graag wou weet wie anders Gerrit Brand oorweeg het vir daardie resensies.

  16. Crito, op die blog Boekeblok by http://www.dieburger.com antwoord ek op jou kommentaar hieronder.

  17. crito het gesê op Desember 1, 2008

    Het gesoek, Gerrit, maar vind nie jou reaksie by Boekeblok nie.

  18. Gaan na http://www.dieburger.com, klik op Blogs en dan op Boekeblok. As jy op Boekeblok afrol en nog nie by my reaksie op jou uitkom nie, klik jy links op die blad, by Argiewe, op November. Daar sal jy dan die opskrif sien met jou naam in. Kliek daarop en lees.

  19. crito het gesê op Desember 3, 2008

    Dinge is nie alles net swart of net wit nie, soos jy skynbaar dink nie, Gerrit.

    Zandra Bezuidenhout is ‘n knap akademikus en ‘n minor poet. Ek het baie respek vir verskeie minor poets, want hulle kan iets doen wat ek nie kan nie. Maar ek kan ook sien dat hulle talryke meerderes in die digkuns het. Zandra Bezuidenhout sal nie kan dig soos Daniel Hugo, Antjie Krog of Wilma Stockenstrom nie, maar ek sal die eerste wees om te jubel as sy die dag tot daardie vlak uitstyg. Dieselfde geld haar resensies. Jy as boekeredakteur het haar in die steek gelaat deur nie die resensie terug te stuur vir redigering en verkorting nie.

    Jy moet leer onderskei tussen ‘n kritiese lees van ‘n resensie, en ‘n betwyfeling van iemand se intelligensie of integriteit. Ek betwyfel niemand se intelligensie nie (dit sou waansinnig van my wees), maar ek kan sien wanneer iemand vrot of halwe werk gelewer het. En dit is wat ek gesê het, niks anders nie. As iemand wat my hele loopbaan in die joernalistiek gestaan het, kan ek sien wanneer ‘n boekeredakteur nie sy verbeelding gebruik het, of lui was met die beplanning van die blad. En ook dít sal ek sê.

    Ek het geen voorkeur vir Beeld se boekeblad bo Die Burger s’n nie, trouens, dis dikwels myle swakker. Tog sal enigiemand wat die twee al naas mekaar geplaas het, vir jou kan sê dat Beeld meermale resensente gebruik wat hul leserspubliek ken, bondig en onderhoudend skryf én aan die primêre doel van ‘n boekeblad beantwoord, naamlik om ‘n kundige reaksie te gee aan die hand waarvan ‘n leser kan besluit of hy in die boek wil belê.

    Die keuse van resensente: Soos alle boekeredakteurs het jy ‘n “stal” resensente waarop jy gereeld steun. Soms is jou keuse van wie iets moet bespreek, verfrissend. Soos onlangs met Joan Hambidge se nuwe publikasies. Ek vermoed dat jou keuse op ‘n Nederlandse resensent geval het omdat jy ‘n ander probleem wou oplos. Maar dit is sulke keuses wat boekeblaaie leesbaar maak. Soos Christina Landman se resensie afgelope Maandag.

    Wat my hinder, is hoekom jy nie meer gereeld só verbeeldingryk is met jou resensente nie. Wie sou bv PG du Plessis se nuwe roman beter kon bespreek as Chris Barnard? In gans Suid-Afrika is hy die enigste wat met Du Plessis kan saamgesels oor die prostituering van sy skeppings deur TV, wat sou weet wat dit verg om ‘n Engelse TV-reeks te omskep in ‘n Afrikaanse roman, en wat boonop met welslae in dieselfde genres as Du Plessis gepubliseer het. Maar toe gaan staan en vra jy ‘n kenner van kinder- en jeugliteratuur.

    Dit is hoekom ek met ‘n blog begin het. Ek ervaar dit as ‘n belediging van my intelligensie as ek my koerant Maandag aan ontbyttafel oopmaak en jy gee nie vir my ‘n top-resensent om oor die belangrikste boek in PG du Plessis se loopbaan te berig nie. Die Burger se lesers verdien die beste, nie die naasbeste nie.

  20. Crito, ek reageer op die Boekeblok.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.