Profile photo of crito

by crito

Briljant

Oktober 28, 2014 in Uncategorized

Koos Kombuis skryf oor Binnekring van spookasems, deur Herman Lategan. (LitNet)
Dit is nie bedoel as resensie nie, maar Koos Kombuis se storie oor die uitwerking wat Herman Lategan se Binnekring van spookasems op hom gehad het, is een van daardie sonderlinge stukkies wat meer bereik as ’n formele bespreking van die boek. Nie almal kan dit doen nie, trouens selfs Koos Kombuis sal waarskynlik nie gou weer ’n reaksie op ’n boek kan skryf wat dieselfde impak het nie. Hy begin deur te vertel hoe die uitgewer hom genader het vir ’n “shout line” vir die omslag, en hoe hy toe uiteindelik die boek gelees het. En hoe sy lewe onmiddelik daardeur verander is. Dit is uit-die-kassie skryfwerk, dis flambojant en onheilig en illuminerend en aards. Dit is joernalistiek in die tradisie van Lester Bangs. Behoorlik beskou, vra mens jou af hoekom daar nie meer resensente is wat probeer om só eerlik te reageer nie. Nou weet mens ook dat dit harde werk is om iets te skryf wat so natuurlik en spontaan lyk, en dat ons hier aan die ontvangkant is van Koos Kombuis wat as  woordkunstenaar sy spiere span. Die punt is dat hy dit laat lyk soos die spontane uitstorting van emosie, en ons, die lesers, wil onmiddellik daardie boek hê wat hom só laat reageer het.

Charles Smith resenseer Van sprokie tot tragedie in die kollig, deur Ilse Salzwedel, en Die staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood, deur Marida Fitzpatrick. (Rapport-Boeke)
Nadat Suid-Afrika tot satwordens Oscar Pistorius se loutering in die hof meegemaak het op TV, in koerante, tydskryfte en via die kollektiewe regsbrein aktief in die sosiale media, word daar twee boeke oor dié smartlikheid in Afrikaans gepubliseer. Charles Smith se reaksie is presies wat enige nugter mens sou vra:  Wil enigiemand dit weer alles deur middel van ’n boek herleef en herkou? Veral noudat alles afgeloop het? Smith vind sy antwoorde al argumenterend, en besluit dat elke boek wel om spesifieke rede bestaansreg het – én die moeite werd is om te lees. Wat hy nie doen nie, en mens kan hom nie daarvoor verkwalik nie, is om vas te stel of enige van die twee boeke diegene sal aanspreek wat uit die staanspor besluit het om nie te veel andag aan Oscar en sy saak te gee nie. Miskien dui hy, by implikasie, aan dat Salzwedel se boek tot daardie mense sal spreek.

Deborah Steinmair bespreek Die respektabele Meneer Hartslief, deur Chris Karsten. (Rapport Boeke)
Hierdie resensie sal nie onthou word vir die netjiese aanloop wat Steinmair neem nie, maar wel vir die voorspraak wat sy maak, berustend op ’n logiese denkfout, vir stereotipering. Ek ken ’n paar mense in Brixton wat die resensent tot ander insigte sal bring. Nie Steinmair se grootste oomblik nie.

Dineke Volschenk resenseer Die stormsee swyg, deur Annemarie J. Pieterse. (Rapport Boeke)
’n Bespreking waaraan mens jou kan verkneukel. Wat Volschenk op baie beleefde wyse sê, is dat sy as oud-uitgewer wéét dat sy hierdie boek nooit sou uitgegee het nie.

Daniel Hugo skryf oor Woorde roes in die water, deur Clinton V. du Plessis. (Rapport Boeke)
Nou ja. Danie Hugo se bespreking maak my nuuskierig oor Du Plessis, ’n digter wat sy oeuvre in die teken laat staan van sy verset teen die keurslyf wat Afrikaanse uitgewers vir hom wou aantrek. En dan verdwyn daardie belangstelling ook weer wanneer Hugo daarop wys dat Du Plessis die gehaltebeheer kort wat uitgewers hom sou verskaf.

Cas van Rensburg bespreek Die respektabele Meneer Hartslief, deur Chris Karsten. (Boeke24)
Skrywers steur hulle aan resensente, veral wanneer die resensent meer raaksien as die voor die hand liggende. Cas van Rensburg bied ter wille van die oningeligte koerantleser ’n oorsig van die verhaal aan; daarna lig hy die sluier oor die roman se voortreflikhede, die dinge wat mens nie gewoonlik van ’n spanningsverhaal verwag nie, soos die omvang van Karsten se taalregister, en die verwikkeldheid en uiteindelike menslikheid van die moordenaar in hierdie verhaal. Daarby verduidelik hy wat die basis is van Karsten se finesse, naamlik deeglike en uitgebreide navorsing. En ten slotte sê Van Rensburg pront die een ding wat mens nou al begin vermoed het: Chris Karsten is ’n misdaadskrywer van internasionae statuur. Dis groot lof, en gelukkig is die resensie op só ’n wyse geskryf dat mens nie twyfel oor die gesaghebbendheid van dié uitspraak nie.

Daniel Hugo skryf oor Die handdruk van die dood: Die onvertelde storie van Eugène Marais, deur Friedel Hansen. (Boeke24)
Herman Charles Bosman die kind van Eugène Marais? Sê weer … Daniel Hugo wys tereg daarop dat hierdie boek die opspraakwekkendste geskrif is wat al oor ’n Afrikaanse skrywer gepubliseer is – asook dat dit al ’n jaar oud is en nie die aandag getrek het van die literêre wêreld nie. Wat moet mens daarvan maak? Soms is resensies só aangebied dat dit nuuskierige agies die boek sal laat opsoek, en diegene wat meer sinies is oor skouspelagtige vindings sal laat wegdeins. Aan watter kant bevind Hugo hom? “Die groot probleem met hierdie boek is dat die skrywer te onkrities staan teenoor sy ontdekkings.” Ons hoor wat jy sê, Daniel.

Profile photo of crito

by crito

Strategie

Oktober 21, 2014 in Uncategorized

Ilse Salzwedel skryf oor Sondebok, deur Irma Venter. (Boeke24)
Ilse Salzwedel is ’n bedrewe kolporteur van die boek. Sy weet wat dit verg om mense se belangstelling te prikkel. Sy weet hoe om ’n boek te beskryf sodat die koerantleser dadelik voel dit is iets op sy vlak en na sy smaak. Hierdie bespreking sal ongetwyfeld ’n invloed hê op die verkope van Sondebok. Dit is duidelik dat Venter se naam nou in dieselfde asem as Deon Meyer s’n genoem moet word, en alles wat Salzwedel ter sprake bring, dui daarop dat Venter werk aan ’n reeks met deurlopende karakters. Maar iets bly my hinder. Ek vra my altyd af wat ’n uitsluitend positiewe resensent verswyg. Dit het my ’n bietjie kopkrap gekos, want die resensie is baie reguit en onopgesmuk geskryf, maar die sleutel is daar, tussen Salzwedel se sorg om nie geheime te verklap of te veel van die verhaal te vertel nie: Venter hou jou aan die raai – verby die laaste bladsy en waarskynlik die volgende boek se laaste bladsy ook. Die immer onopgeloste raaisel op die agtergrond se antwoord lê nog jare in die toekoms. Slim.

Joan Hambidge skryf oor Geloof sonder sekerhede, deur Anton van Niekerk. (Boeke24)
’n Verrassende keuse van resensent, maar Hambidge lewer ’n onderhoudende, genuanseerde reaksie op ’n boek wat oënskynlik sterk aansluit by die groot geloofdebat van ons tyd. Met ’n baie netjiese, relativerende verwysing na Julia Kristeva en die vorige pous in haar slotsom. Nie om dowe neute nie.

Riaan Grobler resenseer Draalnoot vir ‘n janfiskaal, deur Henry Jack Cloete. (Rapport Boeke)
‘n Resensie wat my dadelik aangespreek het. As mens in gedagte hou dat ‘n resensent nes die skrywer van ‘n boek ‘n strategie moet volg oor die lesers waartoe hy hom/haar wil rig, gee Grobler uit die staanspoor aanduidings dat hy hom rig tot diegene met ‘n belangstelling in die letterkunde, en veral hulle wat in ‘n moderne idioom dink. Die gonswoorde “distopiese drogdroom” is die eerste tekens, en daarna neem Grobler die leser eerstens deur die gegewe/verhaal en ten tweede gee hy sy reaksie, insluitend vertolking en kritiek oor tekortkominge. Dis ‘n resensie vir ‘n klein deel van Rapport se leserspubliek, maar ook een wat meeste  van die inhoud van afgelope Sondag se koerant lank sal oorleef omdat dit deel word van die groter literêre diskoers. Ek vermoed iewers gaan daar nog iemand ‘n tesis skryf oor die rol van lesersverwagting en skryfkonvensies, en dan sal hierdie resensie en boek ‘n vertrekpunt wees.

Mia Oosthuizen bespreek Nova: Eindspel, deur Fanie Viljoen. (Rapport Boeke)
‘n Lekker polemiese resensie, maar ook een wat my uiteindelik hard op die tande laat kners het. Oosthuizen se analise van die roman en haar taksering van sowel Fanie Viljoen se skryfwerk as die vrugte van sy verbeelding daag jou uit om jou eie leesreaksie aan haar respons te toets. Maar dan hang die onderrok skielik uit, begin sy sensor speel: Dié boek is nie geskik vir sensitiewe lesers nie. Wat is ‘n sensitiewe leser, dr. Oosthuizen? Hoe ken jy hulle uit, hoe meet jy hul reaksies? Kan mense nie maar self besluit of hule verder wil lees nie?

Profile photo of crito

by crito

Dankie

Oktober 14, 2014 in Uncategorized

Paul Boekkooi en Cilliers van den Berg resenseer Nagmusiek, deur Stephanus Muller. (Boeke24)
Dikwels moet mens hoor dat Afrikaanse boekresensies hul spierkrag verloor het, dat dit òf ’n akademiese vitterigheid òf oppervlakkige bekooksel rondom die uitgewers se reklame-pamflette is. Met die veranderinge by Media24 se koerante en webwerwe het die vrees ontstaan, ook by my, dat die bydrae van boekresensies tot kulturele rekordhouding deur koerantredakteurs geringskat word, en dat daar geen behoefte meer by joernaliste is om ’n ruimte te skep, op die boekeblad, waarin die lesers van Afrikaanse boeke ’n meting kan vind van die intellektuele hoogvlugte van Afrikaanse skrywers nie. Twee swaeltjies, sekerlik, maar Paul Boekkooi en Cilliers van den Berg se resensies van Stephanus Muller se grensverskuiwende (soos Boekkooi dit tipeer),  magistrale ( volgens Van den Berg) Nagmusiek laat mens weer moed skep. Ek het albei besprekings met opgehoue asem gelees. Boekkooi en Van den Berg benader die publikasie uit verskillende rigtings. Elk pak hul betoog rustig uit – en albei het skynbaar uit die staanspoor besef dat elke woord sal tel, en dat die lof suiwer en sonder verbale neonligte oorgedra sal word. Die resultaat is twee resensies wat die Muller-publikasie waardig is, Boeke24 se peil dadelik omhoog druk – en mens sommer net trots en goed laat voel oor wat met sowel die drie dele van Muller se publikasie as dié twee resensies bereik is. Ek lig my hoed vir Paul Boekkooi en Cillers van den Berg en sê dankie aan die redakteur van Boek24, Jo Prins.

Louise Ferreira bespreek Die dooies leef, deur SD Fourie. (Boeke24)
Ferreira het vir SD Fourie die binnevet van die boud gegee, kom mens weldra agter. Die verhaal en inhoud is vir haar lekker genoeg om die strukturele tekortkominge van die roman minder belangrik te maak. ’n Resensie sonder kritiese funksie.

Jean Oosthuizen bespreek Waarom soveel Bybel-vertalings? deur Jan van der Watt. (Rapport Boeke)
Oosthuizen se bespreking lees plek-plek soos ’n reklamestuk en eers in die laaste paragraaf kom hy by die saak wat ’n resensieleser wil weet, naamlik watter Bybelvertalers is die swendelaars? Die onderwerp het soveel polemiese potensiaal, dat ek eintlik verbaas is hoe mak en versigtig Oosthuizen se bespreking is.

Dineke Volschenk bespreek Kersfees op Wonderfontein, deur Gerrit Olivier. (Rapport Boeke)
Vermoedelik het iets in die boek die oud-uitgewer Volschenk se hart sag gemaak. Die opsommende taksering waarmee sy die bespreking afsluit is ’n resensie in die kleine, en dui vir my daarop dat sy die boek ’n kans wou gee om moontlike lesers te vind voordat sy uitkom met die waarheid.

Joan Hambidge bespreek rock&roll.karoo, deur Koos Kombuis. (Rapport Boeke)
Hambidge in ligte luim sorg vir onderhoudende koerant-kopie. Maar ons kry die boodskap: Gaan verby tensy jy ’n bewonderaar van Koos Kombuis is.

Profile photo of crito

by crito

Femelvry

Oktober 7, 2014 in Uncategorized

Nico Geldenhuys skryf oor Skoppensboer, deur Duanne Aslett. (Boeke24)
Geldenhuys skryf oor die verhaal en sy konteks, hou van die beskrywings van jaagtogte en aksie, maar sukkel om sy kritiek op die roman te verwoord. Wat nogal ’n probleem is, want dit klink vir my, as ek die resensie lees, dat ons hier te make het met ’n belhamel wat nie uit die teks wil opstaan sodat mens hom kan sien (soos Chris Karsten of Deon Meyer se booswigte doen nie) en vir hom skrik nie.

Toast Coetzer resenseer Die Alibi Klub, deur Jaco van Schalkwyk. (Rapport Boeke)
Wat so lekker is van hierdie resensie is die manier een woordkunstenaar reageer op ’n ander. Coetzer se beskrywing van die manier waarop Van Schalkwyk woorde gebruik, is openbarend. Hy stip die roman nie aan as meesterstuk nie, maar die feit dat hy geen negatiewe kritiek lewer nie, sê baie. Wil nou die boek lees.

Riette Rust resenseer Wie is ek? deur Louis Awerbuck en Lise Swart. (Rapport Boeke)
Dis soos om jou tong raak te byt terwyl jy iets wonderliks eet. Riette Rust laat knal in die eerste paragraaf ’n gruwel van ’n cliché, en die koerant se redaksie gryp dit aan as opskrif – maar lees jy verder, sien jy dat Rust ’n gewikste resensent is.

Jannie Malan resenseer Al die lieflike dade, deur Charl-Pierre Naudé. (Netwerk24)
Verruklik. Malan se resensie is vry van akademiese gefemel, en alles wat hy oor die bundel sê, wink mens nader daaraan. Dit voldoen aan die twee groot vereistes vir ’n koerantresensie: informatief, evaluerend. Dit is toeganklik vir die leek, en wen dus vriende vir die digkuns. Uiteindelik verwonder ek my oor die gebruik van “pleeg” in die slotparagraaf. Is dit doelbewus gebruik? Indien wel, gee dit ’n effens mnder geesdriftige inslag aan die resensie, wat andersins in die teken van geesdrif staan.

Profile photo of crito

by crito

Deel van die gesprek

September 23, 2014 in Uncategorized

Wium van Zyl skryf oor Inboekeling, deur Hans du Plessis. (Rapport Boeke)
Dis altyd anders as mens reeds die boek gelees het. Wium van Zyl se resensie stuur op een openbaring af – ‘n intrigefout wat hy raakgesien het. Net jammer dit is nie ‘n intrigefout nie. Hy het net nie gesnap wat Du Plessis doen wanneer hy iets verswyg nie. Hy praat ook van “etlike drukfoute” – ek tel een. Nou sal my studente seker wil weet of die resensie aanvaarbaar is of nie. Wel, nee. Dink daaraan as iets ondeunds deur iemand wat by Golgotha van die Oseane betrokke was.

Francois Smith resenseer Die Alibi klub, deur Jaco van Schalkwyk. (Boeke24)
Francois Smith is nie alleen romanskrywer nie – hy is ook ’n redigeerder van aansien. Dít skemer deur in hierdie resensie, waarin die inhoud en verloop van die roman aangedui word, en die redigeerder dan uiteindelik sê waar die plekke vir verbetering is. Dit is werklik ’n baie knap resensie. Vir die outeur is dit die deeglikste wat hy sal kry, ongeag die positiewe of negatiewe strekking; vir die koerantleser gee dit die noodsaaklike inligting oor die inhoud, maar ook die wete dat dit nie noodwendig ’n boek vir aankoop is nie. Uiteindelik sal die uitgewer ook tevrede wees: Smith skryf sy resensie op só ’n intrigerende manier dat dit mens wel nuuskierig maak. Dit hang van die leser self af of hy nuuskierig genoeg is.

Joan Hambidge resenseer Inboekeling, deur Hans du Plessis. (LitNet)
Ná die resensie in Rapport is dit interessant om Hambidge se invalshoek na te gaan:  Du Plessis as taalkundige en kenner van Griekwa-Afrikaans, wat nou ’n stuk onbekende geskiedenis onder oë neem. Sy is nie vitterig oor taal wat vir die moderne oog vreemd lyk nie, en is duidelik baie positief ingestel. Uiteindelik bring Inboekeling haar by ’n punt wat waarskynlik ’n hele debat op sy eie kan afgee, naamlik in watter mate ’n roman soos hierdie ’n meer getroue, aanvaarbare weergawe van die geskiedenis kan bied as geskiedenishandboeke. Ek sien uit na Leopold Scholtz se reaksie!

Bettina Wyngaard resenseer Van Manenberg, met liefde, deur Mike Michaels. (LitNet)
In aard nader aan ’n koerantresensie as die dikwels uitgebreide besprekings wat LitNet kenmerk, maar Wyngaard sien alles raak. En soos sy algaande die elemente van die verhaal aanspreek en verduidelik hoekom dié roman mens se aandag verdien, kom sy skielik by ’n punt waar ’n eenvoudige aanhaling presies vir mens illustreer wat sy tot dusveer bedeesd verduidelik het: Alpha, die karakter wat die meeste ontwikkel in die verhaal, wil meer as enigiets anders deel wees van ’n familie. Sy bende is sy familie, hoe disfunksioneel ook al. Die leser word vroeg reeds daarop gewys (bladsy 14), wanneer Jay dink aan Alpha se ritueel, waar hy die bende in ’n kring laat staan, en sing: “Wie’s my ma? Wie’s my pa? Wie’s my broe’? Wie’s my swae’?” Hy beantwoord dan sy eie vraag deur elkeen voor die bors te tik en te sê: “Hie’s my ma. Hie’s my pa. Hie’s my broe’. Hie’s my swae’.”

Alettie van den Heever resenseer Kamphoer, deur Francois Smith. (LitNet)
Van den Heever voeg iets baie interessants by tot die gesprek oor Kamphoer, naamlik die verandering van tydsperspektief in hoofstuk 32 na verlede tyd, asook die laaste paragraaf van hoofstuk 36. Die res van die resensie is deurdag en bondig aangebied, en hierdie een knelpunt wat sy uitlig is presies wat mens hoop om in LitNet-resensies aan te tref. Iets wat jou dwing om toe te tree tot die gesprek. In hierdie geval word alles wat geskryf is oor die die konvensionele tydsperspektief in Afrikaanse romans. My eie onmiddellike reaksie was dat Van den Heever nie van ’n skrywer kan verwag om dinge vir sy leser maklik te maak nie. Die knelpunte was sy uitlig is nie knelpunte nie, dit is dinge wat die skrywer gebruik om sy leser te toets en te laat nadink. Maar wag, ek vergeet my plek. Maar aldus wys dit mens hoe effektief Van den Heever se resensie is, binne sy konteks.

Francois Verster skryf oor Donkerland, deur Deon Opperman en Kerneels Breytenbach. (LitNet)
Verster het sy eie mening oor Donkerland, en dit is wat hierdie verslag van sy gesprek oor dié roman met die uitgewer, die oorspronklike dramaturg en die prosaverwerker laat slaag – miskien nie as resensie nie, maar beslis as reaksie. Sy bydrae is aansienlik langer as meeste LitNet-resensies, en die dinge wat hy aansny is aansienlik meer as wat mens normaalweg in resensies kry. Veral insiggewend is die manier waarop hy aantoon hoe lesersverwagtinge dikwels totaal verkeerd kan wees – maar hoe dit tog ook ’n moontlike diskoers antisipeer. Kyk gerus na die manier waarop hy sy aannames oor die titel en verband met F.A. Venter en Karel Schoeman hanteer – iets wat beslis nie in ’n resensie tot sy reg sou kon kom nie.

Profile photo of crito

by crito

Jonk genoeg

September 9, 2014 in Uncategorized

Anke Theron resenseer Lotta se lewe, deur Alice Pantermuller. (LitNet)
Ek skryf nie normaalweg oor resensies van vertalings nie, maar maak hierdie uitsondering omdat Boeke24 en Rapport Boeke kinder- en jeugboeke afskeep, en hierdie resensent ’n kwessie aanspreek waarvan boekliefhebbers kennis moet neem. Dit is naamlik die gebruik wat uitgewers het om boeke vir jonger lesers te koppel aan spesifieke ouderdomsgroepe. Die oomblik dat so-iets gedoen is, verkry die ouderdomsbepaling ’n vorm van ewigheidswaarde. Jeugroman A is vir die ouderdomsgroep 10 tot 12, byvoorbeeld. Maar as daardie toedeling in 1990 gemaak is, is dit hoogs onwaarskynlik dat dit nog in 2014 sal geld. Kinders en tieners word enersyds vroeër aan baie meer dinge blootgestel as in 1990, en andersins het leesvaardigheidsvlakke ook sedertdien geskuif. Anke Theron se resensie is daarom baie belangrik. Sy neem ’n behoorlike teoretiese aanloop, en kom dan uiteindelik by ’n oordeel van die ouderdomsbepaling tot niet maak. Een van die knapste resensies van die afgelope ruk.

Johannes Bertus de Villiers resenseer ’n Duisend stories oor Johannesburg, deur Harry Kalmer. (LitNet)
Wat vir my bevredigend is van ’n resensie soos hierdie ene, is dat mens reeds in Rapport en die oggendblaaie gelees het wat ander resensente daarvan maak, en nou soek jy daardie nuwe hoek. De Villiers verwys na die resensies wat syne voorafgegaan het, dui aan dat hy op een belangrike punt van hulle verskil, en brei dan daarop uit: Watter duisend stories is dit waarna die titel verwys, en kan mens dit werklik in verband bring met’ n Duisend en een Arabiese Nagte? Hy doen dit met vernuf en groot oortuiging. Ek wonder net hoekom hy nie ook na die belangrikste leidraad op die omslag verwys het nie.

Joan Hambidge resenseer Gordel, deur Adriaan Coetzee. (Rapport Boeke)
Dis goed om weer ’n resensie van Hambidge te lees. Sy doen dit deeglik, sy doen dit reg. Een sin som alles op: “Dit wou e.e. cummings en gert vlok nel ook doen – met groter sukses.”

Johan Smith skryf oor Donker spoor, deur Martin Steyn. (Rapport Boeke)
Smith kondig ’n nuwe bringer van leesgenot aan, maar laat na om te sê presies wat vars is aan hierdie “bloedspoortjie”.

Louise Ferreira skryf oor Seisoen van lig en donker, deur Alta Cloete. (Boeke24)
Ferreira doen een belangrike ding, en dit is om die koerantleser te laat opsit en kennis neem van die boek en skrywer. Maar as mens mooi daaroor nadink, bewys sy die skrywer geen guns nie. Die kritiek wat sy uitspreek, slaan op die agtelosigheid van die redigeerder. Om dan ten slotte te sê die roman is nie sonder foute nie en na te laat om dit uit te spel, sal die skrywer magteloos laat wonder wat haper en wat kan sy volgende keer doen om dit te vermy. Dít is tog wat die ander funksie van ’n koerantresensie is – om ook vir die skrywer insig te gee in die ontvangs van sy/haar roman.

Joan Hambidge resenseer In ligte laaie, deur Jannie Malan. (Litnet)
Ek twyfel of ’n debuterende digter op’n beter manier ontvang kan word as deur ’n positiewe resensie deur Joan Hambidge. Soos ons pas in Rapport kon sien hoe sy Adriaan Coetze  se Gordel met skerpe insig takseer en deurdring tot die kern van sy probleme, net so ontleed sy die vernaamste kenmerke van Jannie Malan se debuut – positief, ontvanklik, waarderend. Die twee eindnotas gesels op intrigerende manier saam met die resensie. Net een punt van kritiek op die resensie. Die samevatting staan in skerp kontras met die deeglike formulerings van die res van die resensie – “Op die keper beskou: ‘n belofteryke, sterk debuut wat veel beloof vir hierdie debutant wat reeds in Nuwe stemme ‘n buiging gemaak het.”

Profile photo of crito

by crito

Twee kante van die saak

September 2, 2014 in Uncategorized

Leopold Scholtz resenseer Die bom: Suid-Afrika se kernwapenprogram, deur Nic von Wielligh en Lydia von Wielligh-Steyn. (Boeke24)
’n Bietjie afwisseling op die boekeblaaie. In die plek van digkuns en prosa, ’n boek oor die apartheid-regime se kernprogram. Scholtz se resensie is deeglik geskryf, maar sy aanbod van sy materiaal is effe futloos.

Anna-Mart van Wyk resenseer Die bom: Suid-Afrika se kernwapenprogram, deur Nic von Wielligh en Lydia von Wielligh-Steyn. (Rapport Boeke)
Van Wyk het haar resensie met ’n spesifieke doel aangepak. Sy wou ’n insident gebruik wat sy op ’n manier kon dramatiseer, om haar lesers se verbeelding aan te gryp, en trek hulle dan verder in die wêreld van geheime en fantasie rondom die kernprogram in. Die resensie lees lekker. en terwyl dit presies dieselfde gevolgtrekking en aanbeveling maak as dié van Scholtz, maak haar resensiestyl ’n geesdrif vir die boek by mens los.

André Bartlett bespreek Gesprekke oor die lewe, deur I.L. de Villiers. (Boeke 24)
Aasvoëlkop se NG-gemeente is ’n interessante een. Die name van Beyers Naudé, I.L. de Villiers en André Bartlett word daarmee vereenselwig. Heel gepas bespreek Bartlett hierdie versameling van De Villiers se laaste preke. Resensie in die streng sin van die woord is dit nie; eerder is soort kennisgewing. Mooi verpak, maar dit is duidelik dat Bartlett uit die staanspoor die inhoud wou verduidelik sonder om krities daarop te reageer.

Amanda Botha bespreek Gesprekke oor die lewe, deur I.L. de Villiers. (Rapport Boeke)
In André Bartlett se bespreking van hierdie bundel in Boeke24 sien ons dat Amanda Botha die samesteller is. Dit word nie vermeld by Rapport se bespreking daarvan deur Botha nie. Dit is nie ’n  aanvaarbare praktyk nie.

Nico Geldenhuys resenseer Die sirkel van bekende dinge, deur Johan Vlok Louw. (Boeke24)
Ondanks Geldenhuys se skerp kritiek op die redigering, en die betekenisvolle opmerking dat die boek met 20% verkort kan word, bly ek nuuskierig daaroor. Smag ek net na ’n cowboy-storie? Moontlik. Feit is, Geldenhuys se opmerkings oor die boek se vrot kolle en die swak redigering sal dit net by nuuskierigheid laat bly.

Profile photo of crito

by crito

Opgevrolik en ontevrede

Augustus 26, 2014 in Uncategorized

Marius Crous resenseer Die stilte opgeskort, deur Heilna du Plooy. (Boeke24)
Ek word erg opgevrolik deur resensies soos hierdie ene; ’n resensent wat nie ’n digbundel benader asof dit per definisie bo almal se vuurmaakplekke is nie, maar verstaanbaar vir alle sterwelinge. Toegegee, Du Plooy maak daarna, maar Crous dui die temas aan, verpak sy mening netjies en lê ’n mening aan ons voor wat die bundel baie sterk aanbeveel. Jammer dan net, nè, dat Crous nie verder ingegaan het nie op die implikasies van die Versindaba-onderhoud wat hy heeltemal ten regte aanhaal. Waarskynlik net ons ou Pukke wat sal snap hoe ’n groot ding Du Plooy in daardie onderhoud gesê het en wat die politieke implikasies daarvan is.

Riëtte Grobler resenseer Ctrl Z my lewe, deur Cheréne Pienaar. (Boeke24)
Terwyl die groot en klein dramas van ons lewens elders duisendvoudig afspeel, sit ek en wonder hoe dit moontlik is om ’n hele resensie te skryf sonder om te verduidelik wat die titel van die boek beteken. “Dat die titel ’n dubbele betekenis het, oor geloof en natuurlik in rekenaarterme, is ’n slim kinkel,” verduidelik Grobler. Maar nadat die uwe in al my middeljarige onskuld die resensie gelees het, weet ek nie wat die hoofkarakter by implikasie wil hê “undo” moet word nie. Wil sy doodgaan of met ’n skoon lei begin. Die antwoord sal ons ontwyk tot ons die boek gelees het; die vraag is net of die resensent dit gevind het.

Elsabé du Toit resenseer Die 13de kaart, deur Madelein Rust. (Boeke24)
Dit sal gebeur. In die resensie waarin gekla word oor die oormaat clichés in die boek, sluit die resensent af met die versugting dat die hoofkarakter ’n huishoudelike naam sal word vir Afrikaanse misdaadverhaal-aanhangers.

Marius Crous resenseer Solank verlange die sweep swaai, deur Danie Marais. (LitNet)
Twee resensies van digbundels binne twee dae – maar ’sulke resensie skud mens nie in ’n oggend uit die mou nie. Mens kan aanneem Marius Crous het ’n aanloop van meer as ’n maand gehad om daaroor na te dink. Uiteindelik het Heilna du Plooy se bundel hom geval, en Danie Marais s’n nie. Die krag van sy Du Plooy-resensie is die groot tematiese uitleg. Waar sy aanvaarding van Du Plooy se goeie hoedanghede geskied sonder stilistiese detailkritiek, vereis sy negatiewe reaksie op Marais se bundel dit wel. Hy verkies egter om te konsentreer op inhoud, en die leser moet vir lief neem daarmee dat hy nie die poësie onderwerp aan ’n analise van die retoriese middele nie. Hy vind Marais se verse voorspelbaar en ervaar dit as verkapte prosa. “Verkapte prosa” is die naaste wat hy aan stylanalise kom, wat jammer is, gegee die baie ruimte tot sy beskikking. Die herlees van sy resensie wek ’n verdere gewaarwording: Dat Crous meer reageer op die lewe wat deur die digter vir openbare konsumpsie verdig word as wat hy op die verse self reageer. Twee gedigte kry ’n mate van goedkeuring, maar Crous haal nie daaruit aan nie; sy aanhalings reserveer hy vir dinge wat uiteindelik as dwarsklappe beskou moet word. Die skerpste daarvan (en ek haal dit met ’n mate van bewondering aan vir sy formulering):  ” ‘Die dronkverdriet hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê’ (91) is eweneens ’n kragtige manifes oor die digterskap en staan ook in die teken van die aanhaling uit Auden elders in die bundel, naamlik dat poësie eintlik tot niks aanleiding gee nie.” Crous se slot, waarin hy ’n aanhaling gebruik om Marais sarkasties aan te moedig om prosa te skryf, eindig met “Miskien voel ek dat die outobiografiese verslaglewering oor sy saai middelklaslewe nou te eenselwig word en dat daar nie genoeg poëtiese eksperimentering is om die leser tot ander insigte te dwing nie.” Miskien? ’n Resensie waarvan die eerste paragraaf ’n ophaal is van vorige negatiewe kritiek op Marais se verse, en daarna ’n gekla oor die gedigte se voorspelbaarheid, gaan nie oor hoe die resensent miskien voel nie. Die probleem is natuurlik dat hierdie resensie mens aan die dink sit oor dinge wat Crous kon geskryf het, maar nie het nie. Binne ons literêre taalfamilie dink mens aan soortgelyke situasies. Die Nederlandse Tagtigers, ons eie Dertigers en Sestigers se reaksies op die gemoedlik alledaagse in die digkuns; het Crous nie hier die kans gehad – terwyl dit handel oor die persoonlike lewe wat so sterk figureer in die gedigte – om in opvolging van daardie literêre bewegings ’n groot standpuntinname te maak oor die huidige groeipunte in die Afrikaanse digkuns nie? Met verwysing na die praatvers en die ontploffing daarvan op Facebook en die internet. Miskien is dit dat ek meer verwag van ’n bespreking wat op LitNet verskyn.

Profile photo of crito

by crito

Weer die regte resensent

Augustus 13, 2014 in Uncategorized

Deon Maas bespreek ’n Duisend stories oor Johannesburg, deur Harry Kalmer. (Boeke24)
Dis ’n vreeslike ding wat mens besef, so met die lees van Deon Maas se resensie: Net Johannesburgers kan nostalgies raak oor daardie plek. Sy resensie is gedompel in liefde vir die stad en sy mense, vir die verlede wat Johannesburg so saam met die jare probeer afskud het, en afgeskud gekry het, tot net hul liefde vir die stad oorgebly het. Ek dink nou al soos Maas. En Kalmer, by verstek. Dis ’n goeie resensie hierdie. Maas is nie’n literator nie, hy is ’n enfant terrible wat, of hy dit sal erken of nie, glo in kultuur. Sy resensie van Kalmer se boek is reguit en eerlik, nostalgies en hunkerend. Hy gaan haal dit by X-Ray Visagie, en bring mens dan onder Kalmer se bekoring sonder om die verhaal uit te spel of te veel detail te verklap. Sy een beskrywing van hoe Kalmer sy verhaal geleidelik ontvou is só oorspronklik mens wil sommer hande klap: “…terwyl Harry sy storie stadig ontbloot soos ’n ontkleedanser wat langer as net een Guns N’ Roses-liedjie vat om van haar klere ontslae te raak.” En rondom alles is Johannesburg se allure, purper soos die voorstedelike dak wat die stad se jakarandas in die somer opsit. Dit was ’n begeesterde keuse om Deon Maas hierdie boek te laat resenseer.

Neels Jackson bespreek Geloof anderkant Sondag, deur Julian Müller. (Boeke24)
Jean Oosthuizen bespreek Geloof anderkant Sondag, deur Julian Müller. (Rapport Boeke)
Gepraat van die regte ressensent vir ’n boek kry. Hier is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n boekeredakteur ’n resensent kan kies met ’n doel voor oë – omdat hulle voorspelbaar sal optree binne ’n gegewe konteks. Oosthuizen is Müller simpatiek gesind; Jackson hou by veilige uitsprake wat Müller tot ’n groot mate marginaliseer. Mens kan raai dat Rapport vir Oosthuizen gekies het omdat sy resensie reaksie sou uitlok. Neels Jackson, as redakteur van die Kerkbode, sou gewis nie op té veel tone trap met sy resensie nie. Ook geen verrassing nie dat Oosthuizen die Woordfees 2013-debakel ophaal, en Jackson nie.

Gielie Hoffmann bespreek Die baanbrekers, deur Marco Botha. (Boeke24)
Ja, ek het die boek onmiddelik bestel. Ek stel belang in die motiveringswetenskap, en hierdie werk skyn, na aanleiding van Gielie Hoffmann se resensie, presies in my kraam te pas. Dit is vir my betekenisvol dat Suid-Afrika in die afgelope dekade of twee mense opgelewer het wat die internasionale sporttoneel sterk beïnvloed het – en hierdie resensie maak my wys dat mens hier die beste oorsig daaroor sal kry. Maar ek maak my ook gereed vir tandekners, want Hoffmann se resensie is nie ’n kritiese verslag nie. Hy sê baie dinge wat my laat wonder of hy nie dalk té veel onder die ban van sommige van die afrigters is nie. Hy kry hoendervel wanneer hy na Heyneke Meyer se spangesprekke luister – wat gaan van die man oorbly as hy die dag in die kleedkamer instap van ’n werklik verbeeldingryke afrigter?

Dewald Koen bespreek Pleisters vir die dooies, deur Fanie Viljoen. (LitNet)
Dewald Koen gebruik die groter ruimte wat LitNet tot sy beskikking stel en skryf die soort resensie wat sy hoë taksering van die roman ondersteun. En, bygesê, wat Fanie Viljoen verdien. Pleister vir die dooies is ’n jeugroman wat ook tot volwassenes sal spreek – dis grensverskuiwend, baanbrekerswerk en Afrikaans se eie Catcher in the Rye, sê Koen. In sy reaksie agterna reageer hy verder op vrae deur Jonathan Amid. Die resensie, loshande die beste behandeling wat Fanie Viljoen in baie jare van ’n kritikus gekry het, is nog nie volledig nie, en die duiwel sit in die formulerings wat hy ten afsluite maak. Met die argumentering en opbou van die bespreking kan mens nie fout vind nie, hoewel ek voel dat hy in meer detail ’n kritiese oog kon gegooi het op die roman se ratwerk: plot, spanningslyn, karakterbou, tempo, en so meer. Maar as jy in ag neem dat hy reeds ’n veel langer resensie op grond van die belangrikheid van die publikasie sou kon motiveer, is hy dit aan sowel die skrywer as die leser van boek én resensie verskuldig om ook krities stil te staan by die sake wat hy aanroer. Byvoorbeeld oor hoekom volwassenes ’n jeugroman sal geniet – is die tipering “jeugroman” hier geldig? Is Fanie Viljoen ’n jeugroman-skrywer, of ’n roman-skrywer? Die konsep “grensverskuiwend” ten opsigte van Afrikaanse jeugromans moet uitgepak word, so ook “baanbrekerswerk”. Dit behoort nie vir Jonathan Amid nodig te wees om verdere vrae te stel nie. En dan Catcher in the Rye: die verband/vergelyking tussen die twee moet geanaliseer word, al is dit dan net kursories. Ek vermoed dit sal hom moontlik weer by die kwessie van geyktheid en stereotipes uitbring, wat vir my baie interessant sal wees. Coenraad Walters se reaksie op Koen se resensie is ook ’n belangrike voetnoot by hierdie resensie. Dalk moet LitNet die twee in tandem gebruik vir hul dekking van jeuglektuur?

Profile photo of crito

by crito

‘n Bietjie noir

Augustus 5, 2014 in Uncategorized

Deborah Steinmair bespreek Waar boosheid broei, deur Peet Venter. (Rapport Boeke)
Deborah Steinmair is ’n slim skrywer. Sy voer mens met woorde, maar gee jou fantasie en nagmerries in. Wanneer sy resensies skryf, kry ek altyd die gevoel dat sy met albei hande sukkel om haar tong uit haar kieste te beur, maar moed opgegee het. Met hierdie resensie kon ek nie die gevoel afskud dat sy dit aanvanklik geskryf het met ’n uitroepteken aan die einde van elke sin nie. Kyk net hier: “Venter het ’n sober, ekonomiese en trefseker aanslag! Hy het ’n slag met die uitbeelding van gewetenlose geweld! Die leser is in bekwame hande, die storie stu onweerstaanbaar voort! Die boek is uitmergelend en onneersitbaar! Die magte van lig en donker is in ’n stoeigreep verstrengel, ook in die gemoed van die “goeie ouens”! Daar is heelwat op die spel! Dis grinterig en hardgebak! Die protagoniste is voor die voet dodelik aantreklik en sexy, maar menseverhoudings bly ’n taai turksvy!” Voordat ek gestenig word: Elders in dié noir-resensie duik die tekens op wat mens help om die roman in perspektief te plaas, te laat besef dat ondanks sy geankerdheid in die misdaadroman-kultuur, jy hier met die ware Jakob te doen het: “misdaadfiksie wat baie wil vermag, kommentaar lewer en stof tot nadenke bied,” in Steinmair se woorde. As Steinmair sê sy het iets geniet, bedoel sy dit. Peet Venter sal die resensie waardeer.

Jean Oosthuizen bespreek Ek kies steeds die kerk, deur Neels Jackson. (Rapport Boeke)
Die tweede en grotendeels waarderende resensie oor Neels Jackson se gebundelde rubrieke. By Oosthuizen bespeur ’n mens ’n groter mate van sinisme as by André Bartlett (wat die ander bespreking geskryf het). Sy opmerking oor kerke wat voortploeter oor die gay-kwessie is betekenisvol, en sy slotwoorde oor die verhale van ander mense wat nie meer die kerk kies as veilige ruimte om hul geloof uit te leef nie smeek om opvolging deur die uitgewer van hierdie boek.

Cas van Rensburg bespreek Kamphoer, deur Francois Smith (Boeke24)
Van Rensburg voorspel ’n groot toekoms as skrywer vir Francois Smith, maar al het hy dit nie só uitgespel nie, vind mens in hierdie deeglike analise van Kamphoer se goeie hoedanighede die soort opmerking wat jou dit in elk geval laat besef: Hoe die leser soms gedwing is om woord vir woord te lees tot dit hom uiteindelik letterlik asemloos gelaat het. Van Rensburg se resensie wys dat hy ook ’n gawe het met die geskrewe woord, en met die opbou van ’n betoog. Hierdie resensie kon mens lees omdat jy dit geniet het om te beleef hoe ‘n meesterlike resensent sy gedagtes onder woorde bring. Kamphoer het hom aangespoor om een van sy beste boekresensies nog vir die huidige boekeblad-regime te skryf. Terloops: As daar al ooit ’n kandidaat vir Elmari Rautenbach se tweevuis resensie-benadering was, is dit  Kamphoer. Dit is ’n gebruik wat gerus op meer gereelde basis kan herleef.