Avatar van crito

by crito

Dit is jammer

April 16, 2014 in Uncategorized

Jo Prins, redakteur van Boeke24, laat weet dat die resensies van Spring en Baasspeurder Blomkvist in die knyp nie in Boeke24 was nie, maar in Jip.

Ek is tans op reis, en het toegang tot Boeke24 via ’n reisgenoot se tablet, waarop sy ’n app van Die Burger het. Die app (ek weier om die woord toep te gebruik, dit klink agterlik) maak dit nie maklik om te besluit waar wat verskyn het nie.

Ek vra om verskoning vir dié vergissing, maar dit gee my ook rede om te vra hoekom die redakteurs van ander bylaes nie boeke met dieselfde respek benader as Jo Prins nie. Astrid Lindgren sal nooit weet hoe slordig Leon van der Vyver haar boek geresenseer het nie – sy is al in 2002 oorlede.

Maar Fanie Viljoen leef baie beslis nog, en vir hom en Lapa, sy uitgewer, moes dit ’n ontsaglike irritasie gewees het om te sien hoe hul harde werk om die boek te skryf en te publiseer, teen aansienlike onkoste, deur Peter Pentz geminag is. Sy resensie is vrot, en verdien nêrens publikasieruimte nie. Ongelukkig is dit nou gepubliseer met die gesag van Media24 daaragter, en sal baie mense Spring vermy weens Pentz se resensie.

Is dít regverdig?

Avatar van crito

by crito

Steve Hofmeyr, boekresensent

April 15, 2014 in Uncategorized

Steve Hofmeyr bespreek DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, deur Lindie Koorts. (Boeke24)
Is daar geen einde aan Steve Hofmeyr se talente nie? Hy doen Neil Diamond net so goed soos tee-gooi, hy dig, sing en skryf net so knap soos hy min. Op Radio Kansel was hy al gewikkeld in intellektuele kragtoere – en hier skryf hy ’n resensie wat enige boekeredakteur sal laat voel dat hy nog nooit ’n beter keuse vir resensent gemaak het nie. Hofmeyr raak heelwat dinge kwyt oor geskiedskrywing en in die proses toon hy dat hy nie alleen aanvoeling vir en kennis van die konteks het nie, maar spreek hy ook menings uit wat polemies en uitdagend is. Dít is die Hoogste Goed van resensies: ’n resensent wat iets unieks te sê  het, en dan nog heelwat meer ook aanbied. Lindie Koorts sal die ontvangs van haar boek meet aan hierdie resensie.

Peter Pentz bespreek Spring,  deur Fanie Viljoen. (Boeke24)
Dié resensie sal nie veel lesers prikkel nie. Peter Pentz kan Afrikaans amper goed benut, maar ek sou nie sê dat sy resensie eintlik sal spreek tot lesers wat hou van resensies met substansie en blyke gee van genuanseerde denke aan die kant van die resensent nie. Ek sou wel sê dat hierdie resensie onder die vyf swakstes tel wat nog ooit deur Boeke24 gepubliseer is.

Leon van der Vyver bespreek Baasspeurder Blomkvist in die knyp, deur Astrid Lindgren. (Boeke24)
Ek het Baasspeurder Blomkwist in die knyp op my boekrak. Gepubliseer in 1979. Leon van der Vyver verswyg die feit dat hierdie ‘n heruitgawe is. Dalk het dit net nie onder sy andag gekom nie. Maar om ’n hele resensie te skryf en nie te snap dat die boek in gans ’n ander tydsgewrig geplaas is nie, en dan nog uitsprake te maak oor die ouderdomsgroep op wie die boek kwansuis die beste ingang sal vind, dít is doodgewoon slordige werk. Vir al wat ek (as ou leser) weet, het die uitgewer die boek in n nuwe tydsgewrig laat oorskryf. Dán was dit steeds die resensent se plig om die transponering te noem.

Erika de Beer bespreek Raaiselspieël,  deur Chanette Paul. (Boeke24)
Lekker storie, hierdie een van Chanette Paul wat Erika de Beer netjies in vyftien paragrawe opsom en kritiseer. Sal my ’n paar maande neem om die resensie te vergeet, en dan sal ek die boek probeer lees.

Avatar van crito

by crito

Die regte resensent

April 8, 2014 in Uncategorized

Andries Visagie skryf oor Karnaval en Lent, deur T.T. Cloete. (Boeke24)
Dit is gepas dat ’n resensent van die statuur van Andries Visagie gevra word om ’n nuwe bundel deur T.T. Cloete te bespreek. Dit is ook goed dat Boeke24 besluit het om behoorlik ruimte aan dié bundel af te staan. Visagie se resensie sou ’n dekade of wat gelede aangebied gewees het as ’n voorlopige verkenning – ’n eerste kenismaking, ’n oopvou van die tematiek vir die liefhebber van die digkuns, ’n aanduiding van die digterlike vernuf, en ’n blik op Cloete se hoogvlug. Dít doen Visagie én lewer meer as ’n eerste verkenning. Die resensie sou vir my in sy totaal bevredig het as Visagie ruimte gehad het om die twee negatiewe opmerkings wat hy maak, behoorlik uit te brei. Dalk kleiner foto-illustrasies gebruik – ons weet mos hoe lyk T.T. Cloete. In die geheel stem die verskyning van n resensie soos hierdie ’n mens baie dankbaar.

Riette Rust skryf oor Die sideboard, deur Simon Bruinders. (Boeke24)
Nie naastenby bevredigend nie. Rust gee ’n idee van die tematiek en lig haar lesers in oor haar persoonlike reaksie op die boek. Kritiekloos. Haar relaas is  verwarrend. Die roman handel oor Suid-Kaapse bruin mense wat in die Tweede Wêreldoorlog vir Suid-Afrika gaan veg het, sê sy in die begin. Maar ’n ent later word daar in Sharpeville gemarsjeer, en is daar protes teen die Nasionale Party se bewind en die paswette. Moet mens dus aanneem dat Die sideboard handel oor bruin mense se wedervaringe tussen 1939 en die jare sestig? ’n Resensie soos hierdie behoort kritiese aandag te gee aan sowel die tematiek as die skryfkuns, en Rust steek by eersgenoemde vas. Gelukkig verklap haar hantering van die tematiek tog iets van die skryfkuns. Ek het ’n vermoede hierdie roman werk met duidelike kontraste tussen die wit en bruin karakters; dít wat Rust beskryf, klink egter vir my baie ongenuanseerd. Die een keer wat sy dit waag om illustratief aan te haal (om Bruinders se vernuf as liefdesverhaalskrywer te toon), is die paragraaf deurspek met clichés.

Heinz Modler skryf oor Kwakke, kwinte & kwale, deur George Claassen. (Boeke24)
Ek geniet dit werklik baie om resensies soos hierdie te lees. Heinz Modler is kundig genoeg om met ewe veel gesag as George Claassen te skryf oor die mens se nuk om teen beskikbare wetenskaplike getuienis in hul hoop te vestig op vertrouenswendelaars. Sy resensie is dan ook ’n reaksie op Claassen se boek wat tegelyk die inhoud omskryf en beoordeel, maar ook argumenterend die boek se strekking bevestig en, glo ek, op bondige manier verstaanbaar maak vir die leek. Puik!

Avatar van crito

by crito

Opsommings

April 2, 2014 in Uncategorized

Johan Smith skryf oor Die derde graf, deur Calvyn van Niekerk. (Rapport Boeke)
Die patroon: vertel die storie, swenk weg na ’n paar kritiese waarnemings, en keer ten slotte terug na ’n paar baie vriendelike opmerkings wat op ’n manier die leser sal laat vermoed dat die boek tog die moeite werd sou wees om te lees. Nou, die kritiese waarnemings is net dit: waarnemings. Geen krag in sulke blertse nie, meneer die resensent. Hulle kry jy eers krag wanneer jy verduidelik hoekom daardie dinge die roman skaad. Hier was nou ’n ideale geleentheid om te skryf oor die manier waarop ’n tema soos onwettige handel in diamante beter of slegter tereg kom in ’n roman, met Kyk-Net se onlangse TV-reeks oor dieselfde onderwerp as verwysingspunt. ’n Verspeelde geleentheid.

JB Roux skryf oor Bloujaar, deur Keina Swart (Boeke24)
As mens die lang opsoming van die verhaal ignoreer, sê JB Roux in vier paragrawe alles wat hy moet sê oor hierdie boek. In die laaste paragraaf merk hy op: “’n Mens is nooit te jonk om ’n boek te lees wat regtig saak maak nie.” Sou dit nie interessant gewees het as hy al die ruimte wat hy gebruik het om die verhaal op te som, benut het om te verduidelik hoekom die boek saak maak nie? Die vierde laaste paragraaf wys hy kan.

Charles Smith skryf oor Krokodil aan my skouer: Stoffel toe en nou, deur Christiaan Bakes. (Boeke24)
Die probleem met opsommings van boeke is dat hulle ’n kortsluiting by die leser van die resensie veroorsaak. Maar dit kan uiteindelik ook ’n aanvaarbare prosure wees, as die resensent weet hoe om sy kritiek en lof met ’n omweg in te bou in die resensie. Dit is presies wat Charles Smith hier gedoen het. Ingebed in sy bespreking is opmerkings wat dui op huidige en vorige kritiek op die skryfwerk van Christiaan Bakkes. Hy is bewus van die een vraag wat alle potensiële kopers en lesers sal vra: Het ons nie reeds hierdie storie gelees nie? Smith se werkswyse is daarop ingestel om te toon wat nuut is in hierdie boek, en net genoeg te gee om nuuskierigheid by mens te bou. Nie alle resensente het Smith se vaardigheid nie.

Avatar van crito

by crito

Misleidend

Maart 25, 2014 in Uncategorized

JB Roux skryf oor Sushi en sjampanje, deur Kristel Loots.(Boeke24)
Die resensent, JB Roux, kan gegrief voel. In die papier-weergawe van die drie Media24-oggendblaaie, staan sy resensie op die Boekeblad afgedruk in die linkerkantste hoek onder, een van drie kort resensies. Dit is ’n netjiese resensie waarin Roux aandui dat die meester van chick lit in Afrikaans nog nie dieselfde vakmanskap openbaar wanneer sy ’n gewone liefdesverhaal takel nie. Slotsom, diplomaties gestel: ’n Swak poging deur Kristel Loots. In die elektroniese weergawe (webwerf én op tablet-toep) het die resensie ’n opskrif bygekry. Wie ookal daardie opskrif geskryf het, het nie die moeite gedoen om die resensie behoorlik te lees en die inhoud daarvan in die opskrif te weerspieël nie. “Loots so gewild soos roomys en sjokoladesous” is een van die min positiewe opmerkings in die resensie, maar is erg misleidend vir die leser.

Riaan Grobler skryf oor Erfstories, deur Engela van Rooyen. (Boeke24)
Reklame eerder as resensie.

Avatar van crito

by crito

Sampie en politiek

Maart 18, 2014 in Uncategorized

Christi van der Westhuizen skryf oor Verdeelde land, deur Sampie Terreblanche. (Rapport Boeke)
Ek het oneindig baie plesier geput uit Van der Westhuizen se bespreking, en die klompie politieke waarhede waartoe die boek haar slot-opmerkings geïnspireer het. Sampie Terreblanche is ‘n instelling op ons dorp, ‘n korrelkop van wie mense verwag dat hy dwars sal wees. Van der Westhuizen gaan nie in op al sy argumente nie, maar haak mens se aandag nogtans met wat ek vermoed die kern van Terreblanche se werk is.

J.B. Roux skryf oor Als oor kop, deur Bernette Bergenthuin. (Rapport Boeke)
Roux begin lekker tong-in-die-kies, en gaan dan geleidelik oor na algemene inligting oor die skrywer en haar roman. Hy het vergeet om te sê of hy diep binne sy hart daarvan gehou het.

Kerneels Breytenbach skryf oor Halfpad een ding, deur Zirk van den Berg. (Rapport Boeke)
Ek het hierdie resensie op Rapport se webwerf gelees – dit lyk nie of ‘n subredakteur ‘n laaste keer ‘n oog hieroor gewerp het nie. Maar as mens sulke leesirritasies ignoreer, kry hy dit wel reg om een ding sterk oor te dra, naamlik dat mens Halfpad een ding ernstig moet benader omdat dit anders is as meeste romans oor die Anglo-Boereoorlog.

Marthinus Beukes skryf oor Stil punt van die aarde, deur Johann de Lange. (Boeke24)
Johann de Lange het dit in die verlede al sleg getref met onbesonne resensies; hierdie keer nie. Marthinus Beukes bespreek die bundel van omslag tot omslag, gee die leser genoeg leiding om die bundel self behoorlik te gaan lees. Net so welkom as wat ‘n nuwe bundel deur Johann de Lange is , is Marthinus Beukes se hertoetrede tot die geledere van resensente. Té lank stil gewees.

Ilza Roggeband skryf oor Laaste dans, Drienie, deur Steve Hofmeyr. (Boeke24)
Steve Hofmeyr sit opgesaal met ‘n persepsie-probleem. Nie alle boekliefhebbers is bereid om aan hom te dink as skrywer nie. Ilza Roggeband se bespreking suggereer dat dit ‘n fout is om só te dink. Goed, Ilza, ek sal gaan lees, maar as die hele boek klink soos die “mooi” deel wat jy aanhaal, voorsien ek ‘n moeilike sessie. Ek weet nie van sukkel af nie.

Erika de Beer skryf oor Halfpad een ding, deur Zirk van den Berg. (Boeke24)
Eienaardig, om die minste te sê. Erika de Beer skryf heel onderhoudend oor Zirk van den Berg se roman, maar teen die einde van die resensie laat val sy dat sy nie oortuig is deur die hoofkarakter in dié roman nie. Kort daarna verklaar sy dat dit mens ‘n paar uur goeie ontvlugting sal bied. Strook dit? Ek vermoed hier skuil ‘n meer negatiewe belewing van die roman, soos ook gesuggereer word deur haar opmerkings oor Boereverraaier en Fees van die ongenooides. Laasgenoemde vergelykings is blinde puisies op die gangbare gelaat van die resensie. Móét romans oor die Anglo-Boereoorlog naskrywings van Fees van die ongenooides wees? En haar opmerking dat die karakter Jacob “klaarblyklik” geïnspireer is deur Blake se Boereverraaier is iets wat sy op geen manier kan toets en verifieer nie. Dit stal net die resensent se verwysingsveld ten toon, vanpas of nie, en is reeds deur Van den Berg weerlê.

Avatar van crito

by crito

Van Malan tot Verwoerdburg

Maart 11, 2014 in Uncategorized

Hermann Giliomee skryf oor D.F. Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, deur Lindie Koorts. (Rapport Boeke)
Rapport Boeke is weer aan die gang. Hermann Giliomee sorg sommer met die intrap vir ’n waarneming wat mens ruk. Twintig jaar na die val van apartheid is daar ’n tekort aan Afrikaanse geskiedkundige publikasies omdat navorsers Afrikaans té vrot onder die knie het en nie die bronne verstaan nie. Wat vir my ook groot nuus is, is dat Koorts aandui hoe Malan sy apartheidsdenke in Nederland gaan haal het. ’n Lekker lang resensie wat my aandag end-uit weggehou het van die uitsending van die Cape Argus-fietswedren. Giliomee hoort nie onder die verbeeldinglose geskiedkundiges na wie hy via Karel Schoeman in dié resensie verwys nie.

Johann Lodewyk Marais skryf oor Karnaval en Lent deur T.T. Cloete. (Rapport Boeke)
Marais maak dit ook nie vir mens maklik nie. Sy eerste twee paragrawe is genoeg om mens se balngsteling te laat verdamp. Maar dan kom hy op dreef, en maak hy die Cloete-bundel vir mens oop. En net wanneer jy dit begin geniet, sluit hy, sommer lekker abrup. Dit laat mens vermoed hy moes sy resensie ná die inlewering verkort, of dalk is dit namens hom gedoen. Nietemin, dis wat hy tussen-in doen wat saak maak, en dié gedeelte is substantief en prikkelend.

Jean Oosthuizen skryf oor God se oë is blou, deur Abel Pienaar. (Raport Boeke)
Oosthuizen skryf met begrip oor dié boek deur Abel Pienaar, iemand wat ongemaklik voel in sowel kerk as nie-kerk. Wanneer hy wegspring met ’n opmerking oor Zen-Christene en Boere-Boeddhiste het hy onmiddelik my aandag, synde n Stellenbosser wat diep onder die indruk is van ons dorp se geskiedenis, Pienk Piet en al. Oosthuizen skryf begrypend eerder as krities – vermoedelik sal dié Vrydag tydens die Woordfees kom wanneer outeur deur resensent ondervra word.

Philip John skryf oor Stil punt van die aarde deur Johann de Lange. (Rapport Boeke)
Ek wonder soms wat dit sal kos om literatore te laat besef dat as daar iets nuuswaardigs aan ’n digbundel is, ’n literêre kritikus liewer sy lyf volledig koerantresensent moet hou en die nuuspunt  die kapstok van die resensie maak. Philip John skryf ’n heel billike resensie, sonder dat hy werklik baie diep delf, en steek die een nuuswaardigheid in die middel van ’n paragraaf weg: ’n gedig or die Blou Bul-skrumskakel, Francois Hougaard. ’n Erotiese gedig.

Johan Smith skryf oor Bomskok, deur Thinus Horn. (Rapport Boeke)
’n Gangbare resensie, al raak die resensent verlei deur die opvatting dat resensie-lesers ’n volledige opsomming van die verhaal wil hê. Sy opmerking oor vloekwoorde het my wel laat skrik: Hoekom sou mens suke dinge wil miskyk? Ek geniet dit nogal wanneer mense verbeeldingryk vloek. Hopelik ken die spul joernaliste in Bomskok hul storie.

Annemarie van der Walt skryf oor Enkelreis, deur Zarine Roodt (Boeke24)
Dít is hoe resensies geskryf moet word! Informatief, krities. Van der Walt skets die omvang wat Roodt haar ten doel gestel het, en gee die redes hoekom sy faal. Maar sy doen dit op só ’n manier dat mens besluit daar is wel ander, goeie redes hoekom jy hierdie boek sal wil lees. Vir nuuskierige Jungiane.

Thys Human skryf oor Verwoerdburg, deur Johann Rossouw. (Boeke24)
’n Bietjie wollerig geskryf – mens moet die resensie verskeie kere herlees om helderheid te kry oor presies wat in Johann Rossouw se Verwoerdburg aan die bod is. Die leser van die resensie word gedwing om besluite te neem oor dinge wat Human sê ten einde ’n greep te kry op wat moontlik in Verwoerdburg aan die gang is. Een voorbeeld: Wat is die verband tussen die manjifieke kortverhaal waarmee Jakes Botha vir hom ’n patronaat losslaan, en die roman waaroor die agtergeblewenes gegrief is? Geen? Orraait. En is Jakes ook daardie Jakes van Siener? Orraait. Maar wanneer Human uiteindelik sy kritiese reaksie vorendag bring, is dit een wat mens kan verstaan: Daar is té veel van die outeurstem in die roman se uitsprake teenwoordig. Ek vermoed dit is ’n roman wat ’n heftige debat kan ontketen onder ouer lesers.

Avatar van crito

by crito

Die skinder

Maart 4, 2014 in Uncategorized

Cas van Rensburg skryf oor Bomskok, deur Thinus Horn. (Boeke24)
Dit is ’n resensie waaraan mens jou kan verkneukel, hierdie. Mits jy in die joernalistiek belangstel. Van Rensburg skryf met die nonchalance van iemand wat die regte skinderstorie agter die storie ken. Mens wens hy het meer leidrade gegee oor die herkenbare figure – die enigste naam wat onmiddelik na vore spring is dié van Max du Preez, en deur sy beskrywing van die koerantredakteur in die roman, hak Van Rensburg jou. Jy gaan die boek móét lees, snuffelend agter herkenbare gesigte aan. Is dit die edelste manier om leser te lok vir ’n boek? Hoekom nie? En dankie ook, meneer Van Rensburg, vir die tong in die kies betreffende “grondverskuiwend”.

Dewald Koen skryf oor Die derde graf, deur Calvyn van Niekerk. (Boeke24)
Dewald Koen beskou Die derde graf op ’n effense afstand. Gevolglik is die resensie in gedempte toon, sodat die uiteindelike aanbeveling amper aan mens verbygaan. Maar die resensie het wel een groot pluspunt: Koen probeer nie vir jou die storie vertel nie. Hy laat die boek sy geheime en skatte behou, die leser moet hulle self gaan ontdek. Geen “spoiler alert” hier nodig nie!

Avatar van crito

by crito

Plesier in woorde

Februarie 25, 2014 in Uncategorized

Ingrid Winterbach resenseer Deel XIV (S-SKOOI) van die WAT. (Boeke24)
Terwyl Rapport se groot boeke-droogte voortgaan, het Boeke24 sommer baie lewendig geword. Die jongste teken daarvan is die keuse van Ingrid Winterbach as resensent van Deel XIV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Winterbach is naas Marlene van Niekerk die vlugtigste gebruiker van Afrikaans onder die huidige geslag skrywers. Om een van haar romans te lees, is om op ’n taal-ontdekkingstog te gaan. Haar reaksie op hierdie deel van WAT gee mens ’n idee van die manier waarop sy taal benader, en hoe sy woordeboeke gebruik. Woordeboeke is nie net nutsboeke nie, hulle is ook ’n enorme plesier, iets waarin mens kan snuffel sonder end. Dít is wat Ingrid Winterbach se resensie vir my sê (en, uiteraard, dat mens nie altyd ‘n leksikograaf hoef te kry om woordeboeke te resenseer nie). As mens kyk na die lyste voorbeelde wat sy aanhaal, is daar net een ding wat die resensie-leser kan sê: Hoe wonderlik werk daai kop nie!

Avatar van crito

by crito

Volpunte vir Erasmus

Februarie 18, 2014 in Uncategorized

Annelise Erasmus skryf oor Skarlakenkoors, saamgestel deur Peter van Noord en Karin Eloff. (Boeke24)
Bundels erotiek skep altyd ’n probleem vir resensente. Beoordeel jy die gehalte van die skryfwerk, of die mate waarin die inhoud jou prikkel? Omdat mens dit min of meer as gegewe kan beskou dat iets wat deur die hande van Peter van Noord en Karin Eloff is, op ’n aanvaarbare skrywerspeil sal wees, laat dit jou met een uitweg, en dit is om die bundel te meet aan sy prikkeling. Annelise Erasmus se respons is een van die vindingrykste reaksies op hierdie dilemma wat ek nog gelees het. Volpunte vir die manier waarop sy dit baie duidelik maak dat die inhoud haar geprikkel het – asook vir die manier waarop sy die aandag tot by die laaste evokatiewe sin hou. Hierdie keer kan niemand wat tot die bundel bygedra het, kla oor die aandag wat die resensent aan die hele bundel gegee het nie. Meer sulke resensies, asseblief tog!

Marius Crous skryf oor Die rooi veer in Vasco se hoed, deur Rosa Smit. (Boeke24)
Dit is verkeerd om hierdie resensie te vergelyk met die een van Skarlakenkoors, wat net bo dit op die boekeblad verskyn het – maar mens kan nie anders nie. Dit is sekerlik feitlik onmoontlik om met selfs ’n geringe mate van opgewondeheid digbundels te resenseer – die vakgebied dwing die resensent tot ’n nugter, objektiewe aanpak. Crous se resensie val op omdat hy so besonder onopgewonde is oor die gedigte. Dit is geen verrassing wanneer hy teen die einde verklaar dat hierdie bundel nog nie gereed was vir publikasie nie. Die vraag ontstaan ongelukkig dan ook by my of dit nie wenslik is om die resensie baie in te kort nie. In die ganse leespubliek is daar net een persoon wat werklik baat vind by die uitvoerige skrywe van Crous, en dit is digter.

Marietie Louw-Carstens skryf oor Die Modimolle monster, deur Karyn Maughan en Shaun Swingler. (Boeke24)
Soms vind ek my in die posisie dat ek absoluut geen belangstelling in die onderwerp van ’n boek het nie. Om dan ’n resensie daaroor te lees, is vir my net so oninteressant as om die boek self te lees. As die resensie knap geskryf is, hinder dit nie. Is dit swak aangepak, eskaleer mens se irritasie vinnig. Die enigste slotsom waartoe ek ná die lees van hierdie bespreking kon kom, is dat Marietie Louw-Carstens baie goeie maniere het en met ’n omweg tog laat deurskemer wat sy van hierdie boek dink: Prul.

’n Algemene vraag: Gaan Rapport se boekeblad herstel?