Avatar van crito

by crito

‘n Filosofiese inset

Mei 21, 2013 in Uncategorized

Wolf, wolf, deur Eben Venter. Resensie: Johann Rossouw. (Rapport Boeke)
Interessant genoeg is dit ‘n filosoof wat hier kort en bondig Eben Venter se jongste roman tematies analiseer, die inhoud ‘n breë konteks gee, en in die loop van die resensie aandui dat Wolf, wolf  ‘n teken is van die mate waarin Venter uitstyg bo ander Afrikaanse skrywers. Met sulke resensies is Rapport Boeke weer ‘n proposisie vir die letterkunde..

Bleek planeet, deur Dolf van Niekerk. Resensie: Neil Cochrane. (Boeke24)
Cochrane gee goeie inligting oor die genre-konteks, asook die tematiese plasing. Uiteindelik sukkel hy om weg te steek dat hy teleurgesteld is: die gehalte van die gedigte is wisselend, hy is nie heeltemal oortuig deur Van Niekerk se argumentasie nie. Mens het nie ‘n rapier nodig as enkele welgekose, beleefde woorde dieselfde resultate kan lewer nie. Ek hou al hoe meer van Cohrane se resensies.

Avatar van crito

by crito

Die groot en die klein publiek

Mei 14, 2013 in Uncategorized

Die gewildste Afrikaanse gedigte, saamgestel deur Leserskring. Resensie: Ian Raper. (Boeke24)
Wat skryf ‘n resensent oor ’n bloemlesing waarby die publiek via verskeie media hul stem laat hoor het, en waarmee hy wesentlik geen fout te vind het nie? Leserskring se idee om via hul lede, By se lesers en RSG se luisteraars vas te stel wat die gewildste Afrikaanse gedigte is, is só ‘n blink een dat mens eintlik dadelik wil weet hoe lyk die uiteindelike gewildheidsleer. Ian Raper het besef dit sou onverskoonbaar wees om dít te verklap, en dat hy sy resensie moet plooi rondom ‘n paar kernsake, soos vox populi versus die literêre keuses, en die feit dat dit gaan oor die verse waarvan mense hou, nie die digters waarop hulle versot is nie. Raper voer sy argumentasie met heelwat verfyning; ek hou van die manier waarop hy die trefferslys-element ter sprake bring by die indeks. Wat hy nie noem nie, is dat ‘n bundel soos hierdie ‘n baie nuttige bron van kennis is vir diegene wat so maklik hul “verse” op Faceboek uitblerts, salig onder die indruk dat hulle werke van gehalte lewer. Hier is nou ‘n maatstaf!

Rooiland, deur Tertius Kapp. Resensie: Schalk Schoombie. (Boeke24)
Soos Schalk Schoombie die inhoud analiseer, klink Rooiland na ‘n verbluffende skepping. Ek sal sy woord daarvoor aanvaar. Ek is ongelukkig een van daardie mense wat nie dramatekste lees nie. Ek gaan kyk na die opvoering. Schoombie erken self dat Rooiland eers waarlik op die verhoog beslag kry – daar waar spelers en ‘n regisseur my lesersluiheid kan vernietig. Wat in ‘n sin my vermoede bevestig dat hy die opvoering gesien het en daarna die teks gelees het. Maar dit mag andersom wees. Ek het nog altyd gevind dat Schoombie min gelykes het as Afrikaanse toneelresensent en vertrou sy interpretasie van die teks. Wanneer Rooiland in my omgewing opgevoer word, sal hierdie resensie vir my onmisbaar wees. Intussen is daar ‘n vraag wat my bly hinder en wat Schoombie skynbaar nie as deel van sy opdrag geag het nie: Hoeveel mense koop nog Afrikaanse dramatekste vir hul leesgenot? Of selfs ter stigting? Hierdie resensie is die naaste waarin die groot Afrikaanse leserspubliek aan Tertius Kapp se Rooiland gaan kom, en daarom is ek bly dat Schoombie die een is wat dit resenseer.

Vegter en balling, deur Chris Schoeman. Resensie: Riaan Grobler. (Boeke24)
‘n Leesverslag eerder as ‘n resensie. Riaan Grobler het skynbaar geen anekdotes gevind waardeur hy dié boek oor Charles von Maltitz se dagboekinskrywings tydens die Anglo-Boereoorlog vir ons interessant kon maak nie, niks nuuts daarin bespeur wat só eienaardig is dat dit aan die groot klok gehang móés word nie.

‘n Nuwe wildernis, deur Ben Viljoen. Resensie: Jeanette Ferreira. (Rapport Boeke)
Jeanette Ferreira is ‘n ou hand in die uitgewerswese en haar gunstige taksering en warm aanbeveling van hierdie boek is vir my goed genoeg. Wat ek wel interessant vind – en dit in ‘n resensie waarin sy ‘n paar taalsake opper – is haar gebruik van die term roman-in-schuifjes. Ek ken dit nie (wat my fout kan wees, ek hou nie by met literêre jargon nie) en moes my verbeelding gebruik om dit te probeer uitpluis. Beteken schuifjes dieselfde as kleurskuifies, wat andersins ook bekend is as kleurdias? Daardie film in ‘n raampie wat in die jare sewentig en tagtig nog in groot omloop was, en deur projektors op skerms en mure vertoon is voordat Powerpoint alles beduiwel het? Ferreira behoort te waak teen sulke jargon. Of dit verduidelik.

Avatar van crito

by crito

Woorde wek

Mei 7, 2013 in Uncategorized

Koljander, deur Carié Maas. Resensie: Christell Stander. (Rapport Boeke)
‘n Lekker resensie: Stander toon die soort agting wat ‘n resensent vir die debuutwenner van ‘n romanwedstryd moet toon deurdat sy die roman met erns ontleed. En met die kundigheid van ‘n geoefende resensent werk sy skraps met verhaal-inligting op twee maniere, wat ‘n soort broeiende nuuskierigheid by mens wek. Sy gee om mee te begin nie detail-inligting oor die ongeluk wat die verhaal in ‘n rigting stuur en al die karakters beïnvloed nie. Voorts rig sy haar nooit indringend tot die tekstuur van die verhaal nie en dui net die kernoomblikke en wendings aan. ‘n Mens voel jy weet wat in hierdie boek gebeur, maar jy sal bars om in noukeurighede in te gaan tydens ‘n boekklubbyeenkoms as die resensie al is wat jy gelees het. Jy wil weet wat gebeur het, daarvoor sorg Stander in breë trekke. Tog is haar analise baie fyn, en laat sy ‘n mens met geen onsekerheid oor die redes hoekom Koljander ‘n prysenswaardige debuut is nie. Mens kan voorsien dat Stander met Maas se volgende werk die fokus sal verskuif na die eienskape van die skryfwerk self, na die retoriese krag of gebrek daaraan. Maar vir ‘n eerstelingwerk gee hierdie resensie die volwasse aanpak waarop enige nuweling net positief kan reageer.

Trekkerkinders: Kom trek saam met dapper kinders van die Groot Trek 1835-1838, deur Danie Langner. Resensie: Fransjohan Pretorius (Rapport Boeke)
Hier in die wonderdae van die Gupta/Zuma-regime is dit maklik om te vergeet dat Afrikaner-nasionalisme eens hoog gebloei het. Fransjohan Pretorius vra indringende vrae oor die relevansie van ‘n publikasie wat daardie nasietrots wil aanwakker vir die moderne leser, en sy slotsom, naamlik dat dit eensydig is en net die edele elemente beklemtoon, behoort enige leser te bewapen met genoeg skeptisisme om die lees van só ‘n publikasie gebalanseerd te kan benader.

As die wind kom draai, deur Hans du Plessis. Resensent: Malene Breytenbach. (Rapport Boeke)
Die verwronge beeld oor die trekkers (Voor- of wat die geval ook mog wees) wat baie lank onder Afrikaners geheers het, is dít waarteen Fransjohan Pretorius dit het in sy resensie van Trekkerkinders. Malene Breytenbach se resensie van As die wind kom draai beklemtoon weer die historiese basis waarop Hans du Plessis sy roman gebou het – ‘n bevestiging, as mens dit nodig het, van die mate waarin daar vanuit skrywersgeledere steeds geprobeer word om die drogbeelde van die ou soort geskiedskrywing tot niet te maak. Sy verklap té veel van die verhaal, maar haar tematiese taksering is foutloos.

Trek, deur Winnie Rust. Resensie: Annemarie van Niekerk. (Rapport Boeke)
Mens kan nie anders as ‘n lekker ironiese rukking te beleef by die lees van hierdie resensie nie. Annemarie van Niekerk sit in Europa, waarvandaan die Hervormings-komponent van die Suid-Afrikaanse trekgeestiges gekom het. En sy is lank genoeg uit die land om te besluit om die roman te bespreek uit ‘n verskeidenheid hoeke: konteks, die trek-verskynsel, die geskiedenis van die dorp Wellington, die struktuur, die roman as variant van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Ek is seker as ‘n plaaslike resensent hierdie roman brspreek het, sou dit die meeste klem laat val het op die kern van die verhaal, oor dit wat dertig jaar gelede bekend gestaan het as “ontug” (‘n verhouding tussen ‘n bruin en wit persoon). Ek geniet Van Niekerk se benadering, en wens sy het meer ruimte gehad om die band met Poppie Nongena meer uitvoerig te kon behandel.

So was dit – stories van gister en vandag, deur Johan van Wyk. Resensie: Riette Rust (Boeke24)
Hierdie resensie laat my sommer baie oud voel. Daar was ‘n tyd, wat my betref nie te lank gelede nie, maar skynbaar wel bitter lank terug, toe Vrystaters hulle nie die Volksblad kon indink sonder Johan van Wyk nie. Kapenaars het altyd gespog met W.O. Kühne, Sondagkoerantlesers met Rykie van Reenen, maar só groot was die aanhang van Johan van Wyk se Stop van myne-rubriek dat daar gesê is dat die Volksblad sou sluit die dag dat hy aftree. En hier kom Riette Rust met ‘n resensie waarin sy krediet gee aan sy Kaapse geboorteplek, Calvinia, maar geen woord melding van sy Vrystaatse sielswêreld nie, en niks oor daardie wonderlike rubriek nie. Só Vrystaats dat hy op Hartenbos gaan vakansie hou het. In wese is dit ‘n deeglike resensie, geeesdriftig, maar ‘n resensent soos Rust moet onthou dat al woon ons nie meer in die Vrystaat nie, is die Vrystaatse diaspora verskeie kommando’s sterk.

Avatar van crito

by crito

Seks en ander verlanges

April 30, 2013 in Uncategorized

Afrikamasutra, deur Ilse Carla Groenewald. Resensie: Kerneels Breytenbach (Rapport Weekliks)
Rapport is een van die Afrikaanse koerante wat dikwels nuwe tegnieke bedink om ou maniere van inligting oordra nuut te maak. Ek kan begryp dat dit nodig is. Dis net dat ek nie altyd daarvan hou nie. Hul idee om nuwe boeke te hanteer deur onderhoude met die skrywers in plaas van resensies is vir my ‘n ontduiking van die kritiese benadering en uiteindelik streel dit net die skrywer se ego. Die behoefte om die werk krities geweeg te kry word veronagsaam. Die Afrikamasutra kry die ander alternatiewe behandeling: ‘n artikel oor die boek, met ‘n klein bietjie kritiese reaksie weggesteek in ‘n vrystaande “kassie”. Die probleem lê vir my daarin dat Breytenbach se hantering van die onderwerp waarskynlik dieselfde uitwerking sal hê as wat ‘n baie positiewe resensie sou. Maar gestel hy het ‘n prul van ‘n artikel gelewer, en Rapport het dit in ‘n vaak oomblik laat verbyglip? Sou dit nog regverdig gewees het teenoor die skrywers, vertalers en kunstenaars? (‘n Bygedagte: Ek sou baie bekommerd wees as ek Breytenbach was. Hoekom word daar eerste aan hom gedink wanneer boeke oor seks gepubliseer word? Is Nicki Spies nie ‘n meer gepaste keuse nie?)

Karretjiemense, deur Carol Campbell. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Normaalweg bespreek ek nie resensies van vertalings nie. Wyle Gerrit Brand het my daarvan genees. Hierdie ene wil ek tog noem, nie om die spesifieke boek nie, maar om die resensent. Herman Lategan het hierdie resensie geskryf met heimwee wat sy pen dryf. Hy het uit eie ondervinding ‘n liefde vir die mense waaroor die boek handel. Hierdie emosies vind neerslag in die resensie op ‘n manier wat mens dit van voor laat herlees, op soek na die snellers wat jou keel so laat trek. Knapgedaan!

‘n Man van min belang, deur Chris Karsten. Resensie: J.B. Roux. (Boeke24)
J.B. Roux sluit sy resensie met die opmerking “Chris Karsten is ‘n fenomeen”. In die aanloop hiertoe verduidelik hy hoe Karsten tematies hierdie keer sy speurverhaal vanuit ‘n politieke hoek aanbied: Dis ‘n roman oor transformasie, van ‘n speurdiens wat ou, onopgeloste sake uit die stuiptrekkingstyd van apartheid ondersoek. Sy vorige romans, die Abel-reeks, was puik, en Roux probeer die vraag antwoord of Karsten die pyl sal kan volhou. Sy antwoord is bevestigend, en die resensie is só uitgepak dat dit dié mening ondersteun. Wat ek veral van die resensie waardeer (omdat ek die boek self die afgelope week gelees het) is dat Roux pynlik noukeurig is in sy poging om geen geheime te verklap en die lesers se plesier sodoende te bederf nie.

As die wind kom draai, deur Hans du Plessis. Resensie: Susan Cilliers. (Boeke24)
‘n Roman wat in 1844 afspeel, laat volgens die resensent vrae ontstaan wat destyds net so relevant was as wat hulle in die moderne Suid-Afrika is. Sy spel die vrae nie uit nie; tog kry mens die gevoel dat dié vrae oor en rondom die “kleurgrens” sal wees. Die moderne leser sal daardie grens afgebreek wil sien, wat die outeur dan verlei om dinge makliker te laat lyk as wat dit is. Ek vind Susan Cilliers se reaksie op die boek amper net so interessant as die gegewe waarmee Du Plessis werk: jy moet saam met die skrywer droom oor hoe aangenaam onverkwiklike sake opgelos kan word. Die subteks praat egter hard en duidelik: Cilliers sê niks gebeur só maklik nie.

Avatar van crito

by crito

Moeilikheid saam met maklikheid

April 23, 2013 in Uncategorized

Die AE tot OE van seks, deur Riette Rust. Resensie: Kerneels Breytenbach (Boeke24)
Dis maklik om resensies deur joernaliste en oud-joernaliste te onderskei van dié deur akademici – hulle lees gewoonlik makliker en lekkerder. Dit is beslis die geval met hierdie resensie deur Kerneels Breytenbach – onderhoudende trant, maklik om te volg. Daarin lê ook die probleem. Was dit ‘n akademikus wat die resensie geskryf het, sou hy/sy sekerlik pertinente vrae gevra het oor baie van die dinge wat Breytenbach prys. As ‘n resensent ‘n boek so ophemel soos Breytenbach hier doen, is dit soms nodig om in die detail in te gaan. En ofskoon hy wys op die historiese konteks van hierdie boek, laat hy na om een baie belangrike opmerking te maak, naamlik dat die uitgewer ‘n plakkertjie op die omslag laat plaas het om aan te dui dat hierdie boek “Slegs vir volwassenes” is. Ek kan nie help om te wonder hoekom hy dit misgekyk het nie – of besluit het om dit nie te noem nie?

Haar naam is Ragel, deur Helena Hugo. Resensent: Erika de Beer. (Boeke24)
Mens herken ook die joernalistieke agtergrond van hierdie resensent, maar sy het in baie opsigte ‘n moeiliker taak as Breytenbach hierbo. Die boek is nie ‘n verstrooiingsroman nie. Dit het ‘n Christelike inslag en te oordeel aan De Beer se kritiek is dit dan ook die rede hoekom die skrywer ‘n spesifieke benadering volg met die twee hoofkarakters. Baie tyd in hul gedagtes, sê De Beer. Sy verduidelik dan hoekom dit die gehalte van die res van die boek skeeftrek. Uiteindelik is haar slotsom nie ingegee deur die breë geloofsagtergrond nie, maar deur die feit dat die skryfgehalte die lees bemoeilik. Dit is een van De Beer se beste resensies tot dusver.

Avatar van crito

by crito

Agteros

April 16, 2013 in Uncategorized

In die skadu van soveel bome, deur Hennie Nortjé. Resensie: Nini Bennett. (Rapport Boeke)
Hierdie bundel het al verlede jaar verskyn. Het dit nie pas die Eugène Marais-prys vir debuutwerk van die SA Akademie gewen nie, was daar seker nie soveel haas by Rapport om die resensie daarvan te plaas nie. Nini Bennett se resensie is ‘n yl gedoente. Sy hou daarvan om te vertel waaroor gedigte handel. Sy het oogklappe aan vir die aansienlike internasionale tradisie waarby Nortjé met hierdie bundel aansluit. Sy sien sekere taalvindinge raak, maar eien nie die verstegniese toertjies waarmee hy hom in die bundel besig hou nie. Dis ‘n moeilike opdrag om só lank na ‘n bundel se verskyning daaroor te moet skryf, want meeste mense wat in digkuns belang stel, het dit nou al gelees en die bundel se geheimenisse vir hulself ontsluit. Goed, mens kan met geldigheid vra of Bennett die resensie al verlede jaar geskryf het, en of sy dit nou inderhaas op versoek vir Rapport afgehandel het. Indien eersgenoemde, het ek meegevoel met haar, want hierdie resensie sou ‘n beter indruk gemaak het pas na die verskyning van die bundel. Indien laasgenoemde, was dit ‘n oordeelsfout om ‘n resensie te skryf asof niemand nog die bundel onder die oë gehad het nie.

Die Wellingtonse Klopse – 100 jaar se onvertelde stories, deur Michael le Cordeur en Marlene le Roux. Onder redaksie van Ria Olivier. Resensie: Jo-Ann Floris. (Boeke24)
Dit verg ‘n towenaar om teleurstelling behoorlik te maskeer. Jo-Ann Floris is ‘n joernalis en amper ‘n towenaar. Mens kan sien hoe werk sy haar op om geesdrif te toon vir hierdie boek, wat handel oor haar jeugwêreld, en die kultuurgoed wat sy goed ken. Mens kan aanneem dat sy heeltemal in die kol is wanneer sy sê die boek maak die deur op ‘n skrefie vir jou oop oor die onderwerp van die Wellingtonse Klopse, maar dat dit net ‘n eerste aanduiding gee van dinge wat jy self sal moet gaan soek. Tussendeur laat skemer sy deur wat verkeerd geloop het: vrot redigering, en ontoereikende leiding aan die outeurs deur die uitgewer en redakteur. Sy het duidelik ‘n geloof in die skrywers, en dit blyk dat die fotografie puik is. Maar die geheelindruk is dat Jo-Ann Floris baie vriendelik is met ‘n boek wat skerp kritiek verdien, en dat sy dit besef. Sy sê dit nie reguit nie, maar alle simpatie met Michael le Cordeur en Marlene le Roux, wie se harde werk nou ‘n verspeelde kans geword het.

Avatar van crito

by crito

Briewe van ‘n bekende

April 9, 2013 in Uncategorized

Mits dese wil ek vir jou sê, deur Hennie Aucamp. Resensie: Daniel Hugo. (Rapport Boeke)
Die Afrikaanse leserspubliek weet meer van Hennie Aucamp se smake, voorkeure en menings as wat hulle van enige ander Afrikaanse skrywer s’n weet. Daarvoor sorg Aucamp deur skynbaar alles wat hy nog ooit geskryf het, te laat publiseer. Ek kan nie onthou dat enige resensent hom al tromp-op geloop het oor sy narsisme nie, maar Daniel Hugo kry dit reg om ten minste ‘n gevoel van ironiese agterdog by die leser van hierdie resensie te laat ontstaan. Laat ek eers sê dat mens jou met sommige van Aucamp se standpunte kan vereenselwig. Hy het ‘n manier om deur te dring tot die essensie van ‘n probleem, en ‘n nugtere siening daarvan te gee. Dit laat Hugo deurskemer. Dan haal hy Aucamp aan oor die kwessie van “openbare briewe”: “Ek is dus gesteld daarop dat ’n briewebundel ook afreken met die vals beeld wat daar van my geskep is – moedswilliglik en ook kwaadwilliglik – as esteet in sy ivore toring.” Hugo wys onmiddelik daarop dat daar leemtes in die versameling is wat só ‘n strewe ongedaan maak, kritieke tye in ons geskiedenis waartydens Aucamp nie briewe geskryf het nie. Nog meer betekenisvol vir my is dat Hugo nie rapporteer wat die ontvangers se reaksie was nie. Miskien is dit iets waaroor Aucamp nie skryf nie, miskien was briewe nie vir hom ‘n gesprek nie.

Wolf, wolf, deur Eben Venter. Resensie: Thys Human (Boeke24)
Probleme, probleme. Thys Human, een van ons heel beste Afrikaanse resensente, kom vorendag met ‘n resensie waarin hy twyfel oor sy eie oordeel. “Maar net omdat ék nie al die aspekte van die uiteindelike ontknoping geloofwaardig en oortuigend gevind het nie, behoort dit geen leser te verhinder om die roman op te tel en self te oordeel nie.” Wat ek veral problematies vind, is dat die resensie sonder daardie paragraaf kon gedoen het. Human het die roman geweeg, hy het oordele uitgespreek. En dit goed gedoen, sover mens kan oordeel. Dis tog die versweë ooreenkoms tussen leser en resensent, dat mens sy oordele as opreg en eerlik en suiwer aanvaar. Hoekom nou self die geldigheid daarvan betwyfel? Dan liewer nie die resensie skryf nie, nè.

‘n Nuwe wildernis, deur Ben Viljoen. Resensie: Gert van der Westhuizen (Boeke24)
Van der Westhuizen sê in die begin van sy resensie dat daar seker nooit genoeg oor die Grensoorlog in Namibië en Angola geskryf kan word nie. Dan gaan hy voort om die inhoud van Ben Viljoen se boek te beskryf, en dit interessant genoeg te laat klink vir mense wat in hierdie onderwerp belangstel. Hy sê egter nie watse nuwe insigte die boek bring nie, of wat dit uniek binne die genre maak nie. En dit is wat ek nodig het om my te oortuig dat ek ‘n Nuwe wildernis moet lees. Ek wil nie hoor dat dit ‘n boek is wat my weer ‘n slag diep sal laat dink oor daardie oorlog nie.

Avatar van crito

by crito

Persoonlike reaksie

April 2, 2013 in Uncategorized

Vang ‘n Boer – Die stryd tussen Boer en Ovambo, deur L.J. Bothma. Resensie: André le Roux.
Ek onthou dat ek in die tagtigs nie baie danig was oor Le Roux se TV-verslae nie. Bombasties. Gelukkig kan mens dit nie teen hom hou nie, en hierdie resensie is van só ‘n hoogstaande gehalte dat mens hom baie dinge sal vergewe. In baie opsigte is dit vir my ‘n voorbeeld van presies hóé ‘n resensent ‘n feiteboek soos hierdie moet benader. Le Roux gaan put uit sy eie ervarings, herlei dit na die inhoud van die boek, en vandaar lewer hy kritiek op die swak punte en prys hy die boek se goeie punte – terwyl hy steeds besig is om argumenterend verder te bou aan die reaksie. Le Roux voer sy argument tot by ‘n besluit, waarvan een helfte goedkeurend vir die boek is, en die ander daarop wys dat ‘n swak titel vir die werk gekies is. As enigiemand wonder hoekom die resensie so lekker lees, is die antwoord eenvoudig. Le Roux skryf nie net oor die boek nie, maar oor die boek se konteks, en hy gee ‘n persoonlike reaksie op albei. Daardie persoonlike reaksie is kosbaar. Gaan kyk maar hoeveel resensies verskyn waarin waaragtige persoonlike reaksie totaal afwesig is. Dit ís moontlik om ‘n mening uit te spreek en jou eie gevoelens onvermeld te laat. Ek hoop dat Le Roux ‘n meer gereelde resensent vir Boeke24 sal word.

Avatar van crito

by crito

Geesdrif

Maart 26, 2013 in Uncategorized

Mediterreense herinneringe, deur André P. Brink. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Herman Lategan het ‘n baie sterk mening oor meeste dinge (dit weet ek danksy Facebook) en in sy resensies is daardie eienskap van hom nie alleen opvallend nie, maar ook baat die leser die meeste daarby. Mens hoef seker nie ‘n groot standpunt oor André P. Brink se reisverhale in te neem nie. Lategan doen dit wel (jammer net van die een geykte uitdrukking, van die mond wat konfyt verdien) en met soveel duidelike geesdrif dat dit die resensie dra. Meeste mense wat Brink se vroeë skryfwerk ken, sal só ‘n resensie net vinnig lees om te sien of daar nuwe skryfwerk ingesluit is. Lategan bevredig hulle betreklik vinnig, en daarna sorg hy dat hy die aandag hou van die lesers wat nie bewus is van Brink se reisverhale nie. Lategan se resensie-strategie is sekuur, maar dit is die inkleding, die geesdrif, wat die saak beklink.

Teen die lig, deur Hennie Aucamp. Resensie: Marius Crous. (Boeke24)
Van geesdrif gepraat. Hierdie resensie loop nie daarvan oor nie. Mens kan jouself wel afvra of mens dié leemte met geldigheid kan aflei in die aangesig van die talle positiewe opmerkings wat Marius Crous maak. Twee dinge verklap dit vir my. Die eerste is die manier waarop Crous die punt maak dat Hennie Aucamp, as digter wat veral sterk klem laat val op rym, hom skuldig maak aan rymdwang weens sy voorliefde vir die gebruik van Afrikaanse woorde wat ongewoon is. Crous is nie die eerste kritikus wat hierdie punt maak nie – mens hoef maar net te gaan lees wat in Aucamp se kabaret-dae geskryf is oor sy taalgebruik – en die voorbeelde wat hy aanhaal laat mens onmiddelik besef dat hy ‘n sterk, onweerlegbare argument het. Die tweede aspek wat ‘n gebrek aan geesdrif aandui, is die feit dat Crous nie die moeite doen om die resensie van ‘n behoorlike samevattende slot te voorsien nie. Hy maak sy opmerking oor die vreemde woorde, en laat die resensie dan in die lug hang, asof hy nie verder daardeur gebodder wil wees nie. As al die voortreflikhede wat hy vooraf genoem het vir hom van deurslaggewende aard was, sou hy sekerlik in ‘n slot die gewig in daardie rigting wou laat oorhel.

Trek, deur Winnie Rust. Resensie: Dineke Volschenk. (Boeke24)
Eienaardig hoe ‘n mens soms ‘n resensie lees, en weer lees – iets hinder jou, maar jy kan nie jou vinger daarop lê nie. Volschenk is ‘n bedrewe uitgewer, en weet presies waarna om te kyk. Haar verslag  is van só ‘n aard dat ‘n mens weet jy sal die boek wil lees, en dat jy in breë presies dít daar sal vind waarop Volschenk jou aandag vestig. Uiteindelik was dit die slotsin wat vir my die sleutel was: “Trek is ‘n stewige roman wat die leser tot nadenke stem”. Nou goed, wat was die aard en inhoud van daardie nadenke? Hoekom nie daardie nadenke in die resensie laat neerslag vind nie? Elke roman verskyn binne ‘n gegewe historiese konteks, en daardie tot-nadenke-stemmery is die soort reaksie wat mens in die jare sewentig kon verwag het met die verskyning van Die swerfjare van Poppie Nongena. Dit wek nadenke, en jy stem volgende keer nie Nasionaal nie. Trek verskyn in 2013, handel oor die jare sewentig en mens reageer anders omdat die konteks so radikaal verskil. Hoeveel anders? En hóé anders? Die belangrikste deel van haar reaksie op die boek het sy uit die resensie weggelaat.

So kry ons Afrikaans, deur Christo van Rensburg. Resensie: Susanne Harper. (Boeke24)
Dis ‘n “lekkerlees-storie” hierdie oor die ontstaan van Afrikaans, sê Susanne Harper. Haar resensie self lees soos ‘n inventaris van die inhoud van die boek, en die een “lekkerlees”-voorbeeld wat sy gee klink vir my maar taamlik vaal. Só werf mens nie belangstelling nie.

Karretjiemense, deur Carol Campbell. Resensie: Erika de Beer. (Boeke24)
Om hierdie boek te lees, sê Erika de Beer, is soos om die veldblomme in September in die Karoo te sien uitslaan. Haar resensie verklap ontroering en meelewing. Sy vertel bietjies-bietjies oor die inhoud, net genoeg om mens waaragtig nuuskierig te maak. En elke paar paragrawe besef jy dat sy die resensie in gedempte toon skryf, dat sy terughou. Dit is werklik ‘n knap resensie, genoeg om mens respekte te laat kry in alle rigtings: vir die resensent, vir die skrywer, vir die vertaler, vir die mense oor wie die boek handel. Volpunte!

Avatar van crito

by crito

Kalm woorde, groot lof

Maart 19, 2013 in Uncategorized

[vii] deur Gilbert Gibson. Resensie: Marthinus Beukes. (Rapport Boeke)
‘n Digbundel is die enigste Afrikaanse publikasie wat vandeesweek geresenseer word. As mens ‘n oog hou op die “digkuns” wat deesdae Facebook vol lê, dan voel jy oneindig dankbaar dat die verse wat uiteindelik die kritiese oog van ‘n resensent bereik, deur die hande van kundige redakteurs en uitgewers is. En jou dankbaarheidsbeker loop oor wanneer ‘n sterk bundel by ‘n relatief onbekende maar besonder knap resensent uitkom – soos die geval hier is. Ek hou baie van Marthinus Beukes se manier van dinge doen. ‘n Mens voel jy het ‘n taamlik omvattende begrip van Gibson se bundel, en jy sal ten minste met wakker oë begin lees aan die gedigte wanneer jy die bundel voor jou het, danksy Beukes se indringende bespreking. Beukes het ‘n baie kalm toon, en die lof wat hy uiteindelik uitspreek, galm daarom soveel luider.