Skrywersprofiel – Dries Brunt

Skrywer Dries Brunt is een van die mense wat ek laat in my lewe ontmoet het, en bevoorreg voel dat ek wel die geleentheid daarvoor gekry het. Hy het onlangs sy 80e verjaarsdag gevier, en is saam met sy geliefde Maryna in die proses om  na ‘n aftree-oord te verhuis.

Dries het verskeidenheid van belangstellings en ‘n indrukwekkekkende akademiese rekord en werksgeskiedenis. Sy boek, Dagboek van ‘n eensame (as e-boek by Boekemakranka beskikbaar as Ekspedisie Onvervuld, is ‘n fiksieverwerking van ‘n deelname aan ‘n Antarktiese ekspedisie wat hy in 1963/4/5 meemaak. Deur hierdie ondervinding kon hy fiktiewe realisme inbou en saam met sy filosofiese belangstelling die liggaam/siel-eenheid/-skeiding inwerk in ‘n verhaal oor fisieke blootstelling en geestelike oorwinning.

Sy kennis van kuns, musiek, digkuns en wêreldliteratuur is indrukwekkend, en Steve Hofmeyr beskou Dries as sy mentor ten opsigte van die skryfkuns. Hy het meer as 500 boekresensies vir Citizengeskryf.

Mens word ook nie 80 sonder om die lewe te leer ken in sy vele fasette nie. So het Dries boeke geskryf oor onderwerpe waarvan hy persoonlike kennis dra waarvan min mense iets weet, soos ‘n ekspedisie na Antarktika, en die verhaal van dr Gerhard Buchner, wat die aborsiekliniek bedryf het in die vyftigerjare.

Inligting soos deur Dries geskryf, op LitNet:

Ek is in 1933 in Nederland gebore en emigreer in 1949 saam met my ouers na Suid-Afrika. Hier gaan bly ons in Pretoria waar ek, met uitsondering van ’n kort verblyf in Vanderbijlpark, my lewe lank woon. Hier in die Jakarandastad ontmoet ek Maryna Cilliers van Eilandia, ’n plaasgemeenskap naby Robertson, en ons trou in 1959. By haar ouers, wat wingerdboere was, leer ek die lewe op ’n wingerdplaas ken en het dit my en die kinders verryk, ’n nuwe wêreld van plaas, oop vlaktes en swem in die Breërivier oopgemaak en by my sommer ook ’n liefde vir wyn en moskonfyt vasgelê.

Voordat ek by die wyn uitkom het, was daar darem eers skool en universiteit en moet ek u gou vertel hoe dit verloop het. Ek maak klaar met skool toe ek in 1953 vir die laaste keer deur die hekke van die Afrikaanse Hoër Seunskool uitstap, trotse besitter van ’n matrieksertifikaat. Maar nie sommer so nie! Tussen standerd agt en nege maak ek kennis met die lewe soos hy is; een jaar oorgeslaan om in ’n goudmyn (SALLIES in Brakpan) te gaan werk om die familie-inkomste aan te vul. Ons was arm, want Vader het met slegs £12 in sy sak en ’n vrou en vyf kinders hier in die Kaap aangekom, om die verwoesting van oorlog te ontsnap.

Ek was gelukkig om na my laaste skooljaar ’n Yskor-beurs te bekom en behaal ’n BSc-graad in Metallurgie (UP) in 1957. My akademiese prestasie was nie uitsonderlik nie, maar ek het studie tog geniet en later ’n BA in Sielkunde (UP, 1960) ’n BA Hons in Wysbegeerte (UP, 1967) en ’n MA Informatika (RAU, 1984) behaal.

Hierdie verskeidenheid van belangstellings reflekteer ook in my werkgeskiedenis. Na die goudmyn kry ek tegniese opleiding in staalproduksie by Yskor, was ek van 1961 tot 1965 tegniese beampte in metallurgiese navorsing by die WNNR (tydens dié periode is ek vir die 1963 Antarktiese ekspedisie gesekondeer), ontwerp en bedryf ek ’n gemeganiseerde inligtingstelsel vir die yster-en-staalbedryf (net-net voor die rekenaar begin oorvat), was ek projekingenieur by Yskor-Vanderbijlpark-fabriek, en het ek ’n nasionale gerekenariseerde inligtingstelsel vir die WNNR ontwerp en bestuur, waarmee ek my loopbaan as werknemer in 1990 afsluit. My werk by die WNNR neem my na vreemde plekke in die wêreld en bring my as nasionale verteenwoordiger by vergaderings van die International Council for Scientific Unions en die Federation Internationale de Documentation met interessante mense in aanraking.

Na die WNNR stig ek en ’n vennoot ’n maatskappy wat CD ROM-databasisse versprei en tree ek in 1995 uit om voltyds te skryf. In die lange jare by die WNNR het ek wel talle wetenskaplike artikels gepubliseer (een daarvan in 1987 bekroon as die beste artikel van die jaar in die Tydskrif vir Biblioteek- en Inligtingkunde), waarmee my belangstelling vir skryf waarskynlik ’n hupstootjie kry, beleef ek daarna die oorgang van vakkundige skryfwerk na fiksie, en moet ek leer om van verslagstyl na skryfstyl om te skakel. Tans bestee ek my werktyd aan skryf en as medebestuurder van ’n maatskappy, New Media Productions, wat omsien na gesondheidsorg vir ongeletterde mense in ons land.

Dit is hoe die lewe tot dusver met my gewerk het en ek met hom.

Belangstellings? Behalwe vir die gewone dinge waarmee elkeen van ons geseën is, soos krieket kyk, lekker eet (saam met wyn uit die Robertson-streek), kuier, en musiek op Classic FM, is skryf van fiksie, gedigte en essays vir my ’n groot plesier. Lees natuurlik ook en hier kom ek dikwels by my ou vriend, die filosofie, uit. Laastens die skilderkuns, van Impressionisme tot net voor die aanslag van Abstrakisme. (As die woord Abstrakisme vir u vreemd is, gun tog maar die skrywer sy vryheid van spraak!)

Dries, ek eer jou. Alles van die beste vir julle toekoms by die Wilgers-Oord.

Om meer te wete te kom van Dries se  lewensfilosofie, lees sy nuutste e-boek, Funbook.

Funbook3

Kliek hier vir ‘n lys van al Dries Brunt se e-boeke op Amazon

Boeke ook inepub beskikbaar by Kalahari en Leserskring, Kobo en MyBooks.

Los ’n antwoord.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.