You are browsing the archive for LitNet.

Oscar Pistorius: Die perfekte storie?

February 15, 2013 in Geen Kategorie

Hoekom is die vreeslike gebeure rondom die dood van Oscar Pistorius se meisie die perfekte storie?

Dit het reeds ‘n ongelukkige einde, om die minste te sê, selfs al is daar nog nie ‘n hofuitspraak gemaak nie. ‘n Gelukkige storie trek nie soveel aandag as ‘n ongelukkige storie nie. Trouens, as skrywers net gelukkige verhoudings in hul verhale uitgebeeld het, het nie een van hulle boeke verkoop nie. Hou die twee romantiese karakters so ver en so lank moontlik van mekaar af weg gedurende die storie. Anders wil niemand dit lees nie. Geluk is nie interessant nie. Hierdie storie is die teenoorgestelde van gelukkig. Ek dink dis min of meer hartverskeurend.

Oscar Pistorius is beroemd. Nie net beroemd soos in hy het 1 100 Facebook-vriende nie. Oscar Pistorius is ver daarby verby. Met sy lemme aan sy bene, beweeg hy in ‘n ander stratosfeer. Die gesig van 2012 se Olimpiese Spele. Les bes, die bitter aantreklike gesig. Die gestremde atleet met die helder oë en weerlose mond. En al die foto’s wat nou van sy gewese vriendin geplaas word? Daar’s nie ‘n gemaklike Afrikaanse woord daarvoor nie. Sy was ‘n pin-up girl.

Skoonheid. Oscar Pistorius lyk so goed op foto’s. Van al die internasionale koerantvoorblaaie van die dag vanoggend, was die Irish Times s’n vir my die allerbeste. (Die foto is nie meer op hul tuisblad nie, dis al vervang soos wat nuwe strata nuus bygekom het en ek kry dit nie meer opgespoor nie.) Op die foto word Oscar Pistorius se gesig van die reklamebord van M-Net of DStv verwyder. Sy gesig lê groot, grotesk en verkreukeld op ‘n groen grasperk.

Geweld in Suid-Afrika. ‘n Lieflingtema. Sekerlik oor dit ‘n probleem is. Maar steeds ‘n tema waaroor niemand uitgepraat raak nie. Want almal is bang vir doodgaan.

Om die raaisel te ontrafel is verslawend. Niemand weet wat regtig gebeur het nie. Almal bespiegel onophoudelik. Bo-oor die Staatsrede, bo-oor enige groot nuus of alledaagse gebeure … hierdie storie trek aandag op buitengewone skaal.

Valentynsdag. Toe gebeur dit ook nog op Valentynsdag, maak nou nie eens saak wat die ware gebeure rondom die saak is nie. Ons weet nie iets anders nie. Ons weet net die vreeslike gebeure het toevallig in die vroeë oggendure van Valentynsdag gebeur. Die kersie op die koek.

Die joernaliste is nog lank nie uitgepraat nie. Hierdie bepeinsing oor die Britse media se hantering van die storie, laat mens nogal dink.

Maar snaaks, hierdie is dalk die perfekte intrige-materiaal, maar glad nie ‘n lekker slaaptydstorie nie. En mens wonder of enigiemand gaan rus totdat dit duidelik is wat regtig op 14 Februarie 2013 gebeur het.

Naskrif. Vergewe my as ek nie bespiegelende kommentaar oor wat gebeur het, hieronder kan lewendig merk nie. Totdat die reg sy loop geneem en die hof ‘n finale uitspraak gemaak het, is alles rondom hierdie gebeure regtigwaar net fiksie (en ons almal skrywers van ons eie denkbeeldige verhale van wat hier gebeur het).

Al die blikkitare in die K(r)amer

January 11, 2013 in Geen Kategorie

“Dis koel hier in die kamer,
my naam is David Kramer …”

Só open hy die vertoning op ‘n koelerige Januarie-aand voor ‘n stampvol saal.

Ek’s by die vertoning Kalahari Karoo Blues van David Kramer. David Kramer kom met sy rooi skoene op die verhoog gedans. Reeds op die verhoog, staan ‘n onbekende klompie. ‘n Orkes en dan ‘n paar mense: ‘n vrou met ‘n geboë hoof en ‘n verslete Voortrekkerkappie daarop en ‘n man met ‘n doktersjas, onder andere. Agter hulle almal op ‘n doek is groot, bont skilderye wat deur ‘n projektor mekaar afwissel. (Gedurende die pouse vertel iemand my David het self die kunswerke geskep.)

Die agtergrond van die vertoning is dat David Kramer gehoor het van musikante in stofdorpies en dat hy hulle gaan opsoek het. Mense wat kitare met teelepels bespeel. Mense wat viole bou van blik. Mense wat rieldans. Mense wat sing dat jou hart daarvan breek. Hy het hulle gaan vind en hy het sommige van hulle saam op die verhoog by hom gehad gisteraand: vir Hannes Coetzee en vir Mary Kriel (kyk na Mary Kriel se foto heel bo – sy was ook verlede jaar by die ATKV se Rieldanskompetisie) en vir Oteng Piet.

David gee vir ons almal agtergrond van hoe hy die aand se kunstenaars opgespoor het en van dan weg met “My naam is Pepsi-Cola”. Dié lied is geskryf deur Dawid van Rooi van die Koue-Bokkeveld. Dit was een van waarskynlik twee of drie liedjies wat David self gesing het. Die res van die tyd het die ander mense op die verhoog gesing, hul musiekinstrumente gespeel of hul danse gedans. Kortom, hulle het die stories vertel.

David Kramer was die narrator. Hy het tussendeur vertel wie is volgende aan die beurt. Bietjie agtergrond gegee van elkeen. Dalk was hy net die gom wat die boek se papiere aan die omslag vasgeplak gehou het. Want die groot storie is vertel deur al die ander kunstenaars. Ja, ek noem die mense met hul gehawende klere inderdaad “kunstenaars”.

In ‘n ander bloginskrywing, het ek verwys na die olifante in die kamer.

Ons almal ken olifante in kamers, vandat ons baie klein is, nog voordat ons woorde het om daaroor te kán praat. Ons ken die skuif van atmosfeer, die rimpelings wat ‘n slegte atmosfeer deur ‘n vertrek kan stuur, hoe toksies dit mens se binnekant laat voel. Of wat ‘n lekker atmosfeer kan veroorsaak. Dit kan jou wêreld verander. En niemand hoef ‘n woord daaroor te praat nie.

Die olifant in die kamer is dieselfde. Maar hy is ‘n moeilike kalant. Almal sien hom, almal wéét hy is daar, maar niemand praat oor hom nie.

Dis wat ek hulle noem: kunstenaars. Ten spyte van die groot olifant in die kamer (elkeen van ons se vooropgestelde idees en stereotipiese idees van mekaar), het die mense op die verhoog – wat nie oor universiteitsgrade of dalk eers lopende water in hul huise beskik nie – kunstenaars in eie reg geword vir die gehoor, wat weer op hul beurt bestaan het uit uitgelese joernaliste en mede-kunstenaars van alle kultuurgroepe.

Die twee kragtigste komponente van die vertoning was vir my toe Mary Kriel met haar uitgewaste, pienk Voortrekkerkappie opstaan en begin sing.

Hier is Mary Kriel (foto: Naomi Bruwer).

Hier is die lied wat sy gesing het:

“Daar het ‘n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges
‘n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry …”

Praat van om stereotipes op die kop te keer …

Die ander mees kragtige komponent van die vertoning was vir my die lied wat ene Ruth Hector, lid van die Sonskynsusters, gesing het. Die lied is geskryf na die dood van Helena Nuwegeld en is getiteld: Calvinia.

Hier is Facebook-reaksie, vanaf David Kramer se blad, op Ruth Hector se vertolking:

Op pad terug huistoe, na die vertoning, het ek gedink aan nog ‘n olifant in ‘n baie groter kamer, wat die hele land Suid-Afrika is. ‘n Kollega, wat die vertoning saam met my bygewoon het, vertel my sy het gehoor sommige van die mense wat gisteraand by Kramer se show opgetree het, is plaaswerkers en dis eers na aanleiding van hierdie vertoning dat hul werkgewers van hul notisie geneem en hul menswaardig begin behandel het.

Ek het gehoop die (middelklas-)gehoor gaan die (werkersklas-)kunstenaars ‘n gelyke kans gee om te wees wie hulle werklik is, soos wat David Kramer reggekry het met die vertoning gisteraand. En omgekeerd: die (werkersklas-)kunstenaars op die verhoog – kan hulle ook die (middelklas-)gehoor ‘n gelyke kans gee?

Nee, nee … daar hoef nie ‘n olifant in die kamer te wees nie. Ons hoef niemand se talente meer mis te kyk nie. Vergeet die olifante. Laat daar eerder ‘n blikkitaar wees. En ‘n saalvol musiek.

Groete, Naomi M

Naskrif: hier is ‘n YouTube-video waar David Kramer by ‘n ander geleentheid nog agtergrond gee van die Kalahari Karoo Blues-storie.

Kalahari Karoo Blues is nog by die Baxterteater tot 19 Januarie. Bespreek by Computicket.

The Little Mermaid

December 24, 2012 in Geen Kategorie

 

Dis vakansie vir sommige en beslis vir skoolkinders. Maar net omdat hulle nie in die skool of kleuterskool is nie, beteken dit nie die kleinspan hoef niks te leer nie. Daar’s ‘n geleentheid in die Kaap om hulle in die tradisie van Oscar Wilde op te voed. Of dalk net deur middel van Hans Christian Andersen.

Die toneelstuk The Little Mermaid is op die oomblik in die Baxterteater aan die gang. Mariana Malan skryf ‘n baie goeie resensie hieroor in Die Burger.

Die lekkerte van die toneelstuk begin reeds as mens die teater binnestap. Die mense by die Baxter het moeite gedoen om die kleingoed onmiddellik in ‘n ander wêreld in te neem. ‘n Mens stap deur ‘n onderwatertoneel om die teater binne te gaan. Die skatkis se skatte en die blink liggies glinster tussen die visnette.

Laat ek my daarvan weerhou om te veel te wil analiseer. Ons almal weet mos wat water voorstel. Die ander domein. Die toetree van primordiale dieptes. Maar dit het regtig gebeur, daardie soort towerding. Ons almal het by die ingang van die teater Kaapstad verlaat en ‘n ander ruimte betree.

Die verhoog is slim beplan. Hoe maak mens nou om ‘n meermin met haar stert te laat rondbeweeg, sonder om haar heeltyd staties op die verhoog te laat sit? Mens bou ‘n see, dis wat Fred Abrahamse en Marcel Meyer se span gedoen het. Die branders is blou seile en daaronder is die akteurs se bene versteek. Wat die gehoor sien, is alles wat bo die oppervlak uitsteek. Visse en krappe en meerminne word op die oog af moeiteloos so uitgebeeld.

Die toneelstuk neem die verloop van die Walt Disney-weergawe van die verhaal en kies ook om die gelukkige Walt Disney-einde aan te wend, eerder as die Hans Christian Andersen-weergawe met sy komplekse einde.

Die foreshadowing vind van die begin af plaas: die meermin stel so intens belang in die wêreld bo die water, dat die gehoor kan voorspel sy gaan ondersoek instel na die lewe van die mensekinders. En, op sy skip, sug die prins omdat hy gedwonge gaan moet vrou vat – al wil hy nie. Die meermin en haar toekomstige prins is albei vasgevang in hul omstandighede. As daar net één aspek van hulle albei se lewens verander, kan hulle wel mekaar se ewige geluk verseker. As haar wens maar net bewaarheid word en sy ‘n mensekind met bene raak, en as die prins maar net sy ware liefde in haar vind, kan hulle albei gelukkig wees in hulle omstandighede.

Wat as … wat as …

En dan, vanselfsprekend, iemand om albei se planne en ewige geluk in die wiele te ry. Die opwindende seeheks en haar trawante.

Maar die seeheks se versugting na mag veroorsaak natuurlik haar eie ondergang, soos ons weet. En die geluk van die twee hoofkarakters seëvier uiteindelik.

Die teks en die liedjies van hierdie weergawe van The Little Mermaid is oorspronklik. ‘n Groot pluimpie vir die span dat hierdie produksie regtig wérk vir jong kinders. Dis nie Walt Disney-stroperig nie, maar dis nie vreesaanjaend nie. Die noodsaaklike gedeeltes van die verhaal word vertel, maar alles wat onnodig is, word uitgesny. Die lengte van die stuk is net reg. Dis ‘n uur lank en dis al.

‘n Vinnige meningspeiling onder sewe van die kinders wat hierdie toneelstuk bygewoon het, toon die gewildheid van die seeheks en haar palings (ja, die palings word spesifiek uitgesonder; vir my is hulle die ekwivalent van Knersus se tande-makkers in sy grot). Hierdie karakters is duidelik nie “goed” nie, soos die kinders vir my vertel. Maar die kinders vind hulle opwindend. Twee van die dogtertjies hou sonder twyfel die meeste van die meermin. Een van die mede-ma’s sonder die meermin se kostuum uit. Hier is moeite gedoen.

Uit volwasse oogpunt is die twee hoofkarakters nie die mees opwindende karakters nie. Daar is dalk nie heeltemal genoeg humor om ‘n volwassene te bekoor soos wat Walt Disney se uitstekende animasieflieks kan doen nie – dink maar aan nog ‘n onderseeverhaal, Finding Nemo, en met hoeveel genot ‘n grootmens dit saam met ‘n kind kan kyk. En wat is fout daarmee om Hans Christian Anders se “donkerder” (en oorspronklike) verhaal aan te pas vir die teater en dit eerder vir die kinders te voer, eerder as ‘n maklike gelukkige einde? (Maar laasgenoemde is onnodige kritiek. Net so goed om agterna vir jou kind die Hans Christian Andersen-storie te lees soos hy is en daaroor te gesels. Hierdie weergawe sal waarskynlik nie so goed werk op die verhoog nie.)

Maar dit ontneem glad nie hierdie produksie van sy belang of sy vreugde nie. Hierdie teaterstuk is iets gans anders as ‘n fliek. Dis lewendige teater en dis noodsaaklik. Kinders kry op ‘n wonderlike manier deur middel hiervan toegang tot die vreugde van teater. Hulle kan later leer van al die subtekste en self ontleed wat hulle op die verhoog gesien het. Vat hulle sommer nou al, dan raak die teater deel van hulle verwysingsraamwerk.

Duik in by die Baxter, meerminne en meermanne!

Jy het nog kans tot die 5de Januarie om jou kroos Baxter toe te neem om The Little Mermaid te gaan kyk. Sterk aanbeveel!