You are browsing the archive for Geen Kategorie.

#

December 21, 2015 in Geen Kategorie

Onthuts weens die huts?

LitNet se onlangse Afrikaanse woord van die jaar-kompetisie lok baie uiteenlopende reaksies uit. In dié kompetisie is die # aangewys as Afrikaanse woord van die jaar. Maar dis nie eens ‘n woord nie, word gesê. Ook: dis beslis nie Afrikaans nie.

So min as wat dit nodig is om ‘n nuwe tablet of slimfoon vir ‘n generasie-Y-persoon te verduidelik, so min hoef die # aan hul uitgelê te word. Vra hulle eerder om vir jou te verduidelik: #askyourchild.

Maar dalk is jy ook nog in die vorige eeu gebore. Lees dan verder.

Vir enigeen met ‘n klassieke musiekagtergrond, roep die #-simbool ander verwysings op. Wanneer bladmusiek neergeskryf word, verhoog die #-simbool (kruis) die daaropvolgende noot met ‘n halftoon. Kruise en molle is as standaardpraktyk tydens musiekkomposisie aanvaar gedurende die agtiende eeu.

Die naam van die # op die wêreldwye web was oorspronklik “oktothorp” (lees hierdie artikel). Die woord het glo te doen met die simbool se agt punte en die van Thorpe. Die van Thorpe is afgelei van ‘n Middelengelse woord wat “klein dorpie” beteken.

Die # sorteer inligting. Sedert 2009 word die simbool op Twitter gebruik om idees onderling met mekaar te verbind. As jy vandag spog met jou prestasies onder die vaandel #feelingblessed, sal jou inskrywing hom bevind in die geselskap van ander mense wat ook hierdie selfde hutsmerk-emosie gebruik het.

Die # was vanjaar wêreldwyd ‘n simbool wat mense mobiliseer, opgeroep, saamgegroepeer en uitgesluit het. Dink maar aan #jesuischarlie, #rhodesmustfall, #openstellenbosch, #feesmustfall, en #zumamustfall.

Verskillende #-veldtogte het vanjaar op LitNet saamgegroepeer tot ‘n steedsvoortgaande university seminar-onderafdeling.

Popkultuur-hashtags is ook gewild op die oomblik, soos #starwars of #theforceawakens.

Wêreldwyd was die mees gewilde # vanjaar #AlDub. Google vertel dis ‘n Filipynse glanspaartjie, fiktief boonop, as ek reg verstaan (spruit voort uit ‘n realiteitsprogram).

Die # gee dus perspektief: ons kleingesprek, in ons Suid-Afrikaanse nedersetting, is maar net een van vele.

#GeseendeKersfees

Naomi Meyer

Blogs skuif vandag na nuwe bediener

December 10, 2015 in Geen Kategorie

Hallo LitNet-bloggers

LitNet se blogruimte verskuif vandag na ‘n nuwe bediener. Geen nuwe materiaal gaan gestoor kan word op die huidige bediener en blogruimte nie. Die proses behoort vroeg in volgende week afgehandel te wees. Daarna sal hierdie blogruimte weer nuwe bloginskrywings kan akkommodeer en stoor. Groete, Naomi Meyer, LitNet-inhoudsbestuurder

LitNet-blogs op die radio

June 19, 2014 in Geen Kategorie

Hallo bloggers

Vanoggend – op hierdie oomblik – is daar ‘n gesprek op RSG aan die gang wat handel oor blogs. Die gesprekvoerders het nou al gesels oor waarom mense blog (die algemene gevoel is dis ‘n openbare dagboek-van-ouds), hoe om te blog (kies ‘n genre, was hulle raad … wat sou julle reken beteken dit vir die LitNet-bloggers?) en ook is die LitNet-blogruimte pas genoem as een van die plekke waar mense gratis kan blog en waar ander Afrikaanse mense die blogs kan lees.

“Hier,” kondig een van die gesprekvoerders aan, “is mense wat ook erotiese bloginskrywings skryf. Dit was vir my nogal … ontblotend om dit die eerste keer te lees.” (Wie se blogs dink julle is die blogs waarvan sy praat, sommer uit pure nuuskierigheid?)

Ek weet hierdie is ‘n vraag waaroor julle wonder, so toe hulle vra “hoe bemark mens jou blog?”, het ek my ore gespits.

Wenke: Dink aan die woorde wat jy self die meeste Google. Gebruik daardie woorde dalk in jou blog se naam, of in jou opskrif. Voorbeelde wat hulle hier noem is “easy” en “cooking”.

Hoe belangrik is dit om mooi suiwer te skryf? Jy kan skryf soos jy praat. Dis jou eie platform.

Hoe dryf jy verkeer na jou blog toe? Gebruik die sosiale media. Nooi mense vanaf Twitter of Facebook. Maar Google sê: “Content is king.” So jou blog moet so geskryf wees dat mense wil terugkom.

Jou blog se uitleg moet maklik leesbaar wees. En moenie te lank blog nie. En daarom sluit ek nou af!

Groete, Naomi M

BuddyPress, JetPack en ander wenke

May 30, 2014 in Geen Kategorie

Bloggers

Wil jy die mees asemrowende resultate sien? Daar kan vuurwerke op jou blog plaasvind.

Weens die baie klagtes oor dinge nie na wense op LitNet se blogruimte werk nie, het LitNet indiepte gaan ondersoek instel. Die raaisels is besig om opgelos te word.

Soos julle weet, word die blogs op WordPress gehuisves. BuddyPress is inherent deel van die LitNet-blogs en volkome met hierdie blogruimte versoen en hierby geïntegreer. BuddyPress maak van LitNet ‘n gemeenskap, ‘n multi-blog-platform.

Die naam BuddyPress verklap sy oogmerk: hy wil samesyn bewerkstellig. Ons kan ‘n poësiegroep stig. Ons kan julle uitdagings, soos met kleure, of met foto’s, of met ander tema-besprekings, hier sorteer. Of kompetisies hier hou.

Hier’s wat jy solank kan doen om jou blogervarings te verbeter:

1. As elke blogger asseblief agter die skerms gaan kyk na temas (Themes), sal jul sien dat jul kan kies tussen BuddyPress LitNet-blog en Twenty Eleven. As jy wil hê jou blog moet optimaal werk, kies asseblief die BuddyPress-opsie. Hierdie tema is besig om bygewerk en verbeter te word sodat julle dit na jul eie smaak kan gebruik en verander (te customize). Baie van die probleme tot dusver is veroorsaak juis omdat BuddyPress nie versoenbaar is met die Twenty Eleven-opsie nie. As jy by BuddyPress ingeteken is, kan jy kennisgewings (notifications) ontvang van vriende, jy kan groepe (circles) stig, en ons wil ook soms aandag vestig op blogs wat ons aandag trek. Soms wil ons eerder julle blogs uitlig op ons tuisblad as LitNet se blog. Dit kan slegs gedoen word as almal se blogs ook die BuddyPress LitNet-blog-opsie gekies het.

2. Die CAPTCHA-kode is een van die maniere wat help om te keer dat robotte nie aanmeld as legitieme bloggers nie. Wanneer ‘n nuwe blogger dus registreer, word dit van hom vereis om die CAPTCHA-kode in te tik. Dit sal egter nie verlang word elke keer as iemand wil kommentaar lewer nie. Dan speel elke blogger self hekwag (deur die kommentare op jou eie blogwerf te modereer – en te kies wat hier gepubliseer word).

3. JetPack is ‘n nuwe inprop. Kyk asseblief agter die skerms van jou eie blog, in die paneelbord. JetPack staan in die linkerkantste kolom taamlik hoog op die lys. Registreer hier om ‘n paar aspekte van jou blog meer genotvol te maak, soos om jou blog met ander sosiale media-blaaie, soos Facebook, te versoen. (Jy sal wel sien dat as jy probeer om JetPack te installeer, sal die sisteem jou vra om ook by WordPress in die algemeen in te teken. Dis gratis en word verlang as jy JetPack saam met jou blog wil gebruik.) Kyk na die LitNet-blog om die logo’s van Facebook, Twitter, ensovoorts, te sien. JetPack is reeds hier geïnstalleer. As jy ook van die toekomstige veranderinge wil aanwend, installeer dan ook JetPack op jou eie blog.

4. Ons het gesels oor die groottes van die blogs se foto-inhoud. Daar is ‘n beperkte grootte, maar dis moontlik om foto’s op byvoorbeeld Flickr te laai en die skakels op jou blog te deel.

Ek sal gaandeweg nog wenke deel – hoop hierdie help al ‘n bietjie.

Groete, Naomi M

Gemorspos!

May 14, 2014 in Geen Kategorie

Sal die regte bloggers asseblief opstaan?

Ek herken julle darem wel tussen die ander ouens, diegene wat ek probeer uitwis. Hoor hoe klap die skote in die rigting van die ouens wat nie hier hoort nie: CAPTCHA, CAPTCHA …

In alle erns, ons verneem 24.com het dinge verander en LitNet se anti-gemorspos-inproppe word bygewerk. Ons hoop alles is binne die volgende paar dae volkome uitgesorteer.

Verskoning hieroor.

Groete, Naomi M

Op Tafelberg sonder ‘n kamera

April 28, 2014 in Geen Kategorie

Tafelberg. Wikipedia sê dis 1084 meter bo seespieël. Maar het die berg se ware hoogtepunt die selfie geword?

“Het jy toe die kamera in die rugsak gesit soos ek jou gevra het?” vra die wederhelf met sy een voet op die kabelkar. Ons seuntjie het ook gepraat terwyl hy die vraag gevra het en die dogtertjie het oor iets gekla, so dis moontlik om voor te gee dat ek hom nie gehoor het nie. Ongelukkig is hierdie nie ‘n leuen waarmee ek lewenslank saam sal kan leef nie. ‘n Antwoord word so vinnig soos ‘n Facebook like benodig: onmiddellik. Die skare toeriste rondom ons raak ongeduldig. Ons bondel almal in die kabelkar in, skouer teen boepmaag, elmboog teen tablet. Nóú. Ek kan nie langer huiwer nie. Maar ek kies om eerder nie te antwoord nie en draai weg. Ons albei weet dat die wederhelf se selfoon so antiek is soos die oorspronklike kabelkar wat aan die voet van die berg uitgestal staan. Dit kan nie foto’s neem nie. Ons weet ook dat ons, toe ons by die motor daar doer onder uitklim, vasgestel het dat my eie selfoon se battery te pap was om aan te skakel, wat nog te sê foto’s te neem. Ek kyk weg van sy gesig. My oog vang die woorde op die uithangbord: “Table Mountain, one of the world’s seven new wonders of nature.” Toe kyk ek verder weg, per ongeluk deur die slimfoonskerm van ‘n medekabelkarreisiger – op teen die sweefspoor, op na die magtige berg daarbo.

Kyk, daar is reeds spore op die maan. Almal was al op Tafelberg. Toeriste wat hulle in ons gesin se kameralose posisie bevind, sal bevredig kan word deur ‘n poskaart op die berg. T-hemde. Koffiebekers. Badskuim in Tafelberg-vormige houers. Maar ons wóón hier naby. Ons moes reeds ‘n tweede huislening aangaan om vandag vir die kabelkarrit te betaal. Dis die einde van die maand. Enige ekstra uitgawes is nie ‘n opsie nie. Iemand het ‘n foto van ons geneem, toegegee, ‘n onverwagse inligtingsbeampte by die ingang. Nou-nou, toe dié persoon met die amptelike hempie “Cheese!” met ‘n kamera beveel, het niemand van ons gesin geglimlag nie. My kinders het gehuil omdat daar nie regtig kaas opgetower is terwyl hul so uitgeput was om deur hulle ouers honderde meters ver van die motor af tot by die kabelkar gedra te word nie. As ons die motor kon verkoop om later vir daardie foto as aandenking te betaal, sal niemand van ons eens goed daarop lyk nie. Dikgehuilde oë, dik bekke. En dis net die ouers. Dis nou te sê as niemand die motor steel oor die kamera oop en bloot daarin lê nie.

Ondertussen het die kabelkar reeds halfpad teen Tafelberg op gevorder. Die toeris het haar elektroniese toestel geskuif, so ek kry dit reg om die berg onbelemmerd te sien. Die fynbos stippel tussen die growwe rotse. Terwyl die kabelkar roteer, skuif die see voor die lens van my oog in. Die volgende toeris versper weer die uitsig. Maar daar was ‘n oomblik lank vir my kans om te kýk.

Bo-op die berg is daar ‘n gat. Dis in my bors. Almal neem foto’s van hulleself hierbo, al wat ek het is my volmaakte kinders en man met die asemrowende stad en ewige see waarin die son dans, daaronder. Hoe gaan ek maak? Ons is hierbo en ek kan dit aan niemand bewys nie. Ek is op die berg der berge. Wie sal my glo? Kan ék dit glo?

Gelukkig is daar Britte wie se kinders ook soos ons s’n oor klippe val. Ek identifiseer met hulle. Ek skraap die vrymoedigheid bymekaar om hulle te vra om ‘n foto van ons gesin te neem. Die man stem dadelik in. Ons gaan staan op ‘n rots met Robbeneiland in die verte daar onder.
“Cheese!”
Kliks. Die verligting spoel oor my.

“Hoe was dit vir julle?” vra ek agterna vir almal, dalk om die dag se uitgawes aan myself te regverdig.
“Mooi,” brom iemand, toe ek kwaai na hulle kyk.
Is dit ál? Daar moet méér wees. By gebrek aan ‘n beeld, kort daar byvoeglike en beskrywende naamwoorde.
Ondertussen is daar Facebook likes as gevolg van die gesinsfoto op Tafelberg wat nou daar pryk. Ek begin rustiger voel.

My seuntjie knip ‘n prent van Tafelberg uit tinfoelie en plak dit op ‘n papier. Hy wil dit die volgende dag vir sy klas gaan wys. Die bewysstukke groei.

Die aand, met die kinders se slaaptyd, is daar ‘n paar woorde, sonder dat ek aanpor.
“Mamma, het jy die pers blomme gesien?”
En: “Die see, Mamma. Dit was blou. Dit was groot.”
Daar is vandag foto’s geneem van die natuurwonder, ons het geleef en dit gedeel. Maar dalk was die belangrikste foto’s tog die oogkiekies.

Groete, Naomi M

Kommentaar

April 24, 2014 in Geen Kategorie

Hallo bloggers, ek hoor jul hulpgeroep. Ek vra 24.com om dringend aandag te gee aan die kopseer wat jul almal ervaar om kommentaar te lewer. Dankie dat julle my laat weet het hiervan, ek hou jul op hoogte. Groete, Naomi M

Stellenbosch – affer innie pad

March 15, 2014 in Geen Kategorie

“Die hospitaal daar in Cloetesdal,” beduie ons gids met die hand, “lyk altyd soos die beach op Tweede Nuwejaar.”

Almal in die taxi lag. Ek dink aan die verkeersknope waarin ek en my gesin self oor die Kerstyd rondom die strande vasgesit het. Die gids-akteur se beeld is duidelik en treffend. Maar agter die grap lê ‘n wrang waarheid: mediese dienste in Cloetesville is oorlaai. Dit lyk nie soos die soort versorging wat mens opper innie pad, in Stellenbosch se goeie buurte kan verwag nie.

‘n Ruk gelede het ek met die akteurs gesels wat die taxi-huiskonsert Stellenbosch – affer innie pad aanbied. Vandag ry ek saam in hulle taxi.

As mense die geskiedenis herskryf, lag niemand gewoonlik nie. Dis mos maar ‘n delikate saak. Die maghebber hou die pen vas en diegene wat dink hulle stories en hulle verlede is van groter belang, moet maar hulle woorde sluk. Maar die twee akteurs saam met wie ons vandag ry, vertel ‘n storie van Stellenbosch wat min mense ken. Dis ‘n ander geskiedenis as die een waarin Simon van der Stel ‘n hoofrol speel. As Simon in die storie voorkom, hang sy onderrok lelik uit. Tog hou op mens selde op om vir die verhale te lag. Dalk lag mens die heel hardste vir mensself.

Verlede Saterdag het ek saam met Nicola Hanekom bus gery met Trippie. Vandag s’n is iets gans en al anders.

Ons sit knus en knap, been teen elmboog ingeryg. Ons ry tussen die argitektuur van Kayamandi, ons beskou hul restaurante (skaapkoppe op oop vure). Als, natuurlik, bewoording by ons gids gesteel.

En het ek my verspreek deur van Cloetesdal te praat, reg aan die begin? Plaaslike inwoners weet dat Cloetesville die Dal is en Idasvallei die Vlei. En in die Dal daal ons affer en affer, Smartietown binne. Kinders speel in die riool. Later kronkel ons terug na Langstraat. Ons ry by skole verby, ook ‘n teater. En uiteindelik gaan eet ons Kabous se vetkoek en drink wyn in die huis wat die akteurs ons vertel hulle s’n is.

Foto: Kabous Meiring

Teen daardie tyd het hulle ordentlik met my kop gesmokkel en vra ek een van die mede-gehoor-saamryers of die twee akteurs dalk werklik getroud is. Vir my is dit nie meer onrealisties dat die huis dalk werklik aan hulle behoort nie. Toe lui die telefoon. Mathilda antwoord en haar gesig verander.

“Gou,” beveel sy. “Sit neer julle glase, dissie ons hysie.”

Ons is terug in die toneelstuk. Almal word teruggeboender in die taxi’s. ‘n Baie slim manier om ‘n soort produksie af te sluit wat ek vermoed nog nooit aangebied is nie.

Dalk is hierdie nie heeltemal so ver verwyderd van Trippie in een opsig nie. Ons neem deel. Ons het vrywillig ingeklim, maar as die deur agter ons toegetrek word, is daar van wegvlug van die sosiale kommentaar geen sprake nie.

As ironiese naskrif tot die rit moet ek my seuntjie met ‘n hoë koors en stywe nek noodgevalle toe neem vroegaand. Ek mis die Woordfeesproduksies van opper innie pad vanaand. Maar dis ‘n vals alarm, net ‘n lastige virus. En die Mediclinic is besig, maar dis nie die strand op Tweede Nuwejaar nie. ‘n Paar lepels Panado later by die huis is daar introspeksie, opper innie pad.

Groete, Naomi M

US Woordfees 2014: ‘n Gehoor wat nie net kyk nie, maar deelneem

March 12, 2014 in Geen Kategorie

Die US Woordfees vind net een maal per jaar plaas. Dis wild, woes en wonderlik, hoor ek iemand sê. Ek beaam.

Vroeër die week het ek Nicola Hanekom se Trippie beleef. Ek het ‘n vertoning meegemaak waar ek as lid van die gehoor nie net passief kon sit en kyk nie, maar moes deelneem aan wat rondom my gebeur.

Dis die ideaal, dink ek toe, vir die kunstenaar in elk geval. Om mense wat kuns kom beleef uit te daag sodat hulle kan dink oor ‘n produksie. Mens kan nie afsydig staan jeens iets waaraan jy deelneem nie.

Saam met my kinders het ek ‘n verdere praktiese demonstrasie hiervan beleef. Ons het Liewe Heksie en die rolskaatse gaan kyk. Gedurende hierdie vertoning gebeur die voorspelbare, vir jou as volwassene, in elk geval. Karel Kat stap op die verhoog en steek Liewe Heksie se geskenk weg.

"Maatjies," praat hy met die gehoor. "Moet nou nie vir Liewe Heksie sê waar ek haar present gebêre het nie …"

Wat gebeur wanneer hy van die verhoog af padgee en Liewe Heksie weer haar verskyning maak? Reg geraai. Terwyl almal vir haar skree: "Heksie, kyk in die boks!", besef ek: Karel Kat het die deelname van die gehoor suksesvol geaktiveer.

Hier vertolk die slimme Margit Meyer-Rödenbeck die domme heksie op die verhoog.

Terug na die grootmense, wat nie vanjaar by die fees apaties kan staan nie.

In die produksie, Die Goëlaar, word die oë verblind. En met die kop gesmokkel. Daar word gepeins oor die lewe as illusie. Hier is ‘n onderhoud met die regisseur. En natuurlik kan enigeen uit die gehoor wat sy bereidheid verklaar, ‘n vrywilliger wees.

Hoe die man dit regkry om grootmense so ‘n rat voor die oë te draai, weet net hy alleen.

Meerfout, deur die Polony-groep, veroorsaak weer andersoortige interaksie. Jy mag op jou plek bly sit. Maar in jou kop gaan jy ver reis, wil ek amper waarborg. Onder al die strata van wie mens is, gaan daar iewers ‘n laag wees wat herontdek word terwyl die twee aktrises op die verhoog is. Die sinergie tussen die twee is fantasties, die teks vars. Dis nie gemaklik en ongekompliseerd om ‘n mens te wees nie. Soms sny die teks diep. Dikwels lag die gehoor baie hard vir die herkenbaarheid van die karakters se belewenis. Die effek: denk-deelname?

En, terug by die plek waar ons begin het. Van kinders en die plek waar die interaksie met die kuns begin, gepraat …

As jy in Stellenbosch is, maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie, gaan besoek die uitstalling van Geliefde TV-sterre.

Die US Wooordfeesprogram beskryf wat jy hier kan verwag:

Kom ontmoet 200 marionette, staaf- en handpoppe wat oor die afgelope 39 jaar deur die Klein Marionette-geselskap en die eertydse modelbou-afdeling van die SAUK-televisiediens ontwerp en vervaardig is. Maak van naderby kennis met die geliefde eerste poppekarakters wat op Suid-Afrikaanse televisie kom praat en kykers betower het, soos ’n gerestoureerde Liewe Heksie, Karel Kraai, Sarel Seemonster, Bennie Boekwurm, Knersus en Oscar. Karakters uit teaterproduksies, soos Die Sielehandelaar, Die Reëngodin, Bang vir ’n Slang, Die Klein Prinsie, Repelsteeltjie en ’n hele paar ander wat gebruik is vir nasionale en internasionale opvoerings, word ook uitgestal.
7 – 16 Maart vanaf 09:00 | Radio Helderberg Klein Libertas Teater | Gratis

Ek en my hele gesin het gaan kyk. Hierdie slag is slegs interaksie met die oë toegelaat.

Weer eens, hoe voorspelbaar. As mens vir jou driejarige dogtertjie sê: "Nee, moenie vat nie …", kan iemand raai wat gebeur …?

Daar mag nie foto’s by die uitstalling geneem word nie. Clifford Roberts het toestemming gekry en hy wys vir ons drie van sy foto’s.

Groete! Naomi M

Nasionale Melktertdag: 27 Februarie 2014

February 26, 2014 in Geen Kategorie

Daar’s nou al ‘n gedenkdag vir elke geleentheid. Hoe klink Asemhaaldag as volgende voorstel? Grappies op ‘n stokkie. Nasionale Melktertdag klink eintlik vir my nogal lekker.

Wie het al die Portugese handtertjies raakgeloop, pastéis de nata? 2010 in Portugal het dit my baie sterk aan melktert herinner. Ek het die res van my gesin se vakansieplanne van tyd tot tyd ontwrig deur aan te dring daarop dat ons by obskure kafees aandoen om hulle weergawe van die lekkerny te proe. Elke slag was ek verlig dat, ongeag hoe bedenklik die opset of selfs die tertjie gelyk het, hulle vorentoe gesmaak het. So lyk die pastéis de nata op Wikipedia:

Hier’s iemand wat wys hoe dit gemaak word.

Vir diegene wat nie die Portugees verstaan het nie (um, ek het ook nie), wil julle nie laat wat is jul beste melktertresep nie?

Groete, Naomi M