You are browsing the archive for 2014 April.

Op Tafelberg sonder ‘n kamera

April 28, 2014 in Geen Kategorie

Tafelberg. Wikipedia sê dis 1084 meter bo seespieël. Maar het die berg se ware hoogtepunt die selfie geword?

“Het jy toe die kamera in die rugsak gesit soos ek jou gevra het?” vra die wederhelf met sy een voet op die kabelkar. Ons seuntjie het ook gepraat terwyl hy die vraag gevra het en die dogtertjie het oor iets gekla, so dis moontlik om voor te gee dat ek hom nie gehoor het nie. Ongelukkig is hierdie nie ‘n leuen waarmee ek lewenslank saam sal kan leef nie. ‘n Antwoord word so vinnig soos ‘n Facebook like benodig: onmiddellik. Die skare toeriste rondom ons raak ongeduldig. Ons bondel almal in die kabelkar in, skouer teen boepmaag, elmboog teen tablet. Nóú. Ek kan nie langer huiwer nie. Maar ek kies om eerder nie te antwoord nie en draai weg. Ons albei weet dat die wederhelf se selfoon so antiek is soos die oorspronklike kabelkar wat aan die voet van die berg uitgestal staan. Dit kan nie foto’s neem nie. Ons weet ook dat ons, toe ons by die motor daar doer onder uitklim, vasgestel het dat my eie selfoon se battery te pap was om aan te skakel, wat nog te sê foto’s te neem. Ek kyk weg van sy gesig. My oog vang die woorde op die uithangbord: “Table Mountain, one of the world’s seven new wonders of nature.” Toe kyk ek verder weg, per ongeluk deur die slimfoonskerm van ‘n medekabelkarreisiger – op teen die sweefspoor, op na die magtige berg daarbo.

Kyk, daar is reeds spore op die maan. Almal was al op Tafelberg. Toeriste wat hulle in ons gesin se kameralose posisie bevind, sal bevredig kan word deur ‘n poskaart op die berg. T-hemde. Koffiebekers. Badskuim in Tafelberg-vormige houers. Maar ons wóón hier naby. Ons moes reeds ‘n tweede huislening aangaan om vandag vir die kabelkarrit te betaal. Dis die einde van die maand. Enige ekstra uitgawes is nie ‘n opsie nie. Iemand het ‘n foto van ons geneem, toegegee, ‘n onverwagse inligtingsbeampte by die ingang. Nou-nou, toe dié persoon met die amptelike hempie “Cheese!” met ‘n kamera beveel, het niemand van ons gesin geglimlag nie. My kinders het gehuil omdat daar nie regtig kaas opgetower is terwyl hul so uitgeput was om deur hulle ouers honderde meters ver van die motor af tot by die kabelkar gedra te word nie. As ons die motor kon verkoop om later vir daardie foto as aandenking te betaal, sal niemand van ons eens goed daarop lyk nie. Dikgehuilde oë, dik bekke. En dis net die ouers. Dis nou te sê as niemand die motor steel oor die kamera oop en bloot daarin lê nie.

Ondertussen het die kabelkar reeds halfpad teen Tafelberg op gevorder. Die toeris het haar elektroniese toestel geskuif, so ek kry dit reg om die berg onbelemmerd te sien. Die fynbos stippel tussen die growwe rotse. Terwyl die kabelkar roteer, skuif die see voor die lens van my oog in. Die volgende toeris versper weer die uitsig. Maar daar was ‘n oomblik lank vir my kans om te kýk.

Bo-op die berg is daar ‘n gat. Dis in my bors. Almal neem foto’s van hulleself hierbo, al wat ek het is my volmaakte kinders en man met die asemrowende stad en ewige see waarin die son dans, daaronder. Hoe gaan ek maak? Ons is hierbo en ek kan dit aan niemand bewys nie. Ek is op die berg der berge. Wie sal my glo? Kan ék dit glo?

Gelukkig is daar Britte wie se kinders ook soos ons s’n oor klippe val. Ek identifiseer met hulle. Ek skraap die vrymoedigheid bymekaar om hulle te vra om ‘n foto van ons gesin te neem. Die man stem dadelik in. Ons gaan staan op ‘n rots met Robbeneiland in die verte daar onder.
“Cheese!”
Kliks. Die verligting spoel oor my.

“Hoe was dit vir julle?” vra ek agterna vir almal, dalk om die dag se uitgawes aan myself te regverdig.
“Mooi,” brom iemand, toe ek kwaai na hulle kyk.
Is dit ál? Daar moet méér wees. By gebrek aan ‘n beeld, kort daar byvoeglike en beskrywende naamwoorde.
Ondertussen is daar Facebook likes as gevolg van die gesinsfoto op Tafelberg wat nou daar pryk. Ek begin rustiger voel.

My seuntjie knip ‘n prent van Tafelberg uit tinfoelie en plak dit op ‘n papier. Hy wil dit die volgende dag vir sy klas gaan wys. Die bewysstukke groei.

Die aand, met die kinders se slaaptyd, is daar ‘n paar woorde, sonder dat ek aanpor.
“Mamma, het jy die pers blomme gesien?”
En: “Die see, Mamma. Dit was blou. Dit was groot.”
Daar is vandag foto’s geneem van die natuurwonder, ons het geleef en dit gedeel. Maar dalk was die belangrikste foto’s tog die oogkiekies.

Groete, Naomi M

Kommentaar

April 24, 2014 in Geen Kategorie

Hallo bloggers, ek hoor jul hulpgeroep. Ek vra 24.com om dringend aandag te gee aan die kopseer wat jul almal ervaar om kommentaar te lewer. Dankie dat julle my laat weet het hiervan, ek hou jul op hoogte. Groete, Naomi M