Stellenbosch – affer innie pad

March 15, 2014 in Geen Kategorie

“Die hospitaal daar in Cloetesdal,” beduie ons gids met die hand, “lyk altyd soos die beach op Tweede Nuwejaar.”

Almal in die taxi lag. Ek dink aan die verkeersknope waarin ek en my gesin self oor die Kerstyd rondom die strande vasgesit het. Die gids-akteur se beeld is duidelik en treffend. Maar agter die grap lê ‘n wrang waarheid: mediese dienste in Cloetesville is oorlaai. Dit lyk nie soos die soort versorging wat mens opper innie pad, in Stellenbosch se goeie buurte kan verwag nie.

‘n Ruk gelede het ek met die akteurs gesels wat die taxi-huiskonsert Stellenbosch – affer innie pad aanbied. Vandag ry ek saam in hulle taxi.

As mense die geskiedenis herskryf, lag niemand gewoonlik nie. Dis mos maar ‘n delikate saak. Die maghebber hou die pen vas en diegene wat dink hulle stories en hulle verlede is van groter belang, moet maar hulle woorde sluk. Maar die twee akteurs saam met wie ons vandag ry, vertel ‘n storie van Stellenbosch wat min mense ken. Dis ‘n ander geskiedenis as die een waarin Simon van der Stel ‘n hoofrol speel. As Simon in die storie voorkom, hang sy onderrok lelik uit. Tog hou op mens selde op om vir die verhale te lag. Dalk lag mens die heel hardste vir mensself.

Verlede Saterdag het ek saam met Nicola Hanekom bus gery met Trippie. Vandag s’n is iets gans en al anders.

Ons sit knus en knap, been teen elmboog ingeryg. Ons ry tussen die argitektuur van Kayamandi, ons beskou hul restaurante (skaapkoppe op oop vure). Als, natuurlik, bewoording by ons gids gesteel.

En het ek my verspreek deur van Cloetesdal te praat, reg aan die begin? Plaaslike inwoners weet dat Cloetesville die Dal is en Idasvallei die Vlei. En in die Dal daal ons affer en affer, Smartietown binne. Kinders speel in die riool. Later kronkel ons terug na Langstraat. Ons ry by skole verby, ook ‘n teater. En uiteindelik gaan eet ons Kabous se vetkoek en drink wyn in die huis wat die akteurs ons vertel hulle s’n is.

Foto: Kabous Meiring

Teen daardie tyd het hulle ordentlik met my kop gesmokkel en vra ek een van die mede-gehoor-saamryers of die twee akteurs dalk werklik getroud is. Vir my is dit nie meer onrealisties dat die huis dalk werklik aan hulle behoort nie. Toe lui die telefoon. Mathilda antwoord en haar gesig verander.

“Gou,” beveel sy. “Sit neer julle glase, dissie ons hysie.”

Ons is terug in die toneelstuk. Almal word teruggeboender in die taxi’s. ‘n Baie slim manier om ‘n soort produksie af te sluit wat ek vermoed nog nooit aangebied is nie.

Dalk is hierdie nie heeltemal so ver verwyderd van Trippie in een opsig nie. Ons neem deel. Ons het vrywillig ingeklim, maar as die deur agter ons toegetrek word, is daar van wegvlug van die sosiale kommentaar geen sprake nie.

As ironiese naskrif tot die rit moet ek my seuntjie met ‘n hoë koors en stywe nek noodgevalle toe neem vroegaand. Ek mis die Woordfeesproduksies van opper innie pad vanaand. Maar dis ‘n vals alarm, net ‘n lastige virus. En die Mediclinic is besig, maar dis nie die strand op Tweede Nuwejaar nie. ‘n Paar lepels Panado later by die huis is daar introspeksie, opper innie pad.

Groete, Naomi M

10 responses to Stellenbosch – affer innie pad

  1. Klink besonders… jammer van die kleinding!

  2. Dankie, Naomi.

  3. Wonder net altoos, reg of verkeerd, of daar ‘wynlande’ sou gewees het sonder die insette van die ‘simonvanderstellers’ ?

  4. Hoekom moet ons nou skielik captcha kodes insleutel as ons wil kommentaar lewer?

  5. Mmmm by almal behalwe hier moet ons nou weer die dekselse captcha code intik… en dan moet ‘n mens nog ‘n paar keer probeer en dit weer doen? Help asseblief.

  6. Jip waarom weer die captcha kode by bloggers vir kommentaar lewer

    Ai tog…ek sug sommer kliphard

  7. Deernisvol. Deernisvol. Dankie.

  8. Baie dankie vir die wegneem van die kode. Ons het lus vir ‘n vreugdevolle blogparty! Baie, baie dankie.

Leave a Reply