Post-vrou-matiese stres

August 12, 2013 in Geen Kategorie

Dis nou al ‘n rukkie sedert Kate Middleton die baba gehad het. Ons het al die foto’s gesien, die gesprekke gevolg waar mense haar lof besing of haar kritiseer omdat sy haar magie so vinnig na die bevalling aan die wêreld vertoon het.

Maar hierdie blog oor die moederskaplyf in die Huffington Post het tog my aandag getrek:

Die skrywer van die stuk aanvaar uiteindelik hoe haar lyf nou lyk. Nadat sy verwilderd gevoel en saam met haar oudste kind gewroeg het omdat sy nou anders lyk nadat sy ‘n baba gehad het, voel sy fantasties. Ek weet nie of hierdie euforie almal van ons beskore is, post-bevalling, nie. Maar ek weet ook nie of hierdie uitkoms wat sy beskryf iets is wat sy voel en of dit iets is waarna sy streef nie.

Dis wel nie net weens kinders dat mens se lyf verander nie, daar is ook ander redes. Mens kan ook die aard en manier van werk blameer. Sit-sit so. Die kombinasie van kinders en werk veroorsaak dat daar nie tyd is om na werk aktief wees nie. Dis maklik om net één ding te blameer.

Vrouedag is verby.

Agtien jaar gelede, Vrouedag 1995, was ek twintig en tweedejaar op universiteit. Wat ek van daardie betrokke dag onthou? Ek kon halfprys gaan fliek omdat ek ‘n vrou was. Ek onthou ook van daardie tydperk en daardie spesifieke dag: ek was betrokke by ‘n baie aantreklike man wat ek voor my siel geweet het nie aan my getrou was nie.

Skielik voel dit vir my baie simbolies.

Dis wat Vrouedag vir baie vroue in hierdie land beteken, of hoe? ‘n Suigstokkie van die staat – iets soos om halfprys te gaan fliek, of ‘n advertensie op die televisie met vroulike TV-aanbieders wat verbyskuif. Terselfdertyd is daar die wete dat hulle jou eintlik agter jou rug verkul. Met ander mans. Dan is daar vroue wat ook hierdie situasies aanhelp. Hoe is vroue self hiervoor verantwoordelik? Deur dalk saam met ‘n man in ‘n magsposisie te slaap om hoër op die beroepsleer te kan klim?

Vrouedag, dink ek, beteken nie vir baie vroue in die land juis iets anders as ander dae nie. Dis darem ‘n vakansiedag.

Dalk is dit die ampstitel van die minister van vroue, kinders en gestremdes wat my afsit. Kinders word groot, sommige gestremdes kan operasies of arbeidsterapie ondergaan en hul toestand verbeter. Maar vroue? Sorrie, Pop. Jy sit nou maar lewenslank hiermee. Wat ‘n hopelose situasie.

En so is Vrouedag verby, en ons almal sit nog steeds met al ons gewig en bagasie wat ons met ons saamdra, party van ons omdat ons babas gehad het. Gaan ons dit kan afskud, of gaan ons smul aan nog ‘n paar lekkertjies van die staat? Want wie se verantwoordelikheid is dit uiteindelik om, nadat sy gesê het die samelewing verwag van my om beter te lyk nadat ek ‘n kind gehad het, iets daaromtrent te doen?

Ten minste leer die dogtertjie in Madam & Eve iets positiefs uit Vrouedag …

8 responses to Post-vrou-matiese stres

  1. Jy slaan ongelukkig die spyker op die kop, maar ek sien ook nie regtig ‘n verbetering op die horison nie. Vroue is so gewoond om die beste van ‘n slegte saak te maak en om vure dood te slaan as om aan te steek, dat dit ‘n fenomenale kopskuif gaan neem.

  2. Jis ek weet darem nie – julle kan al stem, julle is onafhanklike regspersone (dis nou as jy trou met die uitsluiting vannie “Marital Power”), julle kan enige werk doen, (en dan kla die brandweertannies oor goed te swaar is), Julle kry spesiale vakansiedae (Waar is mannedag?), en dan kla julle nog.

    Wat wil julle nog he^?

    🙂

  3. As ek in die spieël kyk dan sê ek:” goodness gracious” maar jy het baie herinneringe op jou lyf geëts, en as ek ‘n man was sou ek presies dieselfde gesê het………..(dink ek)

  4. Ek was ook tweedejaar op technikon daardie eerste Vroudedag. Ons het ‘n helse fees gehad in die koshuistuine, op scramblers rondgejaag, harde musiek gespeel, ons daghuis se eerste verjaarsdag gevier. En nie ‘n “clue” gehad waaroor Vrouedag nou gaan nie. Eers jare later het ek gaan “google” dat dit 50,000 vroue was wat gemarsjeer, en ‘n petisie oorhandig het, teen die “pass law”. Dankie tog vir vroue soos Helen Zille, Lindiwe Mazibuko en Annet Combrinck wat goeie voorbeelde is vir ons ander “post-birth” vroue.

  5. Die probleem is nie vrou regte as sulks nie, maar wel toe baie bose mense dit verander het in in iets wat een doel gehad het, nl die afbreek van die familie eenheid. Die dag toe hulle dit reg gekry het om vrou te ootuig hulle het sekere “regte” wat belangriker is as hulle verantwoordelikhede rondom hu families en veral kinders, was die dag toe alles begin fout gaan het.

  6. Soos dit nou aangaan het vrouedag geen betekenins nie. Een van die aspekte wat ek graag wil aanraak is dat ek het al menig maal gehoor dat vrouens die aand ‘n klag sal gaan le en dan die volgende dag die klag gaan terug trek. Hoekom doen hulle dit? Is daar nie organisasies wat vrouens kan help en bystaan deur die hele proses nie?

  7. Jy is heeltemal reg, Vrouedag is ‘n betekenislose dag vir die meeste vroue in hierdie land. En, liewe hemel! Is daar steeds mense wat dink vroue se verantwoordelikhede teenoor hul familie “en veral kinders” is belangriker as hulle verantwoordelikhede teenoor hul Godgegewe vermoëns en breine? I rest my case.

Leave a Reply