You are browsing the archive for 2013 August.

Die perfekte sprong

August 22, 2013 in Geen Kategorie

Dis laatmiddag op ‘n Maandag in vroeg-Augustus. Die stoom slaan op uit die water as die yl sonskyn van buite die tent af daarop skyn. My seuntjie staan bedremmeld langs die swembad en drup. Ek bedwing my om in te gryp en herinner my daaraan dat hy juis deur die winter met swemlesse voortgaan sodat hy uiteindelik veilig in die omgewing van water kan wees.

“Jy gaan nou inspring,” sê die swemafrigter. Hy wil nie. Sy skouers protesteer. Sy lyftaal is bang.

“Come on, we are going to jump together,” slaan sy oor na haar eie taal, waarmee sy emosioneel en met gesag kan praat. Sy vat sy hand en hy spring tog maar saam, hoewel teësinnig.

In die breukdeel van ‘n sekonde wat hulle bo die water hang, onthou ek die dag wat ek hom ook so sien hang het, bo die water. Hy was drie. Hy kon nie swem nie. Toe hy te ver oorgeleun het met die botteltjie waarmee hy water uit die swembad geskep het, het hy ingeval. Sy tannie wat die naaste aan die water was, moes met klere en al inspring om hom van die bodem af uit te lig na suurstof toe.

Vandag se Google doodle hoef nie vertaal te word nie, dit vertel eintlik baie stories gelyk. Die musiek vertel ‘n storie sonder om na die prentjies te kyk, maar ek hou nogal baie van die Google-mense se interpretasie, die ligte wat op strategiese oomblikke aangaan of die melancholie van die reën.

Einste Google vertel my van ander belangrike vertalings en interessant genoeg is die meeste hiervan geestelike tekste.

Ons almal weet wat dit beteken om elke dag vertaal te word. Toe ons in Istanbul was, het die mense buite die restaurante geskree: “Americans! We serve alcohol!” Voordat ek ‘n woord gesê het. Ek is geïnterpreteer op grond van hoe ek lyk en toe is daar verdere aannames ook gemaak, op grond van wat dalk tradisioneel in Turkeye verbode is. Wat praat ek van ander lande? Hier buite my werk noem ‘n daklose bedelaar my anderdag “nooi”, hoewel ek nie met hom in ‘n verhouding is nie. En beslis weier ek ook om sy nooi te word, veral nie op die manier hoe hy dit werklik bedoel nie. Hy is nie my mindere nie. Maar ek het ongelukkig ook nie die geld wat hy dink ek vir hom in die polistereenkoppie kan gooi nie, want daardie vertaling wat hy van my omstandighede maak, is ook verkeerd.

‘n Frase uit Eben Venter se bygewerkte ATKV-Skrywersalbum op LitNet wat my getref het, is waar hy skryf oor die perfekte woord op die regte plek, dat dit is soos ‘n “kort, wellustige soen”.

En dis net soos dit is met vertaling, ‘n goeie een, bedoel ek. Sekere vertalings is nie vir my so effektief nie, soos byvoorbeeld die titel “Die Götter müssen verrückt sein” as Duits vir “The gods must be crazy”. Miskien het dit bloot nie vir my dieselfde gevoelswaarde nie, want streng gesproke beteken dit presies dieselfde ding.

Maar hier is twee onlangse boekvertalings wat vir my net reg werk, in alle opsigte. Mike Nicol se boek “Of cops & robbers” is deur Jaco Botha vertaal as “Dieners & donners”. Gisteraand was ek by die bekendstelling van Etienne van Heerden se “In stede van die liefde”. Dis deur Leon de Kock vertaal. Die Engelse titel? “In Love’s place”.

Om oor te glip in ‘n ander taal, met die skuif wat so plaasvind dat jy die leser saam met jou na die plek toe vat waar die skrywer jou heen wou vat.

My seuntjie is nie meer in die lug nie. Hulle is nou in die water. Na hy die water saam met die swemafrigter getref het, is my kind ‘n oomblik lank heeltemal onder die water gedompel. My hart mis ‘n slag. Toe hy opkom en die kant beetkry, weet ek nie of die water wat oor sy gesig stroom die swembad s’n of sy trane is nie. Maar toe breek ‘n glimlag deur. Hy vang my oog en ek dink hy verstaan: volgende keer red hy homself. Dit was die perfekte sprong.

Naomi M.

Post-vrou-matiese stres

August 12, 2013 in Geen Kategorie

Dis nou al ‘n rukkie sedert Kate Middleton die baba gehad het. Ons het al die foto’s gesien, die gesprekke gevolg waar mense haar lof besing of haar kritiseer omdat sy haar magie so vinnig na die bevalling aan die wêreld vertoon het.

Maar hierdie blog oor die moederskaplyf in die Huffington Post het tog my aandag getrek:

Die skrywer van die stuk aanvaar uiteindelik hoe haar lyf nou lyk. Nadat sy verwilderd gevoel en saam met haar oudste kind gewroeg het omdat sy nou anders lyk nadat sy ‘n baba gehad het, voel sy fantasties. Ek weet nie of hierdie euforie almal van ons beskore is, post-bevalling, nie. Maar ek weet ook nie of hierdie uitkoms wat sy beskryf iets is wat sy voel en of dit iets is waarna sy streef nie.

Dis wel nie net weens kinders dat mens se lyf verander nie, daar is ook ander redes. Mens kan ook die aard en manier van werk blameer. Sit-sit so. Die kombinasie van kinders en werk veroorsaak dat daar nie tyd is om na werk aktief wees nie. Dis maklik om net één ding te blameer.

Vrouedag is verby.

Agtien jaar gelede, Vrouedag 1995, was ek twintig en tweedejaar op universiteit. Wat ek van daardie betrokke dag onthou? Ek kon halfprys gaan fliek omdat ek ‘n vrou was. Ek onthou ook van daardie tydperk en daardie spesifieke dag: ek was betrokke by ‘n baie aantreklike man wat ek voor my siel geweet het nie aan my getrou was nie.

Skielik voel dit vir my baie simbolies.

Dis wat Vrouedag vir baie vroue in hierdie land beteken, of hoe? ‘n Suigstokkie van die staat – iets soos om halfprys te gaan fliek, of ‘n advertensie op die televisie met vroulike TV-aanbieders wat verbyskuif. Terselfdertyd is daar die wete dat hulle jou eintlik agter jou rug verkul. Met ander mans. Dan is daar vroue wat ook hierdie situasies aanhelp. Hoe is vroue self hiervoor verantwoordelik? Deur dalk saam met ‘n man in ‘n magsposisie te slaap om hoër op die beroepsleer te kan klim?

Vrouedag, dink ek, beteken nie vir baie vroue in die land juis iets anders as ander dae nie. Dis darem ‘n vakansiedag.

Dalk is dit die ampstitel van die minister van vroue, kinders en gestremdes wat my afsit. Kinders word groot, sommige gestremdes kan operasies of arbeidsterapie ondergaan en hul toestand verbeter. Maar vroue? Sorrie, Pop. Jy sit nou maar lewenslank hiermee. Wat ‘n hopelose situasie.

En so is Vrouedag verby, en ons almal sit nog steeds met al ons gewig en bagasie wat ons met ons saamdra, party van ons omdat ons babas gehad het. Gaan ons dit kan afskud, of gaan ons smul aan nog ‘n paar lekkertjies van die staat? Want wie se verantwoordelikheid is dit uiteindelik om, nadat sy gesê het die samelewing verwag van my om beter te lyk nadat ek ‘n kind gehad het, iets daaromtrent te doen?

Ten minste leer die dogtertjie in Madam & Eve iets positiefs uit Vrouedag …