Watter aap bly nog monogaam?

July 30, 2013 in Geen Kategorie

Adam soek sy ribbebeen, Dopper Joris sy seiltjie, die voëltjie sy nes (“Hebban olla vogala …”). Maar as die pot sy deksel gekry het, wat gebeur daarna? Elke week wonder die mense op LitNet se biegruimte hieroor. En toe lees ek gister die volgende artikel in die Guardian: “The mystery of monogamy: scientists claim to have the answer. Study says some species have become monogamous through evolution and, for primates, infanticide is at its root.”

Nogal interessant dat die wetenskaplikes paartjies se getrouwees aan mekaar sterk koppel aan ouerskap. Die negatiewe soort. Maar die afwykende soort wat al so lank bekend is, dat Goya amper ‘n honderd jaar gelede hierdie skildery geverf het:

(Toegegee, dis seker nie heeltemal hoekom Goya hierdie skildery geverf het nie.)

Of wag, lees ek nou die artikel verkeerd? Is een van die skrywer se teorieë juis dat kinders teen kindermoord beskerm moet word deur die vaders en daarom is daar een of ander primêre drang wat meer gesofistikeerd geraak het deur die jare wat veroorsaak dat die pa nie voet in die wind slaan nie?

Van een ding is ek seker. Kinders verstewig die eg en kinders plaas ook die verbintenis onder druk. Dalk moet ek nie vir Nigella Lawson en ‘n onlangse rusie met haar nou-vervreemde man juis oor die kinders by die gesprek betrek nie. Maar ek het nie so ‘n sensasionele voorbeeld nodig om my punt te illustreer nie. Elke dag speel alledaagse voorbeelde hom af in elke huishouding met kinders, ek is oortuig daarvan. Hoe meer siele, hoe meer verskille.

Tog, as my geliefde vir my op ‘n wintersaand Milo in die bed bring te midde van blogbepeinsinge, sluit hierdie aap eerder maar af met Olga Kirsch se gedig “Huwelik”:

‘n Jaar of wat van angs en fel verrassing,
van leer en afleer, lugtige geluk,
dan is daar kinders. Die pynlike aanpassing
wat diens en arbeid verg, die onderdruk
van self, lang dae en nagte sonder rus
maak dat hul al hoe meer mekaar beskou
as ouers, bondgenote in kommernis
en vreugde, maar bysaaklik man en vrou.

Skielik is dit ‘n afgemaakte taak.
In leë kamers sien hul mekaar weer raak –
vergete rykdom. Albei het diep gely,
veel prysgegee en baie bygekry.
In die stil huis ontdek hul weer mekaar
soos, in ‘n veraf tuin, die eerste paar.

Groete, Naomi M

6 responses to Watter aap bly nog monogaam?

  1. Baie goed…

  2. Ek is seker nog maar outyds, maar ek dink daar is darem nog meer huwelike wat werk as die wat opbreek.

  3. Fassinerend hoe jy met mitologie begin, by evolusie ‘n draai maak en met kreasionisme afsluit.

  4. Elke mense is vry om keuse te maak en daarna die slaaf van die gevolge te wees.

  5. Baie mooi (en gepaste) slotsom, die gedig. Aan die einde van die dag is dit maar al wat saakmaak!
    Jong ja. Ek het ook daardie artikel raakgeloop (viva Flipboard!) en was vasgenael deur die kommentare daarop. Die enigste ding wat vir my onteenseglik gewys het in die stuk (EN die kommentare) is dat dit moontlik is om enige ding onder die son as wetenskaplik te verheerlik (of selfs te poog om dit as ‘n “die waarheid” te vestig) – as jy net genoeg idees en woorde en soortvan-relatiewe feite agtemekaar kan inryg…mens noem dit navorsing, dink ek….

  6. Uitstekende joernalistiek. Pragtige gedig . Vieslike Goyaskildery.
    ( ai, ek het weer nie ‘n plek in my kothuisie waar daai ene gepas sal kan hang nie 🙂 )

    Natuurlike monogamie is beslis onder druk . (devolusie?)

    Die bietjie gesonde jaloesie wat een man en een vrou as ‘n afgepaarde eenheid in liefde en respek aan mekaar help gom, ruk deesdae handuit omdat hebsug hooggety vier .

    Minder sweer deesdae trou en ook al hoe later in hul leeftye .

    Meer mense breek later ( soms gouer ) die heilige eg ( dit bly ‘n sakrament ! ) , hoofsaaklik as gevolg van ‘n sieklike selfbeheptheid en eiegeregtigheid en ‘n selfliefde en dit lyk ook nie asof daar altyd in die belang van die arme kinders wat uit sulke huwelike gebore is opgetree word nie – inteendeel : hulle word meesal bloot voosgeslaande speelballe in ‘n soort normlose kontaksport met geen of onvoldoende reels.

Leave a Reply