By ‘n sterwende kindjie

June 29, 2013 in Geen Kategorie

Ek kon dit nie verstaan nie. Nie in die laerskool, toe ek dit die eerste keer in daardie bruinerige Skoolverseboek moes lees of anderdag, toe ek weer hieraan dink nie. Waarom vir ‘n kind hierdie gedig van IL de Villiers voorskryf?

Eddie, kan jy my hoor?
Dis ek, oom Dominee.

Jy moenie bang wees nie,
die Here Jesus sal jou self kom haal,
jou handjie vat.
Jy is mos lief vir Hom.
Weet jy, die stad waar Hy woon
is so mooi, met pêrelpoorte
en fonteine. Sagaria, die profeet, sê
oral op die pleine en die strate
speel die kindertjies.
Moet ek dit vir jou lees?

Jy wou iets sê?
Wag, ek kom nader –
kon nie mooi verstaan nie.

Jy wil nie gaan nie.

As kind was die gedig vir my so vreesaanjaend (kinders gaan mos nie dood nie!) dat ek gekies het om enige dieper betekenis mis te kyk.

My seuntjie se Skoolverseboek-oomblik was nou die aand, een van die vele hierdie week, toe die nuus se hoofberig weer oor Nelson Mandela in die hospitaal handel. Ek maak die fout om te sê ek het die dag in die media gelees sy gesin moet besluit oor asemhalingsmasjiene.

“Kan mens dan nie asemhaal as mens dood is nie?” vra my seuntjie geskok.

Dis nie die eerste keer dat ons oor die dood praat nie, maar in sy groot oë sien ek die eerste keer ‘n soort verstaan.

Kort daarna kom vertoon my dogtertjie haar nuwe rokkie, by ‘n ouma ontvang die dag. Ek is allesbehalwe behep met pienk en rokkies (anders as sy), maar hierdie betrokke kledingstuk is anders. Ek hou so baie daarvan dat ek ‘n onmiddellike besitlikheid ontwikkel. Die afgelope tyd het ons so baie ou klere vir mense gegee wat dit baie nodiger as ons gesin het, dat dit dalk die rede is hoekom ek daaraan dink: Hierdie rokkie is net hare. Dit gaan nêrens heen nie. Nooit nie.

So moes die Egiptenare seker gevoel het toe hulle die mummies se aardse besittings saam met hulle in die piramides begrawe het. Dié is nou belangrik, dit moet aangewend word vir gebruik in die hiernamaals.

En toe tref die absurditeit my. Ek kan dit nie saamvat nie. Nie eens hierdie twee mense saam met my in die kamer wat eintlik my kosbaarstes is in hierdie lewe nie. Hulle pa ook nie. Hulle ook nie vir my nie.

Simbolies, daardie nag, nog ‘n nag met Mandela in die hospitaal, met ‘n toeris wat aangehaal word om te sê: “I only wish he would get better.”

Ons almal wens dit, ja. Ons wens dit vir Nelson Mandela, maar bowenal wens ons dit vir onsself. Ongeag geloof, of nie geloof nie.

Ons almal ken reeds al die stories se eindes, al verskil al die detail vir ons elkeen. Ons weet dit reeds, dis soos die laaste bladsy van ‘n boek wat ons klaar gelees het toe ons die boek uit die rak gehaal het.

En die slotreël, vir Nelson Mandela soos ook vir die res van ons:

Jy wil nie gaan nie.

11 responses to By ‘n sterwende kindjie

  1. Jy het dit so goed geskryf, so goed. Dit is ‘n ontnugtering. My swaer is drie weke gelede oorlede. Ons was nie pelle nie. Hy is egter dood soos my broer. Sommernetso. My suster, met wie ek darem weer pelle is, is so hartseer. Sy het haar liefman verloor. My hart ween. Ek kyk om my rond. My ma is breekbaar. Ek kon haar nie bied wat ek so graag wou nie – naamlik, vrede. Liefde. ‘n Huis. ‘n Goeie mediese diens. Sy is ‘n staatspasiënt, kom met die minste oor die weg. Hoe sy met haar pensioen uitkom, weet net sy. Sedert my broer bietjie meer as twee jaar gelede is, het sy bitterlik erg agteruit gegaan. Dit was die tyd waarin ek haar “afgeskryf” het. Erg. Dink dit was die skok van my broer, as ek mag verskoning maak vir iets so erg.

    Ek voel soos jou seun. Ek het iets agtergekom wat ek dalk al gehoor het, maar skielik verstaan het. Daardie ontnugtering.

    Ek voel soos jy oor jou dogter se rokkie. Dalk omdat ‘n mens die oomblik vir altyd wil vasvang. Nie wil hê dat hulle verby daardie oomblik se mooi moet groei nie?

    En oor my die ontnugtering by my suster se seun se dood 8 jaar gelede, klou ek aan my kinders in my gedagtes (geen kind wil die heeltyd van sy of haar ma hoor nie…well, min volwasse kinders). Vrees ek elke keer wanneer my foon lui. Wil ek nie na my eposse kyk nie.

    Wil ek vir my ma en elkeen wie nog oor is sê:

    Jy wil nie gaan nie.

  2. Voor my pa oorlede is, het hy vertel hoe hy op ‘n dag aan die gaan was, maar hoe my ma hom teruggeroep het. “Dit was so lekker,” het hy met die grootste teleurstelling vertel, “en toe roep sy my terug.”
    Miskien moet die arme man almal blameer wat hom bly terugroep.

  3. Aangryplik… hoe ouer mens word, hoe minder word mens deur die dood bedreig

  4. Pragtig raak beskryf.Niemand wil doodgaan nie.Mandela is lankal nie meer met ons nie,maar die finaliteit van die dood,laat almal vasklou en hoop dat hy bly lewe,al is dit fisies onmoontlik vir veel langer.Dit is ook die verlies aan ‘n era en lewe wat verby is..dis so finaal!

  5. Mens kom kaal in, en gaan kaal uit.
    En alleen.

    Dis sommer tos. Niemand wil vandag hemel toe gaan nie.

  6. Dis so ‘n hartseer gedig. Tot mens nie self daar is nie, sal ons nooit weet hoe daardie laaste oomblikke is nie…. Mooi geskryf.

  7. Die gedig laat koue rillings langs n mens se rug afloop. Ek moes ook al n kind sien sterf het, n ondervinding wat ek niemand,nie eers my ergste vyand toewens nie.
    Tog deur jou vertelling kry mens so n skaam laggie deur die traan.
    Baie mooi.

  8. Baie mooi geskryf. Rerig mooi.

Leave a Reply