You are browsing the archive for 2013 June.

By ‘n sterwende kindjie

June 29, 2013 in Geen Kategorie

Ek kon dit nie verstaan nie. Nie in die laerskool, toe ek dit die eerste keer in daardie bruinerige Skoolverseboek moes lees of anderdag, toe ek weer hieraan dink nie. Waarom vir ‘n kind hierdie gedig van IL de Villiers voorskryf?

Eddie, kan jy my hoor?
Dis ek, oom Dominee.

Jy moenie bang wees nie,
die Here Jesus sal jou self kom haal,
jou handjie vat.
Jy is mos lief vir Hom.
Weet jy, die stad waar Hy woon
is so mooi, met pêrelpoorte
en fonteine. Sagaria, die profeet, sê
oral op die pleine en die strate
speel die kindertjies.
Moet ek dit vir jou lees?

Jy wou iets sê?
Wag, ek kom nader –
kon nie mooi verstaan nie.

Jy wil nie gaan nie.

As kind was die gedig vir my so vreesaanjaend (kinders gaan mos nie dood nie!) dat ek gekies het om enige dieper betekenis mis te kyk.

My seuntjie se Skoolverseboek-oomblik was nou die aand, een van die vele hierdie week, toe die nuus se hoofberig weer oor Nelson Mandela in die hospitaal handel. Ek maak die fout om te sê ek het die dag in die media gelees sy gesin moet besluit oor asemhalingsmasjiene.

“Kan mens dan nie asemhaal as mens dood is nie?” vra my seuntjie geskok.

Dis nie die eerste keer dat ons oor die dood praat nie, maar in sy groot oë sien ek die eerste keer ‘n soort verstaan.

Kort daarna kom vertoon my dogtertjie haar nuwe rokkie, by ‘n ouma ontvang die dag. Ek is allesbehalwe behep met pienk en rokkies (anders as sy), maar hierdie betrokke kledingstuk is anders. Ek hou so baie daarvan dat ek ‘n onmiddellike besitlikheid ontwikkel. Die afgelope tyd het ons so baie ou klere vir mense gegee wat dit baie nodiger as ons gesin het, dat dit dalk die rede is hoekom ek daaraan dink: Hierdie rokkie is net hare. Dit gaan nêrens heen nie. Nooit nie.

So moes die Egiptenare seker gevoel het toe hulle die mummies se aardse besittings saam met hulle in die piramides begrawe het. Dié is nou belangrik, dit moet aangewend word vir gebruik in die hiernamaals.

En toe tref die absurditeit my. Ek kan dit nie saamvat nie. Nie eens hierdie twee mense saam met my in die kamer wat eintlik my kosbaarstes is in hierdie lewe nie. Hulle pa ook nie. Hulle ook nie vir my nie.

Simbolies, daardie nag, nog ‘n nag met Mandela in die hospitaal, met ‘n toeris wat aangehaal word om te sê: “I only wish he would get better.”

Ons almal wens dit, ja. Ons wens dit vir Nelson Mandela, maar bowenal wens ons dit vir onsself. Ongeag geloof, of nie geloof nie.

Ons almal ken reeds al die stories se eindes, al verskil al die detail vir ons elkeen. Ons weet dit reeds, dis soos die laaste bladsy van ‘n boek wat ons klaar gelees het toe ons die boek uit die rak gehaal het.

En die slotreël, vir Nelson Mandela soos ook vir die res van ons:

Jy wil nie gaan nie.

Spoor van die perlemoenstropers

June 21, 2013 in Geen Kategorie

In Gansbaai se Great White House word ons met ‘n skedel begroet. Dis nou die groepie van ons wat gister op die spoor van die perlemoenstropers was.

Dis ook die titel van Johan Fourie se omgewingsmisdaadroman, uitgegee deur Naledi. Naledi is die “jong, onafhanklike en gatskop”-uitgewersgroep (om vir Melt Myburgh, hul redaksiehoof aan te haal) wat ‘n paar joernaliste en vryskutskrywers gister met ‘n besoek aan Gansbaai trakteer het.

‘n Kombi het ‘n groepie mense gister vanuit Kaapstad en Stellenbosch tot in Gansbaai vervoer. Hier is die boekbekendstelling gehou.

Johan Coetzee, direkteur van Naledi, verwys in sy gesprek tydens die bekendstelling na “boekspoorsnyers” en “boekbloedhonde”. Hierdie boek is uitgesnuffel met ‘n rede.

Johan Fourie, wat op die foto hierbo ‘n boek vir ‘n joernalis teken, vertel van sy navorsing vir die boek. Perlemoenstropers en renosterstropers is deel van dieselfde misdaadsisteem. Daar is iets soos ‘n piramideskema. Daar is ryk grootbase heel bo en ondertoe raak die vertakkings groter, maar die geld minder. Hoe meer hy praat, hoe meer klink dit alles na misdaadfiksie. Die neerdrukkende aspek van sy vertelling, is dat dit berus op feite en navorsing. Die afwesigheid van polisie en misdaadbestryders by die geleentheid, is opvallend. Hulle is genooi om deel te neem aan die gesprek, maar het kop uitgetrek.

Na die bekendstelling, gaan ons see toe. Letterlik.

Ons gaan besoek ‘n perlemoenplaas, waar ons hoor hoe lank en ingewikkeld dit is om een perlemoendiertjie te laat grootword.

Hoe gemaak as daar niks ander geld is as om onwettig perlemoen uit te haal nie? Geen antwoord op daardie vraag nie. Hierdie outjies lyk dalk primitief en bietjie grillerig. Maar as hulle verdwyn (soos wat besig is om te gebeur), word die hele ekosisteem ontwrig.

Daar is ‘n bussievol mense wat na die besoek diep dink.

Welgedaan, Naledi, dat julle ‘n dapper boek publiseer het. Hoop egter nie die skedel in die dak van die restaurant waar die boekbekendstelling was, is profeties ten opsigte van die oorlewing van perlemoen nie.

Daar’s rede om te gaan fliek

June 19, 2013 in Geen Kategorie

Dis nie net omdat dit winter is nie. Daar is ‘n Suid-Afrikaanse film op ‘n silwerdoek naby jou.

Iemand het my al ‘n ruk gelede vertel Fanie Fourie’s Lobola is die moeite werd om te kyk. Ek het nie juis notisie geneem nie. En toe begin dit internasionaal pryse wen – en snaaks, elke slag as ons die afgelope tyd gaan kyk het of dit daar is, was dit uitgeneem. Lyk my die res van die dorp was net so beïnvloedbaar soos ek. Eergisteraand was dit egter daar en ons het die storie van Fanie en Dinky gekyk. Wag ‘n bietjie. Ek jok effens. Terwyl mens dit kyk, is dit die storie van Fanie en Dinky – hoofsaaklik ‘n komiese een daarby. Agterna is dit toe al die tyd sosiale kommentaar. Ek hét kritiek oor die fliek, ja. Maar ek het ook lof. Ons almal in hierdie land woon op verskillende planete. Fanie Fourie laat mens soms daarvoor lag. En om dit in so ‘n gekompliseerde land te laat gebeur, wil gedoen wees.

My Suid-Afrikaanse filmweek het egter nie daar gestop nie. Gisteraand het ek na Deon Meyer se Die Laaste Tango gaan kyk. En mag ek sê dat ons by die première bederf is? ‘n Glasie sjampanje met die intrapslag. Gratis springmielies en koeldrank. En ‘n saalvol van die film se akteurs wat die film saam met ons kyk.

Ek mag niks verklap nie. Maar ek kan ‘n stempel van goedkeuring gee.

Daar is ‘n balans van emosie en spanning. Die resep is Deon Meyer se kenmerkende soort. Soos in die voorskou: “Twee goed moet ek nog doen …”

Die speurder se persoonlike wroeging dra by tot en veroorsaak wat in die storie gebeur. Ditto dié van die heldin. Klein rolle soos Niel Sandilands s’n is bekoorlik. Die dorp Loxton is ook ‘n karakter. Pragtig. En swygsaam.

Ek gaan niks verder mag sê nie.

Naskrif: Nie net gaan fliek oor dit winter is nie. Die Ella Winter-karakter in die film is aan my bekend van skooldae af. En gisteraand in die film was daar ‘n reünie in die kleine. Want een van die liedere op die klankbaan is geïnspireer deur nog ‘n gemeenskaplike vriendin van ons albei. Maar sy is nie meer hier nie; vir haar het die winter te veel geword.

Winter weer

June 3, 2013 in Geen Kategorie

Goeie dag

Enig iets wat iemand tot dusver van hierdie blog inskrywing hinder?

Ek gee nog ‘n leidraad. Ek ry elke dag by ‘n kennisgewingbord verby waarop daar staan: “Geen seil afdakke toegelaat.”

Nog steeds niks wat pla nie?

Maar wag, dalk het dit niks te doen met mense wat nie meer deesdae kan spel nie. Dalk het alles te doen met die feit dat ek, wat nog nie veertig is nie, tot ‘n vorige generasie behoort.

Dink maar aan Facebook, hoe mense hulself daar verpak en verkoop. ‘n Paar jaar gelede was dit ondenkbaar om so openbaar met intieme besonderhede om te gaan. Nou word dit van almal verwag. Time skryf so die generasie, die Y-generasie, van wie ek praat. Daar is ‘n gevoel van “dit kom my toe, want kyk wat het ek al bereik (kom ek stal dit vir jou uit)”. So skryf Wikipedia oor die Millenials, na wie ek verwys.

Dalk oorvereenvoudig ek. Dit maak nie juis saak wanneer enigiemand gebore is nie. Almal van ons wat toegang daartoe het, leef in ‘n samelewing waar dinge gou en vinnig gebeur: SMS’e, e-posse, whatsapp, inligting deur middel van toeps en deur middel van GPS. Hoe vinniger in die behoefte vervul moet word (en in die behoefte moet NOU vervul word), hoe minder groot is die erns met spelling, of met enige ander onnodige detail. Al wat saakmaak, is die einddoel. Onmiddellike behoeftebevrediging. Kits-enige-ding.

Ek ontvang ‘n omsendbrief van die kleuterskool waar my jongste haar bevind. “Stuur tisseus vir loop neusies.”

Ekskuustog? Dalk was daar nie ‘n proefleser wat Engels of Afrikaans kon oorkyk nie. En toemaar, ek het darem verstaan wat hulle bedoel.

Dalk, as dit somer word, gaan al die gelosskryf van woorde my minder irriteer. Dis seker net die koue wat veroorsaak dat ek op die oomblik so hierdeur gegrief word.

En ek dag dis net in Xhosa waar mens die woorde so aanmekaar vasskryf. Selfs in Afrikaans skryf mens nie “ekwoonhier” nie – of vertaal ek “ndiphilile” verkeerd? (Ek gaan Google toe Xhosa-spelreëls en vertaal die frase deur middel van Google Translate in Afrikaans. Toe sien ek Google Translate se Afrikaanse vertalers behoort ook tot die Y-generasie!

“Xhosa is ‘n agglutinerende taal met ‘n verskeidenheid van voor- en agtervoegsels wat aan die wortel woorde geheg is.”)

Agglutinerende taal? Wortel woorde?!

Vergeet die Y-generasie. Hierdie het dalk alles te make met die Engelse invloed en met uitkomsgebaseerde onderwys. Of laat ek eerder ophou, voor ek verder veralgemeen.

Naskrif. Ek het niks teen die Y-generasie nie. Trouens, ek mis die afsnypunt rakelings. Die meeste mense met wie ek elke dag te doen het, behoort tot die Y-generasie en daar is niks met hulle verkeerd nie. Hulle beïnvloed my almal net ten goede en ek vermoed die meeste van diegene wat my “goeie dag” toewens, bedoel dit uit die goedheid van hul harte as welvaartswens. En dan is ek die een wat verkeerdelik aandring daarop dat die frase een begrip geword het. Hoe sal ek nou so ‘n positiewe toewensing in die wind slaan? Veral op so ‘n koue dag in die Kaap. Ek sê maar net mooi dankie en ek maak spel voute van my eie, ek weet.

Nog ‘n naskrif. Lees wat daar in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls oor die los- en vasskryf van woorde in Afrikaans staan.

Groete vanuit die winterweer! Naomi M