Die dansende digter

May 12, 2013 in Geen Kategorie

Wat is daardie grappie nou weer van iemand wat ‘n digter is, soms meer as ander kere? Ek is digter as ‘n kluit as dit kom by gedigte skryf. Maar ek waardeer darem wel poësie. En ek besef dit gaan oor presies die regte woord op die regte plek, en dalk so min as moontlik van hulle. Om woorde spaarsamig te gebruik.

Die naweek was die Dansende Digters Fees | Poetry in Other Words by Spier. Heel eerste op die spyskaart, gisteraand, was geregte in handpalmgrootte bakke wat met normale hors d’oeuvre vergelyk kan word soos my hoërskoolgedigte met gedigte in die Groot Verseboek. Daar was ekostiese noedels en toe iemand aankondig “fish and chips”, wou ek haar vriendelik berispe oor die leuen wat sy vertel. Daardie lekker gebraaide gedoentetjie met die stringetjies goeters daarby kon dit nie gewees het wat sy dit genoem het nie.

Tussen die smaaklike happies, het ‘n uitgelese skare in die knus, nou gang beweeg. Elke naam wat ek hier sou neertik, sal bekend wees iewers in ‘n land iewers in die wêreld se literêre kringe. Want, het ek verneem: die internasionale digters wat hier kom optree het, was hulle eie lande se Krog of Breytenbach, byvoorbeeld. Die bekendes het opgetree soos normale mense sou doen. Sommige was vriendelik, ander was arrogant en sommige het skugter oogkontak vermy.

Ek kan blog oor suksesvolle en onsuksesvolle gesprekke wat ek met die letterkundiges aangeknoop het. Die meeste van die gesprekke herinner my reeds weer aan daardie hoërskoolgedigte wat my so aanhou agtervolg. Ek het baie lank Afrikaans gepraat met twee buitelanders wat eers diep in my monoloog besluit het om te sê hulle begryp nie ‘n woord nie. Maar gelukkig het die hoofitem op die spyskaart enige ander gebeurtenis oorskadu. Ons kon deurbeweeg na die tent waar die digters se woorde sou dans. Later, kondig Breytenbach af, gaan almal saam djol. Daar is nie ‘n vertaling van hierdie woord nie, meen hy. Maar eers – die voorlesings.

Antjie Krog, Joachim Sartorius en Carolyn Forché het toe waarlik met hul woorde gedans. Elke onderskeie voordrag – en ook diegene wat hul vertaalde werke voorgedra het, wat ingesluit het Breyten Breytenbach en Marlene van Niekerk – was kragtig en veerlig terselfdertyd. Elke woord het op die regte plek in die rivier geval. Ek kon die rimpels sien uitsprei. In die agtergrond was daar van tyd tot tyd musiek. Die projektor het agter elkeen se rug ‘n beeld teen die muur gegooi: soms met die woorde van die gedig, soms met ‘n interpretasie – iemand wat iets teken of uitvee. Beweging. Woorde soos musiek. Dans op ‘n ander manier.

Met die eerste pouse (hoekom klink die woord onvanpas? so ongesofistikeerd soos om te sou praat van halftyd?) loer ek gou na my selfoon. Is die kroos wel? Nee, kom die boodskap helaas. Die jongste sien nie te waffers daar uit nie. Ek kan gerus bly, moenie kommer nie, als onder beheer. Maar die moedersinstink kry die oorhand, ek ry huistoe, en ek sien geen digters dans nie, slegs later op Facebook.

Ten minste was dit nie ‘n groot ramp in die nag nie. Die gevaar was tydelik afgeweer. As die kiem omvangryk wil uitbroei, moet mens maar wag en sien. Vanoggend, op Moedersdag, kry ek darem wel ‘n gelukkige einde tot die kleinverhaal. Uit die hoek van my oog sien ek ‘n beweging in die vertrek. En toe ek kyk, sien ek: sowaar, dis soos sy die vertrek binnekom – my dogtertjie dans. En uit haar mond kom net een woord. Sy gebruik dit so ekonomies en op presies die regte tyd en plek dat dit nie iets anders as ‘n gedig genoem kan word nie: Mamma.

10 responses to Die dansende digter

  1. Hoop jongste is gou beter.

  2. *****

  3. Dankie vir hierdie verslag . Al was ek nie daar nie . . . die besorgdheid van ‘n ma wat so duidelik deurskemer en die beskrywing van die mooiste gedig van die naweek in die laaste paragraaf , het die meeste trefkrag gehad . . .

  4. Die mooiste gedig ooit! Die woord is ‘n metafoor vir soveel meer.

Leave a Reply