You are browsing the archive for 2013 May.

As jy nie kan blog nie, stuur vir my ‘n e-pos

May 27, 2013 in Geen Kategorie

Soos ek ‘n ruk gelede laat weet het, het ek ter harte geneem hier is ‘n lastige situasie wat hom op die LitNet-blogs voordoen: hier’s spammers wat suksesvol registreer – en terselfdertyd legitieme bloggers wat dit nie kan regkry om te blog nie omdat die sisteem julle pad versper.

Hier’s my plan:

a) Ek verwyder die spammers. Daar’s reeds minder van hulle, hoop ek kan julle sien.
b) Ek moet vasstel hoeveel bloggers wat vantevore suksesvol geblog het, sukkel om nou te kan blog. Wil almal wat hiermee sukkel, nie asseblief vir my ‘n private e-pos stuur na my LitNet-adres sodat ek elke individuele blogger se saak afsonderlik kan uitsorteer nie? My adres is: naomimeyer@litnet.co.za.

Groete, Naomi M

How to fix South Africa

May 18, 2013 in Geen Kategorie

Voel jy sinies as jy die opskrif lees? Ek ook. Duidelikheidshalwe: die opskrif is nie ‘n belofte nie. Dis die naam van ‘n item by die Franschhoek Literêre Fees.

Die FLF is soos ‘n wyn van die streek – as daar inherente leemtes is, word dit alles verbloem deur die bedwelmende effek op die gemoed. In Franschhoek se strate loop bedelaars en white liberal-Engelssprekendes met die Sunday Times onder die arm, skouer aan skouer. Items met name soos die opskrif word aangebied en dan sit die grootste deel van die saal vol mense wat werklik dink hulle gaan net mooi dit bewerkstellig. Dis in elk geval die persepsie van die fees. Maar die berge wat die dorp raam is so wonderskoon, die herfsblare in die laning as jy dorp binnery intens geel en diepbruin en wynrooi. Mens vergewe die plek in vandag se sonskyn net mooi alles.

Kortliks – my kinders is met rede ongeduldig oor hul afwesige ma – oor die vier items wat ek bygewoon het:

Redigeerkursus

Ter voorloper van die fees is daar Donderdag ‘n redigeerkursus, waar ek aan die voete van Izak de Vries en Chanette Paul sit. By wyse van spreke. Letterlik sit ek voor ‘n snoesige kaggel van ‘n gastehuis en drink koffie. Terwyl ek weer eens onder die indruk raak van hoe intelligent ‘n suksesvolle skrywer kan wees wat bekend is vir chick-lit en populêre spanningsverhale. Jy moet jou genre ken, vertel sy. Die dialoog moet funksioneel wees. In my vorige blog oor pespos verwys ek ook na wat sy van dialoogskryf gesê het. Sy verwys na die hoofstukke in Die Afrikaanse Skryfgids waar sy uiteengesit het hoe om plot te beplan, wat intrige is. En Izak lig haar toe en bied dan self die praktiese aspekte van redigering aan. Wees streng met jouself. Lees jou storie asof iemand anders dit geskryf het.

Ek steel gou twee foto’s van Monique Bisschoff (met haar toestemming), wat die kursus self bygewoon het.


Hier is Chanette Paul aan die woord en langs haar sit Helene van der Westhuizen, een van die kursusgangers.


Genoemde snoesige kaggel.

Boekbekendstelling: Nal’ibali storieboek deur Suid-Afrikaanse skrywers

Later die oggend is ek by ‘n teenoorgestelde omgewing. Dalubuhle Laerskool – in ‘n buurt van die dorp waar die skool verrys as triomfantelike baksteengebou tussen die sinkplaathuisies. Indrukke van die skool is dat daar net ‘n kaal sementvloer is waarop die kinders tjoepstil sit en luister. Die skoolgebou beïndruk my nie juis nie. Dis skoon, maar dis kaal. Die politikus wat gesels se toespraak klink bietjie retories. Maar die laerskoolkinders se luistervermoë is verstommend. Twee stories word vertel. Die kinders leef hul in. Ek ry terug na die teerpad tussen die brandsiek honde en werklose mans in die stofstrate deur.


‘n Foto van die vrolike publikasie.

[48]: Shock/horror (Council Chamber)

Lauren Beukes, winner of the 2012 Arthur C Clarke Award, delves into the underworld of techno-terror with the co-authors of The Mall and The Ward, Sarah Lotz and Louis Greenberg.

Die gehoor van die item Shock/Horror waar Lauren Beukes die middelpunt van die gesprek is, lyk totaal anders. Middelklas en Engels. Ek herken rubriekskrywers van die Sunday Times. En in die gesprek herken ek van die televisieprogramme en films wat bespreek word, maar nie alles nie. Ook hier, nes by die redigeerkursus, handel dit oor genre. Snaaks genoeg is die fokus hier, net soos by alle ander vorme van storie-vertel: jy moet ‘n karakter skep waarvan jou leser hou. Jy kan nie gruverhale skryf met karakters met wie jou lesers nie empatie het nie. Storieskryf is storieskryf is storieskryf.

[51]: How to fix South Africa (School Hall)

This Sunday Times book is a collection of articles written by leading South Africans who suggest solutions. Dennis Davis talks possibilities with Moeletsi Mbeki, Hlumelo Biko and the former editor who commissioned them, Ray Hartley.

Die gesprek waaraan hierdie bloginskrywing sy opskrif ontleen het, het ‘n paneel met onder andere Moeletsi Mbeki wat op die verhoog sit. Die saal is stampvol. Niemand dink die mense op die verhoog gaan enigiets uitrig nie. Maar die gesprek begin met floue verwysings na werkloosheid in die land, die probleme met die onderwyssisteem, Mbeki wat klink of hy praat van die onafwendbaarheid van die land se probleme … tot by ‘n gedeelte waar die gesprek begin vlot en gaandeweg al hoe interessanter raak. Mbeki bly die een oor wie ek skryf, want dis hy wat sê daar is twee Suid-Afrikas: een waar niks werk nie (die ANC-Suid-Afrika, noem hy dit) en een waar professionele mense bly, met sisteme wat werk en waar hulle hul eie weermag het. Dié weermag se naam is ADT. Later in die gesprek vind die hoogtepunt plaas toe ‘n onbekende swart man in die gehoor sê die probleem is nie die feit dat iets soos ADT bestaan nie, maar die feit dat die een sisteem die ander een teëwerk. As die hoof van Baragwanath-hospitaal nie aan ‘n private mediese fonds behoort het en sy kinders na ‘n privaat-hospitaal kon stuur as hulle die dag siek raak nie (of so ook Zuma), dan sou die staatshospitaal MOES werk. Hierop klap die gehoor spontaan hande.

Die land se probleme is nie opgelos nie, dink ek toe ek by die dorp uitry en ses swart mans agterop ‘n bakkie sien ry. Ek steek die bakkie verby. Voor in die bakkie sit drie ander swart mans en gesels. Een loer uit en gesels met die mense agterop.

Nee, die land se probleme is nie opgelos as gevolg van een item by die Franschhoek Literêre Fees nie. Maar dalk is daar een kind van Dalubuhle Laerskool wat vanaand ‘n lekker slaaptydstorie hoor. En daar is ten minste een grootmens wat vandag hierdie dorp verlaat met ‘n klein bietjie meer empatie vir mense wat uitgelewer is aan staatsinstellings omdat hulle nie ‘n keuse het nie.

Ter demonstrasie (dié een steel ek van Facebook af):

Pespos, rookskerms en net ‘n nommer sonder ‘n huis

May 17, 2013 in Geen Kategorie

Gister by ‘n geleentheid as voorloper tot die Franschhoek Literêre Fees het Chanette Paul gesê: moenie dialoog skryf soos wat mense regtig praat nie. Alledaagse gesprek oor alledaagse dinge is vervelig. Maar luister gesprekke af en skryf HOE hulle praat. Die geheim is dit moet gemaklik klink, met die regte klank. Maar die woorde wat die karakters gebruik, moet funksioneel wees.

Wyse woorde. Maar ek’s bevrees hierdie bloginskrywing is maar bra vervelig. Dis ‘n afkondiging en die emosie daaragter is moedeloosheid.

Die blogruimte word oorval met pespos. Ek vermoed julle sukkel ook daarmee as ek so baie pespos in my kommentaarblokkie ontvang.

‘n Ander groot irritasie waarvan ek nou bewus geraak het vandat ‘n blogger my hierop gewys het, is al die rookskerms van “bloggers” wat eintlik net wil adverteer. Ek kap uit vir al wat ek werd is, maar die goed skiet op soos paddastoele in ‘n klam tuin.

En nog ‘n ding: ‘n ander blogger skryf vir my sommige van julle sukkel met adresse wat uit die bloute nie vir julle toegang wil gee tot jul blogruimtes nie. Ek het ‘n mede-blog-administrateur by ‘n ander ruimte vir raad gevra. Ek hoop sy antwoord gou en dan kan ek iets hieraan doen.

Kern van die saak: die klagtes bereik my ore en ek probeer die probleme oplos soos wat hulle opduik. Laat weet my waarmee julle sukkel en ek kyk wat ek kan doen.

naomimeyer@litnet.co.za.

Of stuur vir my ‘n e-pos op die blogruimte.

Groete, lekker naweek!

Naomi M

Die dansende digter

May 12, 2013 in Geen Kategorie

Wat is daardie grappie nou weer van iemand wat ‘n digter is, soms meer as ander kere? Ek is digter as ‘n kluit as dit kom by gedigte skryf. Maar ek waardeer darem wel poësie. En ek besef dit gaan oor presies die regte woord op die regte plek, en dalk so min as moontlik van hulle. Om woorde spaarsamig te gebruik.

Die naweek was die Dansende Digters Fees | Poetry in Other Words by Spier. Heel eerste op die spyskaart, gisteraand, was geregte in handpalmgrootte bakke wat met normale hors d’oeuvre vergelyk kan word soos my hoërskoolgedigte met gedigte in die Groot Verseboek. Daar was ekostiese noedels en toe iemand aankondig “fish and chips”, wou ek haar vriendelik berispe oor die leuen wat sy vertel. Daardie lekker gebraaide gedoentetjie met die stringetjies goeters daarby kon dit nie gewees het wat sy dit genoem het nie.

Tussen die smaaklike happies, het ‘n uitgelese skare in die knus, nou gang beweeg. Elke naam wat ek hier sou neertik, sal bekend wees iewers in ‘n land iewers in die wêreld se literêre kringe. Want, het ek verneem: die internasionale digters wat hier kom optree het, was hulle eie lande se Krog of Breytenbach, byvoorbeeld. Die bekendes het opgetree soos normale mense sou doen. Sommige was vriendelik, ander was arrogant en sommige het skugter oogkontak vermy.

Ek kan blog oor suksesvolle en onsuksesvolle gesprekke wat ek met die letterkundiges aangeknoop het. Die meeste van die gesprekke herinner my reeds weer aan daardie hoërskoolgedigte wat my so aanhou agtervolg. Ek het baie lank Afrikaans gepraat met twee buitelanders wat eers diep in my monoloog besluit het om te sê hulle begryp nie ‘n woord nie. Maar gelukkig het die hoofitem op die spyskaart enige ander gebeurtenis oorskadu. Ons kon deurbeweeg na die tent waar die digters se woorde sou dans. Later, kondig Breytenbach af, gaan almal saam djol. Daar is nie ‘n vertaling van hierdie woord nie, meen hy. Maar eers – die voorlesings.

Antjie Krog, Joachim Sartorius en Carolyn Forché het toe waarlik met hul woorde gedans. Elke onderskeie voordrag – en ook diegene wat hul vertaalde werke voorgedra het, wat ingesluit het Breyten Breytenbach en Marlene van Niekerk – was kragtig en veerlig terselfdertyd. Elke woord het op die regte plek in die rivier geval. Ek kon die rimpels sien uitsprei. In die agtergrond was daar van tyd tot tyd musiek. Die projektor het agter elkeen se rug ‘n beeld teen die muur gegooi: soms met die woorde van die gedig, soms met ‘n interpretasie – iemand wat iets teken of uitvee. Beweging. Woorde soos musiek. Dans op ‘n ander manier.

Met die eerste pouse (hoekom klink die woord onvanpas? so ongesofistikeerd soos om te sou praat van halftyd?) loer ek gou na my selfoon. Is die kroos wel? Nee, kom die boodskap helaas. Die jongste sien nie te waffers daar uit nie. Ek kan gerus bly, moenie kommer nie, als onder beheer. Maar die moedersinstink kry die oorhand, ek ry huistoe, en ek sien geen digters dans nie, slegs later op Facebook.

Ten minste was dit nie ‘n groot ramp in die nag nie. Die gevaar was tydelik afgeweer. As die kiem omvangryk wil uitbroei, moet mens maar wag en sien. Vanoggend, op Moedersdag, kry ek darem wel ‘n gelukkige einde tot die kleinverhaal. Uit die hoek van my oog sien ek ‘n beweging in die vertrek. En toe ek kyk, sien ek: sowaar, dis soos sy die vertrek binnekom – my dogtertjie dans. En uit haar mond kom net een woord. Sy gebruik dit so ekonomies en op presies die regte tyd en plek dat dit nie iets anders as ‘n gedig genoem kan word nie: Mamma.