You are browsing the archive for 2013 April.

Vryheid van spraak

April 29, 2013 in Geen Kategorie

Die wetsontwerp op beskerming van inligting is verlede week aanvaar. Dit voel al bietjie soos ou nuus, so baie is al hieroor gepraat. Maar toe kry ek ‘n kennisgewing van PEN Afrikaans wat my aandag daarop vestig: dis Internasionale Persvryheiddag op die 3de Mei.

Elke oggend ry ek by die koerantopskrifte op die straatligte verby op pad werk toe. “Cop deur gang gejaag”, byvoorbeeld. (Onthou om die woord “gang” in Engels uit te spreek. Die polisieman is nie in ‘n huis deur ‘n gang gejaag sover die lesers weet nie.) Naweke kyk ek na koerante, soos die res van die land, as dit rustiger is en mens meer tyd het om te lees. En soms voel ek so teleurgesteld met die sensasionele aanbiedinge. Mens kry lekker stories in sommige van hierdie koerante, maar alles lyk nou al na sensasie. Wie’s nou lus om die verslaggewing ernstig op te neem as dit heeltyd lyk na agterbladmeisies met sterretjies op strategiese plekke en onderskrifte daarby? En tussendeur wissel my oudste kind tande en besef ek hy word groot in ‘n wêreld waar alles so vinnig verander dat hy dalk self nooit gaan lus voel om ‘n koerant op papier te lees nie, maar dalk eerder op ‘n klein skermpie waar hy nuusstories kan rondskuif soos dit hom pas.

Ek probeer sê: die nuus klink deesdae anders. Lesers van die Son en van Rapport sal die koerante herken in die paragraaf wat ek hierbo geskryf het. Die taal van die nuus klink anders. Die verpakking van die nuus lyk anders. Ons kan lag of ons koppe skud of kwaad word daaroor. Maar dis soos dit nou lyk, as ons die koerante koop.

Maar dan is daar ook YouTube, waar die nuuskanale hulle beeldmateriaal kry as ‘n tsoenami toeslaan of ‘n bom ontplof. En die dag toe daar plaaswerkerbetogings in Stellenbosch was, het ons by die kantoor gesit en Facebook dophou om te sien wat aan die gang is. Oscar Pistorius in die hof? As jy nie die tweets lees nie, was jy uit.

En hier sit ons almal en blog. Selfs ‘n grappie wat jy deel, of ‘n kommer wat jy uitspreek of ‘n verhaal van verlange as ‘n bekende emigreer … dis alles deel van hierdie gemeenskap se nuus. En niemand mag ons stories stilmaak nie.

Toe dink ek: dalk is die wetsontwerp op beskerming van inligting nooit ou nuus nie.

Dis elke dag se nuus. Ons almal skryf die nuus. Wat’s jou nuus vandag?

Beweging in Bloemfontein

April 18, 2013 in Geen Kategorie

Ek wonder of ek al iets oor die Denker geskryf het. As ek nie het nie, dan moes ek al. Daar’s sekere standbeelde waarvan almal die name ken, maar as mens hulle in lewende lywe (!) sien, dan weet mens hoekom. Soos Rodin se Denker, daardie trietsige dag in Parys.

Gister hoor ek toevallig ‘n skrywer met sy uitgewer gesels oor die voorblad van sy nuwe boek. Een frase trek my aandag: “Daar moet beweging wees.” Sekerlik het hy nie verwys na die manier hoe ek gewoonlik ‘n foto neem nie (dit wil sê die kamera beweeg terwyl ek die knoppie druk en die resultaat is ‘n flop). Die beweging, tref dit my, is soos die beweging van ‘n goeie standbeeld. Hy staan stil, maar hy beweeg.

Ek was oor die Paastyd in Bloemfontein. Hier is geen Statue of Liberty nie, ek weet. Die dorp haal die reisgidse omdat daar geen ander hoofstad in die Vrystaat is nie en as hulle dit weglaat, nou ja … dan is hulle seker maar onvolledig. Maar ek het ‘n sagte plek vir die stad. En verskeie standbeelde hier het my en my metgeselle se aandag getrek.

My seuntjie se hoogtepunt-standbeeld was by ‘n speelplek met die naam Bugs & Beetles. Hier was ‘n massiewe robot. Twee! “Is hy rêrig?” het my seuntjie gevra terwyl hy trots dié se been vashou en ek die (bewegende) foto neem.

Mandela se standbeeld op Naval Hill was ook ‘n hoogtepunt op verskeie maniere. Terwyl ons op die heuwel was, was die donderwolke aan die opbou en ek het gedink: nou is ons te hoog en te naby aan die FM-toring om my gemaklik te laat voel. Maar letterlike interpretasies ter syde: Mandela is vir ewig jonk op Naval Hill, sy gebalde vuis sal nooit sy greep verloor nie. Selfs gestroop van die man se ikoonstatus, is die standbeeld ‘n vergestalting van ewige jeug en krag. En ek het saam met hom oor die stad gekyk en my eie jeug herleef. (Dis jammer die Arthur Nathan-swembad is nou so groen en toegeslik! Ek hoor darem iemand gee aandag hieraan. Maak dit reg, toe?)

Die Vrouemonument se mees onvergeetlike standbeeld hierdie slag vir my was Afskeid. Ek kyk daarna en ek weet dis alles emotief en doelbewus: die pap baba, die vrou se hartseer oë en die man se terugdraai na haar, die hand wat nie wil laat gaan nie. Maar ek kan nie anders nie; dit voel soos poësie in beweging. ‘n Uitbeelding van die laaste strofe van By ‘n sterwende kindjie: “Sy wil nie gaan nie.”

Terug in Stellenbosch sien ek iets oorkant die straat van ons kantoor. (Ek steel die foto van die skepper hiervan se Facebookwerf af, dankie, Strijdom van der Merwe.) En ek besef my kriteria van wat ‘n standbeeld is, word weer op sy kop gekeer. ‘n Standbeeld kan tweedimensioneel wees en tog driedimensioneel wees. So is dit dan met standbeelde, lyk dit vir my.

So is dit dan met ‘n swaar standbeeld. Mens kyk na hom en as mens wegstap, dra mens daardie sware kilogramme met mens saam. Want ‘n goeie standbeeld staan stil. En tog beweeg hy.

Want hy staan stil, maar hy beweeg jóú.


Foto: Strijdom van der Merwe