Menseregtedag 2013 (en Shakespeare)

March 21, 2013 in Geen Kategorie

‘n Familielid vir wie ek baie lief was, is so twee weke gelede dood. Hy was 37. Ek het deur donderwolke Johannesburg binnegevlieg na sy begrafnis. Gister, met die kerse op my seuntjie se verjaardagkoek, het ek teruggedink aan die ligflitse in die oorkantste wolke wat ek vanuit die vliegtuig kon sien. Terwyl my kind die kerse doodblaas, het ek vir die eerste keer in my lewe die woorde van Macbeth verstaan: “Out out brief candle …”

(“Life’s but a walking shadow, a poor player
That struts and frets his hour upon the stage
And then is heard no more …”)

En vanoggend, toe ek teenoor die vrou wat soms hier ons kantoor se vloere kom was, mompel of ons dan die enigste mense is wat op Menseregtedag werk, vertel sy my weer ‘n ander storie. Van die mense hier anderkant wie se wasgoed sy was en wat haar nooit betaal nie. Nee, sê ek vir haar. Dit kan mos nie. Sê vir hulle hul moet jou betaal. Sy trek haar skouers op.

Die universele handves van menseregte stry ‘n bietjie met Shakespeare. Hulle sit die dertig basiese menseregte uiteen. Veral het elke mens op aarde die reg op lewe. En hoe die lewe ingekleur word, is ook ander mense se verantwoordelikheid. Ons leef nie meer in die feodale tye nie, so mense kan nie van ander mense verwag om vir hulle te werk in ruil daarvoor dat hulle slegs op hulle grond bly nie. Ahem! Laat hierdie my nou dink aan onlangse plaaswerkeropstande hier in die Kaap …

Of aan die vrou wat vandag net haar skouers optrek omdat sy weet dit gaan niks help om vir die mense te gaan vra om haar die geld te gee wat hulle haar skuld nie.

Ek kan niks meer doen aan die lot van die afgestorwene na wie ek hierbo verwys nie. Wat hom betref, is daar by my net ‘n gevoel van verlies. Wat betref ander mense saam met wie ons die aarde deel, bly die woorde van Shakespeare my vandag by. En ook iets van Plato: Be kind, for everyone you meet is fighting a hard battle.

Wat beteken die handves van menseregte vir enigeen van ons wat toegang het tot ‘n rekenaar, internet, lopende water, elektrisiteit … Mooi woorde. Maar hoe afdwingbaar is dit regtig vir iemand wat dit nodig het, omdat hy eintlik net sy skouers optrek teen alledaagse ongeregtigheid wat teen hom gepleeg word?

Shakespeare is méér reg as die handves van menseregte, dink ek. Alledaagse ongeregtigheid vind teen almal van ons plaas en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Daar bestaan nie iets soos ‘n reg op lewe nie. As daar nou een ding is wat seker is op Menseregtedag vanjaar, is dit hierdie feit. Niemand van ons het ‘n sê oor hoe lank ons sal leef nie.

Maar ons hét ‘n sê oor hoe ons leef.

Groete, Naomi M

11 responses to Menseregtedag 2013 (en Shakespeare)

  1. Só waar . Plus : mens moet maar net op jou regte kan staan, en nie op ander mense se regte trap nie … en dan is daar ook nog mensgemaakte verskille tussen klein en groot regte ? Maar eintlik is al hierdie sogenaamde menseregte bloot begenadigde VOORREGTE.

  2. Drie naskrifte. a) My gemor oor werk op Menseregtedag is ongegrond, want dit was uit eie keuse – ‘n uitruiltransaksie in ons kantoor dat sommige van ons vandag en ander môre werk. b) Ditto enige vrae oor die vrou in ons kantoor wat vandag gewerk het – sy het kom vra of sy ‘n werksdag vandag kan neem, want ander dae het haar nie gepas nie. c) Is dit regtig Plato wat hierdie “hard battle”-ding gesê het? Dit voel nou vir my hoogs onwaarskynlik. Hy was mos die man wat die skadu’s op die grotmure dopgehou het en daaroor filosofeer het. Help tog om my bron te verbeter, as iemand weet …

    • dink ook dit was Plato ; hy het mos ook ‘n stuk filosofie neergeskryf daai tyd oor die onbesonnenheid van die jeug , wat mens kon sweer vandag uitgedink kon gewees het.

  3. Jammer vir die vriend wat jy verloor het.
    Ek wens dat mense mekaar meer kan respekteer ten spyte van die foute wat hulle maak.
    Gelukkig beskaam die hoop nie.

  4. Hierdie ding van hoe menseregte vir die man in die straat of die skoonmaker op die vloer of ‘n kantoorwerker of ‘n kassiere werk, pla my al lankal. Vir elke aksie wat ‘n mens in die lewe neem, moet jy eintlik pro-aktief wees en pro-aktiwiteit is iets wat van binne af kom. As jy van kleins af die regte fondament het om op te staan vir jouself, of as jou gene jou geseën het met die dryfkrag om te veg vir wat reg is, sal jy dalk iets doen. Maar dis anders as die lewe jou nog net dwarsklappe gegee het en jy dankbaar is vir elke krummeltjie wat na jou kant toe kom omdat jy nie weet wanneer dit wel gaan kom nie. Dis hoekom die mense wat kan, namens ander moet. Ongelukkig is die wat kan nie altyd die wat wil nie en as iemand nie die kringloop breek nie, duur dit voort.

  5. Baie waar inskrywing. *****

    Naomi, ek het ‘n guns om te vra: ek is mos ‘n kompulsiewe ‘mobber’ en is nou op soek na ‘n blogger (‘NetMyself’…sy het laas wat ek haar gesien het so avatar van ‘n meisie met ‘n pers serp om die kop gehad (-;) vir wie ek hand en mond belowe het ek nooi haar vir ‘n koffie as ek ooit in haar vallei is…en nou is ek hier maar ek het net my selfoon by my en ek kry nie rondgesoek op die tuisblad, van die selfoon browser af nie. As ek net op haar blad kan kom, kan ek met haar gesels, maar sy het lanklaas geblog. Is dit dalk moontlik dat jy kan help? Dit sal gaaf wees as jy (of enige iemand wat dalk kan help) die skakel na haar blog vir my kan aanstuur na klarisabet@gmail.com. ‘seblief! Dit sal regtig waardeer word.

  6. Ek kry nie fotos geplaas nie, ek dink ek doen die ding reg, maar geen resultaat nie. Kan jy help, asseblief?

    • @Lewies, kom jy reg met die foto’s? Klik op die prentjie van die kamera bo jou nuwe inskrywing, by die woorde upload/insert. ‘n Nuwe venstertjie maak nou oop en hier kies jy die foto’s vanaf jou eie rekenaar om by jou bloginskrywing by te voeg. Help dit?

  7. Ek het oor Kersfees gaan sit en al 37 Shakespeare plays gekyk.

    Dit was wonderlik. Lees

    http://gertrautenbach.blogspot.com/2013/02/shakespeare-stills.html

Leave a Reply