Woordfees 2013 (eerste naweek): Die nostalgie, die towenaar en die kleinverhaal

March 4, 2013 in Geen Kategorie

“Dit was die jaar toe PW Botha die kabinet betree het. Die jaar toe die gemmerkat Garfield sy verskyning gemaak het. Jimmy Carter was president van Amerika. En ek betree die ateljee en neem vir die eerste keer hierdie liedjie op.” Die intreenote van Koos du Plessis se “Kinders van die wind” vul die lug.

Laurika Rauch het by die heel eerste aand van die Woordfees voor ‘n stampvol Oude Libertasteater opgetree. Die media sit letterlik buite die teater. Daar is nie plek vir ‘n muis nie. Met rede. Die vertoning is ‘n samestelling van liedjies uit hierdie era waarna sy verwys, soos “Toemaar, die donker man”. Met al die ritse ander treffers wat die gehoor wou kom luister: “Blouberg se strand”, “Huisie by die see” en “Mannetjies Roux”. Grense word nie verskuif nie, maar harte word geroer. Dis ‘n onbeskaamd nostalgiese vertoning onder die amper-volmaan. “Niks hang so rooi soos wingerblaar” is ‘n hoogtepunt. En die liedjie “En gee ons oor aan die nostalgie” som die vertoning op.

Saterdagoggend 2 Maart bekoor die towenaar sonder naam ‘n spul kinders en hul ouers. Hy is luidrugtig en oorweldigend, hy laat die kinders rondspring en hy lei almal van ons in die gehoor aan ons neuse rond. Ons word bedrieg en ons oë word verblind. Hy laat balle in die lug dryf. Hy hoes sakdoeke in lang stringe by sy mond uit. Hy laat goeters verdwyn en verskyn. Hy verskuif nie die grense van kinderteater nie, maar wie gee om? Hy is verruklik. My seuntjie vra agterna of hy ook ‘n towenaar kan word en hoekom nie? Ek sê ja. Ek’s seker daar is selfs ‘n ekonomiese toekoms in die bedryf as jy jou so kundig uitleef soos hierdie man met sy pluiskeil en warm baadjie op die snikhete somersdag.

En Saterdagaand beleef ons die kleinverhaal van Koos Kombuis in Kytie – ‘n Koos Kombuis-storie. Die gehoor beleef die rol wat Koos Kombuis se grootmaakster in sy lewe gespeel het. Veral: die impak wat sy op sy latere verhoudingslewe gespeel het. Hoe sy waarlik vir hom ma was. Hom versorg het. Maar ook ma was in dié opsig dat sy sy eerste liefde was. Sy het hom beskadig en verniel soos net ‘n ma emosioneel met ‘n kind kan doen, of sy dit nou bedoel of nie. Maar terselfdertyd het sy hom nooit verlaat nie. My kritiek is dat hierdie verhaal nie tuishoort onder die dramafees nie. Dis sekerlik ten dele fiksie, maar Koos Kombuis het kennelik ook insette gehad in die verwerking van die teks, as ek moet raai. Of dalk het hy net toestemming gegee dat sy stem en liedjies gebruik word. Ieder geval, hierdie stuk voel vir my sorteer onder Stories agter stories, of dalk as ‘n item op die Skrywersfees.

Tot sover. Wie van julle Woordfees 2013?

Groete, NM

4 responses to Woordfees 2013 (eerste naweek): Die nostalgie, die towenaar en die kleinverhaal

  1. As jy so aanhou gaan ek vir seker 2014 Woordfees.

  2. Ek Woordfees ongelukkig net in die gees die jaar weens omstandighede buite ‘n bitter binnelander se beheer . . . (:

  3. Ek wou nie kom lees nie, want nou is ek alweer jaloers. Geniet dit en kom vertel nog.

Leave a Reply