US Woordfees 2013 skrywersprofiel: Dot Serfontein

March 4, 2013 in Geen Kategorie

Met kamera gewapen betree ek die Boeketent. Dis waarlik hemels. Daarbuite kry die sonbesies te warm om te sing. Hierbinne is daar sielsalige lugreëling. In die skemerdonker gaan sit ek baie gelukkig heel agter, maar ongelukkig is daar reeds iemand op die stoel. Die saal is stampvol. Ek maak verskoning en staan op van die verbaasde dame se skoot. Nou ja. Dis dan ‘n teken dat ek moet rondbeweeg met die kamera. Foto’s neem mag dalk nie my forte (of piano) wees nie, maar binne ‘n uur kan ek sekerlik ‘n goeie vyftig foto’s vanuit verskillende perspektiewe en hoeke neem en één sal sekerlik slaag.

Nie net een nie, dink ek eufories in die koeligheid terwyl ek die knoppie in die vleuels van die saal begin druk. Al vyftig van hulle. Klik. Daar’s hy. ‘n Mooi een van Antjie Krog. Dis toe ek so ‘n stuk of tien foto’s geneem het, dat ek besef ek is nou blind. Dis nie die donkerte in die saal nie. Dis iets anders. Dit tref my: die beligting. Ek neem foto’s van Antjie Krog terwyl die verhoog se ligte soos ‘n professionele rugbystadion s’n alles vanagter die persoon agter die mikrofoon skyn – hier vanuit die hoek waar ek staan. Ek staan en neem foto’s asof reguit die son in.

Toe my sig begin terugkeer, skuifel ek na die ander hoek van die saal. Hier raak die kamera vir my so ‘n bietjie uit fokus, maar ek druk deur. Almal luister heerlik na Dot Serfontein se kleindogter, Susan, wat nou baie vermaaklik vertel van haar heuningallergie en haar wedervaringe in die hospitaal. Ek neem moedig foto’s, teen my beterwete. Dan is Andries aan die beurt met ‘n ernstiger gedig. Ek is deur al die ander verwerkingstadia van trauma, die gelatenheid neem oor. Nie een foto gaan slaag nie.

Maar laat ek wegskuif vanuit die storie, en padgee voor die kamera. Hoe sê hulle? Die storie moet homself vertel, die skrywer moenie in die pad wees nie. Ek vra verskoning. Vir al die mense op wie se tone ek vandag getrap het. Dit was omdat ek geglo het aanhou is die beste geweer. Ek sou die oomblik kon vasvang. Feesflitse kon bewerkstellig. En ek vra ook om verskoning dat ek nie ‘n foto kon neem wat ons op LitNet kon gebruik nie.

Maar ek vra nie om verskoning dat ek die geleentheid kon bywoon nie. Die Serfonteiniete was meesterlik. Dot Serfontein was soos Prometheus, nes Andries Samuel gesê het. Sy het die vuur aan almal van julle oorgedra. Sy was ‘n matriarg van die familie, behalwe dat sy ‘n skrywer is. Ek is spyt sy was nie vandag self daar nie, weens die heupbesering. Maar dit was ‘n voorreg om haar nasate te kon aanhoor en aanskou. Dankie vir julle voorlesings; dit was een groot viering van Dot Serfontein (88). Haar lig het so helder in daardie saal geskyn dat dit was asof die mense op die verhoog voor ‘n venster gesit het sodat mens hulle nie kon afneem nie omdat die lig van agter af oor hulle skyn. Lank lewe Dot Serfontein!

14 responses to US Woordfees 2013 skrywersprofiel: Dot Serfontein

  1. asem ! maar om ook so die fotobeelde visueel te probeer vasvang maak sekerlik tog dat ‘n joernalis , al is sy hoe multifunksioneel, van die woordkuns sal kan mis … ?

  2. Gaan kyk ‘n bietjie by GROEPE op die blog se webblad (daar waar Harties hHaven is) daar is ADVERTENSIES! Kan julle dit nie verwyder nie????????????

  3. Moeilike een, die fotonemery.

    Nou wil ek by jou hoor: Wat is die moontlikheid dat verstellings aan LitnetBlogs só gedoen kan word dat wanneer jy op iemand se naam kliek jy direk na daardie persoon se webwerf geneem word en nie na sy/haar ledeblad nie? Op hierdie stadium neem dit drie stappe om daar uit te kom (naam > webwerwe > weereens die naam > en dán eers die webwerf).

  4. die endrym ‘joernalis’ en ‘mis’ is nie ‘aspris’ :)

  5. So bly dat die woordfees weereens ‘n groot sukses is!

Leave a Reply