You are browsing the archive for 2013 March.

Menseregtedag 2013 (en Shakespeare)

March 21, 2013 in Geen Kategorie

‘n Familielid vir wie ek baie lief was, is so twee weke gelede dood. Hy was 37. Ek het deur donderwolke Johannesburg binnegevlieg na sy begrafnis. Gister, met die kerse op my seuntjie se verjaardagkoek, het ek teruggedink aan die ligflitse in die oorkantste wolke wat ek vanuit die vliegtuig kon sien. Terwyl my kind die kerse doodblaas, het ek vir die eerste keer in my lewe die woorde van Macbeth verstaan: “Out out brief candle …”

(“Life’s but a walking shadow, a poor player
That struts and frets his hour upon the stage
And then is heard no more …”)

En vanoggend, toe ek teenoor die vrou wat soms hier ons kantoor se vloere kom was, mompel of ons dan die enigste mense is wat op Menseregtedag werk, vertel sy my weer ‘n ander storie. Van die mense hier anderkant wie se wasgoed sy was en wat haar nooit betaal nie. Nee, sê ek vir haar. Dit kan mos nie. Sê vir hulle hul moet jou betaal. Sy trek haar skouers op.

Die universele handves van menseregte stry ‘n bietjie met Shakespeare. Hulle sit die dertig basiese menseregte uiteen. Veral het elke mens op aarde die reg op lewe. En hoe die lewe ingekleur word, is ook ander mense se verantwoordelikheid. Ons leef nie meer in die feodale tye nie, so mense kan nie van ander mense verwag om vir hulle te werk in ruil daarvoor dat hulle slegs op hulle grond bly nie. Ahem! Laat hierdie my nou dink aan onlangse plaaswerkeropstande hier in die Kaap …

Of aan die vrou wat vandag net haar skouers optrek omdat sy weet dit gaan niks help om vir die mense te gaan vra om haar die geld te gee wat hulle haar skuld nie.

Ek kan niks meer doen aan die lot van die afgestorwene na wie ek hierbo verwys nie. Wat hom betref, is daar by my net ‘n gevoel van verlies. Wat betref ander mense saam met wie ons die aarde deel, bly die woorde van Shakespeare my vandag by. En ook iets van Plato: Be kind, for everyone you meet is fighting a hard battle.

Wat beteken die handves van menseregte vir enigeen van ons wat toegang het tot ‘n rekenaar, internet, lopende water, elektrisiteit … Mooi woorde. Maar hoe afdwingbaar is dit regtig vir iemand wat dit nodig het, omdat hy eintlik net sy skouers optrek teen alledaagse ongeregtigheid wat teen hom gepleeg word?

Shakespeare is méér reg as die handves van menseregte, dink ek. Alledaagse ongeregtigheid vind teen almal van ons plaas en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Daar bestaan nie iets soos ‘n reg op lewe nie. As daar nou een ding is wat seker is op Menseregtedag vanjaar, is dit hierdie feit. Niemand van ons het ‘n sê oor hoe lank ons sal leef nie.

Maar ons hét ‘n sê oor hoe ons leef.

Groete, Naomi M

Watter taal praat mense in die hemel?

March 7, 2013 in Geen Kategorie

Is die hemel ‘n plek? Dit was ‘n Woordfeesgesprek vanoggend op RSG. Ek het, soos baie ander mense sekerlik vandag, aan Gerrit Brand gedink terwyl ek hierna luister. Hierdie soort gesprek, reken ek, sou reg in sy kraal gewees het. Spiritueel, filosofies – en soekend.

Ek het nie vir Gerrit Brand persoonlik baie goed geken nie, maar ek het sedert 2000 baie dikwels met hom te doen gehad. En hom leer ken uit die seminare wat hy vir LitNet gereël het, blogs wat hy geskryf het en opinies wat hy uitgespreek het. Iewers in die lente verlede jaar het ons koffie gedrink in die Wijnhuis en hy het verwys na sy gesondheid wat agteruitgaan. Maar wie sou kon raai dat dit alles so vinnig oor kan wees as mens 42 jaar oud is? As ‘n ma van jong kinders raak sy afsterwe my baie diep. Hy was self ‘n pa.

Die huldeblyke aan Gerrit Brand stroom in op LitNet. Lees dit soos wat dit inkom, want daar verskyn nog ‘n hele paar bydraes. Sommige is versoek, maar die meeste kom sommer net self daar aan. Dis of mense nie anders kán as om iets oor hom te wil sê nie. Alle mense. En vanuit alle oorde: die boekewêreld, die akademiese kringe, en die taalgroepe. Hy was een van daardie sonderlinge mense wat dit kon regkry om met alle mense oor die weg te kom al het hy nie met almal saamgestem nie.

‘n Opmerking in Christo van der Rheede se huldeblyk het my diep getref, waar hy hoop dat Gerrit Brand nou met Neville Alexander en Jakes Gerwel in die wandelgange van die hiernamaals gesels. Daar was iets so salig en vredevol aan hierdie opmerking.

Hulle is saam daar. Laat sy jong seuns probeer om hul hiermee te troos. Terwyl ons almal hier op aarde nog praat en redekawel en sukkel met alledaagse sleur en kieme. Rus in vrede, Gerrit Brand.

Oor my opskrif. Ek sou reken al die tale onder die son. Wat sê jy, Gerrit Brand?

Groete, NM

US Woordfees 2013 skrywersprofiel: Dot Serfontein

March 4, 2013 in Geen Kategorie

Met kamera gewapen betree ek die Boeketent. Dis waarlik hemels. Daarbuite kry die sonbesies te warm om te sing. Hierbinne is daar sielsalige lugreëling. In die skemerdonker gaan sit ek baie gelukkig heel agter, maar ongelukkig is daar reeds iemand op die stoel. Die saal is stampvol. Ek maak verskoning en staan op van die verbaasde dame se skoot. Nou ja. Dis dan ‘n teken dat ek moet rondbeweeg met die kamera. Foto’s neem mag dalk nie my forte (of piano) wees nie, maar binne ‘n uur kan ek sekerlik ‘n goeie vyftig foto’s vanuit verskillende perspektiewe en hoeke neem en één sal sekerlik slaag.

Nie net een nie, dink ek eufories in die koeligheid terwyl ek die knoppie in die vleuels van die saal begin druk. Al vyftig van hulle. Klik. Daar’s hy. ‘n Mooi een van Antjie Krog. Dis toe ek so ‘n stuk of tien foto’s geneem het, dat ek besef ek is nou blind. Dis nie die donkerte in die saal nie. Dis iets anders. Dit tref my: die beligting. Ek neem foto’s van Antjie Krog terwyl die verhoog se ligte soos ‘n professionele rugbystadion s’n alles vanagter die persoon agter die mikrofoon skyn – hier vanuit die hoek waar ek staan. Ek staan en neem foto’s asof reguit die son in.

Toe my sig begin terugkeer, skuifel ek na die ander hoek van die saal. Hier raak die kamera vir my so ‘n bietjie uit fokus, maar ek druk deur. Almal luister heerlik na Dot Serfontein se kleindogter, Susan, wat nou baie vermaaklik vertel van haar heuningallergie en haar wedervaringe in die hospitaal. Ek neem moedig foto’s, teen my beterwete. Dan is Andries aan die beurt met ‘n ernstiger gedig. Ek is deur al die ander verwerkingstadia van trauma, die gelatenheid neem oor. Nie een foto gaan slaag nie.

Maar laat ek wegskuif vanuit die storie, en padgee voor die kamera. Hoe sê hulle? Die storie moet homself vertel, die skrywer moenie in die pad wees nie. Ek vra verskoning. Vir al die mense op wie se tone ek vandag getrap het. Dit was omdat ek geglo het aanhou is die beste geweer. Ek sou die oomblik kon vasvang. Feesflitse kon bewerkstellig. En ek vra ook om verskoning dat ek nie ‘n foto kon neem wat ons op LitNet kon gebruik nie.

Maar ek vra nie om verskoning dat ek die geleentheid kon bywoon nie. Die Serfonteiniete was meesterlik. Dot Serfontein was soos Prometheus, nes Andries Samuel gesê het. Sy het die vuur aan almal van julle oorgedra. Sy was ‘n matriarg van die familie, behalwe dat sy ‘n skrywer is. Ek is spyt sy was nie vandag self daar nie, weens die heupbesering. Maar dit was ‘n voorreg om haar nasate te kon aanhoor en aanskou. Dankie vir julle voorlesings; dit was een groot viering van Dot Serfontein (88). Haar lig het so helder in daardie saal geskyn dat dit was asof die mense op die verhoog voor ‘n venster gesit het sodat mens hulle nie kon afneem nie omdat die lig van agter af oor hulle skyn. Lank lewe Dot Serfontein!

Woordfees 2013 (eerste naweek): Die nostalgie, die towenaar en die kleinverhaal

March 4, 2013 in Geen Kategorie

“Dit was die jaar toe PW Botha die kabinet betree het. Die jaar toe die gemmerkat Garfield sy verskyning gemaak het. Jimmy Carter was president van Amerika. En ek betree die ateljee en neem vir die eerste keer hierdie liedjie op.” Die intreenote van Koos du Plessis se “Kinders van die wind” vul die lug.

Laurika Rauch het by die heel eerste aand van die Woordfees voor ‘n stampvol Oude Libertasteater opgetree. Die media sit letterlik buite die teater. Daar is nie plek vir ‘n muis nie. Met rede. Die vertoning is ‘n samestelling van liedjies uit hierdie era waarna sy verwys, soos “Toemaar, die donker man”. Met al die ritse ander treffers wat die gehoor wou kom luister: “Blouberg se strand”, “Huisie by die see” en “Mannetjies Roux”. Grense word nie verskuif nie, maar harte word geroer. Dis ‘n onbeskaamd nostalgiese vertoning onder die amper-volmaan. “Niks hang so rooi soos wingerblaar” is ‘n hoogtepunt. En die liedjie “En gee ons oor aan die nostalgie” som die vertoning op.

Saterdagoggend 2 Maart bekoor die towenaar sonder naam ‘n spul kinders en hul ouers. Hy is luidrugtig en oorweldigend, hy laat die kinders rondspring en hy lei almal van ons in die gehoor aan ons neuse rond. Ons word bedrieg en ons oë word verblind. Hy laat balle in die lug dryf. Hy hoes sakdoeke in lang stringe by sy mond uit. Hy laat goeters verdwyn en verskyn. Hy verskuif nie die grense van kinderteater nie, maar wie gee om? Hy is verruklik. My seuntjie vra agterna of hy ook ‘n towenaar kan word en hoekom nie? Ek sê ja. Ek’s seker daar is selfs ‘n ekonomiese toekoms in die bedryf as jy jou so kundig uitleef soos hierdie man met sy pluiskeil en warm baadjie op die snikhete somersdag.

En Saterdagaand beleef ons die kleinverhaal van Koos Kombuis in Kytie – ‘n Koos Kombuis-storie. Die gehoor beleef die rol wat Koos Kombuis se grootmaakster in sy lewe gespeel het. Veral: die impak wat sy op sy latere verhoudingslewe gespeel het. Hoe sy waarlik vir hom ma was. Hom versorg het. Maar ook ma was in dié opsig dat sy sy eerste liefde was. Sy het hom beskadig en verniel soos net ‘n ma emosioneel met ‘n kind kan doen, of sy dit nou bedoel of nie. Maar terselfdertyd het sy hom nooit verlaat nie. My kritiek is dat hierdie verhaal nie tuishoort onder die dramafees nie. Dis sekerlik ten dele fiksie, maar Koos Kombuis het kennelik ook insette gehad in die verwerking van die teks, as ek moet raai. Of dalk het hy net toestemming gegee dat sy stem en liedjies gebruik word. Ieder geval, hierdie stuk voel vir my sorteer onder Stories agter stories, of dalk as ‘n item op die Skrywersfees.

Tot sover. Wie van julle Woordfees 2013?

Groete, NM

Festum fatuorum

March 1, 2013 in Geen Kategorie

Dit mag die Bloemfonteinse skou van my adolessensie wees wat my so besoedel het. Die teleurstelling dat spookasem en toffie-appel nie so lekker is as wat hulle name beloof nie. Die versugting dat die bruingebrande lat op die Big Wheel eerder in my rigting kyk as om so na die hoofseun te staar. Die gedoef-doef van die musiek het my geïsoleer eerder as om my by die partytjie in te trek. Destyds se karnaval was nie vir my lekker nie. Maar vandag is dit meer as twee dekades later.

Goed, die verkeer in Stellenbosch is ‘n gemors. Wat is parkeerplek? Bestaan daar ‘n motor wat dit kan regkry om in Ryneveldstraat voort te beweeg? Die munisipaliteit het besluit NOU is die tyd om Dorpstraat op te kap. Ek sit een slag as vlieg teen die muur van ‘n gebou waar iemand mompel hy ken reeds al die stories van so en so, hy het nie nodig om hierdie of daardie geleentheid by te woon nie.

Die US Woordfees skop vandag af. Die tema – hemels – vind sy oorsprong in die Maja-kalender en die feit dat die wêreld toe nie verlede jaar tot ‘n einde gekom het nie. Die Woordfeesorganiseerders meen hul is nie bygelowig nie. Die fees gaan hemels wees, laat elke geleentheid jou na die sewende hemel transporteer, om nie van verdere beeldspraak ten opsigte van die paradys en die hiernamaals te vergeet nie.

Maar het die Woordfeesorganiseerders dalk ook die konsep van die karnavaleske in hul agterkoppe gehad toe hul die feestema uitgedink het? Die idee van hoe ‘n karnaval die orde kan omkeer (dit gebeur baie prakties op die dorp as mens na die infrastruktuur kyk), maar ook hoe ‘n karnaval anargie kan veroorsaak omdat grense begin vervaag. Die gekke word wys, konings word bedelaars, teenoorgesteldes vermeng. Feit en fiksie, die hel en die hemel …

Daar is iets in die lug, daar is iets … As jy toevallig in Stellenbosch is: woon obskure items by (jy kan dwarsdeur die nag teater bywoon) en deel in die karnaval. Dit kom een maal per jaar. En hou dit as ‘n mantra voor, ten spyte van die versteuring van die gemak van die orde, ten spyte van klein irritasies, ten spyte van, juis omdat.

Groete vanuit die gekkerny, Naomi M