Oscar Pistorius: Die perfekte storie?

February 15, 2013 in Geen Kategorie

Hoekom is die vreeslike gebeure rondom die dood van Oscar Pistorius se meisie die perfekte storie?

Dit het reeds ‘n ongelukkige einde, om die minste te sê, selfs al is daar nog nie ‘n hofuitspraak gemaak nie. ‘n Gelukkige storie trek nie soveel aandag as ‘n ongelukkige storie nie. Trouens, as skrywers net gelukkige verhoudings in hul verhale uitgebeeld het, het nie een van hulle boeke verkoop nie. Hou die twee romantiese karakters so ver en so lank moontlik van mekaar af weg gedurende die storie. Anders wil niemand dit lees nie. Geluk is nie interessant nie. Hierdie storie is die teenoorgestelde van gelukkig. Ek dink dis min of meer hartverskeurend.

Oscar Pistorius is beroemd. Nie net beroemd soos in hy het 1 100 Facebook-vriende nie. Oscar Pistorius is ver daarby verby. Met sy lemme aan sy bene, beweeg hy in ‘n ander stratosfeer. Die gesig van 2012 se Olimpiese Spele. Les bes, die bitter aantreklike gesig. Die gestremde atleet met die helder oë en weerlose mond. En al die foto’s wat nou van sy gewese vriendin geplaas word? Daar’s nie ‘n gemaklike Afrikaanse woord daarvoor nie. Sy was ‘n pin-up girl.

Skoonheid. Oscar Pistorius lyk so goed op foto’s. Van al die internasionale koerantvoorblaaie van die dag vanoggend, was die Irish Times s’n vir my die allerbeste. (Die foto is nie meer op hul tuisblad nie, dis al vervang soos wat nuwe strata nuus bygekom het en ek kry dit nie meer opgespoor nie.) Op die foto word Oscar Pistorius se gesig van die reklamebord van M-Net of DStv verwyder. Sy gesig lê groot, grotesk en verkreukeld op ‘n groen grasperk.

Geweld in Suid-Afrika. ‘n Lieflingtema. Sekerlik oor dit ‘n probleem is. Maar steeds ‘n tema waaroor niemand uitgepraat raak nie. Want almal is bang vir doodgaan.

Om die raaisel te ontrafel is verslawend. Niemand weet wat regtig gebeur het nie. Almal bespiegel onophoudelik. Bo-oor die Staatsrede, bo-oor enige groot nuus of alledaagse gebeure … hierdie storie trek aandag op buitengewone skaal.

Valentynsdag. Toe gebeur dit ook nog op Valentynsdag, maak nou nie eens saak wat die ware gebeure rondom die saak is nie. Ons weet nie iets anders nie. Ons weet net die vreeslike gebeure het toevallig in die vroeë oggendure van Valentynsdag gebeur. Die kersie op die koek.

Die joernaliste is nog lank nie uitgepraat nie. Hierdie bepeinsing oor die Britse media se hantering van die storie, laat mens nogal dink.

Maar snaaks, hierdie is dalk die perfekte intrige-materiaal, maar glad nie ‘n lekker slaaptydstorie nie. En mens wonder of enigiemand gaan rus totdat dit duidelik is wat regtig op 14 Februarie 2013 gebeur het.

Naskrif. Vergewe my as ek nie bespiegelende kommentaar oor wat gebeur het, hieronder kan lewendig merk nie. Totdat die reg sy loop geneem en die hof ‘n finale uitspraak gemaak het, is alles rondom hierdie gebeure regtigwaar net fiksie (en ons almal skrywers van ons eie denkbeeldige verhale van wat hier gebeur het).

15 responses to Oscar Pistorius: Die perfekte storie?

  1. Ja sug, so val die helde een vir een……….

  2. Innocent until proven guilty? hmf die ewige media in it for a buck het hom reeds skuldig bevind.
    Tragies!

  3. Dis darem snaaks hoe die media soos bloedsuiers aan die ding vasbyt en dit terwyl baie ander mense op plase byna elke dag op die wreedaardigste maniere vermoor word.

  4. dankie vir hierdie mooi nugter uiteensetting van hoe ‘n mens se gesindheid behoort te wees oor so ‘n uiters tragiese voorval …

  5. Hierdie is amper soos 9/11 of die troue van William en Kate. Vir die res van my lewe sal ek, wanneer mense daaroor praat, onthou waar ek was, wat ek gedoen het, my reaksie op die nuus, hoe ek gevoel het. Elke koerant het sy eie weergawe en ja, daar is so baie bespiegelinge wat die rondte doen, dit laat my kop draai. En nou kom al die vuil wasgoed nog boonop uit die mandjies ook uit. Het ons nie almal (ek onthou Jeremy Mansfield se tirades destyds), onwrikbaar geglo in Hansie Cronje se onskuld nie? En Joost? Wie sou in ‘n miljoen jaar kon glo dat hy kokaine gebruik het en sy vrou verneuk het met prostitute? Ek hoop dat die waarheid wel sal uitkom sodat almal wat hierby betrokke is, kan vrede vind.

  6. Weet nie of dit sal help om hier kommentaar te lewer nie, maar my probleem is heeltemal iets anders. My 100 mb is vol en ek sukkel om ´n ander blog te registreer. Kan iemand my dalk sê, wat staan my te doen? Stap vir stap, want ek is is maar dom. Maak nie saak wat ek doen nie, maar daar is altyd ´n probleem, wat nie aanvaarbaar is nie.

    • @daan coetzee, sal jy my asseblief laat weet waarmee jy sukkel as jy ‘n nuwe blog wil registreer? Jy sal ‘n ander naam en wagwoord moet gebruik vir jou blog, ook al nommer jy net die naam verskillend, byvoorbeeld daan coetzee.2 Laat weet my asseblief as jy nog sukkel, groete, Naomi M

  7. Ja, heng, het geovoel soos die oggend toe ek hoor Prinses Diana is oorlede, die wereld geruk en lank gevat om te besef dit is NIE ‘n droom nie. Ek voel so jammer vir haar familie en ook vir HOM en sy familie. Dis tragies.

  8. Waar kies ‘n mens in watter font jy ‘n inskrywing wil doen?

  9. Dankie vir die skakel na n baie goedgeskryfte opinie in die Guardian! Presies hoe ek oor die hele ding voel.

  10. Ek voel platgeslaan.Ek kry die families aan albei kante bitter jammer.

  11. Net soms is dit so jammer dat slegte stories die beste verkopers is en tog soek die wereld altyd ‘n sprokies einde……..

Leave a Reply