You are browsing the archive for 2013 February.

Oscar Pistorius: Die perfekte storie?

February 15, 2013 in Geen Kategorie

Hoekom is die vreeslike gebeure rondom die dood van Oscar Pistorius se meisie die perfekte storie?

Dit het reeds ‘n ongelukkige einde, om die minste te sê, selfs al is daar nog nie ‘n hofuitspraak gemaak nie. ‘n Gelukkige storie trek nie soveel aandag as ‘n ongelukkige storie nie. Trouens, as skrywers net gelukkige verhoudings in hul verhale uitgebeeld het, het nie een van hulle boeke verkoop nie. Hou die twee romantiese karakters so ver en so lank moontlik van mekaar af weg gedurende die storie. Anders wil niemand dit lees nie. Geluk is nie interessant nie. Hierdie storie is die teenoorgestelde van gelukkig. Ek dink dis min of meer hartverskeurend.

Oscar Pistorius is beroemd. Nie net beroemd soos in hy het 1 100 Facebook-vriende nie. Oscar Pistorius is ver daarby verby. Met sy lemme aan sy bene, beweeg hy in ‘n ander stratosfeer. Die gesig van 2012 se Olimpiese Spele. Les bes, die bitter aantreklike gesig. Die gestremde atleet met die helder oë en weerlose mond. En al die foto’s wat nou van sy gewese vriendin geplaas word? Daar’s nie ‘n gemaklike Afrikaanse woord daarvoor nie. Sy was ‘n pin-up girl.

Skoonheid. Oscar Pistorius lyk so goed op foto’s. Van al die internasionale koerantvoorblaaie van die dag vanoggend, was die Irish Times s’n vir my die allerbeste. (Die foto is nie meer op hul tuisblad nie, dis al vervang soos wat nuwe strata nuus bygekom het en ek kry dit nie meer opgespoor nie.) Op die foto word Oscar Pistorius se gesig van die reklamebord van M-Net of DStv verwyder. Sy gesig lê groot, grotesk en verkreukeld op ‘n groen grasperk.

Geweld in Suid-Afrika. ‘n Lieflingtema. Sekerlik oor dit ‘n probleem is. Maar steeds ‘n tema waaroor niemand uitgepraat raak nie. Want almal is bang vir doodgaan.

Om die raaisel te ontrafel is verslawend. Niemand weet wat regtig gebeur het nie. Almal bespiegel onophoudelik. Bo-oor die Staatsrede, bo-oor enige groot nuus of alledaagse gebeure … hierdie storie trek aandag op buitengewone skaal.

Valentynsdag. Toe gebeur dit ook nog op Valentynsdag, maak nou nie eens saak wat die ware gebeure rondom die saak is nie. Ons weet nie iets anders nie. Ons weet net die vreeslike gebeure het toevallig in die vroeë oggendure van Valentynsdag gebeur. Die kersie op die koek.

Die joernaliste is nog lank nie uitgepraat nie. Hierdie bepeinsing oor die Britse media se hantering van die storie, laat mens nogal dink.

Maar snaaks, hierdie is dalk die perfekte intrige-materiaal, maar glad nie ‘n lekker slaaptydstorie nie. En mens wonder of enigiemand gaan rus totdat dit duidelik is wat regtig op 14 Februarie 2013 gebeur het.

Naskrif. Vergewe my as ek nie bespiegelende kommentaar oor wat gebeur het, hieronder kan lewendig merk nie. Totdat die reg sy loop geneem en die hof ‘n finale uitspraak gemaak het, is alles rondom hierdie gebeure regtigwaar net fiksie (en ons almal skrywers van ons eie denkbeeldige verhale van wat hier gebeur het).

Die musiek van ons tyd (Family Symphonic Fun saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes)

February 6, 2013 in Geen Kategorie

Een ding kan die Kaapse Filharmoniese Orkes nie doen nie: Hulle kan nie hulself baie sigbaar maak op Facebook nie. Ek sukkel nou al die afgelope tien dae lank om foto’s op te spoor van die geleentheid waaroor ek wil berig. Family Symphonic Fun.

Maar een ding kán die CTPO doen: Hulle kan ‘n saal vol aandagafleibare kinders vermaak. (Dalk moet ek byvoeg: “… en hulle ouers”. Ons kom mos darem self uit ‘n generasie wat gewoond is aan die televisie en aan flitsende liggies. Ons weet hoe verlei meer as een ding gelyk. Ons ken ook YouTube. Ons onderwysers het destyds ook gesukkel dat ons stil sit in die klas.)

Sondagmiddag die 27ste Januarie waai die Suidooster dat die kettings teen die Kunstekaap se vlagpale klater. Die wind waai die motors diagonaal oor die snelweg. Maar ons almal beur teen die wind, want teen die tyd dat ek en my jong metgesel daar opdaag, is daar nie meer plek vir ‘n muis of enige ander gespuis nie. Toe gaan ek sommer die konsert met ‘n vreugdevolle gemoed binne. Hier is nog mense in die land wat omgee vir musiek. Nie net die musiek wat die stadions laat kreun en doef-doewe by woonstelvensters laat inwaai nie. Ander soort musiek, die soort wat koperblasers moet voortbring, of strykinstrumente. Die soort wat die harde klanke voortgebring word deur perkussie.

Die orkes is in swart geklee en lyk professioneel toe hulle op die verhoog stap, al is die gehoor meestal besonder jeugdig. Ek skat die gemiddelde kind in die teater so agt en die gemiddelde ouer so veertig. ‘n Entoesiastiese seremoniemeester (is dit die regte woord?) stel die orkes aan die klank. So klink die viool, en so die tuba (ah, dis die kenwysie van Oscar en Knersus!) en so die klarinet (mooi, Maria du Toit, daardie is ‘n oulike variasie op die Nokia-luitoon en laat almal glimlag). Die trompette se temamusiek van Star Wars ontlok spontane gejuig.

Teen dié tyd voel ek nie meer sinies nie. Wat maak dit saak as ek hier ingekom het met die gedagtes van die swaar wolke wat oor die klassieke musiekmense in die land hang? Daar is hoop – aansteeklike hoop – as musiek kinders in die gehoor so meesleur en bekoor!

Gelukwense aan die dogtertjie wat vir ons die Sugar Plum Fairy se dans vertolk het. Die kinders het haar aangegaap (“Hoe kry sy dit reg om so lank op die punte van haar tone te staan, Mamma?”). En die sangeres, wie se laaste note mens hoendervleis gegee het soos wat Susan Boyle laas reggekry het.

Heeltyd, tussendeur, probeer die narrator die musiek vir die kinders ontsluit.

Ken julle Pirates of the Carribean? (Dawerende applous.) En, so georkestreer, speel die orkes, die tema.

Meisies, ken julle Barbie’s Swan Lake? (Yay!) Die orkes trek los met die mees toeganklike van die deuntjies.

Maar die geleentheid wat uitstaan, kop en skouers bo die res, is hierdie een.

Rossini:

Wat verbind word met Gangnam Style:

Ek kon dit self nie glo nie. Toe die seremoniemeester (aanbieder?) vyf kinders uit die gehoor nooi om te kom deelneem aan een van die items, het ek nie gedink sy gaan hierdie kans vat nie. Maar ek het die gehoor onderskat. Sy vra almal wat die video op YouTube is wat die meeste afgelaai word en die antwoord dreun deur die teater. Of skril eerder. Want dis kinders wat die antwoord skree.

Dis ook bloedjong kinders wat verhoog toe kom toe sy hulle nooi. Nou gaan hulle Gangnam Style dans, vertel sy ons. Ek skud my kop. Nee wat. Veral nie soos wat sy dit voorhou nie. Op die maat van die ruiter van Rossini se Wilhelm Tell-overture. Nee, dit kan nie. Dit gaan misluk. Gans en geheel al en totaal.

Verkeerd. Die kinders tree aan en die orkes tel hul instrumente op. Na die inleiding, teen die tyd wat die kenmerkende galop-gedeelte van die overture begin speel, begin hulle, sonder enige dirigent Gangnam Style te dans. Ontstellende outentiek. Hierdie kinders ken hulle sosiale media.

Ons almal het uit verskillende tydperke gekom nou die Sondag: Die dooie komponiste in die saal, die orkeslede, die ouers en die kinders in die gehoor. Die algemene aanvoeling, is ek byna seker, is in die kol: Die orkes het geld nodig, so seker soos wat elke orkes in hierdie land geld nodig het. Dis die tydperk waaruit ons almal kom. Geld is skaars. As die ekonomie knyp, ly die kunste en die Kuns heel eerste daaronder. Maslow en so aan.

Maar terwyl ek (betower? geskok? verower?) kyk na wat op die verhoog gebeur, besef ek die kinders daar, dans die enigste dans wat hulle ken. Hulle dans die dans van ons tyd, van hierdie era. Van die hier en die nou.

En ek voel agterna of ek wil sê: Gee jou hart vir … Hillbrow … of vir die orkes wat jou aanmoedig om sulke geleenthede saam met jou kinders by te woon. Gee vir hulle. En gee vir jou kinders. Ons almal praat verskillende tale uit verskillende tale met ons almal se sosiale byeenkomste wat verskillend lyk (plattelandse stofstrate vs Facebook se groot, openbare geklets).

Maar ons almal kon die musiek in die saal verstaan. Hou die pers dop, belowe die orkes. Nog sulke geleenthede gaan weer gedurende die jaar plaasvind.

Naskrif: Kyk hier hoe dirigeer ‘n meisie uit die gehoor die orkes.